FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Liefde en verlies


Ek dink dikwels oor liefde en verlies, die wonder en heuglikheid van die liefde en daarteenoor die donkerte en pyn van verlies.

Almal van ons ervaar die twee emosies een of ander tyd in ons lewens, maar elkeen hanteer dit op sy manier. Party mense is openlik verlief, en wanneer hulle verlies ervaar, is hulle net so opsigtelik in hul tyd van rou. Hulle praat daaroor, deel hul gedagtes en leef so intens dat jy nie anders kan as om te weet wat in hul lewe aan die gang is nie. Jy lag saam, huil saam, net so hard soos hulle. Aan die anderkant is daar die wat nie praat nie en wat nie wys nie. . . Hulle voel en ervaar net so intens, maar is net nie verbaal of ekspressief oor hul gevoelens nie. Vir hulle gee mens soms net ’n vinnige drukkie, of ’n sagte woord van bemoediging. Dis dikwels genoeg. Ek het al geleer dis maar hoe dit is, en daar is nie ’n regte of verkeerde manier nie. Dis maar net die lewe.

Love May Fail, Matthew Quick (Picador, R329)
Al wat Portia Kane wou hê in die lewe is om van haar armsalige bestaan in ’n agterlike voorstedelike lewe in ’n klein dorpie te ontsnap. Sy moet werk om haarself te onderhou tydens haar studies, maar sukkel om haar beursverpligtinge na te kom. Haar redding kom wanneer sy weggevoer word deur haar ridder op sy wit perd. Maar haar huwelik met die ridder wat ’n pornografiese filmmaker is, is nie so rooskleurig nie. Al het sy geld en woon sy in ’n massiewe huis verneuk hy haar keer op keer met ’n jonger en meer naïewe vrou. Die dag toe sy hom op heterdaad in hul huweliksbed betrap, besluit sy om terug te keer na haar wortels en sy gaan woon tydelik by haar ma in haar tuisdorp. Maar dié situasie is nie sonder komplikasies nie. Sy moet die duiwels uit haar verlede konfronteer om haar menswaardige eiewaarde weer te vind. Hier gaan sy op ’n soektog om die man te vind wat haar jare gelede die enigste bietjie selfvertroue en menswaardigheid laat ontwikkel het, asook die geloof gegee het dat sy enigiets in die lewe kan bereik as sy die moeite en energie daarin sit.
Die boeiende verhaal beklemtoon hoe waardevol een enkele mense se bydrae in jou lewe kan wees. In Portia se geval is dit haar oudonderwyser, Nate Vernon, wat haar en sy studente ’n liefde vir letterkunde geleer het, maar hulle ook probeer inspireer het om ’n beter self te wees. Komplekse karakters wat met aktuele kwessies sukkel wat deesdae alledaags is, maak hierdie verhaal een wat jou lank bybly. Quick het ’n gemaklike skryfstyl wat van die eerste woorde boei tot die oomblik wat jy die laaste bladsy toemaak. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Sky is everywhere, Jandy Nelson (Walker Books, R171)
Hoe hanteer jy die skielike dood van jou liefling-sussie as jy sewentien jaar oud is en julle twee was mekaar se wêreld? Dis presies waaroor hierdie hartroerende verhaal gaan. Lennie Walker se hele wêreld stort in duie as Bailey, haar ouer sussie, skielik sterf en sy alleen agterbly saam het haar onkonvensionele ouma en nog vreemder oom. Sy onttrek haar van almal en alles tot die dag wat sy haar pyn en verlies deel met Toby, Bailey se kêrel. Vir die eerste keer voel sy daar is iemand wat verstaan waardeur sy gaan, want hy is ’n spieëlbeeld van haar pyn. Dan daag die nuwe seun in die skool op. . . Joe kom van Parys, is ook ’n musikant en hy krap alles deurmekaar. Sy teenwoordigheid ruk haar terug in die alledaagse dinge van skool, orkesoefening en net die blote aangaan met die lewe. Lennie moet haar eie emosies konfronteer, want Joe veroorsaak dat sy opnuut geluk voel. Sy is in ’n tweestryd gewikkel, want sy is aangetrokke tot Toby, maar verlief op Joe. Hoe gaan Lennie alles hanteer? Dis amper asof jy Lennie se dagboek lees en so bietjie van ’n voyeur is oor hoe sy haar verlies en pyn beskryf, en hoe die lewe haar maal en brei. Dis ’n lieflike verhaal oor die emosionele groeipyne van liefde en verlies. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Lost & Found, Brooke Davis (Hutchinson, R285)
Sewejarige Millie Bird kruip weg onder die Ginormous Women’s Underwear-rak in die afdelingswinkel waar haar ma haar gelos het. Sy wag en wag, maar tevergeefs. Haar ma is net weg. Die 87-jarige Karl The Touch Typist wat in die restaurant van die winkel woon, ontferm hom oor die verlore kind en gaan saam met Milly op ’n soektog na haar ma. Die disfunksionele 80-jarige Agatha Pantha sluit by hulle aan. Dis ’n eienaardige groepie mense en die soektog neem hulle op ’n onvergeetlike reis waarop hulle leer wat die waarde van medemenslikheid is. Op hierdie reis ontdek hulle baie diep lewenswaarhede oor die dood en verlies, hoop en liefde.

