nelson_mandela_conversations_with_myself
Boeke

Nóg ideale geskenkboeke

Hierdie tyd van die jaar raak ek altyd opgewonde, want ek weet my familie en vriende ken my baie goed – ek gaan ‘n hele paar boeke in my Kerskous kry! Daar is niks so lekker vir my soos die reuk van ‘n nuwe boek se blaaie nie. En dis altyd met afwagting dat ek ‘n nuwe boek oopmaak, want wie weet op watter reis ek weggevoer gaan word.

Die volgende paar aflewerings van my Top-5-keuse is ook ‘n bonus vir julle almal, want ek het sommer heelwat meer boeke gekies waaruit julle Kersgeskenke kan kies. Hierdie week is daar boeke oor mense wat diep spore in die geskiedenis getrap het, iets vir die mense wat eerder meer wil kyk as lees, ‘n klompie boeke vir natuurliefhebbers en dan spesiaal ‘n paar boeke vir jonger lesers wat nog op skool is.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Nelson Mandela, Conversations with myself, voorwoord deur president Barack Obama (Macmillan, R290)
Nelson Mandela is ‘n wêreld-ikoon en beslis een van die mense oor wie ongelooflik baie geskryf word. Hierdie besondere boek is saamgestel uit sy persoonlike argiewe wat bestaan uit persoonlike briewe, gesprekke op band met vriende, onderhoude met die skrywer van sy outobiografie, aantekeninge in notaboekies en selfs doodles. Mens kry ‘n baie meer persoonlike blik op wie Nelson Mandela nou eintlik is, omdat daar meer van sy persoonlikheid deurskemer. Dit gee ‘n ander beeld van hom as dié van gevangene, politikus en staatsman. Sy slotwoorde in die boek handel juis oor hoe die wêreld hom beskou: “One issue that deeply worried me in prison was the false image that I unwittingly projected to the outside world; of being regarded as a saint. I never was one, even on the basis of an earthly definition of a saint as a sinner who keeps on trying.” Maar dat hy ‘n inspirerende en indrukwekkende mens is, is beslis!

A Journey BIOGRAFIEë
A Journey, Tony Blair (Hutchinson, R290)
Tony Blair sê in die inleiding hy wou graag ‘n boek skryf wat nie die standaard- politieke outobiografie is nie, want so ‘n boek word dikwels ongelees neergesit. Hy wou sy reis deur die politiek op so ‘n manier boekstaaf dat mense dit graag wil lees. En hy begin dan ook sy verhaal so: “On 2 May 1997, I walked into Downing Street as prime minister for the first time. I had never held office, not even as the most junior of ministers. It was my first and only job in government.” Al wat ek kan sê, is: “Wat ‘n job!” Dis ‘n fassinerende beskrywing van die binnewerking van Blair se tyd in die politiek en hoe die politieke scenario in Brittanje verander het onder sy leiding

Vereeniging, die onvoltooide vrede Vereeniging, die onvoltooide vrede, Leon Wessels (Umuzi, R220)
Wessels se proloog is ‘n brief aan die fotograaf David Goldblatt waarin hy praat oor die ikoniese foto wat dié fotograaf in 1964 geneem het van hom en twee kollegas wat die destydse eerste minister, Hendrik Verwoerd, na ‘n toespraak by De Wildt begelei het. Vir Wessels het die wit perde waarop hulle gery het simbolies geraak van die pad waarlangs hy gekom het. Daarom wou hy graag skryf oor “Wie en wat was ons? Wie en wat wou ons wees? Die donderstorms van Afrika en die wysheid van die tyd het ons oordonder. Ek wou die vrae en moontlike antwoorde neerpen.” Die boek is Wessels se persoonlike en politieke memoir en gee insig in ‘n ander aspek van hoe hy Suid-Afrika en sy politieke en sosiale geskiedenis ervaar.
Thank you, Judge Mostert! Thank you, Judge Mostert!, Carmel Rickard (Penguin Group SA, R270)
Hierdie regter het die moed van sy oortuiging gehad om die destydse eerste minister PW Botha teen te gaan, ten spyte van wat die implikasies vir hom sou inhou. Hy het die berugte Inligtingskandaal afgeskop deur ‘n perskonferensie te hou net nadat hy uit ‘n vergadering met PW Botha gekom het, waar hy opdrag gekry het om die inligting nie bekend te maak nie. Mostert het geglo ter wille van die voortbestaan van ‘n onafhanklike regstelsel (maak nie saak onder watter politieke bedeling nie) moes hy dié stap neem. In hierdie boek word sy lewensverhaal vertel, tesame met van die groot sake waarby hy betrokke was. ‘n Baie interessante blik op die geskiedenis vanuit ‘n regsoogpunt en hoe belangrik ‘n onafhanklike regsbank vir enige demokrasie is.
The Queen of Green

