Keina Swart Foto: Herman Steyn

Keina Swart Foto: Herman Steyn

Boeke

Keina Swart oor Rampie Malherbe se bloujaar


Rampie Malherbe is twaalf jaar oud. Eintlik is sy lewe goed, maar iets gebeur. Dan word sy hele lewe deurmekaar gekrap en ervaar hy
ʼn bloujaar.

Hy woon saam met sy ouers en twee sussies op Kleinvlei, ʼn dorpie waar almal vir almal ken en almal ook weet wat in almal se huise aangaan. Rampie is gelukkig en sorgvry, totdat hy en sy pa tuiskom na die gholfdag vir pa’s en seuns. Alles verander skielik en onverwags. Daar het iets gebeur wat sy pa raak, maar wat? Vir hom voel dit hy word eenkant toe gestoot. Sy ma praat nie met hom nie. Sy pa ook nie. Hy moet afluister om uit te vind sy pa is siek, maar watter siekte weet Rampie nie.
Sy ma fokus net op sy pa en alles word gereël om sy pa se siekte te akkommodeer, maar dit weet Rampie nie. Hy voel sy ma het ʼn veldtog teen hom om sy lewe so moeilik as moontlik te maak. Hulle moet stad toe trek en hy wat Rampie is, moet graad sewe in ʼn nuwe skool begin. Daarby het ʼn uiters vreemde juffrou. Rampie se lewe is deurmekaar en hy word onwillig ingetrek by ʼn paar goed wat amper sy verhouding met sy pa opdons en hom amper moeilikheid met die polisie op die lyf haal.  Sy reddingsboei kom ironies genoeg van sy vreemde juffrou en haar hondjie. Rampie vertel sy verhaal met emosie en deur sy oë ervaar jy sy verwarring, isolasie, verlies en verlorenheid oor wat gebeur wanneer ʼn gesin se lewe skielik omvergewerp word deur ernstige siekte.
Die verhaal boei van die eerste bladsy en jy raak ingetrek by Rampie se lewe. Wat hierdie storie nog meer relevant maak, is die manier waarop komplekse gesinsverhoudings oor sensitiewe sake uitgebeeld word: oor ernstige siekte in ʼn gesin, oor wanneer ʼn kind se kaskenades ʼn polisiesaak raak, oor die verlies van vriendskap en oor die maak van nuwe vriende, en om wortels te probeer neerlê op ʼn nuwe plek. Bloujaar (Protea Boekhuis, R120) is ‘n boek waarby ouers ook sal baatvind, nie net die tieners vir wie dit eintlik bedoel is nie.

BloujaarJy is eintlik ʼn joernalis en kinderboekskrywer. Bloujaar is ʼn tienerboek. Hoe moeilik was dit om dié boek te skryf?
Bloujaar was die moeilikste skryfprojek wat ek nog ooit in my lewe aangepak het. Ek het twee jaar lank aan die boek gewerk, meestal Saterdae- en Sondae-oggende alleen in die koue, verlate kantoorblok van die koerant waar ek voltyds werk. Ek wou nie by die huis skryf nie, want ek kan nie skryf as daar te veel onderbrekings is nie. Ek wou vir niemand sê van dié geheime skrywery nie, want ek het nie geweet waarheen dit sou lei nie. Ek het geskryf, uitgevee, geherskryf, ophou skryf, moedeloos geraak, weer begin, weer opgehou en toe ek uiteindelik spoed vang, het alles net in plek geval. Intussen moes ek elke week ’n koerant op straat uitbring.

Wat dink jy maak ʼn goeie tienerboek?
Dieselfde as ’n goeie kinderboek of ’n goeie boek vir volwassenes, naamlik ’n wonderlike storie wat op ’n wonderlike manier vertel word. En o ja, ek hou meestal van iets wat anders is as die res. Ook as dit kom by boeke: verras my; slaan my asem weg, maar moenie my intelligensie onderskat nie, dus.

Waar kom die storie-idee vir Bloujaar vandaan?
Ek het Bloujaar se eerste hoofstuk omtrent 20 jaar gelede al as ’n rubriek geskryf, maar altyd geweet die storie is nie klaar vertel nie. Ek moes net die moed bymekaar skraap om die storie enduit te vertel. Bloujaar is my grootword-storie.

Hoekom het jy gevoel jy moet hierdie storie skryf?
Ek het nie iets probeer bereik met die boek, soos om tieners te probeer verstaan of in hulle koppe te klim of so iets nie. Ek het net hierdie storie gehad wat jare gelede al in my hart en my kop loop vassit het, en hy moes uit. Toe die finale manuskrip aanvaar en drukkers toe is, het ’n hengse vrees oor my neergedaal oor wat ek aangevang het om myself so te ontbloot.

Voor in jou boek sê jy ʼn deel van die storie is jou eie storie. Hoe so?
Miskien moes ek eerder gesê het: Net ’n deel van hierdie boek is nié my storie nie. Dis die jeugmisdaad-deel, wat ek “geleen” het by ’n paar stout vriendinne wat ek op hoërskool gehad het. By hulle het ek basies al die feite van die lewe geleer! Daar was regtig ’n Venda-vrou met die naam Masindi wat vir ons gewerk het. Daar was regtig ’n Juffrou Cheezie in my lewe en een van die skole waarin ek as kind was, se skooldrag het regtig soos ’n vrugteslaai gelyk. Die vis-teëls in die groen badkamer, het ek elke oggend gesien as ek my tande borsel.

