Boeke

Top-5 lekkerlees-boek (deel 2)

Daar is so bietjie romanse, lewenservaringe, intrige en drama. Alles elemente wat jou op die lekkerste plek in die wêreld kan hou vir die hele naweek (dis natuurlik volgens my beskeie mening) – in die bed met ‘n boek! Ek weet dat ek beslis ‘n paar van hierdie boeke op my leeslysie sit vir die naweek se ontspanning. Lees wat die resensente te sê het oor hul keuses. Besoek ons boekwinkel om van die boeke te bestel.

As almal ver is, saamgestel deur Danie Marais, (Tafelberg, R165)
In “As almal ver is” vertel sowat 40 bekende, en ook minder bekende skrywers, van hul ondervindings in die buiteland. Die buiteland wissel hier van Parys tot Perth, tot minder algemene bestemmings soos Kilimanjaro en Beiroet. Soos te verwagte van 40 verskillende skrywers en hul verskillende bestemmings is die verhale heel uiteenlopend van aard. Die tema bly egter verhale van dié wat land-uit is en dié wat teruggekeer het na Suid-Afrika. Die insluiting van tekeninge en strokiesprente maak die boek nog interessanter. Met duisende Suid-Afrikaners wat hulle in bykans elke uithoek van die wêreld bevind, glo ek dat amper almal in Suid-Afrika iemand ken wat tans, of in die verlede, die buiteland as sy tuiste gehad het en dus aanklank by die vertellings sal kan vind. Jy sal dit geniet om te lees hoe ander mense dit ervaar het. Kort biografieë aan die einde van elke vertelling en aan die einde van die boek help om ‘n beter begrip van die skrywers te kry en ook om die ervaring beter te kan waardeer. Die samesteller van die boek is Danie Marais. – Gert Venter

 

T&apossats se kind T’sats se Kind , Willem D. Kotzé (Protea Boekhuis, R110)
Hierdie boek vervolg op T’sats se Wraak, maar staan op eie bene (met enkele verwysings na insidente in die vorige boek).
Tkô!lie, T’sats se seun, en drie ander Boesmanjagters word gevang omdat hulle kroonwild geskiet het. Traag om die minderjarige Tkô!lie tot tronkstraf te vonnis, gee die magistraat hom aan ‘n boer om as beeswagter groot te maak met die oog daarop dat Tkô!lie na afloop van sy makkers se straf saam met hulle na sy mense sou terugkeer. Die magistraat, vergesel van spoorsnyer en tolk Tsaan, vertrek op patrollie na hoofman Zameko om die bepalings rondom die onwettige jag van elande aan die Boesmans te verduidelik.
Maar dan vind ‘n tragedie plaas . . .
Kotzé se verhale is ryk aan kultuurhistoriese inligting; hy teken die Kalahari en sy inwoners met soveel kennis en insig dat dit vir lesers ‘n werklikheid word. –Emsie Viljoen
Heildronk op &aposn gypsyromp Heildronk op ‘n gypsyromp, Nadia de Kock (Tafelberg, R145)
Dis ‘n heerlike chick-lit-storie van hoop, vriendskap en liefde, van moed verloor, weer opstaan en weer probeer. Mieke le Roux se uitgewery, Vianne Boeke is in die knyp. Sy het net ‘n handvol skrywers in haar stal en kan nie bekostig om haar skrywers aan die opposisie af te staan nie. Dis ongelukkig net die begin van Mieke se probleme. Die skrywers is boonop veeleisend. Dan is daar foute met kontrakte, verkeerde ISBN-nommers. Om alles te kroon is sy in ‘n verhouding wat druk op haar sit, terwyl sy haar blind staar teen die regtige ware liefde. Gelukkig dra haar vriende haar deur hierdie stryd met margaritas en inspirerende besigheidsboeke. En as dinge regtig donker lyk, trek sy net haar gypsyromp aan en dans! – Monet Engelbrecht
Core of evil
Core of Evil, Nigel McCrery, (Quercus, R129,95)

In ‘n afgeleë gebied van Essex, Engeland, raak ‘n motor die pad byster. Wanneer daar op meer as net die bestuurder se lyk afgekom word, word hoofinspekteur Mark Lapslie teruggeroep van sy mediese verlof om die ondersoek te lei. Mark lei aan die skaars neurologiese kondisie ‘Synaesthesia’. Dit beteken dat sensasies wat geassosieer kan word met ‘n spesifieke sintuig, word in die brein gekombineer en gekoppel aan meer as een sintuig. Dus een sensasie word deur twee sintuie ervaar. In Mark se geval word klanke ook as smaak ervaar, byvoorbeeld as sy telefoon lui ervaar hy die smaak van mokka-koffie. Sy toestand veroorsaak dat hy vervreemd is van familie, vriende en kollegas. Sy werk word negatief beïnvloed omdat hy nie vir lank in ‘n groepsituasie kan wees sonder dat hy fisiek siek word nie – juis omdat sy sintuie oorweldig word. Violet Chambers blyk op die oog af ‘n sjarmante, liefdevolle ou dame te wees, wat na haar vriendin Daisy omsien. Maar as Daisy ineenstort en sterf, kom ‘n ander sy van Violet na vore. Is daar ‘n konneksie tussen Mark en Violet en gaan Mark betyds wees om haar volgende slagoffer te red? Dis ‘n speurverhaal met ‘n unieke nuwe held in die hoofrol. Die boek kan beslis aanbeveel word vir alle liefhebbers van intriges. – Karien Labuschagne
The brightest star in the sky The brightest star in the sky, Marian Keyes (Michael Joseph Ltd, R250)
Keyes is op die kruin van haar skryfloopbaan, en hoewel Brightest star nie die impak het van This charming man nie, stel Keyes nie haar lesers teleur nie. Die idee vir die storie is oorspronklik – in Ierland, soos in baie ander Europese lande en Engeland, is huise nie soos ons dit hier ken nie. Daar woon die mense in betreklike klein spasies. Die verhaal speel af in so ‘n huis met woonstelle op vier verskillende vloere, en die huurders se onvoorspelbare lewens skryf ons storie. Die karakters is interessanter as ooit – van Katie af wat musikante se lewens probeer organiseer, tot die twee Poolse mans wat saam met Lydia woon, die taxibestuurder wat net maak of sy kwaai is, maar probleme van haar eie het. Die aantreklike tuinier veroorsaak groot fladdering in die hoenderhok. En dan is daar die oënskynlik gelukkig getroude paartjie met hul eie geheim. Die onbekende besoeker skep die meeste intrige en misterie . . . – Mariette Postma