FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Ken jy regtig die man met wie jy getroud is?

Hoe goed ken jy die man met wie jy getroud is? Is jy seker hy steek nie geheime vir jou weg nie?

Wanneer twee mense getroud is en dis ’n lang huwelik, verwag mens dat die egpaar mekaar goed sal ken. Goeie en minder goeie eienskappe … Daar behoort mos nie geheime tussen hulle te wees nie. Tog gebeur daar soms iets wat jou so verstom dat jy wonder of jy regtig die man aan jou sy ken. Dis presies wat in een van die boeke waaroor ek die week skryf, gebeur het. In The Widow word al Jean Taylor se vertroue in haar huwelik tot die uiterste getoets.

The Widow, Fiona Barton (Penguin, R285)
Glen Taylor sterf in ’n fratsongeluk, toe hy voor ’n aankomende bus beland het. Die boek begin waar sy weduwee, Jean gekonfronteer word deur  die verslaggewer Kate Waters wat op soek is na ’n eksklusiewe storie oor dié egpaar se lewe. Maar wat maak die egpaar so spesiaal? Jean en Glen lei ’n gewone voorstedelike lewe en sy is tevrede dat sy haar ridder op ’n wit perd gekry het. Tot die dag wanneer Glen in hegtenis geneem word, dan spat Jean se lewe uitmekaar. Glen word daarvan beskuldig dat hy ’n dogtertjie ontvoer het. Sy word nooit gevind nie. Jean wonder of sy die man aan wie sy haar hele lewe gewei het, regtig ken. Die saak sloer telkens as leidrade tot niks lei nie en Glen word dan uiteindelik weens ’n gebrek aan getuienis vrygelaat. Jean staan by haar man, maar teen watter koste? Nou, vier jaar later, is Jean se lewe onder die soeklig, want almal wil weet of sy bewus was van Glen se doen en late. En die media staan tou voor haar deur! Die verhaal speel oor ’n tydperk van vier jaar af en vertel die gebeure vanuit die oogpunt van al die rolspelers.

Barton wissel tussen vertellers om die gebeure stadigaan te laat ontvou. ’n Huwelik waarin elkeen sy eie geheime gehad het, ’n verbintenis waarin ’n vrou vasgevang was onder die duim van ’n dominerende man. ’n Ontstellende misdaad wat lewens verwoes … Die soeke na ’n eksklusiewe storie. Die ondersoek deur die polisie wat telkens misluk … Jean is nie ’n karakter waarvan mens outomaties hou nie, maar aan die einde kan jy nie anders as om simpatie met haar te hê nie.  – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Skuldig, Martin Steyn (LAPA Uitgewers, R219,99)
ʼn Middeljarige tandarts, Willem Vorster, word vermoor, of tereggestel sal miskien meer van pas wees. Voordat hy geskiet is, moes die slagoffer ‘skuldig’ in sy eie bloed, teen die muur skryf. Dit is adjudant Colin Menck se taak om die saak op te los. Binne ʼn week is daar ʼn soortgelyke geval. Die keer Robert Scheepers, ʼn argitek, en ʼn derde slagoffer volg. Is daar ʼn skakel tussen die slagoffers? Wie is volgende op die lys? Sal Menck die skakel betyds vind?

Met ʼn reeks slim kronkelpaaie en onverwagte wendings slaag Steyn daarin om die leser van die eerste bladsy tot op die laaste te boei. Die skrywer se uitmuntende karakterisering, oog vir besonderhede en deeglike navorsing dra by tot die leesgenot. ʼn Vraag wat uiteindelik gevra kan word, is in hoe ʼn mate gewone mense die reg in eie hande kan neem in ʼn wêreld waar morele verval aan die orde van die dag is. Saam met, Donker Spoor, Steyn se eerste boek bewys hy homself as ʼn misdaadskrywer van formaat. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Bang vir die Donker, Suzanne Greeff (Kwarts Uitgewers, R220)
Kara Lubbe besluit om by haar peetouers op Renosterdrif te gaan kuier. Sy wil navorsing doen vir ’n boek oor die Anglo-Boereoorlog. Renosterdrif lê midde in die Mafikeng-distrik, ’n belangrike plek tydens die oorlog. Sommer van die begin af voel Kara asof daar ’n teenwoordigheid is wat haar dophou. Dit laat opnuut die vrese van kleintyd in haar ontvlam – ’n vrees vir die donker.
Kara se navorsing lewer heelwat meer antwoorde op as wat sy verwag het en geheime wat amper ’n eeu oud is, word oopgevlek. Maar dis nie net die verlede wat Kara ontstel nie, want in die hede is daar renosterstropers, die moontlikheid van ’n grondeis op die plaas, en ’n aantreklike man wat haar pad kruis.
Ek was nog altyd mal oor spookstories, natuurlik weens dié wat ons gehoor het toe ons nog klein was. Die gekraak van die ou plaashuis en snaakse skaduwees op volmaanaande het ons doodbang onder die komberse laat inkruip. Hierdie is ’n spokerige, romantiese spanningsverhaal. Beslis ’n lekker lees! – Alma Liebenberg

