FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

My lewe saam met ’n professionele sportman

Die lewe saam met ’n professionele sportman is nie altyd net maanskyn en rose nie.

Chai-Tea & Ginger BeerIemand  wat nie in ’n verhouding met ’n professionele sportman is nie, besef nie altyd wat die uitdagings daarvan is nie. In haar boek, Chai tea & Ginger beer (Struik Christian Media) vertel Deborah Kirsten meer oor haar lewe, haar verhouding en huwelik met Gary Kirsten, en hoe dit is om klein kinders groot te maak wanneer jy tussen krieketbestemmings reis. Dis ’n fassinerende boek wat gewone mense insig gee in al die uitdagings van so ’n lewe, en dit laat jou besef dat sulke pare bewustelik moet werk aan hul verhouding. Die Kirstens leef volgens hul beginsels en maak tyd vir mekaar om te verseker hul verhouding bly gesond. Dis interessant om te lees hoe hulle ontmoet het en watter pad hulle geloop het voordat hulle getrou het. Dis ’n inspirerende verhaal, veral ook met die persoonlike anekdotes waardeur Deborah haar siel ontbloot. Jy staan nie onaangeraak deur hoe sy soms deur die ongevoeligheid van die algemene publiek geraak word nie. In hul poging om met Gary te praat, sal hulle haar sommer oop en bloot ignoreer. Sy gee mens ook ’n kykie na wat agter die skerms in die lewe van ’n professionele krieketspeler gebeur, van die onuithoudbare druk om te alle tye jou beste te lewer op die veld en die spanning wat daarmee saamgaan. Ek het per e-pos met Deborah oor haar inspirerende boek gesels.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Waarom wou jy die boek skryf?
Ek dink meeste skrywers, of jy ’n joernalis, ’n blogger of bloot lief is vir skryf, het ’n droom om eendag ’n boek te skryf. My pa, Michael Cassidy, is ’n skrywer en het baie boeke geskryf. Hy het my altyd aangemoedig en geglo ek sal eendag in sy voetspore volg, maar ek het nooit regtig geglo ek kan dit doen nie. Dis snaaks hoe ons dikwels die laaste persoon is om in onsself te glo! Struik Christelike Media het my genader eendag nadat ek ’n praatjie êrens gelewer het. Skielik, van daardie oomblik af, het ek begin glo dat ek my droom kon bewaarheid.
Die grootste rede vir die boek is omdat ek ’n manier wou vind om waarde toe te voeg aan die lewens van die mense rondom my. My hoop was, dat as ek op ’n eerlike en egte manier my eie ervaringe, worstelinge en kwesbaarhede, sowel as ons goeie en slegte ervaringe as ’n paartjie deel, mense iets daarin vind wat hul eie lewe positief kan aanraak.

Was dit moeilik om so baie van jou persoonlike lewe en gedagtes openbaar te maak in ’n boek?
Dit was beslis. Ek dink om weerloos te wees is een van die moeilikste dinge denkbaar, maar ek glo dis net in hierdie ruimte waar betekenisvolle dinge begin gebeur en waar ware konneksies gemaak word. Ek is gek oor Brene Brown se woorde wanneer sy sê: “

“Vulnerability is the birthplace of innovation, creativity and change…Courage starts with showing up and letting ourselves be seen.”
Ek glo dit vat ongelooflike moed om ‘jouself daarbuite te sit’ en om heeltemal eerlik te wees, maar vir my sal daar nooit ’n ander manier wees om ’n boek te skryf en met die leser te konnekteer nie.

Hoe het jy op die titel besluit?
Met moeite. Oorspronklik het ek iets uitgedink in die lyn van krieket . . . Opening Partner, My Spin on the ball… so iets. Maar dit het net te cheesy gevoel, nie soos ek nie. Ja, daar is baie oor Gary en krieket in die boek, maar vir my was dit belangrik dat my eie storie aan my behoort en daarom is die titel meer ‘ek’.
As jy die boek lees sal jy sien hoe hierdie twee elemente bymekaar kom: die gemmerbier simboliseer huis, familie en ons wortels en die chai tee is al die eksotiese geure in die boek – die reis en veral ons tyd in Indië.

Jy begin elke hoofstuk met ’n aanhaling. Hoe het jy die aanhalings gekies?
Ek is gek oor lees en van jongs af skryf ek reeds aanhalings, klein anekdotes en dinge wat vir my betekenis het neer. Soms laat iets my lag of dit laat my twee keer dink oor iets. Dit het sin gemaak om aanhalings uit hierdie versameling van my in die boek te gebruik, omdat die wyse woorde van ander dikwels betrekking op my eie lewe het. Ek het dié gekies wat diepte en kleur aan my storie gee.

