strooidak_final_front
Boeke

Top-5 mense se stories

Dié week lees ons oor ‘n groep uiteenlopende mense – van ‘n dominee, ‘n aktrise, ‘n skrywer, ‘n sangeres tot ‘n voormalige sekswerker.

Strooidak en toring, Van mense en my tyd, Izak de Villiers (Umuzi, R220)
Izak de Villiers draai nie doekies om nie. Hy vertel sy storie in ‘n hele klomp lewensketse, reguit en sonder omhaal van woorde. Soms weerbarstig, soos hy partymaal maar kan wees. Ander kere met deernis en fyn humor en ‘n paar ook met ‘n ligte verleentheid. Hyself sê dis nie ‘n outobiografie nie, maar sy “jare loop nou end se kant toe en dié stories funksioneer dus vir [hom] soos ‘n afsluiting van [sy] gelukkigste dae”. Hy vertel van sy kinderdae toe hy Skapie vir sy pa en ma was, van die hegte band tussen sy ouers en sy verhouding met sy ouers as alleenkind. Dan is daar skool, universiteit en werk. Eers sy dae as dominee, dan as redakteur van SARIE en later as redakteur van Rapport. Alles ingekleur deur die gesprekke wat hy met bekendes en onbekendes gehad het. Hy gee insigte oor hoe hy oor die politiek, ons land se gebeure, die doen en late van die hogeres en die skones voel. Hy praat onomwonde oor die “bitter donker tyd” van sy depressie en hoe dit hom “meer afhanklik van geloof gemaak [het] en van God meer bewus”. Izak sê in sy boek: “‘n Mens sonder ‘n verlede is ‘n mens sonder ‘n skaduwee.” Al wat ek ná die lees van die boek kan sê is: Hier’s ‘n man met ‘n ryk en interessante verlede, wat ‘n baie lang skaduwee agterlaat. Bestel by www.kalahari.net

Charlize

Charlize – Ek leef my droom, Chris Karsten (Human & Rousseau, R250)
Die boek is ‘n samevatting van Charlize se lewe tot dusver. Daar is nie aardskuddende nuwe inligting in die boek nie, maar dit bly ‘n interessante leeservaring.

Karstens het die boek ingedeel volgens die jare wat ‘n bepalende rol in Charlize se lewe speel. Van haar kinderdae, die traumatiese skietdood van haar pa, dan haar loopbaan as model en dan kom hy by haar rolprentloopbaan met al die films wat beduidend en onbeduidend vir haar vordering was.

Die boek is vir alle Charlize- aanhangers.

Bestel by www.kalahari.net

Vrypas Vrypas, Dot Serfontein (Protea Boekhuis, R180)
Serfontein het vanjaar 84 geword en in hierdie outobiografie gee sy ‘n baie interessante kykie na die hele Serfontein-familiegeskiedenis. Sy beskryf agt dekades se mense, geskiedenis, politieke, sosiale en ekonomiese gebeure soos sy dit ervaar het deur haar lewe in die Vrystaat. Aan die begin van die boek sê sy: “Vrypas is nie ‘n herskrywing van die land se geskiedenis of politiek nie, maar my weergawe van die konteks waarbinne dit drie geslagte lank die lewe van my plattelandse boeregesin beïnvloed het.” Deur haar oë kyk ons ook na haar verhouding met haar kinders en gee sy ook insigte oor veral Antjie Krog (haar dogter) se ontwikkeling as skryfster en aktivis. ‘n Baie interessante leeservaring.

Bestel by www.kalahari.net

Stiletto

Stiletto – in die onderwêreld van die seksindustrie, Karin Eloff en Carel F. Cronjé (Tafelberg, R170)
Eloff is ‘n baie brawe skrywer wat haar lewensverhaal “warts and all” vertel. Van hoe sy in die seksbedryf beland het, tot die ontstellende leefstyl wat daarmee gepaardgegaan het.

As jy sensitief is, moet jy eerder nie die boek lees nie, want seks en alles wat daarmee gepaardgaan word blatant beskryf. Dit word nie opgedollie en verskuil agter eufemismes nie. Dat Eloff die moed van die oortuiging gehad het om so oop en eerlik te skryf oor haar leefstyl (wat deur baie mense veroordeel sal word), is bewonderenswaardig.

Dat sy ‘n rasionele en normale lewe kan lei saam met haar dogtertjie en dat sy soort van heel uit die donkerkant van die lewe kon kom, is ‘n wonderwerk.


Britney Britney: Inside the dream, Steve Dennis (Harper Collins, R199,95)
Toe ek die laaste woorde gelees het en die boek toemaak, is daar een oorheersende gevoel in my. Siestog, die arme, stomme Britney!

Sy het glad nie ‘n normale lewe gehad nie. Sy het as ‘n kind op die vermaaktoneel verskyn en het toe op die musiektoneel ontplof. Daarna was dit net altyd perform, perform en weer perform. Dis duidelik uit die boek dat dit juis haar grootste probleem is. Sy lewe haar lewe ook as ‘n openbare optrede. Dis al wat sy ken. Geen wonder sy is uit voeling met realiteit nie en weet nie hoe om haar sake of gesin of liefdesverhoudings te bestuur nie. Sy is haar grootste vyand.
Dat sy ‘n ongekende musikale talent het, is seker en dat sy nog lank in die openbare oog gaan wees ook.

‘n Baie insiggewende boek oor Britney, haar familie, vriende en loopbaan.

Bestel by www.kalahari.net