FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Leer meer oor die reg in toeganklike Afrikaanse boek

Deesdae dink almal hulle weet baie van die reg en van geregtigheid. Dis nie noodwendig die waarheid nie. In hierdie toeganklike Afrikaanse boek kan Jan en alleman meer oor die reg leer.

In Wat sê die prokureur? – Regsake wat jou raak (Naledi, R189) bespreek Igna Klynsmith ’n magdom vrae en antwoorde wat op gewone mense se lewe van toepassing is. Dit sluit in egskeiding, testamente en boedels, grondregte. Die boek is in baie toeganklike Afrikaans geskryf en die antwoorde is maklik verstaanbaar, al is die probleme waaroor geskryf word uitgebreid. Hy vertel in ‘n e-posonderhoud meer oor die boek.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Waarom het jy oorspronklik besluit op ’n beroep in die regte?
Ek was van kleins af breedsprakig en het gehou van redeneer, argumenteer en debatteer. Daar was op geen stadium by my twyfel oor my beroepsrigting nie en as ek my keuses kon oorhê, sou ek beslis weer ’n prokureur wou wees.

Jy bied reeds 21 jaar lank op RSG die radioprogram “Wat sê die Prokureur?” aan. Waarom bly die program relevant na soveel jaar?
Ek bied die program aan namens die Prokureursorde van Suid-Afrika. Die Prokureursorde het die program geïnisieër as deel van ’n poging om die reg meer toeganklik te maak vir die algemene publiek. Vir 21 jaar reeds probeer ek my uiterste bes om die radioprogram aan te bied op ’n wyse wat dit maklik verstaanbaar maak vir elkeen. Ek dink myself in, en ek sê dit ook aan al die spesialisgaste, dat jy praat met jou ma, jou vriende, jou kinders, jou ouma in die aftree-oord, die boer op die land, ens. Ek glo die program is suksesvol omdat dit aangebied word in eenvoudige maklik verstaanbare Afrikaans en omdat dit die regsake hanteer wat gewone luisteraars elke dag mee worstel. Ek streef glad nie na akademiese uitmuntendheid in die program nie en wil verseker dat dit vir die luisteraars interessant en ook van nut is.

Hoe het jy besluit watter hofsake jy wil insluit in die boek?
Ek moet bieg dat eie persoonlike voorkeur ook hier ’n rol gespeel het. Die regsgeskiedenis van Nelson Mandela, die Nuremburgverhore, die verhoor van Jesus Christus uit ’n regsperspektief, die geskiedkundige sake teen diere, fassineer my persoonlik. Die meer sensasionele hofsake soos die van die gifmoordenaresse het baie groot reaksie ontlok by luisteraars. Oor die 21 jaar heen het ek letterlik honderde hofsake hanteer en kan ek waarskynlik 10 boeke skryf met net interessante hofsake. Die keuse was dus moeilik.

Dink jy die algemene publiek het deesdae ’n groter belangstelling in die regte en hofsake?
Ongetwyfeld. Ons nuwe grondwetlike bestel het beslis daartoe bygedra dat die algemene publiek meer bewus is van hul regte. Vryheid van spraak en daarmee gepaardgaande vryheid van die pers, asook toegang tot inligting dra baie daartoe by dat die media die publiek meer ingelig hou oor hul regte en ook oor wat gebeur met hofsake. Die onlangse beeldsending van die Pistorius-saak het sekerlik ook ’n bewusmakingsrol gespeel. Dis belangrik dat ons konstitusie ’n lewende dokument moet wees en dat elkeen van ons moet besef dat ons regte het wat inderdaad afdwingbaar is. Die staat kan ons nie bloot boelie nie, want die soewereiniteit van die reg het die soewereiniteit van die Staat vervang. Dis ’n wonderlike boodskap vir elke Suid-Afrikaner.

Het die reg baie verander deur die jare of is sekere regsbeginsels steeds vandag geskik vir die moderne lewe?
Ons regstelsel is ’n sameflansing van die Hollandse Reg (wat die Hollanders ons kom leer het in 1652), asook die Romeinse Reg (wat ’n groot invloed op die Hollandse reg gespeel het, vandaar die naam Romeinse-Hollandse Reg), asook die Engelse Reg na die besetting van Britanje en dan natuurlik die Statutêre Reg en die Presedente Reg (die reg soos deur ons Regters gemaak in uitsprake). Die talle eeue oue gemeenregtelike beginsels bestaan nog vandag en word geïnterpreteer om aan te pas by die moderne lewe. Daar’s geen regering ter wêreld wat so bedrywig is met die maak van nuwe wette op ’n jaarlikse basis as ons eie regering nie. Dis inderwaarheid vir regsgeleerdes baie moeilik om by te hou en beklemtoon net weer dat spesialisasie in die reg ’n noodsaaklikheid is en dat ’n algemene praktisyn beslis nie meer sal kan byhou nie. As gevolg van nuwe wette, ’n lewende Grondwet en gedurige interpretasie daarvan deur ons Howe, is dit veilig om te sê dat die reg in Suid-Afrika wel gedurig verander en aanpas.

Wat wil jy hê lesers moet leer uit hierdie boek?
Wat die vrae en antwoorde betref, is dit vir my belangrik dat in lekker lees Afrikaans antwoorde moet wees oor alledaagse vrae wat op almal van ons se lewens van toepassing is. Hoe moet my testament lyk, wat is my posisie as my eggenoot afsterf, hoe hanteer ek my egskeiding, wat is my grondregte, hoe hanteer ek ’n uitsetting vanaf my grond, ens. Ek het probeer om dit so saam te stel dat daar vir feitlik elke leser inligting sal wees wat op hom of haar van toepassing is en wat vir hom of haar iets sal leer van die reg. Ek is ’n litigasieprokureur wat my bes doen om my kliënte daarvan te oortuig dat lang, duur en uitgerekte litigasie dikwels nie in enige van die partye se belang is nie. Die grootste fout wat mense maak is om te dink dat ’n regsgeveg noodwendig die oplossing is. Geregtigheid en billikheid veronderstel ook dat ons dikwels bereid moet wees om toegewings te maak. In die boek hanteer ek egskeidings en beveel ten sterkste aan dat daar eers hard gewerk moet word daaraan om deur middel van mediasie en goeie kommunikasie, met behulp van die prokureur, ’n skikking te vind wat in belang is van die gesin en wat die pyn en emosionele ontwrigting van almal, veral vir die kinders, minimaliseer. Die grootste fout wat mense maak wanneer dit kom by Kommersiële Reg is om eers self te probeer. Dis werklik ’n duisend maal beter om ’n prokureur so gou as moontlik te gaan spreek om jou behoorlik te adviseer, want die onbeholpe eie pogings om regskoste te bespaar, lei gewoonlik tot groot hartseer en aansienlike kostes. Spandeer dus liewer aanvanklik aan ’n enkele konsultasie in plaas van om later deur lang en uitgerekte hofsake gekonfronteer te word.

Wat is die grootste fout wat mense maak wanneer dit by regsake kom?
Na elke program kry ek talle briewe van luisteraars met navrae. Die moeilikste met die samestelling van die boek was om te besluit watter regsaspekte vir die lesers die belangrikste sal wees en ook watter spesialis onderwerpe van mees algemene belang is. Uiteindelik het ek my laat lei deur die reaksie van luisteraars op die inhoud van spesifieke programme. Die positiewe reaksie op die boek en die feit dat die tweede uitgawe nou bykans uitverkoop is, is hopelik ’n aanduiding daarvan dat ons met die samestelling van die boek daarin geslaag het om die sake wat vir die lesers belangrik is aan te raak.