Hierdie debuut deur die jong Australiese skrywer boei van die eerste bladsy. Die verhaal het my baie laat lag en ook emmersvol laat huil en laat peins oor my eie menswees.– Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Watch Me, A Memoir, Anjelica Huston (Simon & Schuster, R353)
Dis altyd fassinerend om oor iemand in die kollig te lees, nog beter as dit in daardie persoon se eie woorde is. Anjelica Huston onsluit die misterieuse en glansryke wêreld waarin sy grootgeword het in haar herinneringe. Sy vertel intieme dinge oor haar pa, die legendariese rolprentmaker John Huston, en haar huislike omstandighede. Sy lig ook die sluier oor haar groot liefde vir bad boy akteur Jack Nicholson en hoe hy keer op keer haar hart gebreek het deur te flankeer en verhoudings met ander vroue aan te knoop. Die verhouding was na sewentien stormagtige jare uiteindelik op die rotse na een van sy vele verhoudings. Sy vind liefde by die beeldhouer Robert Graham met wie sy later getrou het. Sy skryf roerend oor haar pa se dood en hoe dit almal rondom haar geraak het. Die boek gee baie agtergrond oor die sogenaamde glans van die rolprentwêreld en hoe hard sy moes veg om geloofwaardigheid as aktrise.

Wat vir my uitstaan van haar verhaal is hoe verkeerd ons persepsies dikwels is oor mense wat in die rolprentbedryf werk en dat hulle maar dieselfde onsekerhede en bekommernisse het as ons gewone mense wat minder glansryke lewens lei. Huston skryf menslik, deernisvol, snaaks en boeiend en haar verhaal is interessant en insiggewend. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Letters to my son, Mignonne Breier (Kwela boeke, R155)
Die dood van iemand naby aan jou is altyd traumaties. Soveel te meer as dit jou kind is. Mignonne Breier se seun, Matthew, het op 25-jarige ouderdom onverwags aan leukemie gesterf. In ʼn reeks briewe, gerig aan hom, neem Mignonne afskeid. Die briewe strek oor vyf maande, September 2011 tot Januarie 2012. In die briewe vertel sy van die alledaagse in haar lewe en hoe plekke en dinge in en om hul huis in Kaapstad, en in die land aan die verander is. In die deernisvolle reeks gesprekke herroep sy wat sy onthou van die tyd toe hy nog deel van die gebeure was. Die onverwagse dood van haar seun het haar perspektief van die wêreld, en waar sy in pas, onherroeplik verander. Deur middel van die briewe neem sy nie alleen finaal afskeid van hom nie, maar dit help haar ook om die dood finaal te aanvaar en te verwerk. Mignonne slaag daarin om eerlik en opreg oor haar verlies te skryf en verval nie in selfbejammering nie. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

As ek val, Jenny Downham vertaal deur Lydia du Plessis (Lapa Uitgewers, R169,95)
Iets moois vir tieners. Kara is sewentien en sterwend aan bloedkanker. Sy weet sy het nie ’n toekoms nie, maar sy het ’n lys dinge wat sy wil beleef voordat sy doodgaan. Sy wil onder meer seks hê, dwelms gebruik, die wet oortree en beroemd (of berug) wees. Haar hartseer pa is toegeeflik. Gustav van langsaan verskaf gelukkig liefde en seks. Sy gee raad aan almal oor hoe om die beste van hul lewens te maak: haar ma en pa (wat geskei was en versoen moet raak), haar boetie van elf, haar stoute dog liefdevolle vriendin Nicky wat met die sondes help, aan Gustav wat universiteit toe sal gaan. Kara is nugter oor haar heengaan en sonder selfbejammering.
Dis ’n roerende verhaal, maar nie morbied nie. ’n Lag met ’n traan. – Malene Breytenbach

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Sideboard, Simon Bruinders (Naledi, R179)
Abraham, ’n ongeletterde skrynwerker verkwansel bossietee in die George-omgewing. Hy is lief vir die grond en sy droom is om ’n eie grondjie te besit waar hy en Stella ’n gesin kan begin. Hul hegte vriendskap met Kobus, die wit Afrikaner word beskryf.

