FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

My lewe met boeke op Wêreld Boekedag

Vandag is Wêreld Boekedag in Suid-Afrika. Dit laat my dink aan al die boeke wat ek al in my lewe gelees het.

Kan jy jou eerste leeservaring onthou? Myne is die rympies wat my ma altyd vir my gelees het. Van Old King Cole en van Humpty Dumpty, alles uit ’n Mothergoose-boek. As sy nie self voorgelees het nie, het sy vir my sulke lapboekies gegee om deur te blaai. Toe ek bietjie ouer was, het ons saam by die biblioteek boekies gaan uitneem. Daai magic van die rye en rye boeke in die biblioteek in Brits sal ek nooit vergeet nie. Om self my eie The Cat in the Hat deur Dr. Seuss uit die rak te kon haal. Om te kon kies watter boeke ek wou uitneem! Skool het begin met die leesboekie Mossie en Baas en in standerd een (vandag graad 3) Die Pofmuise. Van die ander kan ek sowaar nie meer onthou nie.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Ek was verslaaf aan lees. En glo my, my ma het my aangemoedig om aan te hou lees. My hele familie is lesers. Die biblioteekjuffrou op laerskool het ook vinnig agtergekom ek lees so vinnig dat ek al die boeke wat vir my graad bedoel was al deurgedraf het lank voor die middel van die jaar. Toe mag ek die groot kinders se boeke ook lees.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Daar het ek Kobie Malan ontdek, die hoofkarakter van skrywer Stella Blakemore se Maasdorp-reeks. Dis oorspronklik geskryf in 1930 -1960, maar is in die sewentigs heruitgegee en ek het elke boek verslind. Uit my skooljare onthou ek skrywersname soos M.E.R., W.A. Hickey, C.F. Beyers-Boshoff, Cor Dirks, Sangiro, Mikro, Sita, Leon Rousseau, Wille Martin, Elsabe Steenberg, Ben Venter en Topsy Smith. As ek klaar was met my boeke het ek sommer my boeties s’n ook gelees. Vakansietye by my ouma op die plaas in die Wes-Transvaal het ek skelm haar Ela Spence, Ettie Bierman en Driekie Beukes boeke gegaps en gelees. Vir ’n hoërskoolmeisie was dit romanse in die ergste graad! Maar ek moet bieg dat ek my hande ook op my ooms se boeke gelê het as die kans hom voorgedoen het. So het ek kennis gemaak met Heinz Konsalik, Wilbur Smith en James Hadley Chase . . .

My universiteitsleeslys het Shakespeare, Chaucer, Charles Dickens, Joseph Conrad, Thomas Hardy en Kurt Vonnegut onder meer ingesluit. In hierdie jare, die vroeë tagtigs, stel ’n kollega my bekend aan André P Brink. My eksemplaar van Houd-den-Bek staan steeds op my rak, die omslag al verweer soos wat ek dié boek deur die jare weer gelees het.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Maar in die tagtigs het ek ook boeke soos Magersfontein, o Magersfontein! deur Etienne le Roux, Casspirs en Camparis deur Etienne van Heerden, Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena gelees. Daar was ook John Steinbeck wat oor my pad gekom het, ’n skrywer wat vandag steeds ’n gunsteling is. Ek het sy East of Eden in 1988 vir ses maande in ’n rugsak saamgedra deur Europa. Ek kon dit net nie oor my hart kry om die boek iewers te los nie, en het dit uiteindelik net voor my terugkeer na Suid-Afrika aan ’n mede-boekliefhebber geskenk.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die boek wat my in die negentigs tussen die oë geslaan het, was Marlene van Niekerk se Triomf. Vandag nog as ek aan die ontstellende verhaal dink, trek my bors sommer toe. Maar lees, het ek dit gelees. Jeanne Goosen, R.R. Ryger, Ryk Hattingh, Marita van der Vyver, Dalene Matthee, Deon Meyer, Helene de Kock, Irma Venter, Chris Karstens, Willem Anker  . . . So kan ek aangaan en aangaan met lyste van name van skrywers wie se woorde ek al gelees het. Ek het nog nie eerns begin met al die buitelandse skrywers nie. Daar is heeltemal te veel om te noem!

Nou ja, op hierdie dag spesiaal vir boeke hoop ek dat jy ook so bietjie sal terugkyk na jou gunsteling-skrywers en die onderwerpe waaroor hulle skryf.

Kliek hier om meer uit tevind oor Wêreld Boekedag.