FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Lekker boeke vir vakansie

Daar is niks lekkerder as om vakansie te hou nie! Veral hierdie tyd van die jaar wil mens regtig net lui wees! Hier is n paar boeke wat jou vakansie nog lekkerder en luier sal maak.

Eendag op ’n Maandag, Chanette Paul (Lapa Uitgewers, R214,95)
In hierdie boek word twee van Paul se ouer werke, Krinkels in die maan en Vlerke vir ’n visvrou, in ’n nuwe baadjie uitgegee.

Krinkels in die maan: Tish maak kunstige teëls, bewers en droomwippe wat sy in haar winkeltjie op die kunsmark Organica, verkoop. Dit bring egter nie genoeg geld in nie, en sy beraam ’n plan om haar dienste na palmlesery uit te brei. Dit strook egter glad nie met die eienaar, Berk Colijn, se beleid nie. Hy is die los draadjie in haar droomwip wat sy nie beplan het nie.

Vlerke vir ’n visvrou: Emma Steyn glo vas sy het nie dieselfde talente as haar bekende skilder pa, oupa en oupagrootjie nie. Daarom onttrek sy haar en gaan woon op die afgeleë dorpie, Schilderkrans in die Karoo. Hier skilder sy, maar op mure en meubels. Die Watervrou Fees in die dorp laat haar paaie kruis met die van die bekende sjef, Michael Lindeque en haar rustige bestaan word op sy kop gedraai.

Twee lekkerlees verhale! – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Children of the revolution, Peter Robinson (Hodder & Stoughton, R252)
Hoofinspekteur-speurder Alan Banks ondersoek die dood van die dosent, Gavin Miller. Miller word naby sy huis langs die treinspoor gevind met sowat 5 000 pond in sy sak. Het Miller van die brug geval, selfmoord gepleeg of is hy vermoor en van die brug af gegooi sodat dit na ’n ongeluk moes lyk? Nog voordat Banks antwoorde het op dié vrae ontdek hy dat Miller heelwat vyande gehad het en dat niemand jammer is dat hy dood is nie. Boonop het Miller bitter min geld gehad in die dae voor sy dood. Waar het die 5000 pond vandaan gekom? Afpersing? Om sake verder te kompliseer was Miller in kontak met Lady Chalmers. Wanneer Banks haar ’n paar vrae vra oor Miller hou haar swaer nie daarvan nie. Met haar swaer se kontakte in die polisie is dit net ’n kwessie van tyd voor Banks oor die kole gehaal word deur sy bevelvoerder. Nou moet hy nie net die saak ondersoek nie, maar ook ’n politieke speletjie speel wat sy loopbaan kan vernietig. Dis ’n uitstekende speurverhaal – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Aspoesterskoene, Kristel Loots (Lapa Uitgewers, R219,99)
“Bloemfontein doen niks vir haar libido nie, dink Sarah”. Met dié eerste sin weet jy sommer dit gaan ’n lekker lees wees hierdie.
Sarah Moolman is getroud met Christiaan, sy is ’n huisvrou en die ma van ’n rebelse matriekseun, Waldo. Daar is niks “glamorous” aan haar lewe nie. Die brief van Marius Malan, oudhoofseun op Doringbaai en organiseerder van die matriekreünie, draai Sarah se hele lewe skielik op sy kop. As oudhoofmeisie word dit van haar verwag om te help. Sal sy ná 25 jaar haar demone, en Marius Malan, op Doringbaai in die oë kan kyk? Marius wat haar magteloos woedend maak, maar steeds haar hart besit, al is sy Christiaan se vrou en Waldo se ma. Haar wankelende selfvertroue sal maar met ’n paar aspoesterskoene ’n hupstoot moet kry, maar vir die skuldgevoelens het sy nie raad nie. Ná al die jare raak Sarah opnuut in die web van verskikking verstrengel. ’n Verhaal vol bespiegelinge, onbeantwoorde vrae en geheime. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Hemel van Heivisj, Benny Lindelauf, vertaal deur Daniel Hugo (Protea Boekhuis, R160)
Die tienderjarige Fing se ma is oorlede; sy bly saam met haar pa, twee susters en vier broers in “Nege Oop Arms”, haar ouma se huis naby die kerkhof. Die verhaal speel af op ’n plattelandse dorpie in die Nederlandse provinsie Limburg, wat aan die grens van Duitsland lê, en handel oor gebeure tydens die jare 1938 tot 1943. Fing wil ’n onderwyseres word, maar die magtige Sigaarkeiser fnuik haar planne toe hy Fing versoek om Liesl, sy vrou se eienaardige niggie, op te pas. Die Tweede Wêreldoorlog breek spoedig uit; Fing se pa en broers verkeer in doodsgevaar, en daarby lyk dit of Liesl, asook die knaap waarop Fing verlief is, met die vyand heul. Hierdie meevoerende ontwikkelingsroman het reeds die Woutertje Pieterse Prijs, die Nienke van Hichtumprijs en die Dioraphte Jongenliteratuurprijs ingepalm. Dit is ’n vervolg op Nege Oop Arms, maar kan ook op sy eie gelees word. As digter en vertaler benodig Daniel Hugo geen bekendstelling nie; dié uitstaande vertaling is ’n welkome bydrae tot Afrikaanse jeuglektuur. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Ontwaking, Chris Karsten (Human & Rousseau, R220)
Abel Lotz besit ʼn galery in Johannesburg wat maskers uit Afrika en Suid-Amerika verkoop. Hy is ʼn spesialis leerlooier en verruil die velle van klein diertjies vir die maskers. Vir sy vyftigste verjaardag beplan hy iets makaber. Hy soek tatoeëermerke vir die omslae van sy joernale, Kosmiese Reise, wat hy skryf. Vir homself soek hy ʼn nuwe gesig, dié van ’n jong vrou. Dis adjudant Ella Neser, een van die min vroue in Moord en Roof, se eerste groot saak en dit verg vernuftige speurwerk van haar en Silas Sauls om ʼn verband te kry tussen die reeks moorde en die middeljarige oujongkêrel maskerhandelaar.