Abraham gaan veg in die Tweede Wêreldoorlog toe hy hoor van die regering se grondbelofte; wat helaas nooit nagekom is nie.

Ingevolge die Groepsgebiedewet, jare gelede in 1950 gepromulgeer, moet Abraham-hulle na die lokasie verhuis.

Die sideboard, altaar van geloof, maar wat ook die skending van menseregte simboliseer, word verkoop, dit pas nie in die huis in nie – die vertrekkies is te klein en Abraham land vir twee maande in ’n gestig.

Bruinders se debuutroman is uitstekend. Jy kan nie glo dié verskriklike onregverdigheid het in ons land plaasgevind nie – maar dit hét. Die einde is wel goed, die sideboard kry weer sy regmatige tuiste – in Abraham se huis. – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Veronica: Die kleur van liefde, Alita Steenkamp (Lapa, R185)Hoe gemaak as jy verlief raak op iemand, maar jou regering laat dit nie toe nie? Dié boek vertel die ware verhaal van Veronica van Vollenhoven. Tydens apartheid in die 1960’s was verhoudings oor die kleurgrense onwettig. Selinah Phaswane raak swanger met Paul Mills se kind, maar die twee weet dat hulle nie saam as ’n gesin sal kan wees nie. Op Paul se aandrang vlug Selinah na Lydenburg met die pasgebore baba, Veronica. Hier laat sy Veronica in die sorg van die Nagel-gesin met die hoop dat hulle mooi na haar kind sal kyk. Veronica se grootwordjare is egter moeilik. Die Nagels behandel haar soos ’n slaaf en sy ervaar nie enige liefde nie. Tog is daar ook hoop deur al die swaarkry. Ná Veronica vir God leer ken deur die Rooms Katolieke Kerk op die dorp en deur vader Van der Legner bevriend word, kry sy die geleentheid om op Middelburg na die hoërskool te gaan. In die koshuis leer sy van die geheim oor haar verlede en begin sy planne beraam om haar ma op te spoor. Die boek is met tye moeilik om te lees, veral wanneer daar beskryf word hoe Veronica mishandel word deur die Nagels. Daar is wel ’n ligpunt en dit is die moeite werd om deur te druk tot die einde. – Liesl du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

My James, Ralph Bulger met Rosie Dunn (Panmacmillan, R225)
James Patrick Bulger: gebore 16 Maart 1990, dood 12 Februarie 1993. Dis die verhaal van ’n engelgesig seuntjie wat sy lewe verloor het aan die hand van twee tienerseuns, Jon Venables en Robert Thompson. ’n Ma en pa se lewe het onherroeplik verander en ’n huwelik het uitmekaar gespat. Dié twee mense leef met die ergste selfverwyt.

Op ’n yskoue Februarie-oggend het James saam met sy ma winkels toe gegaan, min wetend wat die gevolge sou wees. Die driejarige James was ’n bondeltjie energie en glad met die mond. Venables en Thompson wou ’n kind dood maak en hulle het hul visier op ’n ander kind gehad. Hy het egter na sy na sy ma toe gehardloop en die uiteinde was dat James ontvoer is.  Die moord wat gevolg het, was grusaam.

Die saak was een van die mees opspraakwekkende in jare in Engeland.  Simpatie het vanuit alle oorde gekom, ’n nederige briefie van Sarah Ferguson (destydse Grafin van York) het vertroosting gebring.  James se pa, Ralph en sy ma, Denise het alles in hul vermoë gedoen om die seuns agter tralies te kry – sonder parool.

MAMAA (Mothers against murder and aggression) ’n liefdadigheidsorganisasie is gestig ter ere van James. Die organisasie verleen hulp aan duisende Britte wat geliefdes verloor het deur moord en geweld.

James se troetelnaam was Jamie, hierdie boek is opgedra aan hom. – Liesel Pienaar