SAMSUNG CAMERA PICTURES
Boeke

Lekkerlees-kinderboeke vir die vakansie

Dié week het die kinders weer lekker skoolvakansie. Dis die perfekte tyd om hulle besig te hou met boeke.

Waarom is dit so belangrik dat kinders lees?

“Lees is die grondslag vir sukses, nie net op skool nie, maar ook vir latere sukses in jou beroep. Daarom is dit belangrik om ’n liefde vir lees van kleins af by jou kind te kweek … en is dit een van die grootste geskenke wat jy aan jou kind kan gee,” skryf hulle op afrikaans.com.

As jy in die Wes-Kaap woon, is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl se leesprojek die lekkerste nuus ooit! Die ATM bied gedurende die Oktober-skoolvakansie (3 – 7 Okt.) ’n poppekas-vertoning by agt biblioteke in Drakenstein aan. Die poppekas word deur die Kaleidoskoop-dramagroep aangebied en handel oor die belangrikheid van boeke en lees. Lees meer …

Kyk ook op afrikaans.com vir nóg nuttige skakels om jou kind te help lees.


 

Al is ek nie meer ’n kind nie, kan ek ure verwyl deur deur kinderboeke te blaai. Die eenvoud van die stories is altyd vir my treffend, en dikwels is daar ’n lewensles wat ek as volwassene ook maar weer kan onthou! Natuurlik, die beste van alles is die pragtige illustrasies. Ek hou dikwels kinderboeke aan net om my te verlustig in die manier waarop die verhale geïllustreer is. En in Suid-Afrika het ons top-kinderboekillustreerders soos Joan Rankin, Paddy Bouma en Maja Sereda. Hul werk verskyn in van die boeke wat dié week op my leeslysie is.

FOTO verskaf

FOTO verskaf

Nombulelo en die Mot, Susie Dinneen en Maja Sereda (Puffin Books, R100)
Die storie vertel hoe klein Nombulelo haar ouma verloor. Sy was baie geheg aan die ouma wat altyd vir haar stories vertel het. Dit was ’n groot verlies, maar haar ouma het vir haar ’n handgemaakte houtdosie met ’n mot in agtergelaat. Dié erflating het simboliese betekenis vir die ouma gehad wat sy met Nombulelo gedeel het, en in haar tyd van hartseer het dié simboliek haar gehelp om oor haar verlies te kom. Nou moet die erflating ook vir Nombulelo help om oor haar groot hartseer te kom. ’n Oulike en eenvoudige manier om liefde, verlies en die ontdekking van innerlike krag oor te dra in verhaalvorm.

 

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Die ruwe berg, uit Duits vertaal deur Nicol Stassen (Protea Boekhuis, R113)
Die verhaal gaan oor ’n man wat besluit om ’n legendariese berg te klim, ten spyte daarvan dat almal wat al teen die berg uitgeklim het nooit weer daarna dieselfde was nie. Wanneer hy uiteindelik die berg begin klim, maak hy ontdekkings wat hom verras en ook sy vrese besweer. Die pragtige swart-wit illustrasies trek jou in die verhaal in. Die boek is oorspronklik geskryf en geïllustreer deur Einar Turkowski. Hy woon en werk in Schleswig-Holstein naby Kiel en het al pryse vir sy kunswerke gekry.

 

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Eerste stories: Aspoestertjie (Human & Rousseau, R130)
Die boekie is vir peuters en is van karton met stewige bladsye om te stoot, te trek en te skuif soos wat die storie gelees word. Elke klein dogtertjie droom daarvan om ’n prinses te wees en in die ou storie van Aspoestertjie is dit vir haar ’n droom wat waar word. Die verhaal is bondig en eenvoudig en klein kindertjies sal ook baie hou van die helderkleurige illustrasies. Daar is nog boekies in die reeks: Jan en die boontjierank, Die oerwoudboek, en Rooikappie.

 

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Timmertak se nuwe avonture, Peet Ellison (Human & Rousseau, R180)
Wat ’n heerlik vermaaklike boek oor Timmertak wat saam met sy ouma Kwas in Wikkelwoud woon. Boonop het Timmertak ’n baie goeie maatjie, Abigael, die towerspinnekop wat in sy hoed bly. Net jammer dat al haar towerspreuke verkeerd loop en dan sorg vir verspotte avonture, voordat dinge weer na normaal omkeer.
Timmertak was een van die gewildste karakters in die Storieman-reeks. Hierdie boek bevat vier amusante Timmertak-stories. Die groot bonus is die oudio-CD waarop die stories voorgelees word!

 

die musiek van afrika

FOTO verskaf

Die Musiek van Afrika, Wendy Hartmann en Joan Rankin (Jacana, R120)
Pragtige illustrasies gee lewe aan die verhaal oor die klanke van Afrika. Woorde soos knetter en knal, rammel en grom, en tingeling gee die teks ’n liriese gevoel. Hier gaan dit oor die klanke wat diere maak, die wind wat ritsel, vuur wat knetter en mense wat neurie. Maklik vir selflees, maar uitstekend vir voorlees. Wendy Hartmann is ’n bekende skrywer van kinderboeke en het reeds meer as 40 die lig laat sien.

 

Lyle The Crocodile COVER Eng

FOTO verskaf

Lyle the Crocodile, ook in Afrikaans beskikbaar as Karel die Krokodil, Dianne Stewart en Joan Rankin (Jacana, R120)
Lyle die krokodil kry vreeslike tandpyn en moet tandarts toe gaan. Maar hoe gemaak as hy ’n ewige vrees het vir ’n tandarts? Sy vriende probeer hom help deur hom tandarts toe te vat, maar Lyle sluip weg en gaan kruip in die rivier weg. Daar kom Pippa die kiewiet tot sy hulp. Sy pik al die stukkies kos tussen sy tande uit en haal selfs stukkies vislyn uit sy mond. Op ’n informele en vermaaklike manier help die storie kinders die belangrikheid van tandesorg insien. Die boek is pragtig geïllustreer deur Joan Rankin.

 

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Mr Hare meets Mr Mandela, ook in Afrikaans beskikbaar as Mnr. Haas ontmoet mnr. Mandela, Chris van Wyk en Paddy Bouma (Jacana, R120)
Meneer Haas ontdek ’n R200 op sy drumpel. Maar as hy die noot omdraai, sien hy Meneer Mandela se gesig daarop. Hy besluit hy moet die geldnoot terugbesorg aan Meneer Mandela en dan moet hy die groot stad van Johannesburg trotseer. Arme Meneer Haas kan nie lees nie. Boonop ontmoet hy op sy pad baie mense wat hul hande op Meneer Mandela se geld wil lê. ’n Ander vreemde ding gebeur ook met die geldnoot, dit verander die heeltyd van kleur! Dit is een van die laaste stories wat Chris van Wyk voor sy dood in 2014 geskryf het.

 

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Ek kan sê! (Human & Rousseau, R125)
Die boekies is gemik op babas en peuters om basiese woorde en begrippe te leer. Die boekies het sagte sponsbladsye met helderkleurige illustrasies en eenvoudige teks wat rym. Die kind leer woorde soos appel, blomme, huis, bome, skoenlapper, vrugteslaai, sambreel, roomys, syfers en horlosie. Elke woord word in ’n eenvoudige sin gebruik en toegelig met ’n illustrasie. Daar is nog boekies in die reeks: Ek kan sien!, Ek kan ry! en Ek kan speel!

 

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

My eerste ensiklopedie, saamgestel deur Dorling Kindersley (Lapa Uitgewers, R400)
Die boek is perfek vir laerskoolkinders wat wil naslaan oor die wêreld rondom hulle. Die interessante en kleurryke uitleg maak dit ’n visuele fees en waardevolle inligting word interessant weergegee in maklik leesbare teks. Die ensiklopedie bevat 10 afdelings wat elk met ’n ander kleur gemerk is. Op elke bladsy is leer-meer-sirkels, vreemde -feit-sirkels en ook ’n vraag, waarvan die antwoord op die onderkant van die volgende bladsy gegee word. Afdelings wat behandel word is: Ons wêreld, Mense en die samelewing, Die geskiedenis van mense, Jou liggaam, Die lewende wêreld, Ekosisteme en habitatte, Die dinosourusse, Wetenskap en tegnologie, Planeet aarde, en Die heelal. Dorling Kindersley is ’n wêreldleier op die gebied van niefiksie vir kinders.

 


 

Intussen kan jy wys hoe lyk jóú Afrikaans op afrikaans.com en jy kan tot R10 000 wen!

Selfie 1667 × 833