KINDERBOEKE
The Queen of Green – a collection of contemporary cautionary tales from Africa, Jacqui Taylor (Struik Lifestyle, R100)
Op ‘n informele en vermaaklike manier word bewaringskwessies aangeraak, sodat kinders kan leer hoe hulle ‘n verskil kan maak aan die agteruitgang van die aarde. Taylor gee ook wenke van hoe kinders haalbare projekte kan aanpak, soos om te herwin, kompos te maak en water te bespaar.

Geheime in die Tuin Geheime in die tuin, Erik Holm met illustrasies deur Klaus Schaer (Malan Media, R95)
Holm is ‘n bekende insektekundige en ekoloog. Sy eerste kinderboek vertel die storie van alles wat leef en beef in die tuin deur die oë van ‘n kabouter, genaamd Ekologicus kabouteri – in kort Eko. Hy vertel hoe alles op een of ander manier afhanklik van mekaar is. Baie inligting op ‘n verteerbare en amusante manier!
Die Skat van Carlos da Costa Die skat van Carlos da Costa, Rudi Venter (Human & Rousseau, R94,95)
Lukas se skoolvakansie lewer ‘n avontuur op wat sy wildste drome oortref – van konkelaars wat inbreek, hom en sy maters van hul motorfietse probeer afry, tot ‘n baken probeer omstoot met ‘n stootskraper. Alles om die skat van Carlos da Costa te kry. ‘n Opwindende verhaal vir seuns (en avontuurlike meisies!).
Die avonture van Alice in Wonderland Die avonture van Alice in Wonderland, Lewis Carroll, vertaal deur André P. Brink (Human & Rousseau, R165)
Alice se avonture speel af in ‘n land waar enigiets moontlik is – een wat Alice ontdek deur in die konyngat in te hardloop en waar sy kennis maak met die Chesirekat, die Hertogin, die koning en koningin van Harte, die Witkonyn en nog ‘n hele lot ander karakters. ‘n Tydlose verhaal nou in Afrikaans!
Waterwise Gardening in South Africa and Namibia NIE-FIKSIE

Waterwise Gardening in South Africa and Namibia, Ernst van Jaarsveld (Struik Lifestyle, R300)
‘n Volledige gids met praktiese wenke hoe om jou tuin te beplan om water optimaal te benut in Suid-Afrika waar water al hoe skaarser raak. Van Jaarsveld bespreek die verskillende streke in SA en watter plante daar floreer. ‘n Pragboek vir tuiniers, maar ook vir almal wat meer wil weet oor inheemse plante.

Galaxy, exploring the Milky Way Galaxy, exploring the Milky Way, Stuart Clark (Quercus, R464,95)
Die buitenste ruim is ‘n plek van misterie en verwondering. Blaai jy deur die boek kan jy nie anders as om die grootsheid daarvan te bewonder nie. Clark fokus op die Melkweg en waar ons ou klein plekkie in hierdie groter kosmos is. Die foto’s is fenomenaal en die teks verduidelik op verstaanbare wyse waaroor alles gaan. Mens voel soos ‘n korreltjie sand in die heelal as jy deur die boek blaai.
Newman se voëls van Suider-Afrika Newman se voëls van Suider-Afrika, hersien deur Vanessa Newman (Struik Nature, R185)
Vanessa Newman het haar pa, Kenneth Newman, se klassieke voëlboek opgedateer en dis ook ‘n huldeblyk aan hom. Dis ‘n gebruikersvriendelike boek, met ‘n meer moderne voorkoms. In die inleiding is ‘n volledige stap-vir-stap-uiteensetting van hoe die boek gebruik moet word. ‘n Aanwins vir enige voëlkyker. Die boek is ook beskikbaar in Engels as Newman’s Birds of Southern Africa.
More Bird Calls for Beginners More Bird Calls for beginners, Doug Newman (Struik Nature, R89,95)
Die opvolg van Newman se gewilde Bird Calls for Beginners bevat 99 voëls en hul fluite op die ingeslote CD. Die volkleurfoto’s maak identifikasie maklik en daar is ook beknopte inligting oor habitat, voeding, optrede en waar hulle hul neste bou met verspreidingskaarte. ‘n Nuttige stukkie gereedskap waarmee jy jou oor kan oefen om die verskillende spesies se voëlroepe te onderskei.
TJ/Double Negative KOFFIETAFELBOEKE