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Out of Sight,  Isabelle Grey (Quercus, R231)
Grey was ’n kunsjoernalis, maar is deesdae beter bekend as draaiboekskrywer van Britse televisiedramas en populêre misdaadreekse. Sy het reeds naam gemaak met vyf niefiksie publikasies, geskryf onder haar nooiensvan, en hierdie roman is haar fiksiedebuut.

Patrick Hinde is ’n homeopaat, eggenoot van Belinda en liefhebbende pa van Daniel, hul seuntjie van agtien maande. Patrick ly aan ’n stresversteuring wat uit sy eienaardige kindertyd stam, maar ironies genoeg (gesien in die lig van sy werk as terapeut) ontken hy die kritieke impak wat dit op sy gemoedstemming het. Sy ouers besoek hom en Belinda, maar dis allermins ’n aangename kuiertjie; sy pa is ’n outokraat en sy ma ’n emosionele wrak. Hulle vertrek op gespanne voet en dit gee aanleiding tot ’n tragiese voorval wat almal se lewens verwoes.

Out of Sight is losweg gegrond op twee ware gebeurtenisse wat as prikkel gedien het vir Grey se middelmatige sielkundige spanningsverhaal. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Trader of Saigon, Lucy Cruickshanks (Quercus, R230)
Hierdie boek handel oor korrupsie, menseroof en die florerende swartmark wat in die agterbuurte van naoorlogse Viëtnam ontstaan het. Die storie word afwissellend vanuit die perspektief van drie hoofkarakters vertel; elkeen is vasgevang in haglike omstandighede en ly daagliks weens hul ontberinge.

Vanweë die onderwerp en eksplisiete besonderhede is dit nie ’n verhaal wat in almal se smaak sal val nie, tog slaag Cruickshanks daarin om die aandag gevange te hou (haar beskrywing van die omgewing, mense en triestige atmosfeer verdien vermelding – dit beklemtoon die wyse waarop oorlog ’n land en die gedrag van sy inwoners blywend kan verander). As ’n debuutroman is dit uiteraard nie die werk van ’n ervare skrywer nie, maar ten minste is dit noukeurig nagevors.  – Emsie Viljoen

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Songs of love and war, Santa Montefiore (Simon & Schuster, R320)
Die verhaal speel af in die vroeë negentien honderds. Indien jy ’n aanhanger van Downton Abbey is, sal hierdie boek so reg in jou kraal val. Jy kan dan amper die verhaal sien afspeel in  jou kop. Lord Deverill se kasteel is in die pragtige Ierland geleë. Sy ouers, sy vrou Maud, en hul vier kinders woon daar. Daar is egter heelwat geraamtes in die kaste, van ongelukkige geeste tot buite-egtelike verhoudings.

