beste_mnr_mandela
Boeke

Laaste-minuut-geskenkboeke

Ek sou nie omgee om self ‘n paar van hierdie boeke in my Kerskous te kry nie. Almal bevat ‘n element van inspirasie, of dit nou ‘n lewensles is, of net iemand se deursettingsvermoë of ‘n aanhaling van iemand se laaste woorde of iemand se hele lewe soos Madiba s’n – dis vasgevang in woorde vir weer en weer lees. Maak seker jy koop vir die mense naaste aan jou iets wat jy ook wil lees! Om te deel is mos lekker en bowendien kan julle dan saampraat oor die boek.

Jy kan ook van die boeke by ons elektroniese boekwinkel bestel teen ‘n afslagprys.

Beste mnr. Mandela. ‘n Fees van woorde en pret, Jomarié Dick (Human & Rousseau en Tafelberg, R180)
Die boek is gemik op tieners. Ek het onmiddellik besluit dan is ek seker nog ‘n tiener! Dis vir my een van die oulikste boeke waarin die lewe van Mandela uitgebeeld word. As jy nie kans sien om ‘n omvattende en dikke boek oor Madiba se lewe en geskiedenis te lees nie, dan is hierdie boek ideaal vir jou. Dis bondig maar steeds kleurryk en lewendig. Madiba se verhaal word van sy kinderjare tot aftrede beskryf met al die relevante inligting wat jy moet weet. Verder is daar baie interessante “het jy geweet”-blokkies en die teks is toegelig met foto’s en illustrasies. Die laaste hoofstuk is gepas en gaan oor Madiba, die celeb – en dit is hy beslis! ‘n Pragtige huldeblyk aan een van die grootste staatsmanne wat die wêreld opgelewer het, sonder wie ons almal se menswees baie armer sou gewees het.

The year in quotes

The year in quotes: 2010, Andrew Donaldson en Mandy Rossouw (Kwela, R129,95)
As jy vinnig ‘n idee wil hê wat nuus was in 2010 is hierdie die ideale boekie waaruit jy jou geheue kan verfris.

Hier is aanhalings uit al die goed wat ons aan die praat gehad het, van die Sokker-wêreldbeker, misdaad, die ekonomie, onse president Zuma en daardie ander politieke figuur Julius Malema tot sport en sports van glansmense.

Lees maar wat het Fifa-president Sepp Blatter gesê: “Nobody in the world is perfect, but the organisation of this first World Cup in Africa and in South Africa was pretty close.” Die geleentheid was seker die grootste gebeurtenis die afgelope jaar en het baie goed opgelewer waarop ons land trots kan wees en om dit te staaf is daar ‘n hele klomp aanhalings wat die punt beklemtoon. Ongelukkig is daar ook die negatiewe nuusgebeure en dit word ook nie ontken in die boek nie.

Die verskeidenheid onderwerpe en aanhalings maak hierdie ‘n boek waarin jy weer en weer gaan loer – net om jou geheue te verfris!

Cindy Nell&aposs Model & Pageant Handbook

 Cindy Nell’s Model & Pageant Handbook (Zebra Press, R190)
Hierdie is die perfekte geskenk vir enige jongmens wat dink aan ‘n beroep as ‘n professionele model of as jy wil deelneem aan skoonheidskompetisies.

Cindy gee ‘n oorsig van alle aspekte van die bedrywe en vertel ook wat dit vat om suksesvol te wees. Daar is ook onderhoude met suksesvolle modelle en skoonheidskoninginne. Cindy het raad en wenke oor alle aspekte, van hoe om op te tree tydens onderhoude, tot hoe om jou portefeulje saam te stel en selfs hoe om ‘n fotograaf te kies.

Beskou hierdie boek as ‘n stuk gereedskap wat jy moet hê, want hierin gaan jy baie waarde vind. Jy sal ook ‘n idee kry van die harde werk wat dit verg om suksesvol te wees in die bedryf. ‘n Praktiese gids met goeie inligting en mooi foto’s.

Immortal last words

 Immortal Last Words, Terry Breverton (Quercus, R144,95)
Dis fassinerend om te lees wat die laaste woorde was van mense soos Leonardo da Vinci, Oliver Cromwell, Benjamin Franklin, Jane Austen, Malcoml X, Pablo Picasso, Heath Ledger, Kurt Cobain, Michael Jackson. Of hulle dit nou self gesê het en of dit oor hulle gesê is deur iemand anders, dis fassinerend.

Hier is 370 mense se laaste woorde met ‘n kort beskrywing van die omstandighede van die mens se dood en in watter konteks die woorde gebruik is.

“I’m shot” was die laaste ding wat John Lennon gesê het na hy in New York op 8 Desember 1980 inderdaad geskiet is.

In die boek skuur wetenskaplikes, glansmense, politici, skrywers en kunstenaars skouers met mekaar en hulle is gekies van die vroegste tye tot 2009. Die laaste inskrywings is dié van Patrick Swayze en Keith Floyd, wat altwee gesterf het op 14 September 2009. Dis glad nie makaber om oor mense se sterwenswoorde te lees nie. Inteendeel, baie daarvan is inspirerend en gee jou iets om oor na te dink.

The Pilgrimage

 The Pilgrimage, Paulo Coelho (HarperCollins, R170)
Die boek het in 1987 die eerste keer verskyn en is dus nie nuut nie. Die verhaal bly egter een wat immer inspireer en daarom is die pragtig verpakte heruitgawe ‘n waardige geskenkboek.

Die boek vertel van Coelho se eie reis na Santiago, waar hy soek na wysheid en waarhede oor homself, die lewe en die waarde van die menslike bestaan. Sy reis na groter insig word ook die leser se reis en die leser kom ook tot ‘n dieper besef oor vrae rondom morele kwessies en waardes. Op sy reis word Coelho gekonfronteer en getoets en moet hy in sy diepste self delf om die waarheid te ontdek.

Die boek is ‘n baie gepaste inleiding tot sy verdere werke.

Toeris in Hillbrow

Toeris in Hillbrow, Andries Bezuidenhout (Human & Rousseau, R165)
Hierdie is ‘n keur uit rubrieke wat voorheen in onder meer Rapport verskyn het. Die veelsydige Bezuidenhout – skrywer, musikant, sosioloog, reisiger – beskou die wêreld met ‘n nugtere oog en ‘n vaardige pen.

Dit is veral Suid-Afrika waaroor hy besin – verlede, hede en toekoms, die hele katastrofe. Dit sluit in die taal, musiek, kultuur, emigrasie, politiek. En mense. Sy verslaggewing is betrokke, simpatiek en vol humor. Die leser kan deurgaans identifiseer met sy ervarings van die daaglikse lewe, van die verhewe tot die belaglike. Die reis gaan ook verder na Kanada, Duitsland, Amsterdam en Australië, maar bly altyd verbind aan hierdie “donker, donker land”. - Ilse van Staden

Die Honger Reisiger  Die Honger Reisiger, Marié Heese (Tafelberg, R160)
Toe ek hierdie boekie nadersleep en die titel onder oë kry, sak my moed sommer in my plakkies: ag nee, dag ek, nóg ‘n reisverhaal? Maar wat ‘n verrassing wag daar toe nie op my nie! Dié versameling sketse is ‘n klein juweel, ‘n onvergeetlike bundel met ‘n hele paar smaaklike resepte kenmerkend aan elke streek waar die skrywer en haar wederhelf aangedoen het. Heese het die gawe om die erfenis, atmosfeer en lewenswyse van ‘n land en sy inwoners vas te vang; met humor en deernis voer sy jou mee. Haar skryfstyl verleen ‘n gevoel van onmiddellikheid aan die gegewens (dit voel kompleet asof jy oor haar skouer loer) en die beskrywings van karakters wat sy op reis leer ken het, bly ‘n mens lank by. Haar geestige observasies oor ‘n spesifieke plek en sy mense word glad afgewissel met historiese detail en beskrywings van geskiedkundige besienswaardighede wat asof terloops deel vorm van die vertelling – ‘n leersame en omvattende reisverslag, hoogs aan te beveel. – Emsie Viljoen
Living a charmed life  Living a charmed life, Victoria Moran (HarperOne, R140)
Ons het almal soms ‘n bietjie magic in ons lewe nodig. Soms het die lewe ons sprankel gesteel en soms het ons self toegelaat dat die magic verdwyn. Hierdie boekie is die opvolg van Creating a Charmed Life en is spesifiek geskryf om ‘n huppel in jou stap terug te sit. Dit bestaan uit 50 oulike kortstories wat jou geestelik, emosioneel en selfs fisiek sal opkikker. Moran skryf met opregtheid en flair en die boek is klein genoeg om in jou handsak te pas. ‘n Oulike geskenk vir enigiemand wat inspirasie in hul lewe kort. - Mignionette de Bruin
Made for goodness

 Made for goodness: And why this makes all the difference, Desmond Tutu & Mpho Tutu. (Random House Struik, R215,95)
Emiritus-aartsbiskop Desmond Tutu het geen bekendstelling nodig nie. In sy leeftyd is hy vereer met ‘n Nobelprys, hy is voorsitter van The Elders en ‘n ware ikoon in Suid-Afrika wat leierskap betref. Nou kan skrywer ook by hierdie lysie gevoeg word.

In die boek, wat hy saam met sy jongste dogter Mpho geskryf het, ondersoek hy die natuur van die mens en die feit dat ons almal na God se beeld geskape is. Die fokus is op goedheid en dat almal wel goed in hulle het. Hy gee ook raad oor hoe om daardie goedheid in onsself te ontdek.

Hy deel sy persoonlike ervaringe en Bybelstories om die boodskap oor te dra. ‘n Inspirerende, voel-goed-boek wat die boodskap van hoop en liefde verkondig en ‘n moet-hê vir enige boekliefhebber se rak. - Mignionette de Bruin