Aan die begin van jou verhouding met Gary, hoe moeilik was dit om te besef dat mense jou opsetlik in die openbaar sal ignoreer om met hom te praat?
Aan die begin was ek nogal ontsteld, want daar is sekerlik beter onderwerpe om oor te praat as net krieket, krieket en meer krieket . . . Ek het gou daaroor gekom en besef dis deel van ons lewe en ek sal ’n manier moet vind om daarmee saam te leef en om ook te leer om vertroue in my wese te hê oor wie en wat ek is.

Was dit moeilik om jou loopbaan prys te gee ter wille van Gary se krieketloopbaan?
Nie so moeilik soos wat ek gedink het nie. Ek dink as ’n jong paartjie moet mens as ’n span uitwerk wat die beste vir jou gesin is. Dit gaan nie oor wie se beroep voorkeur kry nie, eerder oor om ’n gesin en ’n huwelik bymekaar te hou en saam te besluit wat die beste vir ons en ons kinders is.
Daar was tye wat ek bietjie jammer vir myself gevoel het, maar ek glo dit gebeur in seisoene, veral vir ons vroue, en ons moet dit aanvaar, vrede maak en rondom dit werk. Die seisoen om baba’s te kry en jong kinders groot te maak, is nie die beste een om mens se eie doelwitte en drome na te streef nie. Maar dit gaan verby en kinders word groot en as ons ons roeping volg en die talente gebruik wat God aan ons gee, dan sal ons ’n diep gevoel van sin in ons lewens ervaar. Ek glo, as die seisoen reg is, dan moet ons hard werk om dit te laat gebeur.

Het jy dit geniet om uit ’n tas te leef, tydens die reise na al die plekke waar Gary krieket gespeel het?
Ek was gek oor die reis en al was dit mal, mal (en nog maller met drie kinders, toe Gary afgerig het). Om die wêreld te sien, al het dit beteken om vir ’n tyd uit ’n tas en met net twee pare skoene te leef, was so ongelooflike leerskool en ’n voorreg dat ek dit opgeslurp het.

Wat was die moeilikste ding van hierdie tipe leefstyl?
Dit was nogal erg ontwrigtend omdat jy die heeltyd aan die beweeg is en ’n lukrake bestaan voer, maar ek hou nie daarvan as dinge te lineêr is of te veel roetine het nie; so ek is gelukkig met ’n bietjie chaos in my lewe! Toe Gary gespeel het en afgerig het, was die moeilikste van hierdie leefstyl om tydjies met hom te probeer steel tussen sy besige skedule op toer.

Daar is ’n baie hoë egskeidingsyfer in die wêreld van professionele sport. Hoe kry julle dit reg om jul verhouding en huwelik gesond te hou?
Ons moet erken dat ons nie ons huwelik so gesond sou kon hou sonder God se hulp nie. Ons deel dieselfde Christelike waardes oor ons huwelik en ons werk toegewyd daaraan wanneer ons nie bymekaar is nie, maar ook wanneer ons wel saam is. Ons probeer om elke oomblik te laat tel. Te danke aan moderne tegnologie kan ons in konstante kontak bly deur Skype en ander maniere. Ons kommunikeer die heeltyd as ons nie bymekaar is nie, en soos ons almal weet, eerlike kommunikasie is die sleutel in ’n huwelik.

Nou dat Gary se speeldae verby is en hy meer tuis is, was dit ’n groot aanpassing vir julle?
Snaaks genoeg was die aanpassing eintlik baie maklik. Ons maak ’n goeie span en al doen ons dinge verskillend, ek vat verskillend enige tyd, eerder as om weg van mekaar te wees. Hy is ’n baie betrokke pa en dis so lekker as hy tuis is om te help met kinders vervoer, huiswerk doen en sport speel met die seuns. (My seuns sê as dit by krieket kom, skiet my boulvermoë maar ver te kort!) Alles in ons lewe werk net beter as Gary tuis is en ons is almal baie gelukkiger as hy daar is.

Wat wil jy hê moet lesers uit jou boek put?
Ek hoop die stories sal lesers op verskillende maniere raak; of dit ’n boodskap oor familie, geloof, vriendskap en huwelik is, ek hoop dat daar iets vir almal in die boek is. Dat hulle hul eie stories in myne sal raaksien en gemotiveerd sal voel op ’n manier.
Die grootste boodskap is egter oor die waarde van jou eie verhaal. Ek sal daarvan hou as mense wegstap en aangespoor voel om hul eie verhaal, ten spyte van wie hulle is en hoe nietig hulle voel, te kan deel.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf