oe_la_la_lulu_310w
Boeke

Lekker leesboeke vir jonger lesers

Lees is ‘n ontontbeerlike vaardigheid vir kinders. As jy nie goed kan lees nie, beïnvloed dit jou hele leerproses.

Wanneer jy toetse skryf en dit neem jou baie tyd om net die vraestel te lees, het jy klaar ‘n agterstand. Dit is geen wonder dat baie kinders swak presteer nie. Dis omdat hul leesvaardigheid nie goed ontwikkel is nie. Wat het geword van goeie outydse begripstoetse? Ek glo ons almal kan meer doen om te sorg dat kinders meer lees. Begin by die kinders in jou lewe. Moedig hulle aan om te lees; koop vir hulle ‘n mooi boek as geskenk; speel woordspeletjies. Maak dit pret, sodat leesvaardighede op ‘n ontspanne manier verbeter word. Ek weet my lewe sou baie armer gewees het as dit nie vir my ouers en my skooljuffrouens was wat my gehelp het om ‘n liefde vir lees te ontwikkel nie. Ek is dankbaar daar is ouers en onderwysers wat nog moeite doen om jonger lesers aan te moedig om hierdie broodnodige vaardigheid aan te leer. Hierdie week deel twee jong lesers, Nina Swart van Bela-Bela en Cailin Spickett van Pretoria, ‘n paar van hul gunstelingboeke.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn teen afslagpryse te bestel.

 

oe la la, Lulu, Fanie Viljoen(Lapa Uitgewers, R90)
Die boek gaan oor Lulu, wat graag in haar ouers se voetspore wil volg en ’n modeontwerper wil word. Sy is dag en nag besig met haar sketse, en droom daarvan dat haar rokke eendag op wêreldberoemde loopplanke te sien sal wees. Die tweeling Alet en Alex maak egter heeltyd die lewe vir haar moeilik maak. Haar ouers is oorsee, dus moet sy elke dag met dié irriterende twee (wat haar bure is) tyd deurbring. Boonop is Lulu in die moeilikheid by die skool omdat sy geslaap het in die wiskundeklas. Op ’n dag gryp ’n brak haar sketsboek met al haar sketse in en hol daarmee weg. Maar dié brak is baie spesialer as wat Lulu ooit kon droom. Hierdie boek het my geleer dat ’n mens jou drome moet najaag, want wie weet — miskien vang jy hulle eendag! Die prentjies in die boek is geteken deur Elsbeth Eksteen en is regtig prinses-mooi.  – Nina Swart  (12 jaar oud van Bela-Bela)

 

Sam — ’n Ware verhaal van ’n dogtertjie en haar olifant, Ingrid Vander Veken, vertaal deur Antjie Krog (Lapa Uitgewers, R100)

Sam is die ware verhaal van ’n 8-jarige Franse meisie, Marthe, wat ʼn olifant persent kry. Sy moet saam met haar troetel-olifant van China na Frankryk reis — beslis nie ’n maklike reis nie. Die boek gaan oor hul reis en wat alles in Frankryk gebeur. Enigiemand wat van diere hou, sal hierdie boek geniet, omdat daar baie inligting oor diere en dieretuine is. Wat vir my baie lekker was, was dat die boek my meer oor China, Chinese tradisies en Chinese verhale geleer het — ’n vreemde wêreld vir my. Daar is baie ekstra inligting oor mense en hul olifante wat eg is aan China in die boek. Al lyk die boek dun, is daar ʼn gróót storie van liefde en lojaliteit tussen die voorblad en agterblad. Die storie het beslis my hart gesteel. Ek dink kinders, maar ook grootmense, sal hiervan hou. – Nina Swart

 

Glinster gids vir meisies, Deborah Chancellor, vertaal deur Wendy Maartens (Lapa Uitgewers, R130)
‘n “Awesome” boek propvol idees, planne, aktiwiteite en raad vir jong meisies. Hierdie werkboek sal ek oor en oor gebruik om pret dinge te doen (speletjies, partytjie reëlings, slaapkamer versier, optredes maak – te veel om te noem).  Hier is ook goeie gesonde raad oor verskillende goed soos voorkoms (wat om met ‘n gat in jou jean te maak); optrede teenoor maats (hoe om ‘jammer’ te sê); eetgewoontes (wat om in jou kosblik te pak); gesond en fiks te bly en waarmee jy jou kan besig hou (bak en brou). Dis alles om die beste van jouself en jou kosbare tyd te maak. Die prettige sketse  rond die teks af en alles word mooi saamgevat. ‘n Handige indeks maak dit maklik om gou te vind waarna jy soek. Dis regtig soos die voorblad belowe “tonne pret vir cool, kreatiewe meisies”.  – Cailin Spickett (9 jaar, van Pretoria)

 

 

Blokraaisels vir aapsterte 3,  Talana Schoeman (Tafelberg, R 110)
Dis die derde boek in diè reeks propvol  leersame blokraaisels – die eerstes is redelik maklik, die res laat jou bietjie meer dink. Dit hou mens lekker besig, veral tydens vakansies. Dis plesierig en voel nie soos werk nie. Dit help mens om  nuwe woorde te leer en ook om beter te spel. As jy regtig nie die antwoord ken nie, kan jy vir iemand vra om te help of  (ek sal dit maar erken) dit agter in die boek skelmpies opsoek.  ‘n Pret manier van leer.   - Cailin Spickett

 

 

 

My first book of Southern African Seashore Life,  Roberta Griffiths, met illustrasies deur Judy Maré (Random House Struik, R80)
Ek is baie lief om see toe te gaan met vakansie. Ek geniet dit om in die branders te speel en in die rotspoele rond te kyk . Hierdie boek het my laat besef dat die strand wemel van lewe. Met die hulp van hierdie boek  kan ek sommige van die snaakse gediertes uitken en sommer meer leer oor hul gewoontes. Sowat 50 verskillende diertjies en plante van ons kuslyn word beskryf  (in Engels, Afrikaans, Zoeloe en Xhosa) en so geteken sodat mens hulle sommer dadelik kan herken. Die gedrag van mossels, seeslakke (waarvan ons gewoonlik net die skulpe optel), anemone, korale en gekleurde seegrasse, asook die klein vissies wat in rotspoele gesien kan word, word eenvoudig beskryf. Daar word gewys hoe groot hulle is en wat hulle eet.  Dit alles maak ‘n vakansie by die see soveel meer pret en nog leersaam ook.   - Cailin Spickett