Boeke

Top-5 leersame leesboeke vir kinders

Ek is van kleins af ‘n boekwurm en het al die boeke opgeslurp wat in die skoolbiblioteek beskikbaar was. Maak nie saak of dit net ‘n storieboek of ‘n boek was wat meer oor skoolwerk verduidelik het nie. Hierdie week het ek letterlik weer gevoel hoe ek terugkeer na my kinderdae en ek het my verlustig in ‘n klomp baie oulike boeke (wat eintlik bedoel is vir jonger lesers).

Onthou om ons boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Die knal-lekkerste wetenskapboek in die heelal, Die Slimkoppies (Human & Rousseau, R154,94)
Hierdie is weer een van daai boeke wat ek vir ‘n dertienjarige seun gegee het om te hoor wat sy mening is. Ek dink dis baie oulik, want die inligting word in strokiesprent-formaat oorgedra. Gelukkig is dit nie net ek wat so dink nie. My toetsleser het onmiddellik gedink die boek is wow! En dat die inligting baie interessanter weergegee word as wanneer Meneer of Juffrou dit in ‘n vervelige stemtoon in die klas oordra. Sy grootste bewondering was: “Kan ons handboeke asseblief tog lyk soos hierdie boek, want dan gaan baie meer van ons dit lees en wetenskap actually verstaan.” Die boek verduidelik wat wetenskap is, die boustene daarvan, die periodieke tabel, materie, chemie en nog meer. Daar is ‘n tweede boek, Die wonderlikste atlas van die hele wye wêreld, Die Slimkoppies (Human & Rousseau, R134,95), wat dieselfde uitleg en tipografie volg. Volkleur-strokiesprente op uitvoublaaie met inligting oor elke wêreldstreek en lande. Bekyk self die klein karakterjies wat op elke bladsy iewers verskyn en terloopse, maar baie relevante kommentaar lewer. Dit alleen sal jou ure amuseer. Beslis goeie kopies.

My eerste boek van alles My eerste boek van alles, Richard Scarry (Protea Boekhuis, R120)
Ek is seker die meeste ma’s ken reeds Richard Scarry se boeke. Die oulike boek is sakpas vir klein kinders met volkleur-sketse waar alle aktiwiteite deur diere gedoen word. Genoeg om enige kleintjie se verbeelding aan te gryp. Hulle leer speel-speel ‘n hele klomp nuwe woorde, wat sinvol gegroepeer is, sodat die kind ‘n goeie assosiasie daarmee kan vorm. In hierdie een word daar gekyk na kleure, getalle, die alfabet, goeie maniere, vorms en groottes. Dis ‘n lekker manier vir ma en kind om tyd saam deur te bring, maar die boek is ook ‘n nuttige een as ma vir kind wil besig hou op sy eie, sodat sy haar eie ding kan doen. In dieselfde reeks is ook My eerste groot woordeboek, Richard Scarry (Protea Boekhuis, R120) waar Buks en Bettie Beer en hulle vriende jou kind gaan help om met nog meer woorde kennis te maak. Daar sal uiteindelik vyf titels in hierdie reeks in Afrikaans wees.
Die eerste dag Die eerste dag, Joan Rankin (Pan Macmillan, R77)
Joan Rankin se kinderboeke is vir my van die mooistes. Sy illustreer self haar verhale en jy kan nie help om te kyk en weer te kyk nie. Skolliebulliebons moet skool toe gaan en hy het allerhande vrese oor die eerste dag. Hy glo sy glip-gladde flopveer-pote gaan hom pootjie en sy klossie-ore gaan maak dat hy die onderwyser nie kan hoor nie. Boonop het hy bangmaak-oë en gaan hy nie maatjies kan maak nie. Sy ma moet al die vrese besweer om te sorg dat haar ou hondjie skool toe gaan. Om alles te bekroon verkort hy ook sommer sy naam, omdat sy nuwe maatjies nie sy mondvol-naam sal kan onthou nie. Maar toe Skolliebulliebons eers by die skool is, is al die goed vinnig verby. ‘n Heerlike voorleesboek vir ma.
Helouise die swart tobie Helouise die swart tobie, Maritha Snyman (Lapa, R60)
‘n Storie wat ‘n sterk bewaringstema het. Helouise se lewe word vertel van die oomblik dat sy uitbroei en hoe sy waggel af see toe om al die fyner kunsies aan te leer wat haar sal help oorleef. Die swart tobie is die skaarsste endemiese kusvoël in Suider-Afrika en in hierdie storie word verduidelik wat mense kan doen om te sorg dat die spesie nie uitsterf nie. Helouise se oorlewing berus by die besorgde vrouens wat die nes afsper met tou, sodat die klein voëltjie veilig tot by die water kan kom. Sonder dat sy vertrap word deur strandgebruikers, opgevreet word deur ‘n hond of doodgery word deur ‘n 4×4. ‘n Heerlike bonus is die ekstra feiteblaaie met al die inligting oor hierdie bedreigde voëlspesie.
Uggy and the mammoth Uggy and the mammoth, Jim Draper (Corals Publishers, R99,95)
‘n Lekker aksiebelaaide storie vir seuntjies wat maar al te nuuskierig is oor dinousourusse en die oertye. Uggie is ‘n grotbewoner wat moet jag om kos vir sy gesin te kan gee. Die storie gaan oor sy jagtog en hoe hy ‘n groot genoeg eetding moet kry wat almal se mae sal vol maak. In ‘n wêreld vol pterodaktiele, vreesaanjaende slange en mammoete moet hy sy trap en wegkruip goed ken. Die sketse, deur Draper self, dra by tot ‘n wonderwêreld waar ongediertes en gevare agter elke bos en boom skuil. Gelukkig stop die storie voordat die lesers die mammoet se bloedige einde hoef te beleef. Die storie sal so reg in die kraal van laerskoolseuns wees wat al self lees. Bestel aanlyn by Corals, ‘n baie oulike onafhanklike uitgewer in die Vaaldriehoek.
  • wzocfojgrsx

    35RbJp qoeisdgufgld, [url=http://kocbzwfptajw.com/]kocbzwfptajw[/url], [link=http://wpkpkxbvgdkf.com/]wpkpkxbvgdkf[/link], http://mldijmlazopj.com/