Wat die boek nog interessanter maak, is die feit dat die hoofdraad van die storie geweef word rondom drie jeugmaatjies. Katie, die dogter van Lord Deverill, Celia, haar niggie, en dan Bridie, die kok se dogter.  Dis fassinerend hoe elkeen van hul lewens verander en uitdraai soos hulle ouer word.  Soos die storielyn deur die Eerste Wêreldoorlog en die oorlog van Ierland se onafhanklikheidswording vleg, is daar ook heelwat hartseer. Een ding wat egter deurentyd deurskemer is die meisies se liefde vir Ierland. Dis ’n lang storie met heelwat verrassings aan die einde.  – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Tell the wolves I’m home, Carol Rifka Brunt (Pan Macmillan, R175)
Veertienjarige June Elbus se wêreld word uitmekaargeruk toe haar kunstenaar-oom aan MIV/vigs sterf. Finn Weiss was haar peetpa, maar ook haar beste vriend en sy voel heeltemal verlore ná sy dood. Kort ná die begrafnis word ’n pakkie vir haar afgelewer en binne-in is ’n pragtige Russiese teepot wat aan Finn behoort het. Gaandeweg begin June agterkom dat Finn ’n “spesiale” vriend, Toby, gehad het van wie sy nie bewus was nie. June se ma reken dat Toby vir Finn siek gemaak het en daarom wil sy niks met hom te doen hê nie. Toby is net so verlore sonder Finn en stadigaan begin die twee, sonder June se ouers se medewete, vriende word en mekaar troos.

Die titel van die boek verwys na die skildery wat Finn van June en haar suster Greta gemaak het kort voor sy dood. Hierdie is ’n bittersoet verhaal wat in die tagtigerjare in New York afspeel.   – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The broken, Tamar Cohen (Doubleday, R183)
Josh en Hannah doen alles saam met hul beste vriende, Dan and Sasha. Dinge verander toe Dan aankondig dat hy iemand anders liefgekry het en wil skei. Al het Josh en Hannah besluit dat hulle nie gaan kant kies nie, raak die situasie onuithoudbaar met Dan wat op hul bank slaap en ’n histeriese Sasha wat enige tyd instap om simpatie te soek. Toe Josh en Hannah agterkom wat die impak op hul eie huwelik is, besef hulle dat dinge moet verander.

Die middelste gedeelte van die boek is ’n negatiewe warboel van verwyte, histerie, trane, aggressie, woede-uitbarstings, leuens, nydigheid en vuilspel. As leser bevind jy jou in die middel van die gevegte en jy voel heeltemal getraumatiseer daardeur.

Hierdie sielkundige spanningsverhaal stuur op ’n verrassende einde af, wat die boek tot ’n mate red. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The One Plus One, Jojo Moyes (Penguin, R185)
Jess, ’n enkelma werk as skoonmaker maar is altyd platsak. Sy het twee kinders, 16-jarige Nicky, slagoffer van erge bullebakkery by die skool en 10-jarige Tanzie wat ’n briljante wiskundige brein het. Jess is ’n baie goeie ma, en haar optimisme seëvier altyd.

Tanzie moet Skotland toe om aan ’n Wiskunde Olimpiade-kompetisie deel te neem. Hul ou motor breek en Ed, ryk eienaar van een van die huise wat Jess skoonmaak, kom toevallig op hulle af en bied aan om hulle in sy deftige motor te neem. Norman, die enorme, kwylende hond gaan ook saam.

Die reis neem ’n paar dae in plaas van die gewone agt ure en is nie sonder humoristiese voorvalle nie, en ’n romanse ontwikkel boonop. Almal raak baie geheg aan mekaar en besef dat hulle presies is waar hulle hoort.

Ek sal nie verbaas wees as hierdie gesinsroman ook, soos Moyes se vorige roman, Me Before You, rolprentregte bekom nie.  – Linda Volschenk

The Silent Wife, A.S.A. Harrison (Headline, R209)
Jodi is ’n deeltydse sielkundige en Todd is ’n eiendomsontwikkelaar. Hulle is in ’n verhouding van 20 jaar ná hul ontmoeting wat voortgespruit het uit ’n motorongeluk wat deur Jodi veroorsaak is.
Hulle lewe saam is gemaklik, ’n vaste patroon en ’n kokon van gemak. Jodi wou nie trou nie, dus is hul saamwees gemeenregtelik. Maar dan raak Todd intiem betrokke by sy jare lange skoolvriend se dogter. Jodi se wêreld val uitmekaar terwyl Todd se lewe begin kleur kry, totdat hy besef wat hy verloor het.
Die verhaal het ’n diep sielkundige aanslag wat dit soms moeilik maak om te lees. As jy eers gewoond is aan die skryfstyl, sal jy geboei bly tot en met die laaste bladsy. – Hanlie Crafford