FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Maak beter keuses

Mens kan nie alles in jou lewe beheer nie, maar daar is dinge waaroor jy ’n keuse kan maak.

Daar is ’n stortvloed van boeke wat jaarliks verskyn wat daarop gemik is om jou te lei om beter keuses oor jou lewe te maak. Die onderwerpe is so uiteenlopend soos verslanking, selfvertroue, klerestyl, aftrede, finansiële beplanning, grimering en haarsorg, dekor en selfs verskillende soorte oefening. Vir elke aspek van jou lewe is daar ’n boek wat vir jou meer inligting gee, sodat jy self kan besluit wat jy wil doen. Interessant genoeg gaan die oorgrote meerderheid boeke oor dieet, gewigsverlies, gesonde eetplanne, hoe om van jou vet arms, vet maag of wat ook al ontslae te raak. Ons is op hol oor gewig, en dis te verstane as mens kyk na die statistiek van hoe vet die mensdom geword het. Die Amerikaners is amptelik nou die tweede vetste nasie in die wêreld, Meksiko het hulle verbygesteek. Maar ons moet nie gerus raak nie, want Suid-Afrika is ook op daardie lysie! Ons leefstyle het verander, so ook die manier wat ons werk, oefen en eet. In my kinderjare het ons aktief gespeel, en as ons honger was, moes ons ’n appel of ander vrug eet totdat dit tyd vir aandete was. Rys, vleis en drie soorte groentes en as ons gelukkig was, was daar jellie en vla vir nagereg! Ek hoor al hoe meer die stelling: jy is wat jy eet en dit dra beslis by tot jou welstand. Hierdie week het ek boeke gekies wat jou gaan help om ietsie nuuts te leer.

Boererate, saamgestel deur Danie Smuts (Penguin Books, R250)
Ek is gek daaroor om ou boererate te lees. Dikwels probeer ek een om te kyk of dit werk; soms met onverwagte resultate! Hierdie boek is oorspronklik in 1989 deur Danie Smuts saamgestel en is nou weer uitgegee in hardeband-formaat. Smuts was ’n geliefde en bekende omroeper by die destydse Springbok-Radio. Hy het die boek saamgestel uit die stortvloed briewe waarin luisteraars boererate met hom gedeel het oor ’n tydperk van twintig jaar. Ek het onmiddellik geblaai na die rate vir verkoue, want dis amper winter. Hierdie een klink vir my na die een wat ek gaan volg: “Halfpond heuning, halfkoppie suurlemoensap. Sit lemoensap op stadige hitte tot net onder kookpunt. Voeg heuning by. Roer dit, en haal dit af net voor dit saam kook. As dit nie help nie, voeg 5 druppels bloekomolie by.” Maar as dit nie werk nie, is daar ’n hele bladsy ander verkoue-rate waaruit ek kan kies!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The little book of confidence, onder redaksie van Tiddy Rowan (Quadrille Publishing, R133)
In hierdie klein boekie (wat met gerief in jou handsak sal pas) word uitstekende wenke gegee van hoe jy jou selfvertroue ’n hupstoot kan gee. Jy hoef nie alles in een groot stap te probeer vermag nie. Jy kan begin met klein veranderings, soos hoe jy aantrek, jou lyftaal, hoe jy praat. Dis alles klein treetjies wat eindelik na groter selfvertroue lei. ’n Klein stukkie waarheid wat mens maar kan onthou, is dat niemand anders regtig weet wat jy dink en voel nie. Elke wenk word ook vooraf gegaan deur ’n inspirerende aanhaling. Een van my gunstelinge kom van Lao Tzu :
“Health is the greatest possession.
Contentment is the greatest treasure.
Confidence is the greatest friend.”

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Tea: 60 teas to revitalize & restore, Margaret Roberts (Struik Nature, R190)
Wie het kon dink dat jy vir elke kwint en kwaal ’n koppie tee kan drink wat jou beter sal laat voel. Die kruie word alfabeties gelys. Margaret Roberts skryf in gemaklike en onstpanne styl en deel ook anekdotes so tussen die beskrywings deur. Die boek is gepak met inligting oor watter tee vir watter kwaal gebruik kan word. Elke tee se resep word ook gegee. Ek kyk met nuwe oë na pietersielie. Het jy geweet ’n halwe koppie vars pietersielie bevat meer betakarotien as twee groot wortels, meer vitamien C as twee groot lemoene, 20 keer meer yster as ’n porsie lewer en tien keer meer kalsium as ’n koppie melk? Bowendien is dit in die Middel-eeue deur monikke gebruik vir enigiets van haarverlies tot jig, van borskwale tot blaasinfeksies. Daar steek inderdaad waarheid in die medisinale waarde van pietersielie en dit word steeds gebruik in die behandeling van jig, rumatiek, artritis, koors, naarheid, blaasinfeksies en selfs prostaatprobleme. Ek gaan dadelik ’n bedding pietersielie plant.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Dink Slank, Word Slank, Jorgan Harris (Struik Lifestyle, R190)
Volgens Harris moet jy ’n kopskuif maak om regtig te kan verslank. Hy sê in sy voorwoord: “Die doel van hierdie boek is om jou ou oortuigings oor eet en vet te verander en om tot die besef te kom dat dit nie gaan oor wat en hoeveel jy eet, en wanneer jy eet nie. Dit is nie die oorsaak van jou vet nie. Dit is jou lewenskwessies waaraan jy so vasklou wat jou vet maak.”

Die werkboek en CD (ingesluit in die boek) help jou om prakties deur jou lewenskwessies te werk.

Volgens Harris moet jy eers vrede maak met jouself en seker wees jy leef in die nou, voordat jy kan begin verslank. Jy moet jou denke oor gewig radikaal omkeer. Harris werk al jare met hipnose en verslanking.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Cut the crap, Ruth Field (Sphere, R270)
Ruth Field sê die eerste stap wat iemand wat gewig wil verloor moet neem, is om te erken hulle is vet weens hul leefstylkeuses, en dat dit nie te wyte is aan gene, werk of familie nie. In hierdie boek vertel haar alter ego, The Grit Doctor, sonder omhaal waarom jy nie die een of ander wonder-dieet moet volg nie, maar eerder moet leer om gesond te eet en bewus te wees van wat jy in jou mond sit. Die boek is eenvoudig, baie toeganklik en prakties en lei jou deur ’n massa inligting oor die effek van diëte op jou liggaam, hoe verskillende kossoorte jou affekteer en hoe jy beter keuses moet maak oor wat jy eet. Volgens haar hoef jy nie op ’n eetstaking te gaan en jouself te ontneem van ’n sjokolade of ’n poeding nie. Maar, sê sy, alles gaan oor balans. As jy poeding wil eet, moet dan nie aartappels, rys, pasta of brood saam met jou maaltyd eet nie. Die belangrikste gewoonte wat jy moet aanleer om gewig te verloor, is om aan die beweeg te kom – stap na jou naaste winkel, klim trappe eerder as om die hysbak te gebruik, staan voor die televisie. So gebruik jy energie wat jou help om jou gewig in toom te hou. Hierdie is een van die beter en meer gebalanseerde boeke oor gewigsverlies wat ek in ’n lang tyd gelees het.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Eat less crap, Lose that fat, Sam Pease (Struik Lifestyle, R180)
Sam Pease het 28 kilogram verloor sonder dat sy ooit in die gimnasium gaan oefen het of om ’n spesifieke dieet te volg. Dit vertel sy baie duidelik en in geen onsekere terme vir jou in haar boek nie. Vyf jaar gelede was sy oorgewig en baie ongelukkig, maar sy hou nie van oefen nie en boonop is sy verslaaf aan koolhidrate. Haar manier om iets aan haar situasie te doen, was om maer vrouens te agtervolg en te kyk hoe en wat hulle eet. So het sy toe haar eetplan en leefstyl aangepas en hierdie boek geskryf waarin sy dit met lesers deel. Haar wenke om gewig te verloor: Moenie snoepgoed op ’n plek bêre waar jy dit onmiddellik sien en kan raakvat nie. Moenie in jou motor eet nie, veral nie wegneem-kos nie. Moenie geld mors op sogenaamde dieetkure nie, want dit werk nie. Eet steeds waarvan jy hou, eet net baie minder daarvan. Pease is ’n Nieu-Seelander en haar skryfstyl sal nie in alle lesers se smaak val nie. Ek het teen die einde van die boek effe geïrriteerd geraak met haar beterweterigheid oor alles onder die son en hoe sy haar uitlaat oor sekere onderwerpe, soos mode, wat sy maar eerder moet los vir die kenners. Tog sal die boek lesers help om beter insig te kry in hoe om gewigsverlies op ’n ander manier aan te pak.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Nature’s own pharmacy, Betsie Rood (Protea Boekhuis, R200)
Die boek het reeds in die negentigs in Afrikaans verskyn as Uit die Veldapteek. Van die vroegste eeue af het mense veldplante gebruik tot hul voordeel, vir kos en vir medisyne. Die boek lys die plante volgens botaniese name, maar die Afrikaanse gebruiksname word ook gegee. Dan word die plant beskryf volgens hoe dit lyk en waar dit voorkom en ook waarvoor dit gebruik kan word. Een van die interessante plante is die kankerbossie en sy vele gebruike. Ons voorvaders het ’n ekstrak van die blare gemaak as ’n kuur vir kankeragtige groeisels. Daar word ook ’n tee van die blare gemaak wat as medisyne gedrink word vir griep, maagaandoenings, kanker, waterpokkies en verkoue. Volgens nog iemand kan die tee ook gedrink word vir spatare, diabetes en selfs vir aambuie. Dis fassinerend om te sien waarvoor die verskillende veldplante alles gebruik is. Die boek is ’n kulturele skatkis.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

5:2 Good Food Kitchen, Kate Harrison (Orion, R170)
Harrison is ’n voormalige BBC en koerant-joernalis wat moes gewig verloor ter wille van haar gesondheid, maar ook omdat sy ongelukkig was met hoe sy lyk. Sy het uiteindelik ’n eetplan gevolg waar sy van haar oortollige vetjies ontslae geraak het en dit het sy gedeel in haar vorige boeke wat sy geskryf het daaroor. Haar suksesvolle gewigsverlies lê in haar eetplan. Oor haar eetplan sê: “If you’re looking for a simple, flexible approach to staying a healthy weight and enjoying your food, intermittent fasting is for you. By cutting down just twice a week, you can transform your attitude to food, save money, and even cut your risk of serious illness.” Haar geheim is dus om vir twee keer per week haar maaltyd met 500 kalorieë terug te sny. In hierdie boek van haar verduidelik sy presies vir jou wat haar 5:2 beginsel behels, dan gee sy resepte vir gesonde geregte. Sy het ook spesiale blokkies waarin sy sekere mites oor diëte en voedselsoorte weerlê, en waarin sy redes gee daarvoor. Sy het ook ter ondersteuning van almal wat hierdie eetplan volg ’n blad op Facebook gestig wat al meer as 30 000 lede regoor die wêreld het.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Beat the Bloat, Claire Young (Orion, R170)
Hierdie boek gaan spesifiek daaroor hoe jy moet maak om van daai opgeblaasde gevoel ontslae te raak en vertel jou wat jy moet eet om jou hardnekkige maagvet te laat wegsmelt. Sy verduidelik wat aanleiding gee tot ’n groot maag en waarom dit so moeilik is om daarvan ontslae te raak. Hier gaan dit oor ’n nuwe eetplan, om die kossoorte wat opgeblasenheid aanhelp heeltemal uit jou dieet te sny en te vervang met veilige kossoorte. Sy bespreek ook die top-10 vrae oor die kwessie soos hoeveel gewig kan jy verloor; kan ejy by tye koring eet; is glutenvrye produkte goed of sleg; jy bier kan drink en so voort. Hierdie boek is ’n handleiding wat jou sal help om te verstaan waarom jou liggaam op kroing reageer soos dit doen, en sal jou deur al die stappe neem om ’n ommekeer in jou lewe te maak. Die bonus is die resepte in die laaste deel van die boek. Young is ’n gerekende gesondheidskrywer wat haar toespits op hoe mense moet eet vir beter welstand.