Boeke

Kinderboekskrywer Julia Donaldson kom SA toe

Die gewilde kinderboekskrywer, Julia Donaldson, kuier in Februarie in Suid-Afrika.

Donaldson se groot deurbraak as skrywer was met haar boek, The Gruffalo, wat in 1999 vir die eerste keer uitgegee is. Kinders regoor die wêreld was gek oor die skrikaanjaende karakter en tot op hede is reeds 13.5 miljoen eksemplare daarvan verkoop en dis ook in 65 tale vertaal. Die monster is in Afrikaans bekend as “Die Goorgomgaai” en die briljante vertalings van haar stories in Afrikaans word deur Philip de Vos gedoen. Daar is ’n spesiale 10de verjaardaguitgawe van Die Goorgomgaaitjie (Human&Rousseau, R145).

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hierdie skrywer het eintlik laat in haar lewe eers begin om kinderboeke te skryf. Sy het gewag totdat sy 45 was. En haar eerste boek, Squash and a Squeeze, is in 1993 uitgegee. Sedertdien is daar net geen keer aan haar nie en is daar ongeveer 60 kinderboeke deur haar op die winkelrakke. Donaldson werk dikwels saam met die illustreerder Axel Scheffler. Van die boeke wat deur die gedugte span geskep is, is Kris de Kat, Tjokkie, Stokman, Rower Rot en Superwurm en dié titels is uitgegee deur Protea Boekhuis. Lees meer oor haar by  www.juliadonaldson.co.uk

Met haar besoek in Suid-Afrika sal sy teatervertonings hê in Kaapstad en Johannesburg.

Hier kan jy na haar vertonings in SA gaan kyk:

Kaapstad:
8 Februarie 2016, teatervertonings om 10h00 en 14h30, Baxter Theatre
9 Februarie 2016, teatervertoning om 10h00, Baxter Theatre

Johannesburg:
11 Februarie 2016, teatervertonings om 10h00 en 14h30, Linder Auditorium
12 Februarie 2016, teatervertonings om 10h00 en 14h30, Linder Auditorium
Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Hier is ’n klompie van haar boeke: