loftus112_copy
Boeke

5 boekminute met digter Loftus Marais

Lees die nuutste berig hieroor.

“Marais, ‘n debuutstem, se verse is ironies en trompop – what you see is what you get,“ sê ‘n resensent in SARIE Boekdinge, Junie 2009, oor Loftus Marais se bundel Staan in die algemeen nader aan vensters, (Tafelberg).

Nou sien, daar kry Loftus toe sommer twee groot pryse vir die gekykery deur vensters. Phyllis Green het hom ‘n paar vinnige vrae gevra en lekker geglimlag oor sommige antwoorde.

Watter ander pryse is als aan jou toegeken?
Die Eugène Maraisprys en die UJ-debuutprys.

Hoe voel dit om bekroon te word vir jou heel eerste bundel?
Dis lekker. (Veral die geld!) Ek is natuurlik dankbaar en ervaar dit as ‘n soort aanmoediging, maar mens is ook nervous: Jy moet nou aanhou perform.

Is daar een prys waaraan jy meer waarde heg?
Nee wat. Die Eugène Maraisprys is vir my spesiaal omdat die oubaas ook in my hoërskool was (Paarl Boys) en mens maar daar in die skoolgange al te doen gehad het met die poëtiese spook van die Groot Man. En dan is ek vreeslik bly oor die UJ-prys omdat ek al vir ‘n baie lang tyd respek het vir die akademici op hulle paneel.

Gee meer agtergrond oor jou digbundel: Wanneer het jy dit geskryf?
Meeste van die gedigte het ek geskryf terwyl ek as student besig was met my MA in Kreatiewe Afrikaanse Skryfkunde. Ek het toe die tyd gehad. Deesdae, as ‘n werkende man, gaan dit maar stadig, ai.

Waarom juis poësie?
Ek dink dit het dalk te make met die feit dat ek met taal as ‘n aparte ding en ook ‘n idee of twee wil speel (eerder as om ‘n storie te vertel of so), en ek voel ook gemakliker met die kleiner fokus van die gedig: hiér, werk met dié woorde, whittle them down, maak hulle na iets klínk, en as dit nie werk nie, fine, frommel die papier op en gooi dit weg. Jy hoef net te worry oor wat op die enkele papier aangaan.

Skryf jy in ander genres ook?
Nee. Behalwe, ek is uiters goed met die “skinder-email”.

Waaraan werk jy tans?
So nou en dan kom daar ‘n gedig. En hulle gaan meestal oor Kaapstad.

Wat is jou voltydse beroep?
Ek is die fiksie reklame-beampte by NB-Uitgewers.

Hoe ontspan jy?
Vriende. Flieks. Lees. Die usual maar.

Het jy ‘n gunsteling-skrywer/digter?
Wilma Stockenström en Etienne Leroux pretty much. In Engels seker Philip Roth en Don DeLillo, en Mark Doty of Alice Oswald wanneer dit by poetry kom.

As jy op ‘n eiland gestrand raak, wat is die een skryfsel waarmee jy uitgespoel wil word?
Seker die Groot Verseboek, of dalk Catch-22 van Joseph Heller.

Waarsonder kan jy nie leef nie?
My usual Butlers-pizza met bacon en feta, en die vreeslike hot (gewoonlik blonde) outjies wat dit altyd kom aflewer.

NB-Uitgewers se video-onderhoud met Loftus: