Malene Breytenbach

Boeke

Malene Breytenbach oor liefdesverhale

Onlangs land ‘n stapeltjie liefdesverhale op my lessenaar. Dit het my aan my ma laat dink. Sy het graag sulke liefdesverhale gelees tussen haar ander meer ernstige leeswerk deur.

Ek moes altyd by ons plaaslike biblioteek vir haar boeke uitneem, en ek moes seker maak ek neem ‘n paar liefdesverhale uit. Natuurlik het ek my neus opgetrek en eerder ander boeke gelees. Toe hierdie stapeltjie nou op my lessenaar beland, besef ek dat ek onnodig bevooroordeeld is – veral as ek nie eens die moeite doen om in hierdie genre te lees nie.

eiland van dromeEk het Eiland van drome (Hartklop, R94,95) van Malene Breytenbach nader getrek en begin lees. Ek het verby die voorblad gekyk, want die foto pas nou nie heeltemal by hoe die held en heldin beskryf word nie. Miskien moet die uitgewers ook die boek lees voordat hulle die voorblad kies! Dit daar gelaat. Die storie het my onmiddellik ingetrek, want die karakters word interessant beskryf en is nie net breinlose poppe nie. Irene Basson, ‘n jong psigiater word ‘n geleentheid aangebied om vir Nicholas Barton te gaan werk by sy nuwe luuksekliniek op ‘n Griekse eiland.Van die eerste ontmoeting af is daar ‘n vlammetjie tussen die twee, maar omdat hulle saam moet werk, hou hulle die verhouding vir eers professioneel. ‘n Hele paar gebeure sorg dat hulle tog in mekaar se arms beland en dit lyk asof alles goed gaan, totdat Irene dink Nicholas het ‘n affair. Natuurlik is Nicholas onweerstaanbaar vir vroue en Irene moet haar jaloesie hokslaan en leer om hom te vertrou. Dis ligte leesvermaak, maar tog heel geloofwaardig. Ek het Malene uitgevra oor liefdesverhale.

Hoe het jy begin om liefdesverhale te skryf?
’n Vriendin het liefdesverhale geskryf en ek het sommer op ’n dag besluit om ook te probeer. Toe my poging vir publikasie aanvaar word, het ek losgetrek en aanhou skryf.

Hoeveel het jy al geskryf?
Ek het 8 mediese liefdesverhale geskryf, 4 historiese liefdesverhale, 24 ander, en twee onder die skuilnaam Marilyn Bennett. So daar is 38, en daar dan is een nog in die pyplyn. Ek het 5 romans ook geskryf.

Waar kry jy die idee’s vir die stories?
Ek sien of  hoor iets wat my trigger, of ek kyk oor watter mediese veld ek nou weer kan skryf. Sekere plekke soos Oudtshoorn, Skotland en die Griekse eiland fassineer my. Settings is belangrik. Enige geskiedenis fassineer my, byvoorbeeld die Boereoorlog, die diamantvelde, ou Argentinië.

Moet jy navorsing doen vir die stories?
Ek doen nogal heelwat navorsing: Tye, plekke, geskiedenis, allerlei feite soos mediese besonderhede, plekke waarheen daar gereis word, kleredrag. My feite is hopelik korrek, die fiksie is ingevleg.

Is daar ‘n resep om die verhale te skryf, of pak jy elkeen op ‘n nuwe manier aan?
Die enigste resep is dat twee mense mekaar moet vind, maar dat daar baie kinkels in die kabel van hul liefde moet inkom en baie hindernisse. Verder vertel die karakters vir my hulle storie.

Waarom werk die resep vir hierdie soort verhale?
Mense wil weet daar gaan ’n gelukkige einde wees en die held en heldin moet mooi, intelligent, dapper en vindingryk wees. Dan wil én kan lesers met hulle identifiseer en die ideale geniet.

Neem dit jou lank om so boek te skryf?
Dit hang af of ek meer as een ding op ’n slag skryf. Ek pleeg romans ook. As ek baie hard werk, kan ek binne ’n maand of twee ’n liefdesverhaal lewer, maar dan skryf ek nie ’n volle dag nie en ook nie oor naweke nie. Sê maar ek neem gemiddeld so 2 tot 3 maande as ek nie jaag nie.

Hoe lyk die perfekte held vir jou?
My perfekte held is lank, lenig, met breë skouers, mooi hare en oë enige kleur, bruingebrand, sterk gesig.

Lees jy self liefdesverhale?
Ja, ek het al heelwat gelees. Ek sien graag wat ander skrywers met die genre doen.

Wie is vir jou ‘n goeie liefdesverhaalskrywer?
Daar is heelwat goeies maar as ek moet uitsonder: Chanette Paul, Ettie Bierman, Elsa Winckler, Elsa Hamersma, Wilna Adriaanse.

locum vir liefdeLocum vir liefde,  Malene Breytenbach (Hartklop, R94,95)
Hierdie boek mag dalk onder die dekmantel van ‘n liefdesverhaal aangebied word, maar dit bevat genoeg spanning en aksie om enige leser vasgenael te hou.

Na Laura se man se skielike dood besluit sy om alleen die Russiese skeepsreis te onderneem wat hulle nog voor sy dood saam beplan het. Op die skip ontmoet sy die aantreklike Ierse dokter, Kyle Barrymore wat saam met sy bloubloed-verloofde en haar snobistiese ma na St. Petersburg reis. Dan is daar ook nog die skeepsdokter, Andrei wat by haar vlerksleep. Ná die kort seereis weet sy dat sy nie een van hulle ooit weer sal sien nie en sy aanvaar ‘n locum-pos in Ierland om te probeer ontsnap van die hartseer in haar lewe.

Binnekort bevind Laura haar midde-in die plofbare Ierse politieke situasie. Dan kom haar eie lewe boonop in gevaar, en sy leer die krag van ware liefde en ook vrouejaloesie ken.  – Retha Burger

Lees ook wat Malene vertel oor haar vorige roman, Eenoogkoning (Naledi, R159)