Boeke

Top-5 lekker keuse boeke

Daar is geen sentrale tema wat dié klompie boeke saambind nie. Ek lees oor uiteenlopende onderwerpe en ek glo julle ook. Hopelik is daar so ‘n ietsie vir almal onder die hopie.

‘n Fantastiese debuut-spanningsverhaal deur Karin Brynard laat my hoop dat daar gou nog ‘n boek uit haar pen kom. En vir die Dan Brown-fêns, hier is iets oor sy nuutste. Die boek wat my die meeste verras het, is die lewensverhaal van Alan Knott-Craig. Dis een van die boeiendste boeke oor ‘n sakepersoon. Nie alleen kry ‘n mens insig in die selfoonbedryf nie, maar ook oor die deursettingsvermoë om in die besigheidswêreld te oorleef.

Besoek ons boekwinkel om sommer aanlyn te bestel.

Plaasmoord, Karin Brynard (Human & Rousseau, R190)
Sjoe, wat ‘n storie. Ek kon die boek nie neersit nie en het dit letterlik deurnag gelees, tot die laaste woord. Die titel verduidelik wat die hooftema van die boek is – of so dink al die karakters in die boek, net om agter te kom daar sit baie meer agter die sogenaamde plaasmoord op die opkomende skilder Freddie Swarts en haar aangenome dogter op die plaas Huilwater iewers in die Noord-Kaap. Ek wil nie die storie verklap nie, want ek wil hê julle moet self dié boeiende boek lees. Al wat ek gaan vertel is: Daar is ‘n polisieman met ‘n verlede, twee kollegas wat moet leer, ‘n suster wat agter die kap van die byl kom, ‘n agterdogtige buurman, ‘n skelm eiendomsagent en ‘n arrogante plaasbestuurder. Meng hierby ‘n goeie dosis politiekery, veediefstal en aanranding en jy kan net interessante verwikkelings verwag. Deon Meyer sê op die omslag van die boek dis “broeiend, boeiend, briljant.” Ek kan maar net sy drie b’s beaam.

The Lost Symbol, Dan Brown (Bantam Press, R295)
Ek moet bieg, ek het nie sy vorige boeke gelees nie. En dit was met groot verwagting dat ek hierdie een onder oë gekry het. Dis nie ‘n slegte lees nie, maar ek moet bysê dat ek effe teleurgesteld was. Miskien het ek te veel verwag, maar dit is nietemin ‘n heerlike vakansie- boek, ‘n boeiende spanningsverhaal vol intriges wat oor ‘n 12-uur-tydperk afspeel.

Robert Langdon is weer die hoofkarakter wat ingesleep word wanneer sy mentor, Peter Solomon, onder vreemde omstandighede ontvoer word. Maak jou gereed vir ‘n reis deur die klandestiene wêreld van die Vrymesselaars, met vele geheime en onthullings. Baie kinkels wat soms hoogs onwaarskynlik is, maar dit sorg vir heerlike lees-materiaal. Brown se boeke is ongelooflik goed nagevors en die inligting oor die simbole en tekens is baie interessant. As jy van sy vorige boeke gehou het, moet jy nie die een misloop nie.

 Spud learning to fly

Spud – Learning to Fly, John van de Ruit
(Penguin Books, R120)

‘n Nuwe jaar, ‘n nuwe begin, of so hoop Spud. In die derde boek in die reeks oor die skooljare van John Milton (aka Spud) is hy terug as senior by die kosskool.

Ná die chaos en drama van die vorige 2 jaar hoop hy op ‘n rustige jaar. Maar helaas, hy stoei met Shakespeare en verstaan steeds nie vroumense nie. Die Crazy eight het ‘n nuwe babbelende lid van Malawi af en Spud se aartsvyand, Pike, is ook terug – as ‘n prefek.

Steeds vol humor en aksie, maar tog ontbreek daardie spesiale iets van die vorige twee boeke. – Karien Labuschagne

 The best of times

The best of times, Penny Vincenzi (Headline Review, R194,95)
Enigeen wat in piektyd-verkeer bestuur op ons stede se oorvol paaie sal aanklank vind by hierdie verhaal.

‘n Trok-ongeluk gebeur op die tjok-en-blok-vol M4 in Londen en dit veroorsaak ‘n kettingbotsing van enorme afmetings. Elke karakter wat betrokke was in die botsing se storie word vertel.

Daar is ‘n ontroue eggenoot wat daarin vasgevang is met sy minnares, ‘n voornemende bruidegom wat probeer om betyds die kerk te haal, ‘n aktrise wat desperaat is om by die oudisie van haar lewe op te daag . . . En so is daar nog ‘n hele spul karakters wie se lewens onherroeplik verander word deur hierdie een gebeurtenis.

‘n Heerlike verhaal vol emosie en opwinding wat almal se diepste geheime blootlê.

 Second is nothing

Second is nothing, Alan Knott-Craig en Eunice Afonso (Macmillan, R170,10)
Die titel van dié baie interessante lewensverhaal kom van ‘n gesegde wat Knott-Craig se pa altyd kwytgeraak het: “First is first and second is nothing”. Dit was die dryfveer vir die voormalige uitvoerende hoof van Vodacom, regdeur sy lewe, om net die beste te wees in alles wat hy aanpak.

En as jy sy verhaal lees soos hy dit aan Afonso vertel, kan jy nie anders as om beïndruk te wees nie. Knott-Craig kan as die vader van die selfoonbedryf in Suid-Afrika beskryf word. Hy het Vodacom van die grond af opgebou tot ‘n leier in die veld. Dis fassinerend om te sien hoe buite-die-boks hy gedink het en hoe dit sy suksesse in die lewe help vorm het, net om ewe skielik geruk te word tot ‘n besef dat die korporatiewe wêreld en die monster-maatskappy wat hy opgebou het, besig was om sy eie lewe te verwoes. Ná twee hartaanvalle (dis hartroerende hoofstukke) het hy besluit hy moet weg uit die bedryf – die uitdaging om meer geld te maak, was nie vir hom ‘n dryfveer nie.

Dit sal baie interessant wees om te sien waarheen sy lewenspad hom nou gaan neem.