FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Lekker boekies vir kinders

Dis amper tyd vir die Desember-vakansie. Soms kan die weer wispelturig wees en op reënerige dae moet die kinders op die een of ander manier besig gehou word.

Gelukkig is daar sommer hope boeke waaruit kinders kan kies, van lekker boeke om te leer skryf, jou kleure te ken en sommer net heerlike lees boeke spesiaal vir die vakansie. Om ’n resensie te skryf oor hierdie boeke plaas ek, Mari Rheeder, myself as te ware weer in die skoene van ’n kind. Ek kyk met groot opwinding na die helder kleure, groot prente en rym-formaat van skryf. Hierdie lys boeke is nie geskryf met die oog op gevorderde taal- en skryfvaardighede nie, maar eerder hoe lekker dit lees en hoeveel ure se vermaak dit kan verskaf aan jong lesers.

Katie the Kitten, geskryf en geïllustreer deur Axel Scheffer (Campbell Books, R136)
Die boekie was oorspronklik bedoel vir kinders om in stootwaentjies te lees. Nou is die formaat verander in ’n sagteband bad-boekie vir die kleinspan – kompleet met ’n pieper wat soos ’n klein katjie skreeu. Alex Scheffer is ’n bekroonde kinderboekskrywer en sy boekies is altyd lieflik. Hierdie boekie is uitstekende afleiding vir die kere wanneer badtyd bietjie rof raak. Kyk hoe Katie die hele dag in die huis lê en slaap, so stil soos ’n muis, en deel in haar avonture waar sy soos ’n wafferse tier in die nag rondsluip, bang vir niks. Die teks is bondig en in rym geskryf. Dis ’n lekker formaat vir peuters en kleuters en die oulike prentjies het hope detail. Hierdie reeks bevat een ander titel, Freddy the Frog. – Mari Rheeder

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Diere Kleure (Human & Rousseau, R120)
So, jy is ’n ma met ’n kleinding wat moet leer wat die verskillende kleure is. Hierdie hardeband boek met meer as 100 kleurvolle prente is ’n uitstekende beginpunt. Kinders kry die kans om sowat 13 kleure aan te leer, terwyl hulle die wonder van die diereryk ontdek. Op elke dubbelblad word ’n kleur ondersoek en beskryf, en al die diere wat daardie kleur is, pronk speels op die bladsye.
Wat hierdie boekie nog lekkerder maak, is dat ongewone diere wat nie gewoonlik gesien word nie op die voorgrond geplaas word soos die rooi salamander, swart kewer, bruin marmot en die pienk pylinkvis. Maar bekende diere is egter nie vergete nie, visse, vlinders, leeus en bere het ook darem nog ’n plekkie. Om kleure te leer was nog nooit so maklik en lekker nie.
Hierdie reeks bevat drie ander titels: Diere Teenoorgesteldes, Diere ABC en Diere 123.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Lees vir my ’n storie, (Bargain Books, R119)
Storietyd word ’n groot avontuur met hierdie bundel met sowat 40 bekende verse, liedjies en verhale wat kinders vir eeue alreeds ken en lief het. Ma, Pa, boetie en sussie kan saam kwaliteittyd spandeer, deel in die vreugde van lees en hope herinneringe skep. Stories soos Die drie varkies, Baba Swartskaap en Ek is ’n teepot kry ’n vars baadjie met kleurvolle illustrasies. Verhale waarmee jy groot geword het, bly behoue in hierdie boek en kinders kry die kans om hierdie klassieke werke self te leer lees. ’n Pragtige, klassieke storieboek.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Vertel vir my ’n storie, Wendy Maartens, met illustrasies deur Rob Foote (Lapa Uitgewers, R199,95)
Vra vir enige ouer en onderwyser en hulle sal beaam dat dit moeilik kan wees om ’n kind goeie waardes te leer. Tog is stories ’n prettige manier om hierdie lesse wat elke kind, grootmense ook, moet weet vir hulle aan te leer. Wendy Maartens gee nuwe lewe aan hierdie klassieke stories op haar eie, unieke en kreatiewe manier. Dis beslis lekker leesstof. Elke storie het sy eie lewenswysheid, saam met verstaanbare, nuttige en prakties wenke wat jou kind kan gebruik in sy/haar alledaagse lewe. Blaai deur stories soos Die plaasmuis en die stadsmuis met innerlike vrede as les en Aspoestertjie waar regverdigheid uitgestippel word.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hoekom moet ek dit doen, Brigitte Raab, met illustrasies deur Manuela Olten (Protea Boekhuis, R100)
“Jy moet jou kamer opruim, Amelia! Maar hoekom? Sal ek dan op stelte moet loop?” Natuurlik nie, maar jy sal op jou gunsteling pop trap en hom breek.” Hierdie boek is die antwoord op al daardie “hoekoms”, wanneer kinders aangesê word om iets te doen. Seuntjies en dogtertjies word gevra om alledaagse take soos om nie te veel televisie te kyk nie en hare te kam te doen. Dan word snaakse, onsinnige redes gegee om díe takies te voltooi, natuurlik is daar ’n goeie rede vir elke reël. Die boek se prentjies is nie realisties nie, tog met ’n tikkie andersheid. Die humoristiese manier van skryf sal die jongspan laat skater van die lag.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die coolste Ouma op aarde, Marita van der Vyver met illustrasies deur Zinelda McDonald (Lapa Uitgewers, R109.95)
Ons weet mos almal hoe lyk die storieboek oumas – grys hare, klein brilletjies, swart rokke en lelike skoene. Hulle maak kos en brei vir jou ’n serp. Maar wat as jou ouma anders is? Ontmoet ’n paar onkonvensionele, ongewone, en fantastiese oumas soos beskryf deur hul kleinkinders. Ons sien ’n ouma wat werk in ’n blink kantoor, in die stad, ’n avontuurlustige, buitelug ouma wat swem en fietsry, ’n ouma met lang los hare wat joga doen en sommer nog baie ander. Die bladsye is van hoek tot kant bedek met kleur en bevat groot, opgewekte illustrasies vir verbeeldingryke, jong lesers. ’n Lekker lees boek met ’n oulike boodskappie – wees lief vir jou ouma maak nie saak hoe sy lyk of wat sy doen nie.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Vertel my meer van die Bybel – 50 verhale vir jong lesers, Susan Goosen met illustrasies deur Alistair Ackermann (CLF, R79,95 plus R30 posgeld)
Met hierdie boek word die Bybel se gunsteling verhale op ’n skrifgetroue, maar kreatiewe manier geskryf wat sal aanklank vind by enige kind – veral in die ouderdomme 8-12 jaar. Elke verhaal het ’n “vertel my meer”-afdeling, waar nuuskierige kinders se vrae beantwoord word op ’n manier dat dit toegepas kan word op hulle alledaagse lewe . Dis handige raad. Verstaan die Bybel en sy betekenis dieper deur self te lees of te gebruik as deel van huisgodsdiens. Hoe jy dit ook al gebruik, is dit ’n goeie manier om godsdiens toe te pas. Die illustrasies is egter generies van ander kinderbybels, maar dra tog by tot die groter betekenis.
Bestel by: www.clf.co.za

