FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Kragdadige en ontstellende debuut deur Christelle van Rooyen-Wessels

Geweld in verskillende vorme, word blootgelê in Christelle van Rooyen se boek, Adder. Moord, mishandeling, verkragting en aanranding is elemente van dié skokkende verhaal waarin Klara Francke die hoofrol speel.

Klara word fisies en seksueel gemolesteer deur haar sadistiese man Johan, wat boonop genot daaruit put om haar emosioneel af te takel. Ironiese genoeg is sy ’n maatskaplike werker wat mishandelde vroue help by die sentrum waar sy werk. Haar eie huwelik is haar tronk, een waaruit sy nie kan ontsnap nie en waarin sy bly ter wille van haar seun, David. Altans, so maak sy haarself wys … Maar is David die onskuldige jong seun wat hy voorgee om te wees, of aard hy meer na sy pa as wat Klara vermoed.  Intussen ondersoek die polisie die gruwelmoorde van twee skoolmeisies. Wanneer ’n derde meisie verdwyn, merk een speurder op dat die slagoffers almal na mekaar lyk. En dan lyk hulle nogal baie na Klara ook nog! Wat is die verband tussen haar en die meisies, en waar pas Johan in die prentjie in? Dis van die raaiselagtige vrae waarmee die polisie spook.

Adder (Penguin, R220) is Van Rooyen-Wessels se eerste boek. Sy skets realistiese prentjies met haar woorde en baie van die tonele is gewelddadig en grafies. Die taalgebruik is soms kru, maar eg aan die karakters wat dit gebruik. Die rou en skokkende verhaal sal sensitiewe lesers ontstel, maar in ’n land soos Suid-Afrika waar geweldsmisdade teen vroue en kinders alledaags is, is sulke verhale broodnodig. Die verhaal beweeg teen ’n vinnige tempo en daar is genoeg aksie en spanning om jou enduit te laat lees.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Christelle het per e-pos ’n paar vrae beantwoord.

Vertel kortliks meer oor jouself, wie is jy en wat doen jy?
Ek is vir die afgelope 19 jaar joernalis en die laaste 13 jaar daarvan is ek redakteur van een van die oudste gemeenskapskoerante in die land, die Stellalander, in Vryburg.

Ek, die baie laat laatlam ná vyf ander kinders, is in 1968 in De Aar gebore. My pa was ’n treindrywer en my ma huisvrou. My ma het baie gelees en was storie-verslaafd. Ek en sy het saans tot laat gesit en luister na radioprogramme soos Consider your Verdict en Squad Cars. Ek vermoed dís waar die saadjie vir die misdaadgenre al geplant is!

Toe ek 12 was, het ons na Warrenton in die Noord-Kaap verhuis. Seker maar omdat ek basies alleen grootgeword het, is dit vir my moeilik om vriende te maak. Gevolglik het ek baie tyd in die dorpsbiblioteek deurgebring. So in die middel van my hoërskoolloopbaan, het ek darem so bietjie meer selfvertroue begin kry. Ek het selfs in my matriekjaar die toekenning ontvang as die skool se Beste Aktrise nadat ek tydens die ATKV-kunstefees ’n A++ gekry het vir my vertolking van die vroulike hoofrol in Die Held van NP van Wyk Louw.  Nou nie dat daar té veel kompetisie was nie – ons was omtrent 180 kinders in die skool.

Adder is jou debuut. Waarom in die spanningsgenre skryf?
Ek wou ’n boek skryf wat ek sélf sal wil lees. En ook ’n boek wat mense met sy egtheid raak. Om dít te kon doen, het ek gereken, sou vereis dat ek meer as net navorsingskennis van my onderwerp moet hê. Drie van my vier broers, asook my suster se man, was polisiemanne. Ek het self ook ná matriek vir so amper drie jaar by die polisie gewerk, vir die grootste gedeelte by die Port Elizabeth Blitspatrollie. Ook, as joernalis is ek daagliks in kontak met geweldsmisdaad.

Wat was die saadjie vir die verhaal, ’n karakter of ’n gebeurtenis?
Ek het al deur die jare tientalle stories begin skryf. Daar het egter net nooit ’n karakter opgedaag wat my geboei het tot só ’n mate dat ek net móés aanhou skryf nie. Toe, eensklaps, is dit asof  ’n sameloop van toevallige gebeure vir my ’n klomp karakters op ’n silwer skinkbord bring: Ons koerant het ’n artikel oor ’n plek van veiligheid vir vroue en kinders gedoen. Tydens ons besoek het paramedici ’n vrou ingebring wat erg deur haar man aangerand en verkrag is. Die idee het by my opgekom dat, dalk, net dalk, daar een van die vroue is wat hier soveel sorg aan die slagoffer gee, wat weet waardeur dié vernielde mens gaan.

Net voor dié voorval, het polisie die lyk van ’n tienermeisie onder ’n stormwaterbruggie in die dorp gekry. Haar moordenaar het haar trui om haar kop gedraai en aan die brand gesteek. Dit het my gefassineer. Ek het nagte wakker gelê en gewonder oor hoekom hy dit gedoen het. My swaer, wat as jong speurder by Brixton Moord-en-Roof werksaam was, het opgemerk dat waarskynlik is dit as gevolg van iets wat met die moordenaar gebeur het en ’n sweer in sy psige veroorsaak het. “Dalk het sy ma doodgebrand,” het hy gesê. En dit was vir my die vuurhoutjie in die kruitvat wat Adder geword het.

