FOTO: verskaf

Boeke

Kikker jou huis op saam met doen-dit-self-kenner Misi Overturf

As jou begroting soos myne lyk, gaan jy ook self moet inspring om jou huis op te kikker.

Ek was gelukkig genoeg om my hande te lê op ‘n baie handige boek oor hoe om op ‘n maklike en bekostigbare manier selfdoen-projekte aan te pak. Misi Overturf se boek, Real Easy Décor & DIY (R295), vertel  hoe jy ‘n projek moet aanpak, dat jy heel eerste inspirasie moet vind vir wat jy wil doen . Dan gee sy tonne wenke van eenvoudige maniere hoe jy op ‘n vinnige manier nuwe lewe in jou huis kan blaas. Beplanning is natuurlik belangrik en sy wys vir jou hoe om ‘n basiese plannetjie op te trek en dat net jy jou plannetjie hoef te verstaan – dis die vertrekpunt van jou projek. Sy kyk ook na al die aspekte van stilering, soos meubels, stoffering, tekstiele, kleur, ornamente, beligting, vloerbedekkings. O ja, die belangrikste van alle selfdoen-projekte is jou gereedskapkissie. Moenie vrees nie, Misi gee ‘n lysie van alles wat jy in daai kissie moet hê en waarvoor dit gebruik word.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die tweede helfte van die boek bestaan uit allerhande projekte wat jy kan maak. Daar is maklikes, projekte wat bietjie meer vaardigheid  verg en dan die wat heelwat vaardigheid vereis. Al die projekte word baie eenvoudig verduidelik, met handige wenke wat dit maklik maak om die instruksies te volg. Die projek wat my oog gevang het, is die blom-kandelaar wat gemaak word van die raam van ‘n ou fietswiel en glasproefbuise. Ek dink dis waarmee ek my hierdie naweek gaan besig hou!
Bestel hierdie handige en inspirerende boek by www.misioverturf.com

Wie het jou geleer om DIY te doen?
Ek leer nog elke dag! Maar ek dink ek het ‘n waaghals benadering om dinge te maak, miskien op my eie manier, of soos ek daarvan hou. Ek was nog altyd handig (van kleins af) en die ander kant is dinge wat vir my mooi was (wat ek in oorsee se tydskrifte of op flieks gesien het) was nie altyd bekombaar in Suid Afrika nie, en dan maak jy dit.

Wat was die heel eerste DIY ding wat jy as kind gemaak het?
Ek kan regtig nie onthou nie, maar ek het my ma gehelp met dekor wat sy vir funksies gemaak het, of gekyk hoe sy goed maak en ek het altyd by my pa gesit as hy ietsie in en om die huis regmaak.

Hoekom doen jy hierdie as ‘n beroep? Wat maak dit vir jou lekker?
Ek was oppad om ‘n rigting in die mediese beroep te volg en het siek geraak, en kon nie verder studeer nie. En met dié het ek vir my ma gesê ek wil stories skryf oor mense se huise. Om mense se passie vir hul omgewing te beleef en hoe hulle woeker met spasie is vir my vreeslik bemagtigend en inspirerend. Ek glo ‘n positiewe “uplifting” omgewing dra by tot beter lewenskwaliteit en dit geld vir tuis- en werksomgewings.

Hoe lank het jy aan jou boek, Real Easy Décor & DIY gewerk en waar kom die idee vandaan?
Die konsep lê al in ‘n legger vir seker ongeveer 8 jaar. My beste vriendin, Linka Botha, wat die boek se ontwerp gedoen het, het al die projek in haar argiewe gestoor!! En toe leer ek die fotograaf, Antonie Robertson, ken in Desember 2012. Hy het ‘n rukkie in die Kaap gekuier en hy woon tans in Dubai. Toe hy teruggaan UAE toe laat hy my weet ons skiet my boek Maart 2013. REDD se visuele produksie het in 10 dae plaasgevind by my huis in Woodstock. En die boek is September drukkers toe.
Dit sou ook nie sonder Dianna Moore, Fiona Wakelin en Lucille Strauss kon gebeur nie.

Herskep jy dikwels spasies in jou eie huis?
Ja wat, ek verander gedurig klein goedjies. En gaan in styling mode in by die huis. Maar dit is ook ‘n ou huis en het gedurig opknap en werk en tlc nodig. Somtyds moet ‘n mens ook net stop en geniet wat jy het sonder om die heeltyd te verander.

Wat is jou gunsteling tipe opknappingswerk om te doen?
Vir my is verf ‘n koste effektiewe opknap oplossing. Die kleur van ‘n vertrek, miskien ‘n fokusmuur of ‘n meubelstuk kan regtig baie maklik nuut en vars lyk met net ‘n lekseltjie verf.
Ek begin al hoe meer konsultasie werk doen vir mense wat net hulp nodig het om ‘n prentjie of potensiaal raak te sien in hul spasie. Ek werk meestal met wat daar is en ek glo vas dit hoef nie ‘n fortuin te kos om ‘n plek ‘n nuwe lewe te gee nie. So ek maak planne sonder om struktureel te verander, want meeste van die tyd is die kostes die groot kniehalter. So dit is vir my die beste gevoel as die kliente wat ek adviseer het vir my foto’s stuur van hoe hulle die voorstelle geimplimenteer het. Dit gee nou regtig vir my ‘n lekker gevoel.

 

Gunsteling kraggereedskap en waarom?
Ek het so ‘n oulike koordlose boorstel van Makita. Dit is my allerbeste ding. Naas dit is dit ‘n gluegun.

Het jy al ‘n reuse flop gehad met ‘n projek wat jy aangepak het?
Dit is die beste ding van DIY, jy maak altyd foute en moet dit dan regmaak. En dan leer jy miskien ‘n truuk of  twee by.

Doen jou man ook DIY in julle huis en is hy handig met gereedskap?
Uhm. Nee. Hy is ‘n baie goeie delegeerder.

Moet ‘n mens baie handvaardig wees om die projekte in jou boek aan te pak?
Nee glad nie. Die een ding van die boek is, al kyk jy net na die prentjies moet dit jou inspireer, en miskien kry jy ‘n idee hoe om iets te skuif of daardie ou banke te herstoffeer. Dan is ek klaar “chuffed”. Maar die projekte in die boek is in verskillende moeilikheidsgrade ingedeel, so daar is ietsie vir almal wat hul moue wil oprol en speel.

Wat is die grootste fout wat mense maak as hulle ‘n projek wil aanpak of ‘n vertrek in hul huis wil renoveer?
Om die besluite rondom die voorkoms van die vertrek aan iemand anders oor te laat. As jy daar bly,  moet jy dit vir jou gemak en behoeftes inrig.

Wat is die maklikste en eenvoudigste ding wat mens kan doen om ‘n plek op te zoosh?
Dit hang af hoeveel tyd jy het? ‘n Bos blomme is my allerbeste pick me upper, of deesdae is huisplante weer ‘n wonderlike toevoeging tot dekor. Miskien het jy net nodig om ‘n stoel en tafel om te ruil of jy kan verf!

Dink jy mense doen deesdae meer dikwels self DIY, in plaas van om iemand te kry om dit te doen?
Ja ek dink regtig so. Daar is natuurlik dinge wat jy aan die kenners oorlaat maar om prente te groepeer teen ‘n muur of om rakke op te sit of ‘n kandelaar te maak vir jou stoep is bemagtigend en dit is wat ek glo, om ietsie kreatief vir jouself te doen is binne almal. Jy moet net probeer.