FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Kos en nog meer kos

Wat is lekkerder as kos? Eet is lekkerder as kos!

Altans, dis my lewensfilosofie. As ek opstaan in die oggend, dan dink ek oor wat ek gaan eet. Op kantoor kan ek nie wag vir middagete nie. Terwyl ek besig is om middagete te eet, wonder ek al klaar oor wat ek die aand gaan eet. Ja, ek is gek oor eet. Gelukkig is ek omring deur mense wat my liefde deel! Boonop is ek bevoorreg om saam met twee kollegas te werk, wat my inspireer om nog lekkerder te eet en te probeer kook. Barbara Joubert en Herman Lensing is SARIE KOS en SARIE se kosredakteurs en ek probeer graag die resepte wat hulle uitdink. Keer op keer verras hulle my met ’n klein kinkel in ’n gewone gereg wat dit uitsonderlik maak. Lees is nog een van my liefdes, maak nie eintlik saak wat die genre is nie. Maar ek moet bieg, van die boeke waarin ek die lekkerste lees is resepte boeke. En ek het ’n rak spesiaal in my kombuis vir my versameling.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Kostalgie, Barbara Joubert (Quivertree, R450)
Ek was al gelukkig genoeg om saam met Barbara te kon reis. In Thailand het die vreemde vars vrugte en groente en snaakse ongediertes op die markte haar gefassineer en het sy in winkeltjies en supermarkte ingegaan om te kyk wat alles daar op die rakke is. Orals het sy geproe en onmiddellik vertel hoe sy haar eie gereg sal optower met dié bestanddele. In Kenia het ek vir die eerste keer in my lewe saam met Barbara krap geëet. Ek kon my verwondering met haar deel. So het ek saam met haar baie nuwe geure en kossoorte ontdek. In Kostalgie neem sy my weer saam op haar unieke kosreis na die lande wat haar inspireer om nuwe resepte te skep. Ons skop af in die Karoo waar sy gebore is en waar die eenvoudige kosse van die plaas plek in haar hart gekry het. Daarna reis ons saam na Portugal en die reuk van vars sardientjies, dan doen ons aan in Frankryk waar die dag begin met vars croissants en goudgeel botter. In Italië gaan dit oor pasta, natuurlik handgemaak, en wie word dan nie verlei deur pizza nie? So lees jy in elke hoofstuk Barbara se onthougoed van elke land – speserye, kruie, geure en dan is daar haar eie resepte wat hierdeur geïnspireer is. Mickey Hoyle se pragtige foto’s maak dit ’n wonderlike kyk-boek, maar Barbara se resepte maak dat jy elke dag uit dié boek wil kook.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Nog ’n voorskoot, Herman Lensing (Human & Rousseau, R302)
Herman se boek is ’n kombinasie van lekker lees en lekker kook. Elke hoofstuk handel oor ’n spesifieke bestanddeel en word afgeskop met ’n ode aan die bestanddeel deur ’n bekende persoon. So skryf onder meer Albert Maritz, Deon Lotz, Martelize Brink en Marion Holm oor die bestanddeel wat vir hulle spesiaal is. By elke resep vertel Herman so ietsie meer oor die resep en dan gee hy ook ’n ekstra wenk. Hy verduidelik in sy inleiding hoe hy yskoud van vrees raak as iemand vra wat sy gunstelingbestanddeel is, want hoe kan hulle verwag hy moet net een kies. Bestanddele is sy boustene vir sy resepte en dit kan jy ook in elke resep sien. Hy sê: “Ek is niks sonder my bestanddele nie, en natuurlik ook niks sonder die mense wat die bestanddele kweek, voed en oes nie.” Glo my, daar is niemand wat so kinderlik opgewonde kan raak oor ’n bestanddeel soos Herman nie; ek het dit al self beleef. Sy opgewondenheid en liefde vir bestanddele en kos is aansteeklik en as jy sy resepte met liefde kook, sal jy dit ook proe! Wat my beïndruk van hierdie boek, is dat Herman baie van sy inspirasie gaan haal by sy ma, ouma en ander kosmentors. In hierdie boek bring hy hulde aan baie van dié spesiale mense in sy lewe.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Pure Juicing for Life, Sarah Cadji (Quadrille Publishing, R313)
Cadji vertel hoe sy as kind in Griekeland by haar ouma geleer het dat mens jou kos elke dag vars op die mark koop en dat jy met die stalletjie-eienaar gesels oor waar die produkte vandaan kom. Jy moes weet wat dit is wat jy eet. In haar twintigs het sy na Engeland verhuis en in finansies gewerk in Londen. Haar lewe het so besig geraak dat daar nie altyd tyd was om aandag te gee aan wat sy eet nie. Dit het sy tol geëis op haar gesondheid, sy was lusteloos, het geen energie gehad nie en het depressief begin voel. Sy is van dokter na dokter vir ’n moontlike oplossing. Sy wou nie die voorgeskrewe medisyne gebruik nie. Haar oplossing was om beheer te neem van wat sy eet en hoe sy leef, ’n gesonder leefwyse. In haar navorsing het sy gevind dat om rou groente en vrugte te eet die beste manier was om liggaam en gees gesond te hou. Sy het haar werk bedank en ’n organiese eetplek, Roots & Bulbs, in Londen begin. In hierdie boek deel sy haar lewensfilosie oor kos en ook resepte wat jou op ’n gesonder lewenspad sal bring.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

V is for vegan, Kerstin Rodgers (Quadrille Publishing, R491)
As jy al ooit gewonder het waaroor dit gaan om ’n veganis (vegan) te wees, dan is hierdie boek vir jou. Rodgers verduidelik as daar geen diereprodukte in ’n gereg gebruik word nie, is dit ’n veganistiese dis. Volgens haar is dit nie maklik om so te kook nie, want daar is baie meer voorbereiding met groente, as met ander kossoorte. As jy eenvoudig wil eet, dan kan jy die makliker resepte gebruik. Maar met baie van die geregte is dit die tegnieke wat die sukses daarvan bepaal. Sy verduidelik van die tegnieke in die boek en gee in een van die eerste hoofstukke ’n lys van “umami boosters” wat gebruik word deur veganiste om geregte lekker te laat smaak. Moenie afgeskrik word omdat dit na harde werk, en vreemde kos, klink nie. Daar is fantastiese resepte in die boek, selfs vir mense wat vleis eet (net sonder die vleis!).

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Medicinal Chef, Heart Disease, Dale Pinnock (Quadrille Publishing, R313)
Hartgesondheid is ’n onderwerp wat geweldig in die kollig is, veral in Suid-Afrika waar soveel mense daagliks aan hartsiektes sterf. Pinnock verduidelik in hierdie boek hoe die hart werk en hoe jy daarna moet omsien om te verseker dit hou aan werk. Hy fokus op voeding en skryf uitgebreid oor die kossoorte wat jy eerder uit jou dieet moet sny en waarom dit sleg is vir jou. Al die resepte is saamgestel uit bestanddele wat jou hart gesond sal hou en is eenvoudig om voor te berei. Die boek is baie toeganklik geskryf en verduidelik in verstaanbare begrippe alles rakende die hart en hartsiektes. Pinnock glo dat mens jou lewe kan verleng deur gesond te eet, bowendien hoef dit nie smaakloos en vervelig te wees nie. Een van sy geregte is hoenderbors gevul met swart olywe en ansjovis, bedien met fyn patats, en vir nagereg eet jy daarby pere wat in rooiwyn en speserye geprut is. Ek dink ek moet nou sommer dadelik voor die stoof uitkom!