Het jy Rampie se karakter gebaseer op ʼn kind wat jy ken? En sy sussies?
Ek verstaan vir Rampie, want ek ís met tye Rampie. Hy is ’n kombinasie van die kinders in my grootword-gesin. Miskien twee van hulle meer as die ander. Sy sussies het ook in my grootword-huis gewoon.

Waarom juis Rampie se pa kanker laat kry?
Want dis wat in die regte lewe met Rampie en sy gesin gebeur het.

Ek het lekker getjank terwyl ek van Rampie se onsteltenisse gelees het. Was jy emosioneel toe jy sy verhaal geskryf het?
Ek het myself by tye in ’n donker gat ingeskryf. Iemand het eenkeer, terwyl ek besig was met die manuskrip, vir my gevra wat fout is, omdat ek “’n vreeslike hartseer saamdra”. Ek het dit afgelag, maar gewéét dis die flippen storie se skuld en die gekarring aan dit wat verby is. Tog dink ek nie dis ’n swaarmoedige boek nie. Dis ’n storie van hoop. Ek weet nie of ander mense ook so is nie, maar ek sal soms goed neerskryf vir die hele wêreld om te lees, terwyl ek nie die moed het om dit met een enkele mens te bespreek nie, en dan wil ek ook nie agterna met iemand praat oor wat ek geskryf het nie. Vreemd nè?

Rampie is baie gefrustreerd omdat niemand vir hom vertel wat aangaan nie, al word sy hele lewe ontwrig deur alles wat gebeur. Het die ware Rampie darem meer antwoorde in sy lewe gehad oor wat besig was om te gebeur?
Nie regtig nie, maar Rampie se ouers was nie “snaaks” met hom nie. Hulle het gedink hulle beskerm hul kinders deur slegte “grootmensgoed” van hulle te probeer weghou, maar daardeur het hulle juis vir Rampie verwar en angstig gemaak. Ek dink dis wonderlik dat ouers deesdae openliker oor enigiets met hul tieners praat: seks, verhoudings, geloof, siekte. Boonop het die internet en digitale media die jongmense se wêrelde wyd oop kom maak. Omdat mense deesdae meer en openliker práát oor dinge wat krap, het kinders ook deesdae meer begrip vir maats wat deur ’n slegte tyd gaan. Vandag se kinders gee baie om vir hul maats en vorm ’n sterk ondersteuningstelsel vir mekaar. Ek sien dit baie.

Die kinders in die boek het almal byname. Het jy ʼn bynaam?
My pa het ons vier kinders altyd op ons byname genoem. My sussie was Kiekel. My oudste boetie was Rampie. Vir my het hy Pikkedys genoem, en my kleinboetie was Pieterjan. Ek is my hele lewe lank gespot oor my vreemde doopnaam. Ek was al Kaïn, Kenia, Reina, Kayla — enigiets. Elke keer as ek na ’n nuwe skool moes gaan (en dit was nogal baie keer), het ek gewéét hulle gaan my vra wat is my naam, en dan moet ek al daardie fronse en vreemde uitsprake van vooraf trotseer. En dan is daar altyd, altyd een of ander nar wat uitskree: “Kein vir die pyn!” En dan dink hy sowaar hy is die heel eerste slimkop wat dit uitgedink het. Vandag het ek die gewoonte om mense van wie ek hou, almal “Bokkie” te noem. Die gevolg is dat ek terug “ge-Bokkie” word. Dit pla my nie. Eintlik hou ek daarvan.
Is jy besig met ʼn nuwe boek?
Ek het myself beloof ná Bloujaar gaan ek afvat en net weer so ’n bietjie op my koerant en my gesin fokus, maar ek het uit die bloute ’n skryfaanbod van ’n uitgewer gekry, en ek het my sowaar laat ompraat. So ja, ek werk weer aan ’n boek, maar ek vat dit rustig.

Wat is jou gunsteling kinderboek?
Voordat ek skool toe is, was my ma op ’n stadium ’n biblioteektannie en ons kon die kinderboeke uitkies as die “biblioteekbus” elke drie maande omgekom het. As ek baie van ’n boek gehou het, het ek hom weggesteek as die bus kom, sodat ek hom nog ’n bietjie kon hou. Pieter W. Grobbelaar se Pietervlie (die storie van ’n vlieër wat nie aan ’n tou vas wou wees nie, maar wou losbreek sodat hy vry saam met die wolke en die son en die wind kon baljaar) was die een wat ek die meeste kere weggesteek het as die biblioteekbus kom.

Jou gunsteling tydverdryf, en waarom?
Lees is vir my die lekkerste ding wat daar is: boeke, koerante, tydskrifte, die internet, briewe, ag, selfs hofdokumente of woordeboeke. Ek het bokse vol uitknipsels van skryfgoed wat eens op ’n tyd vir my mooi was. My inmandjie voor my bed is ’n outydse Coke-kassie wat oorloop. Boekwinkels betower my. En die lekkerste van alles is: my gesin deel in die leeslus, so ons sal sommer ’n hele oggend in ’n mooi boekwinkel deurbring. En as daar ordentlike sterk koffie naby is, is die lewe vir my mooi.