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hagedash die Hadeda, Charles de Villiers met illustrasies deur Claire Norden (Struik Nature, R80)
Jou kind sal sekerlik goed bekend wees met die swart en grys voël met sy kenmerkende gil geluid. Die storie vertel van Hagedash Hadeda wat lief is vir sing. Sy ontmoet die trotse mannetjies-hadeda, Hagar en die twee begin ’n gesin. Die gewoontes en kenmerke van hierdie voëls op jou grasperk word gewys en vertel. Die rustige verhaal ontaard spoedig in ’n potensiële ramp, wanneer ’n tuinslang misgis word vir ’n regte slang. Gelukkig was dit ’n fout en die hele hadeda-gesin kan terugkeer na normaal met ’n piekniek op die gras. ’n Pragtige boek met sy vertelling in rymvorm en helder, kleurvolle prentjies. ’n Bonus vir kinders is die plakkerbylaag, met al die boek se karakters. Hierdie reeks bevat twee ander titels: Voëls van Eenderse Vere en Die Vernuftige Verkleurmannetjie.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 

Leer skryf Eerste woorde, (Macmillan Publishers, R65)
Hoekom moet om te leer skryf moeilik wees? Met hierdie boekie hoef dit nie ’n stryd te wees nie. Dis ’n uitstekende leermiddel vir kinders drie jaar en op. Meer as 140 eerste woorde kan maklik nageteken word met die uitveebare pen. Bevorder skryf, leesvaardighede asook die fyn motoriese vaardighede, ’n noodsaaklike stap in enige kind se opvoeding. Troeteldiere, klere, voorwerpe in die huis, vervoermiddels en kos is als woorde wat hier gevind word. Die hardeband boek is vol helder foto’s wat dit ideaal maak vir peuters en kleuters – wees verseker hierdie boekie sal die toets van die tyd weerstaan. Die reeks bevat een ander titel, Leer skryf – Penbeheer.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Oom Kallas and the Tortoises, Claerwen Howie met illustrasies deur Meg Jordi (Bumble Books, R149)
Die trots Suid-Afrikaanse verhaal vertel hoe Nick en Sally deur hul pa by hulle ouma se plaas afgelaai word vir ’n weeklange kuier. Oom Kallas, die werker op die plaas, vat die kinders op ’n staptog deur die natuur reservaat. Dis hier waar hulle die skilpad, George ontmoet. Soos almal weet, is wind en hitte die begin van ’n veldbrand wat dreig om die natuurreservaat en sy inwoners te vernietig. Die storie ontvou met spanningsvolle gevolge, maar gelukkig word die skilpaaie gered deur ’n brandweerman. Wat hierdie boek uniek maak, is Oom Kallas se Afrikaanse dialoog tussendeur die verhaal, uniek aan die mense in die Kaapse distrik waar die verhaal afspeel. Eg Suid-Afrikaanse elemente soos proteas en braai kom voor in hierdie storie. Engelse subtitels word op so ’n manier geplaas dat dit nie die leser se aandag aftrek nie. Ideaal vir lees voor slaaptyd.