Karsten slaag daarin om Abel se agtergrond, wat tot sy obsessie aanleiding gegee het, so te beskryf dat die gebeure geloofwaardig klink en amper empatie uitlok. Die boek is uiters leesbaar, grillerig, spanningsvol en gedetailleerd geskryf. Lees dit. Die boek is oorspronklik uitgegee as Abel se ontwaking en is ook as film verwerk. Karsten is ʼn ervare oud joernalis en skrywer wat tans in Kanada woon. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Vengeance, Benjamin Black (Mantle, R224)
Die misdaadverhaal speel af in Ierland en handel oor die politiek en kompetisie tussen Dublin se twee vooraanstaande families; die Delahayes en Clancys. Die storie begin met die selfmoord van Victor Delahaye en die raaisel waarom hy sy mededinger se seun, Davy Clancy, as ’n ooggetuie saamgeneem het die dag toe hy sy eie lewe op sy seiljag geneem het. Toe ’n moord gepleeg word, kry die polisie snuf in die neus en begin ondersoek instel na die verbintenis tussen die twee tragiese gebeure so kort na mekaar. Die patoloog, Dr Quirke, werk saam met die hoofinspekteur, maar met sy drankprobleem en swakheid vir vrouens word hy ingesleep by die drama van die twee ryk families. Hy kry te doen met Mona Delahaye, die treurende weduwee wat oorspronklik van Kaapstad is, ’n identiese tweeling wie se pa dood is, Mevrou Clancy wat al jare lank ’n blinde oog gooi vir haar man se rondlopery en verneukery en die effense histeriese suster van Victor Delahaye. Dr Quirke ontdek dat in hul gejaag na mag en invloed, niks hierdie trotse families sal stop om hulself te regverdig nie.
Daar is baie onnodige leidrade in die storie wat niks oplewer nie en gedetailleerde beskrywings van elke karakter se agtergrond wat nie juis tot die storielyn bydra nie. Wanneer mens uiteindelik agter die kap van die byl kom, kan mense nie help om te voel dat die skrywer die verhaal te lank uitgerek het nie.  Nietemin is Black se misdaadverhale baie gewild onder sy aanhangers en is dit selfs as ’n BBC TV reeks verwerk. Dis ’n lekker boek om te lees op die strand tydens vakansie. – Danica Steyn

