sorg
Boeke

Top 5 liefde- en spanningsboeke

Hierdie week het al die boeke wat ons bespreek ‘n element van intrige en drama. En natuurlik liefde, die een element waarna almal soek!

Onthou om ons boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Sorg, Micki Pistorius (Penguin Books SA, R130)
Wat ‘n verrassende verhaal. Dit begin by die Skepping en vertel met hoeveel vreugde die volstruis gemaak is. Daarna kom die skepping van die mens, in alle kleure en vorme. En daar in die Karoo lag die Khoi en San vir die koddige volstruisvoël en net daar sweer die gedierte wraak teen die mensdom. Dan loop die verhaal heeltemal oor na ‘n mengsel van vertelling deur dooie mense (wat jy eers nie heeltemal besef dood is nie) tot die vertelling deur die lewendes wat fees hou in Oudtshoorn. Die vertelling deur die dooies gaan oor die familiegeskiedenis van Hendrik van der Westhuizen en dié van Eva Damon. Hul geskiedenis speel af tydens die era van die groot volstruisbaronne en jy word ingetrek in die liefdeslewe van dié mense en die drama daarmee saam. Nog ‘n stuk moderne geskiedenis word verweef deur hierdie ou geskiedenis, wanneer twee nasate van die hoofrolspelers tydens die Oudsthoorn-fees met die dooies in gesprek tree en dan deur hierdie mengsel van vertelling hul huidige verhaal vertel. Meer wil ek nie verklap nie, behalwe dat dit ‘n baie interessante storie is, vol intrige, liefde, verraad en versoening. - Phyllis Green

 

Afspraak in Venesië Afspraak in Venesië, Francois Bloemhof (Human & Rousseau, R165)
Mark Steyn is die Rooi Luiperd, lid van die Groot Vyf in die Fabriek, ‘n geheime staatsorganisasie in Suid-Afrika. As lid van dié uitgesoekte groep geheime agente het hy top-sekerheidsklaring. In die uitvoering van sy pligte mag enige stap geneem word om sukses te waarborg – selfs moord – as die saak dit regverdig. Wanneer ‘n vooraanstaande dokter in Engeland opgeblaas word deur ‘n Suid-Afrikaanse selfmoord-bomaanvaller word Mark in beheer van die ondersoek geplaas. Hy moet ook ‘n nuwe onervare agent van die organisasie oplei tydens die uiters gevaarlike ondersoek. Bowendien is die groentjie ‘n vrou en die vonke spat gereeld tussen die twee. Wanneer die spoor na Venesië lei, word sy lewe en dié van die nuwe agent telkens op die spel geplaas. Vol spanning, intrige met heelwat verrassende wendings. Dis die tweede boek in Bloemhof se “Rooi Luiperd”-reeks. - Karien Labuschagne
The solitude of prime numbers The solitude of prime numbers, Paolo Giordano (Black Swan, R141,95)
Wag – moenie skrik of ophou lees nie! Die saaklike titel omvat ‘n aangrypende liefdesverhaal wat geen wiskundige eise aan die leser stel nie. Die skrywer ontgin die idee van tweelinge wat nooit van mekaar kan loskom nie, hoewel hulle in elke opsig kan verskil buiten die fisieke ooreenkoms.
Die eerste paar bladsye is geweldig ontstellend, maar die raaisels word briljant uitgelê en verklaar, op ‘n baie onderhoudende manier, soos die veelfassettige verhaal ontvou. Die storie met sewe dele wys uiterstes, soos die wreedheid en ongevoeligheid van mense wat gekontrasteer word met die innigste vorm van saam-voel vir iemand anders en die diepste variasies van liefde. Absolute eensaamheid word uitgebeeld, teenoor slegte ondervindings tussen baie ander kinders.
Die storie is geskryf deur ‘n Italiaanse wiskundige, en is uitstekend vertaal sodat dit heerlik vlot lees, maar die vreemdheid en andersheid is tog behou. ‘n Boek wat lank in jou kop ronddwaal, en jou aanhou verras! As jy vanjaar net een goeie boek wil lees, is dié ‘n uitstekende keuse. - Mariette Postma
Missing Missing, Susan Lewis (Arrow Books, R129,95)
Dis ‘n doodgewone herfsdag en Miles Avery laai sy vrou Jacqueline by die stasie af. Jacqueline klim uit die motor, neem haar naweektas en loop die stasiegebou binne.
Dis die laaste keer dat enigiemand haar sien. Drie weke na haar verdwyning stel Miles die polisie in kennis. Ondersoek word ingestel, maar kort voor lank word hy verdink van allerhande sinistere motiewe om van sy vrou ontslae te raak. Donker geheime van die verlede en hede word onthul en die groot liefde van sy lewe bevind haarself in gevaar. Dis ‘n aangrypende verhaal van intense emosies in pynlike en spanningsvolle situasies. Hoe sal jy reageer as so iets met jou sou gebeur? - Chris Botha
Counting sleeping beauties Counting sleeping beauties, Hazel Frankel (Jacana, R165)
Hierdie ontroerende vertelling van ‘n multi-generasie Joodse gesin strek oor die pogrom-jare van Lithuanie en die vyftigerjare in Johannesburg. Die verhaal draai om ‘n tweejarige dogtertjie wie se dood dalk verhoed kon gewees het deur een van die vier vertellers: die ouma Leah, die moeder Susan, die suster Hannah en die huishulp Sina.
Frankel het ‘n delikate storie van liefde, verlies, tragedie en aanvaarding geweef wat stadig ontrafel soos elke verteller ‘n spreekbeurt kry. Ek het aanvanklik gesukkel om kop te hou met elkeen se relaas, maar was gou meegevoer deur die karakters se worsteling met hul skuldgevoelens.
Die ryk kulturele herinneringe van elke karakter word kunstig in die dialoog ingevleg. Jiddisje uitdrukkings, Sesotho – en Afrikaanse frases, klere modes en die populêre kinderspeletjies van daardie tyd dra almal by tot ‘n geloofwaardige roman. Beslis nie ligte leesstof nie, maar wel emosioneel verrykend. - Lee-Ann Steenkamp