FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Laaste luilekker-vakansieboeke vir jonger lesers

Die laaste dae van die vakansie het aangebreek. Teen hierdie tyd behoort die kinders uitgeput te wees van swem, rondloop en kuier.

Dis tyd vir hulle om rustig te raak en hulself voor te berei vir die skooljaar wat voorlê. Kan jy aan ’n beter manier dink vir hulle om rustig te raak, as om ’n boek te lees?

Asterix en die Noormanne, Asterix en die speelplek van die Gode, Sonya van Schalkwyk-Barrois (Protea Boekhuis, R130)
Soms is die beste manier om te vergeet van die probleme om jou deur ’n lekker boek te lees. Met lekker bedoel ek nie ’n boek met moord en dood-verhale nie. Nee, met lekker bedoel ek ’n boek met ’n lighartige storie en vermaaklike karakters.

Daarom kan mens nie sommer verkeerd gaan met ’n goeie Asterix en Obelix om te vergeet van die wêreld om jou nie. Ek praat spesifiek van Asterix en die Noormanne en Asterix en die speelplek van die Gode. Albei se sarkastiese teks is deur René Goscinny – met die Afrikaanse vertaling deur Sonya van Schalkwyk-Barrois – en hul kleurvolle illustrasies is deur Albert Uderzo.

Asterix en die Noormanne begin met Allamapstix, die hoof van die stam, wie se nefie vir hom kom kuier. Terselfdertyd besluit ’n groep Noormanne om hul deel van die wêreld te besoek. Hulle is op soek na vrees nadat hul hoofman gehoor het dat vrees jou glo op vlug slaan. Duidelik verstaan dié hoofman nie idiome nie en dit veroorsaak ’n groot geveg tussen die twee stamme met Allamapstix se nefie in die middel daarvan.

asterix en die speelplek van die godeIn Asterix en die speelplek van die Gode wil Julius Caesar die Galliërs se woud ontbos en ’n nuwe beskawing daarop bou, genoem – “Die speelplek van die Gode”. Maar die Galliërs sal dit mos nooit aanvaar nie en saboteer die Romeine se planne.

Tussen die twee is Asterix en die Noormanne duidelik die een met meer sarkastiese teks, maar albei is propvol grappies en vermaaklike illustrasies wat enige knorpot sal laat grinnik. – Gareth Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Danda op Oudeur, Chris Barnard (Tafelberg, R130)
Dit is nou al ’n jaar vandat Daniël Daneel, of Danda soos hy genoem word, by sy pa op die vissersdorp Oudeur aangekom het. Danda geniet dit daar. Daar is plek vir sy diere – Kiki die kraai, Vlooi die steekhaarbrak, Ratel die ratel en Sindo die nagaap. Sy grootprater vriend Sarel Vetvoet is ook hier. En dan is daar Rosina . . . die skaam meisie wat hy elke Woensdag op die strand kry.

 

Maar dinge kan nie altyd rustig wees nie. Danda kom agter dat sy pa baie stil en bedruk is. Het dit iets met Pontak en sy pa se boot te doen? Skielik bevind Danda homself in ’n opwindende avontuur waarin sy pa van die moord op Hans Hoed verdink word. Wat het gebeur dat Hans Hoed se liggaam onder sy pa se hyskraan gevind is? Wat weet Kalkoen Viljoen en Sarel Vetvoet? ’n Avontuur vol swendelaars en smokkelaars wat jou laat aanhou en aanhou lees. – Dian Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Swart Kat slaan ’n vos en ander avonture, Chris Sasner (Protea Boekhuis, R110)
Die Swart Kat het al met baie dinge te doen gehad, maar hierdie keer word hy regtig tot die uiterste beproef! Daar is drie avonture in hierdie bundel en in elke avontuur word Borrie Veldt – oftewel Die Swart Kat – se speurvernuf getoets.

 

In Die Swart Kat slaan ’n vos word hy gekonfronteer met vrae soos – Wie is die Vlieënde Vos wat oral moeilikheid maak en almal aan die raai hou met sy kriptiese rympies en kan hy regtig vlieg? ’n Onopgeloste bankroof van jare gelede word oopgevlek in Die Swart Kat slaan ver en in Die Swart Kat slaan ’n moordenaar word hy gekonfronteer met ’n verlore seuntjie en die moord wat hy gesien het.

Hierdie stories is lekker kort, spannend, vol avontuur en hope lekker lag – soos Borrie se alewige gesukkel om sy sus Rienie se swart broekiekouse in die hande te kry vir sy mondering. Ek was mal daaroor! – Dian Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Emma en die Creepy Komplot, Marianna Brandt (Human & Rousseau, R130)
Emma en die Creepy Komplot is ’n opvolg op Emma en die Geheime Gang. Emma is steeds in die koshuis op Kosterkloof en dit lyk asof alles normaal en rustig is ná die komplot van die vorige skoolhoof om kinders se DNS aan ruimtewesens te verkoop. Maar is dit?

Daar is baie nuwe mense op Kosterkloof soos die Plottenboere wat in beheer is van die skool en koshuis, die rugbyafrigter Joori Appelgryn en Sarel Samuels wat die nuwe eienaar is van die Berg Hotel. Saam met die nuwe mense kom ook ’n klomp geld skielik die skool en koshuis in en niemand, behalwe Emma, wonder waar al die geld vandaan kom nie. Het dit iets te doen met die blou koelsakke wat elke oggend tweeuur deur Joori na die kombuis gebring word en in ’n yskas toegesluit word? Emma besluit om ondersoek in te stel en wat sy in die koelsakke ontdek, is genoeg om enige persoon se nekhare te laat rys.

’n Lekker onvoorspelbare en soms grillerige storie! – Dian Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

I’ll give you the sun, Jandy Nelson (Walker Books, R171)
Ek was verras deur hoeveel emosie hierdie jeugverhaal oor die tweeling Jude en Noah by my ontlok het. Die storie begin waar die dertienjarige Noah en sy suster Jude onafskeidbaar is, al is hulle teenpole van mekaar. Sy is die ekstrovert, hy die introvert. Hy verloor homself in die verbeeldingswêreld van sy kuns, terwyl sy avontuurlustig is en meer as genoeg sosiale interaksie het vir die twee van hulle. Jude neem die vertelling oor wanneer hulle sestien is en sy verduidelik hoe hulle ma onbewustelik ’n wig tussen die tweeling ingedryf het. Jude en Noah se wedywering oor kuns en aanvaarding deur hul ma, asook ’n plek in ’n gesogte kunsskool, het ’n jaloesie laat ontketen het, wat so groot was dat dit hulle uitmekaar laat spat het. Die verhaal wat ontvou vertel dan van liefdes gevind, liefdes verloor, drome wat in die wiele gery word en drome wat bewaarheid word. Dis ’n lieflike verhaal en as jy hou van die kompleksiteit van die menslike psige, sal jy die een terdeë geniet. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Lees en Luister: Diere Klankboek (Human & Rousseau, R169,95)
Enige kinderboek met helder, kleurvolle illustrasies trek my aan. As die diere op die prnetjies nog geluide maak, is ek eers vasgevang! In die boekie is 45 verskillende diere: op die plaas, in die woud, in die bosveld, in die see en in die huis. Die diere se name word ook geskryf en daar is ’n kort inleiding vir elke seksie wat voorgelees kan word. Die klankknoppies werk met batterye wat maklik vervang kan word. My kollega’s wens die boekie se batterye is pap! Ek luister weer en weer na die kat, die hond en die vark. Die boekie amuseer my geweldig. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Liefde is ’n Sprokie, saamgestel deur Santie Nel (Human & Rousseau, R130)
In ’n wêreld van wrede stiefma’s en onderwysers wat kan toor, waar die gewone ou op skool in ’n held kan verander en die vaal meisie soos ’n feëprinses op die matriekdans kan lyk, is die liefde soms ’n sprokie.
Hierdie boek is vir jonger lesers en dit is ’n versameling van die ou bekende sprokiesverhale, maar met ’n romantiese en moderne wending. Aspoestertjie, Rooikappie, die klein Meerminnetjie en selfs die Drie Varkies kry nuwe lewe in hierdie twee-en-twintig kort stories. Alhoewel die karakters almal op hoërskool is, sal lesers in die senior fase op laerskool ook die boek kan geniet. – Danica Gouws

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

My eerste soen en ander dinge wat jou uit die bloute tref, Tania Brink (Lapa uitgewers, R100)
Reza dink Murphy se wet is net vir haar bedoel – as iets verkeerd kan gaan dan sal dit – en so vertel sy, as Murphymeisie, in haar grappige tog ernstige blog, oor ’n rampspoedige afspraak wat al haar romantiese idees oor soen en sulke dinge heeltemaal omvergooi. “’n Soen ruik nie noodwendig na aftershave nie – partykeer ruik dit na pizza.”   Haar blog-skrywe lei tot onverwagte gevolge. Sy beland in ’n kompetisie en kan uit menige ouens kies om uiteindelik met die perfekte ou op haar droom-date te gaan. Murphy bring egter sy kant – dinge loop skeef en die kinkel in die storie kom wanneer die werklikheid haar tref. Reza se gevoelens en gedagtes, saam met haar daaglikse doen en late met skoolmaats en familie, word baie goed uitgebeeld – en ook nog saamgevat in haar blog. ’n Heerlike verhaal, in die kol vir tieners. – Cailin Spickett

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Nowhere, Jon Robinson (Puffin Books, R158 e-boek)
In die middel van nêrens, in ’n verafgeleë sneeubedekte woud is ’n grys “sementblok” waar presies 100 tieners gevange gehou word. Alyn, Jes, Ryan en Elsa is vier van die 100 tienergevangenes. Hoekom is hulle daar, wie is die mense wat hulle daarheen gebring het en soek iemand ooit na hulle? Dit is die vrae waarmee hulle worstel aangesien geeneen kan onthou dat hulle die dade gepleeg het waarvan hulle beskuldig word nie. Sommige van die tieners lyk ook asof hulle in ’n waas leef en aanvaar alles waarvan hulle beskuldig word – asof hulle nie weet wat om hulle aangaan nie. Hulle kom gou agter dat om te ontsnap nie ’n maklike taak gaan wees nie, en dat jy niemand daarbinne kan vertrou nie.