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

An Act of Kindness, Barbara Nadel (Quercus, R250)
Terwyl Nasreen en Abdullah ’n ou huis in ’n Londense voorstad restoureer, kry sy ’n foto van ’n vrou en ’n vreemde metaalhouer. Sonder om haar man daarvan te vertel, sit sy dit in haar sak. As ’n hawelose oudsoldaat, vir wie sy kos gegee het, verdwyn, begin Nasreen haar man verdink. Sy vra dat Mumtaz Hakim, wat vir privaatspeurder Lee Arnold werk, navraag doen oor die hawelose. In die tyd word die privaatspeurders ook gevra om ’n vrou te help, wat vermoed haar suster is besig om as prostituut te werk. Soos hul ondersoeke vorder, krap die speurders die ongurighede oop. Intussen besef Nasreen dat Abdullah glad nie is wie hy voorgee nie en dat haar lewe in gevaar is. Gelukkig werk speurder Mumtaz se instinkte goed.
Barbara Nadel boei jou heeltyd met haar slim storielyne en interessante, hedendaagse karakters. Dis ’n boek vir mense wat van misdaadstories en erge spanning hou. - Alida Vos

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Mightier than the Sword, Jeffrey Archer (Macmillan, R350)
Hierdie vyfde boek in Archer se reeks oor die Cliftons is aksiebelaai met spannigsvolle gebeure. Die verhaal begin waar die vorige een opgehou het: met die bom aanboord van die MV Buckingham op haar nooiensvaart na New York. Maar die poging om die skip op te blaas word mooitjies gefnuik deur Harry Clifton. Om dié gebeure weg te hou van die media en ander mense wat graag die Barringtons, veral vir Emma, skade wil berokken, neem ’n klomp slim plannetjies. Die vraag is of hierdie plannetjies slaag! Harry word verkies as die president van PEN en moet na Rusland reis om ’n toespraak te lewer. Hy begin ’n veldtog om die Russiese skrywer, Anatoly Babakov wat in Siberië in die tronk is, vry te laat. Babakov se misdaad was dat hy ’n boek oor Stalin geskryf het wat nie in die regering se smaak geval het nie. Intussen beleef die jong Sebastian ook allerhande terugslae. Hy verloor sy vriendin deur ’n swak besluit wat hy neem en hy word uitgewerk by sy werk deur sy onmiddellike baas, Adrian Sloan. Archer weef ’n web van intriges en jy raak meegevoer op elke karakter se lewensreis. Dis ’n besondere boeiende reeks. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Gekoopte leuens, Lien Roux-de Jager (Lapa Uitgewers, R168)
Hierdie is die tweede boek in die Kalli Krynauw-reeks. Kalli is ’n forensiese psigofisioloog wat moet vasstel of iemand wat ondervra word die waarheid vertel. Om bietjie te vergeet van al haar probleme, vergesel sy haar modelsuster, Madelein na ’n luukse vakansieoord in Mpumalanga waar Madelein ’n bekendstelling moet bywoon. Na ’n spoggerige onthaal word sy die volgende oggend wakker, nog half bedwelm, daar is bloed aan haar aandrok en sy vind uit dat haar suster verdwyn het. Madelein het in die verlede ’n dwelmprobleem gehad, en Kalli vermoed onmiddellik dat dit iets met haar dwelmverlede te doen het.

Die probleem is dat die polisie Kalli as ’n verdagte beskou en Kalli en haar leuenverklikker moet oortyd werk om haar onskuld te bewys en haar suster op te spoor.

Hierdie is ’n interessante storie met geloofwaardige karakters en genoeg intrige en aksie om enige leser tevrede te hou. – Retha Burger