Die moeilikste in die skryfproses?
Ek het nou die dag gelees van ’n skrywer wat sê sy hou van skryf, want sy kan nie wag om die toutjies te trek en te sien hoe haar karakters dans nie. Met my is dit anders om. Die karakters het beheer van my geneem en wou nie altyd die wyk neem as ek die rekenaar afgesit het nie. Klara het ’n redelike konstante metgesel geword. Ek betrap myself steeds gereeld dat, terwyl ek lipstiffie aansit, ek aan haar dink en nog háár vrou-voor-’n-spieël kwesbaarheid beleef.

Johan se skaduwee was ook bykans pal so aan die buiterand van my gesigsveld.

Dis toe ek vir Ronnie ontmoet het. Sy het een aand sommer net in my kop opgedaag, arms oor die bors gevou en daarop aangedring dat sy ’n spreekbeurt wil hê. En telkens ná ek ’n ontstellende toneel geskryf het, het ek dadelik vir haar iets geskryf, al was dit nie chronologies nie; ek het later vir dit plek gemaak.

Is jy ’n gedissiplineerde skrywer, of is jy ’n enige plek/enige tyd skrywer?
Ek is gedissiplineerd in die opsig dat ek probeer om elke dag te skryf al vee ek dit môre weer uit. Verder skryf ek enige plek. Ek maak net eers netjies om my; ek wil ’n oop, skoon ruimte hê waarop ek my gedagtes kan uitpak, sorteer en kan herrangskik.

Mishandeling en geweld speel ’n sterk rol in die verhaal. Hoe moeilik is dit om die aspek geloofwaardig te hou, sonder dat dit geforseer raak?
Ek was baie bedag daarop om nie tonele te skryf wat bloot ten doen het om te skok nie, waar geweld nie net vir geweldsonthalwe gepleeg word nie.

Uit die aard van my werk is ek ook vertroud met hoe gewelddadig ons samelewing in werklikheid is. En ek, soos seker baie, baie ander vroue, kén vroue soos Klara Francke. Hul mans is nou net nie reeksmoordenaars nie, maar die geweld waaraan hulle onderwerp word, is nie minder nie. Die vroue gaan soek nie hulp nie, want hulle het kinders in die skool; hulle dien op komitees; hul mans sit in die kerkraad. Dié vroue dra hul lyding in stilte en in skaamte.

Hoe het jy die navorsing vir die verhaal aangepak?
Ek het aanvanklik baie staat gemaak op die kennis wat ek reeds gehad het, asook op die ervarings wat ek gehad het terwyl ek vir die polisie gewerk het. Daarna het ek alles moontlik gelees oor die ongesonde verhoudings wat tussen seuns en ma’s kan ontstaan. Die Springs “House of Horrors” het ook ’n rol gespeel. Dit was ’n goeie voorbeeld van die gruwels wat kan aangaan reg onder die neus van bure, terwyl ’n beeld van redelike normaliteit na buite uitgestraal word.

Het jy van die begin af geweet hoe jou karakters gaan lyk en wat hul persoonlikheid gaan wees?
Klara het redelik konstant gebly, maar al die ander het in ’n mindere of meerdere mate verander. Die grootste metamorfose het egter aan David behoort. Hy was eers die spreekwoordelike ‘goue seun’, en dit het my gepla. Dit was asof hy hierdie eendimensionele skepsel was wat bloot Klara se alibi moet wees vir hoekom sy nie vir Johan verlaat nie. Een oggend lees ek die vorige paar blaaie – dié waar iemand vir Klara en Nathan deur die venster dophou. Dit is, by implikasie, Johan. Eensklaps het ek gewonder of dit nie ’n lieflike kinkel sal wees as dit eerder David is nie? Net daar en dan het die dierbare seun in die niet verdwyn.

Met watter karakter het jy die meeste gesukkel?
Ek sal nie sê ‘sukkel’ nie, eerder ‘worstel’ – dis Johan. Ek het alles aan hom verpes, maar daar was plekke waar ek hom innig jammer gekry het. Sy herinnering aan die eerste keer toe sy ma hom gemolesteer het, het my in trane gehad. En dit het my woedend vir myself gemaak.

Wat wil jy hê moet lesers by bly as hulle die laaste bladsy van Adder toegemaak het?
As dit één vrou die moed gee om uit ’n toksiese verhouding te stap, sal ek tevrede wees dat ek ’n bydrae kon lewer.

Wat maak ’n spanningsverhaal vir jou suksesvol?
Ek wil kan identifiseer met die karakters, met hul reaksie op hul situasie. Geloofwaardigheid, dus. Ek het bitterlik krities gekyk na karakters se binne-gedagtes, hul beweegredes en hul reaksies. Ek het notas gemaak oor alles wat dalk deur ’n leser bevraagteken sal word  en dit na die beste van my vermoë só aangepas dat dit mý sou tevrede stel. Dan die slot. Dis waar baie, selfs gevestigde ervare skrywers, my teleurstel. Dis soms asof ’n skrywer moeg is vir sy storie en sommer net lukraak drade bymekaar pluk en ’n slot opdis wat darem min of meer ’n sinvolle einde is. Daarom het ek Adder se slot geskryf terwyl ek nog in die middel van die storie was – ek wou seker maak dat ek nié die leser ongenoeglik los nie.

Werk jy aan ’n nuwe boek?
Ek het met ’n nuwe manuskrip begin. Soos Adder, is baie van die storielyn gegrond op werklike gebeure. Ek sif nog grootliks deur stapels inligting om te bepaal wat ek eindelik gaan gebruik en wat in ’n lêer vir ’n volgende boek geplaas moet word.