Hierdie is die eerste boek in ’n trilogie en los jou met ’n spul onbeantwoorde vrae . . . Dit dwing jou om die res te wil lees. Ek kan beslis nie wag nie. – Dian Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Skooldae, Franz Marx (Protea Boekhuis, R175)
Dis die eerste dag van die nuwe jaar by Akademie Hoër. Soos die tradisie is, word alle nuwe leerlinge so bietjie ontgroen. Met die intrapslag bevind die nuwe – baie jong – geskiedenisonderwyser, Christo de Wet, hom tussen die “nuwelinge” wat ontgroen word en is hy hopeloos laat vir saalopening. Die kwaai sekretaresse kry hom waar hy deur die skool dwaal en so begin ’n nuwe jaar. Christo se ongewone onderwysmetodes laat hom kort-kort in die sop beland by die skoolhoof en die ander meer tradisionele personeellede, maar onder die skoolkinders word hy baie gou gewild. Die storie fokus op die skoolkinders en hoe hulle deur Christo se inspirasie en aanmoediging leer om hul probleme te konfronteer en self uit te sorteer.

My ma vertel dat Skooldae ’n televisiereeks was in die jare 80. Nadat ek die boek gelees het, klink dit nogals na iets wat ek sou geniet. – Dian Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Speurder Kwaaikofski, Jurgen Banscherus (Human & Rousseau, R99,95)
Teen hierdie tyd ken die meeste van julle seker al vir Speurder Kwaaikofski en soos gewoonlik, is sy pet op sy kop en sy Carpenters kougom in sy sak. Ek het drie boeke in die reeks Kwaaikofski’s gelees.
In Monster, maan en mottegif beland Kwaaikofski op die verhoog. Daar is groot fout – drie van die akteurs wat die hoofrol speel in die skool se opvoering, “bedank” sommer sonder geen rede hul rolle. Wat gaan aan in die Staatsteater se kelder? Sal Kwaaikofski die produksie kan red?

Volgende was Soene en Sirkusse. Vanessa, die sirkusbaas se dogter, maak skielik tydens elke vertoning dieselfde fout. Wat dit verdag maak is dat sy gewoonlik foutloos werk. Kwaaikofski word deur haar broer, Pedro, gevra om uit te vind wat die oorsaak is van die skielike foute.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Laastens was dit Muise en gespuise. Olga, Kwaaikofski se ou vriendin, is bekommerd oor ’n gewelddadige rekenaarspeletjie, Towertuin, wat kop uitsteek onder kinders. Waar kry die kinders dit en hoekom wil niemand iets daaroor sê nie? Hierdie saak is ’n tawwe ene en Kwaaikofski moet al sy speurvernuf inspan om die skuldiges aan die pen te laat ry.

Die speurverhale is vir jonger lesers en bevat oulike illustrasies. Ek geniet Kwaaikofski vreeslik en wag in spanning vir die volgende boeke. - Dian Liebenberg

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Spring, Fanie Viljoen (Lapa Uitgewers, R95)
Mans kom van Mars af — daaraan is daar geen twyfel nie. Ek meen: wie wil nou met ’n skateboard oor ’n slang ry? Rudi en Steven is, vandat hulle kan onthou, beste vriende. Hulle besluit om ’n video te maak, ’n baie vreemde video, maar die video loop skeef en word die grootste grap onder die son. Hulle kry die byname “die Vidiote” en die hele skool lag hulle uit.

Dan ontmoet hulle vir Marco. Marco wat vreemde planne het en wat sê dat hy hulle wil “help” om ’n beter video te maak, maar dan begin alles skeefloop — erg skeefloop. En die ergste van alles is, Steven wil nie luister nie. Sal Rudi hom betyds kan oorreed dat Marco slinkse plannetjies in die mou voer, of gaan Steven homself letterlik doodval?
Spring was ’n heerlike boek vol spanning en keuses wat ’n mens tot op die einde laat wonder wat nou gaan gebeur. Die enigste negatiewe ding wat ek oor hierdie boek kan sê, is dat dit heeltemal te dun is! Ek het hom binne ’n uur kafgedraf en toe is al die lekker verby.   – Nina Swart