Boeke

Top-5 kortverhale

Ek hou ook altyd ‘n kortverhaalbundel in my kar vir die kere dat my beplanning my fnuik en ek moet sit en wag vir ‘n afspraak. Dié week is daar ‘n heerlike allegaartjie van kortverhaalbundels op die spyskaart.

Sonbrand en Braaiboud, saamgestel deur Bun Booyens (Tafelberg, R170)
Hierdie tweede bundel van uitgesoekte rubrieke uit die reistydskrif Weg bevat 50 vertellings van 17 skrywers wat in die laaste vyf jaar in die tydskrif verskyn het. Die agt onderafdelings, wat wissel van “Die hemel en hel van gesinsvakansies” tot “Oor die waters”, prikkel al klaar die leeslus. Dit vertel van die plesierigheid en soms minder plesierigheid van reis en vakansies. Jy sal beslis iets van jou eie reiservarings hierin herken. Nadat jy die sketse gelees het, sal jy met nuwe oë na jou eie reise en ook na Suid-Afrika kyk. Die pretensielose en humoristiese aanslag van die verhale sal die mees gesoute rusbankreisiger prikkel om weer ‘n slag te wil gaan reis – al is dit nou net na die naaste winkelsentrum. Dis ‘n voorreg om die sketse in een bundel bymekaar te hê, want jy sal dit weer en weer wil lees. Kort pensketse agterin die bundel gee ons die geleentheid om die skrywers van nader te leer ken. – Gert Venter Bestel by www.kalahari.net

Troepie

Troepie, from call-up to camps, Cameron Blake (Zebra Press, R169,95)
Nasionale diensplig, wat vir meer as veertig jaar ‘n drastiese invloed op die lewens van alle Suid-Afrikaners gehad het, is vir baie jare nie meer deel van ons daaglikse lewe nie. Daar het reeds ‘n geslag jongmense grootgeword vir wie so ‘n stelsel heeltemal ondenkbaar is. In Troepie vertel ongeveer veertig voormalige dienspligtes van hul ervaringe van die stelsel en hul herinneringe aan dié onstuimige tyd in ons geskiedenis. Al die fases van die stelsel, van registrasie tot kampe, hetsy op die grens of in die townships, word gedek. Blake probeer nie die stelsel verdedig of veroordeel nie en die boek gee ‘n baie menslike en roerende verslag deur persone wat direk daarby betrokke was. Hulle vertel hoe hulle dit ervaar het en hoe hul lewens en lewensuitkyk daardeur beïnvloed is. Die insluiting van amptelike dokumente, wat in die tydperk gebruik is, laat jou besef dis nie ‘n storieboek nie, maar eintlik ‘n stukkie geskiedenis. –Gert Venter Bestel by www.kalahari.net

Touch Touch – Stories of Contact saamgestel deur Karina Magdalena Szczurek (Zebra Press, R194)
Dié kortverhaalbundel deur uitgesoekte Suid-Afrikaanse skrywers is een van die beste wat jy kan lees. Die samesteller, wat met die skrywer André P. Brink getroud is, is uit eie reg ‘n literêre kritikus en skrywer.
Die verhale beeld die tema van aanraking, of die gebrek daaraan, op verskillende maniere uit. Die skrywers het meestal ‘n minimalistiese benadering, tog is hul taalgebruik dikwels beeldend. Brink beskryf slapende bejaardes in ‘n siekeboeg só: “Like meagre loaves in a bakery, relying on self-raising flour past its sell-by date.”
Die verhale lees maklik en een soos “Lullaby” deur Ivan Vladislavić is so treffend mens kan nie glo wat jy lees nie.
Temas sluit in ontnugtering, aweregse seksuele aanraking, toevallige ontmoeting, haweloosheid, die bewuswording van ouderdom, vriendskap en moederskap.
Mens lees die verhale weer en weer, maar neem tussen-in tyd om van elkeen se impak te herstel.
*Die skrywers se tantième gaan aan die Treatment Action Campaign vir die bekamping van HIV/Vigs. – Riette Rust Bestel by www.kalahari.net
Midsummer Nights Midsummer Nights, saamgestel deur Jeanette Winterson (Quercus, R214)
Die kortverhale in hierdie bundel handel op een of ander manier almal oor opera. Die bundel is spesiaal saamgestel om die 75ste verjaardag van die Glyndebourne-operahuis te vier. Die skrywers se inspirasie kon kom uit die musiek self, die libretto, die karakters in die opera of selfs net ‘n frase uit ‘n opera. Wat die verhale nog lekkerder maak, is dat jy as leser glad nie die operas of die operawêreld hoef te ken nie. Die stories is uiteenlopend en jy gaan deur die volle spektrum van emosies, van opgeruimdheid tot hartseer en nadenkend. Van die skrywers is Joanna Trollope, Sebastian Barry, Ruth Rendell en Andrew Motion. Daar is ‘n spesiale hoofstuk waarin elke skrywer se inspirasie uiteengesit word. ‘n Besonder interessante boek wat vloei soos musiek. – Phyllis Green Bestel by www.kalahari.net
Why I&aposll never . . . Why I’ll never live in OZ again, Rick Crosier, Andrew Donaldson, Josef Talotta, John Wardall en Tim Richman (Two Dogs, R95)
Elke skrywer beskryf waarom hy nooit weer vir ‘n lang tydperk in ‘n betrokke land sal woon nie. Die klassestelsel, slegte weer, te veel reëls en regulasies en ‘n kultuur van “waarom moet ek my beste lewer?”, is maar net ‘n paar punte wat uitgelig word. Die skrywers gee nie net die negatiewe punte weer nie, maar ook die goeies. Soos pragtige landskappe, sport en kultuur. Almal mag dalk nie saamstem met die onderskeie skrywers nie, maar dis elkeen van hulle se eerlike opinie, soos wat hulle dit in die stadium van hul lewe beleef het. Soos die een skrywer sê: “Dis hoe ek vandag voel, maar wie weet wat môre gaan bring.” Na elke storie is daar ‘n kort onderhoud met die skrywer. ‘n Baie interessante, insiggewende en soms lighartige boek vol feite en humor. –Karien Labuschagne

Bestel by www.kalahari.net