TJ/Double Negative, David Goldblatt en Ivan Vladislavić (Umuzi, R1 000)
Die versamelaarsitem is ‘n gesamentlike projek deur fotograaf David Goldblatt en skrywer Ivan Vladislavić. Die stad Johannesburg is die ster voor Goldblatt se lens. Die versameling is bymekaargemaak oor ‘n tydperk van sestig jaar en bestaan uit die mense, die stadskern, voorstede en selfs plakkerskampe – die stad in sy volle glorie van mooi en minder mooi. In die verhaal deur Vladisvać word ‘n jong man bewus van die moontlikhede wat geskep word deur die foto’s geneem deur ‘n meester in fotografie. Die skrywer volg die jong man se lewe en so raak die leser bewus van sosiale en politieke veranderinge in die land, maar ook oor hoe foto’s mens se bewussyn rondom gebeure beïnvloed. Soms is dit in hoe mens kyk en nie wat die ware gebeure is wat op die foto vasgelê is nie.

His Holiness the Dalai Lama His Holiness the Dalai Lama, Don Farber (teNeues, R694,95)
In hierdie boek sê die Dalai Lama: “I feel that compassionate thought is the most precious thing there is. It is something that only we human beings can develop.” Kyk mens na die foto’s kan jy ‘n rustigheid en medemenslikheid bespeur uit sy optrede. Hy lewe ‘n eenvoudige lewe waar hy fokus op vrede vir almal en hy probeer baie hard om dit deur sy werk te bevorder. Farber dokumenteer al van 1979 af die lewe van die Dalai Lama en hierdie is ‘n pragversameling van die uitgeweke monnik se lewe.
Lady Gaga Extreme Style

Lady Gaga, extreme style, Lizzy Goodwin (Harper Collins, R220)
Hierdie ster se klerestyl is bisar. Maar ek kon ook nie ophou kyk na wat sy alles al aangetrek het nie. Nie alleen vertel die foto’s in die kykboek ‘n baie interessante storie van Gaga nie, maar die teks gee ook ‘n baie goeie verduideliking van haar filosofie oor mode, musiekoptredes en die mense en dinge wat haar inspireer tot groter hoogtes. Kyk maar na die fenomenale uitrusting wat sy gedra het vir haar “Speechless”-optrede vir Koningin Elizabeth II tydens die Royal Variety Performance! Alles vir die visuele effek vir wie ook al daarna kyk.

 Bush of Ghosts Bush of Ghosts, John Liebenberg en Patricia Hayes (Umuzi, R270)
‘n Versameling foto’s deur John Liebenberg wat die lewe en oorlog in Namibië tydens 1986 tot 1990 dokumenteer. Hy het in 1985 by die Windhoekse koerant The Namibian begin werk en so het sy versameling oorlogfoto’s begin. Hy het in 1988 as vryskutfotograaf vir agentskappe begin werk en alle aspekte van die oorlog gedek, van beide kante wat betrokke was in die konflik. Baie van die werk moes hy skelm doen, want dit was onwettig om foto’s in die gebiede te neem en ook van die aktiwiteite waarmee soldate besig was. Die foto’s lig die geskiedenis van daardie jare toe op ‘n baie grafiese manier, maar vertel ook die storie van gewone mense wat deur die konflik geaffekteer is.
Hope for the animals of the world

Hope for Animals and their World, Jane Goodall met Thane Maynard en Gail Hudson (Icon Books, R229,95)

‘n Inspirerende boek vir almal wat meer wil lees oor dierespesies wat van uitwissing gered is. Jane Goodall het gevoel mense moet weet daar is nog hoop en dat alles nie verlore is vir die diereryk wat bedreig word nie. Sy het haar hele lewe gewei aan die verbetering van die lot van diere. Hier word vertel van die toegewyde mense wat onverpoos werk om te sorg dat diere soos California Condor, Blue-and-Gold Macaw, Panamanian Golden Frog en nog meer bly voortbestaan. Dan is daar ook diere wat geglo is reeds uitgesterf het, maar wat weer ontdek is. Die fassinerende boek is propvol interessante feite, en daar is op die webwerf www.janegoodallhopeforanimals.com nog meer wat nie in die boek ingesluit kon word nie.