Annelie Ferreira

Annelie Ferreira

Boeke

Klein, fyn skrywer met groot stem

Annelie Ferreira is ‘n klein, fyn mensie met ‘n sagte stem. Maar moet nie dat dit jou mislei nie.

Wanneer jy haar boeke lees, besef jy Annelie het eintlik ‘n baie duidelike en welluidende stem wanneer dit kom by hoe sy stories vertel. Sy skryf met emosie oor die wel en wee van haar karakters wat altyd die een of ander kwessie moet hanteer. Tog is die karakters nie besig met ‘n gewroeg nie. Hulle vra bloot vrae oor die lewe en die dinge wat met hulle gebeur wat nie altyd so eenvoudig is nie.
In haar jongste boek, Dit vat guts ( Human & Rousseau) vertel Mia Malan die verhaal van haar gesin wat deur ‘n krisis getref word. Haar pa het kanker, en sy siekte raak elkeen in die gesin anders.  Sy vertel hoe haar ouer sussie, Isabel, onmiddellik na haar godsdiens gryp om haar te help om die situasie te verwerk. Deur Mia se  oë leer ken jy almal en wat hulle doen om vrede te probeer maak met die ongeluk wat hulle getref het. Mens staan nie onaangeraak deur hoe haar verhouding met haar pa uitgebeeld word nie. En jy kan nie help om saam met haar te huil oor hoe ingrypend haar gesin se lewe verander nie. Hierdie jeugroman behoort wyd aanklank te vind by lesers van alle ouderdomme, want kanker is die siekte van ons tyd. Boonop lees die boeiende verhaal moeiteloos. Aan die einde van die boek is mens jammer om Mia en haar storie agter te laat.
Uit Annelie se pen is daar ook Totsiens, Koning Arthur en Maar Tintin in Tibet.

Jy woon in Engeland, hoe voel jy oor Afrika?
Hier in Afrika is ‘n baie sterk konneksie met die aarde, ‘n konneksie met al die ervarings van die lewe, die ekstatiese en blyheid en die suffering. Ek dink in Engeland probeer hulle hul bes om al die suffering te reguleer. Dit moet uit die samelewing uit en dis juis dan die energie wat hulle beperk. Hulle maak die lewe kleiner.

Vir my voel dit soms of hulle dink as hulle dit nie openlik ervaar nie, dan bestaan die gevoelens nie regtig nie. Jy skryf oor emosie in al jou verhale?
Ek verkies beslis om in die eerste persoon te skryf, want dan kan ek die emosie meer akkuraat weergee.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hoe kies jy watter stem jy gaan wees, want jy kan eintlik enige karakter se stem aanneem om die verhaal te vertel?
Ek weet nie. Dis net ‘n gevoel wat ek kry. Dit vat guts  het ek baie lank aan geskryf. Ek het seker sewe jaar gelede of selfs langer begin om dit te skryf. Ek het meestal nie-fiksie geskryf. Dit was alles oor mens wees en soort van die dieper vrae in die lewe. Miskien is dit juis omdat ek baie emosioneel en sensitief is, en baie diep voel. Ek weet nie altyd of wat ek voel die regte ding is nie. Is wat ek voel waar, of is dit net hoe ek reageer? Al die goed wat ek geskryf het, was my eie proses om die lewe te verstaan, die wêreld te verstaan, die kosmologie, die mikro-biologie, al die goedjies. Maar dis ‘n mental ding. Dit gee mens bietjie veiligheid.
Ek het ‘n roman geskryf jare gelede, maar dit was nie waar ek wou wees nie. Toe het ek terug gegaan na die nie-fiksie, want dit was gemakliker. Maar ek het al hoe meer die behoefte gekry om iets meer kreatief te probeer. Die idee van Dit van guts het iewers vandaan gekom. Dit was soos ‘n vraag, kan mens skryf oor die pynlikste ding, maar wat mense ook kan laat lag as hulle dit lees? Kan mens skryf oor komplekse goed, maar asof dit eenvoudig is? Die hoofkarakter het net opgekom by my. Ek het gedink dis ‘n volwasse roman, maar ek het baie gesukkel met die stem en die storie. Oor tyd het ek stukke van die manuskrip vir verskeie mense gegee om te lees. Almal het gesê iets daaraan is lekker, maar sekere goed werk nie. Na baie oorskryf is die manuskrip uiteindelik aanvaar, maar as ‘n jeugroman. Ek moes dit toe korter maak en bietjie verander daaraan. Toe dit klaar is, het ek teruggegaan Engeland toe, na die grys koue. Ek  het besluit ek gaan ‘n jeugroman skryf, Totsiens, Koning Arthur. Dit het my vier maande geneem. Ek het dit maklik geskryf, maar nie sonder trauma nie. My eerste draft klink altyd sleg, maar ek het gevoel dit kan werk. Die uitgewers het beplan om Dit vat guts uit te gee, maar omdat Totsiens aangewys is as die wenner van die goue prys in die Afrikaans-kategorie van die 2011-Sanlam-kompetisie vir jeuglektuur, het hulle my eerste boek eers teruggehou. Dis hoekom dit eers later uitgegee is.

Hoe plaas jy jouself in die skoene van ‘n tiener?
Mense vra dit dikwels en ek probeer ‘n sinvolle antwoord gee. Maar eitlik weet ek nie. Ek tel dit op deur mense dop te hou en te luister hoe hulle praat.

En die kwessies wat jy aanraak in jou verhale, kanker en godsdiens ens? Dink jy baie daaroor of ontwikkel dit net wanneer jy skryf?
Dis baie organies. Ek sal ‘n idee kry en ‘n karakter en dan begin skryf en dan werk die ding homself uit. Toe ek met Dit vat guts begin het, was die perdtema nie daar nie. Daar was te min aksie en toe het ek dit as ‘n storielyn bygesit. Die ander boeke was makliker, want toe het ek darem al geweet hoe die formaat moet wees.

Dit vat guts gaan oor kanker. Waarom daaroor skryf?
Dalk is daar een of twee mense met wie dit nie gebeur nie, maar almal ervaar swaarkry en smart in een of ander vorm in hul lewe. Dit gebeur. My pa is dood aan kanker toe ek 10 jaar oud was. Dit was vir my ‘n geweldige ervaring, maar in daai jare is kinders nie gesien as mense wat goed vreeslik geregistreer het nie. As hulle goed aangegaan het, dan was dit fine. Eers baie jare daarna het ek in kontak gekom met daardie gevoelens en besef dit was so oorweldigend vir my. Ek het dit net uitgesny. En toe het ek dit verwerk as ‘n groot mens en geleer daar is ‘n plek vir swaarkry. Ek voel ander mense se swaarkry ook, maar dis okei.

Is daar baie van jou in Mia?
Ja, maar net ‘n deel. Sy is ouer as wat ek was, toe my pa dood is. Ek was uiterlik dapperder as sy. Ek het meer goeters gedoen. Maar die sensitiwiteit en die ervaring van alles wat so kompleks is, dis iets wat ons deel. Mens moet nie die skrywer agter die boek soek nie, maar ek dink woorde is mos maar vir my ‘n stuk gereedskap om sin te maak van dinge. Daar is enkele goed in my lewe wat gebeur het soos in die boek beskryf, maar baie dinge was ook heeltemal anders.

Is jy ‘n georganiseerde skrywer?
Ek is glad nie ‘n georganiseerde mens nie, maar ek is ‘n baie hartstogtelike mens. En is baie geesdriftig oor die stories wat ek wil skryf, eintlik enige skryfwerk. Maar my lyf kan nie die baie skryf hanteer nie. Gewoonlik, as ek werk aan ‘n ding, gaan ek uit na ‘n koffiewinkel, waar ek sit en werk. Ek sal mal raak alleen by die huis, nog maller in Engeland. Ek gaan na die een groot winkelsentrum in Bristol, waar daar lig is. Dan gaan ek na die koffiewinkel en werk daar op my skootrekenenaar. Dan gaan ek huistoe en dan gaan ek die middag weer en gaan sit en skryf. Dan is my kreatiewe energie vir die dag klaar.

In Dit vat guts is daar vrae rondom godsdiens. Waarom?
Wat ek onbewustelik gedoen het in die storie is om ‘n verskeidenheid sienings te reflekteer, van ‘n verskeidenheid soorte sekuriteit wat mense het. Ek dink mens glo dit wat by jou pas. Mens kan verander. Mens groei.

Is groei vir jou belangrik in jou karakters?
As ek begin met die storie weet ek daar is ‘n gaping tussen waar die karakter nou is en waar die karakter wil wees. Die storie moet die karakter bring tot by daai plek en dan luister ek maar wat wil die storie hê, wat moet gebeur.

Verras jou karakters jou soms?
Ja. Hulle is eintlik nogal oulik. Hulle het sulke verborge soorte guts en wysheid waarvan hulle nie geweet het nie, en dan kom dit uit.

Vir wie skryf jy?
Ek dink vir enige een wat die stories kan geniet. Dis vir my lekker as mense van verskillende ouderdomme my verhale kan waardeer.

Raak jy emosioneel wanneer jy jou stories skryf, want ek huil lekker wanneer ek dit lees?
Baie. Met Dit vat guts het ek meer gehuil. Met elke draft , en ek het klomp drafts gehad, op dieselfde plek kon ek dit nie hou nie en dan het ek elke keer gehuil.

Die boek is opgedra aan Helena. Wie is sy?
‘n Wonderlike vriendin van my. Toe die boek nog rof en grof was, het sy my baie aangemoedig en my laat glo in myself. Sy is ‘n wonderlike mens. Sy sien altyd die beste in mense.

Jy sê Helena laat jou in jouself glo. Twyfel jy oor jou skryfvermoë?
Altyd. As ek die storie geskryf het, dan kan ek die vreugde ervaar van die storie wat werk, maar dan begin ek ‘n nuwe storie. Dan begin alles van voor af en dan is alles nog ongevorm. My eerste draft is altyd sleg. Ek skryf soos dit kom en ek redigeer algaande maar. En dis in daai proses wat ek myself moet vertrou, dat daar genoeg goed is om weer te kan uitkom en iets nice te kan maak.