Boeke

Liefde vir perde en passie vir perdry lei tot jeugboek

Na twintig jaar het Marga Jonker weer ‘n perd opgesaal en op sy rug geklim.

Dit was voorbereiding om seker te maak sy kan met oortuiging skryf oor perde in haar jeugverhaal, Sonder Chocolate Charlie (Tafelberg, R120). Nadat Marga se eie perd dood is, het sy vir twintig jaar nie perdgery nie en moes weer opnuut haar passie vir perdry ontdek. Haar boek gaan oor Nell, wat saam met haar uitgebreide familie op ‘n perdestoetplaas woon. Na ‘n ongeluk met haar perd, Chocolate Charlie, word hy uitgesit. Sy kan niks van die ongeluk onthou nie en weet nie wat die ongeluk veroorsaak het nie. Sy voel skuldig oor Chocolate Charlie se dood en het ‘n vrees ontwikkel vir perde. Haar niggie kom saam met ‘n paar vriendinne op die plaas kuier vir die vakansie om te oefen vir ‘n perdry-kompetisie en dit is wanneer dinge interessant begin raak. Gaan Nell uiteindelik uitvind wat met haar en Chocolate Charlie se ongeluk gebeur het en gaan sy haar vrees vir perde verloor?

Ek het per e-pos met Marga gesels oor haar verhaal.

Is dit jou eerste boek?
My eerste boek was ’n prenteboek, Wat is jy Kartoffel, (Lapa Uitgewers, 2010) saam met die illustreerder Alzette Prins. Dié boek  is in 2012 deur die Namibiese Kinderboekforum bekroon.

Wie is jy, waar woon jy en wat doen jy as jy nie skryf nie?
Ek is Marga Jonker, getroud met PG. Ons woon in Durbanville. Ons is die ouers van Hardus, Anita en Chris-Jan. Ek  is tans die  Xhosa derdetaal-onderwyseres aan die Voorbereidingskool Durbanville waar ek graad 2- en 3-kinders bekendstel aan Xhosa as derde taal.  Ek skryf en ontwikkel die kurrikulum hiervoor en maak rympies en stories om by my materiaal te pas. Ek glo veeltaligheid lei tot multi-kulturele ontwikkeling. Ek gebruik ook ‘n djembe (Afrika-trom) in die klas.

Waar kom jou inspirasie vir die verhaal vandaan?
Ek het as vyfjarige begin perdry aan die Weskus. Ons plaas was by Stompneusbaai teen die see.  Ek het nie kompeterend gery nie, maar wel op van die plaaslike dorpe se Landbouskoue deelgeneem. Op Porterville, Piketberg, Moorreesburg het ek met my perd, Bokveld, aan die boerperdklasse deelgeneem. My passie was egter om so veel ek kan, verkieslik daagliks, teen die see perd te ry. Ons was ʼn groep tieners met perde wat op Saterdae bymekaar gekom het. Ons het ritte met baie avonture gehad teen die strande tussen Stompneusbaai en Paternoster.

Waarom oor perde en tieners skryf?
My eie perd is dood. Ek was al getroud in my laat twintigs,  net toe my oudste kind gebore is. Ek het nooit weer perdgery na my vosperd se dood  nie. Ek het so besig geraak met my rol as ma en leef in ‘n voorstad dat ek vir twintig jaar nie weer perdgery het nie. Op ʼn Kinderboekskryfkursus wat deur Lapa aangebied was, tydens ‘n kreatiwiteitssessie, ontdek ek dat ek graag oor my tiener- en perdry jare wil skryf. Ek was egter bang en het getwyfel of ek nog genoeg van perde weet. Sou ek oortuigend ‘n storie oor perde kon skryf? ‘n Vriend het voorgestel ek moet weer begin perdry, dan sal ek mos beslis weet of ek nog iets van perde kan onthou.  Ek sal hom altyd dankbaar wees vir sy raad. ʼn Vriendin het my haar dogter se perd, PhatJoe, aangebied om op te ry. Die storie het elke dag self kom aanmeld soos ek my verlore passie terug gevind het.

Is al die karakters fiktief of het jy inspirasie gekry uit mense wat jy ken?
Elke karakter in die boek is deur iemand geïnspireer. Die hoofkarakter Nell, is deur my vriendin, Christine, se dogter geïnspireer. Ek het selfs haar naam gebruik, Nell. Nell en haar gesin is baie sagte mense wat hulle troeteldiere mooi versorg en sterkbande het met hul diere. Hulle ry nie eens perd nie, maar hul verhouding jeens hul troeteldiere, honde en katte, was vir my inspirasie. Selfs die voëls in hul tuin is deel van hul gesin. Nell Bezuidenhout van die regte lewe,  is ook baie  lief vir  perde, en sy het die afgelope jaar begin perdry. Dit was egter  haar fyn persoonlikheid en haar menswees wat my aan haar laat dink het terwyl ek Nell van Chocolate Charlie geskep het. Ook was dit Nell se ma, Christine,  wat my baie stof tot nadenke gegee het oor hoe sensitief  kinders se intense gevoelens bestuur moet word as ‘n troeteldier sterf. Hoe sy haar kinders begelei het met hulle baie ou kat se heengaan, het my getref.

Die boek is opgedra aan PhatJoe, waarom?
PhatJoe was my padkaart terug na my lewe saam met perde. Hy was soos ‘n Vlooi en Biebie towersleutel wat my op ‘n avontuur geneem het, terug na my passie vir perde en my kennis van perde.  PhatJoe se eienaar, Ilze Botha,  het ‘n allergie vir perdestof ontwikkel en hy was in die mark om verkoop te word. Ilze wou egter eers sien of sy nie haar allergie kon oorkom nie. Ek het so agtmaande vir PhatJoe kon ry tussen die wingerde op Goedemoedplaas in Durbanville. Hy is ‘n vriendelike ekstroverte donkervos.  Ons het dadelik ‘n band gevorm, dalk was hy net ‘n genadige engel op my pad, want hy het my soveel selfvertroue gegee. Hy was bly as hy my sien. Hy het gekom as ek geroep het.   Dalk het hy net geweet hierdie vrou kort ‘n perdevriend in haar lewe. Ek het vroeg in 2011 begin skryf aan die storie. Elke dag wat ek en PhatJoe deur die wingerde gestap het en later galop het, soos my selfvertroue terug gekom het, het ek nuwe woorde gevind vir my storie. Saans as die huis stil geraak het, het ek  aan Chocolate Charlie gewerk, soms met stywe spiere.

Hoe was dit om die lokfilm vir die boek te skiet?
My dogter Anita, gr 12,  het Sonder  Chocolate Charlie vir haar vriendin, Mia van Tonder, gewys.  Mia noem toe dat haar perd, Poppy, net soos Charlie lyk. Ek het toe besluit dat ek baie graag ‘n lokvideo sou wou skiet as Mia ons sal help. Mia en Anita het gou alles gereël en was vuur en vlam. Nell sou deur Lara van Tonder, Mia se jonger sussie, gespeel word en Mia sou die “stunthorse” afrigter wees. Ek ken ‘n paar grafiese ontwerp studente wat  my ‘n draaiboek help skryf het en die kamerawerk gedoen het. Binne drie dae gedurende die Junievakansie het ʼn entoesiastiese span jongmense kreatief gehelp om die lokvideo te maak. Ek was so beïndruk met die studente en die tieners, ek het sommer baie hoop vir die toekoms van ons land se vermaaklikheidsbedryf gekry en inspirasie vir nog tienerboeke gekry. Poppy wat die rol van Charlie gespeel het was natuurlik ook fantasties.

Het jy vinnig geskryf aan die verhaal?
Dit was my eerste tienerverhaal. Ek het hom aanvanklik vinnig geskryf, maar na die eerste goedkeuring was daar nog skryf en skaafwerk aan, so dit het meer as ʼn jaar geneem om te skryf en gereed te hê vir die uitgewer.

Gunsteling karakter in die verhaal en waarom?
Die hoofkarakter, Nell. Daar is ʼn groot deel van myself ook in Nell se verhaal. Ek het ook ʼn perd verloor en toe het ek opgehou perdry. Nell was net ongelooflik getrou aan haar passie en ek nie.

Is daar ʼn volgende boek op die horison?
ʼn Volgende tienerverhaal met tieners en perde as sentrale tema is reeds goedgekeur, maar dit is oor ander tieners en ʼn ander perd.