01wikus
Boeke

Top-5 Kinderboeke

Wikus het pret op die plaas, Galia Lami Dozo, vertaal deur Kobus Geldenhuys (Human & Rousseau, R55)
‘n Prettige leesboekie vir 3- tot 7-jariges. Wikus en Wim is op die plaas en leer van al die diere en masjiene. Die blaaie het flappies wat kan oopmaak en waaragter ‘n paar verrassings wegkruip. Ander titels in die reeks: Wikus het pret in die skool, Wikus op die plaas, Wikus in die wildtuin.

 

Lisa het ‘n plan, Martie Preller met illustrasies deur Karen Lilje (Lapa, R75)
Lisa maak haar boetie Wessel skrik en hy sluit homself in die badkamer toe. Van die posman en die buurman tot die brandweer probeer help, maar niemand kan Wessel uit die badkamer kry nie. Lisa het egter ‘n plan. ‘n Humoristiese boek met prettige illustrasies.

Heleen en die heks

Heleen en die heks met hoofpyn, Corlia Fourie met illustrasies deur Vian Oelofsen (Protea, R100)
‘n Lekker voorlees-boek oor hoe ‘n slim meisietjie ‘n nare heks getroef het. Naby Heleen se huis is ‘n bos waar ‘n lelike vrou met ‘n sak vol toorgoed bly. Sy haat kinders, want hulle maak haar kop seer. Heleen se pad kruis met die van die heks en sy haal haarself die ou vrou se gramskap op die hals. Dan beraam sy ‘n plan om van die heks se houvas op haar ontslae te raak.

Thomas@aksie.net

Thomas@aksienet.net, Carina Diedericks-Hugo (Lapa, R62)
Die sesde boek in die Thomas Steyn-jeugreeks is vol drama. Thomas kry ‘n rol in ‘n gewilde sepie, maar iemand op stel het hul mes in vir hom en hy moet lig loop. In die skool moet hy veg om sy plek in die rugbyspan te behou en boonop tree sy beste vriend vreemd op. Dan is daar nog spanning in sy verhouding met sy meisie, omdat hy ‘n sexy blonde medester in Die Malans van Martaheim het. Lees ook: Thomas@moord.net, Thomas@skerpioen.net, Thomas@aqua.net, Thomas@sms.net en Thomas@nagmerrie.net.

Die geheime wapen

Die geheime wapen, Hergé, vertaal deur Nerina Ferreira (Human & Rousseau, R97,95)
‘n Wilde jaagtog en woeste gevegte is deel van Kuifie en Kaptein Sardijn se avontuur wanneer hulle Professor Sonneblom moet red nadat hy ‘n ultrasoniese wapen vir massavernietiging geskep het. Lees ook die ander boeke in die reeks: Kuifie in Tibet en Die haaie van die Rooi See.