FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Mandy Retzlaff praat oor daardie perde!

Jy moet baie lief vir ‘n perd wees om jou lewe op die spel te plaas om die dier te red, wat nog te sê om jou lewe te waag vir eenhonderd en vier perde.

Dis presies wat Mandy en Pat Retzlaff gedoen het toe hulle plaas in Zimbabwe beset is deur oorlogsveterane. Hulle het met ‘n klomp perde van plaas na plaas getrek in ‘n poging om die perde red en om te probeer om te oorleef in ‘n land wat in chaos gedompel is. Mandy vertel in One Hundred And Four Horses (William Collins, R220) die ware verhaal van hoe die plaasbesettings in Zimbabwe hul lewe ontwrig het.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Retzlaffs is perdemense en hierdie reputasie het gemaak dat mense wat die land verlaat het, hulle perde aan die Retzlaffs toevertrou het. Of die Retzlaffs die geld gehad het om vir die perde te sorg, was nie ter sake nie. Hulle kon geen perd aan sy eie lot oorlaat nie en het al die perde ingeneem. Deur Mandy se vertelling leer ken jy die karakters van die perde en wat elke perd vir hulle beteken het. Van die ervarings is hartverskeurend en kan mens nogal somber stem.

Tenspyte van die ontstellende gebeure wat sy beskryf, is dit nie ‘n bitter vertelling nie. Dis ‘n dokument van hoe die lewe was vir ‘n gesin wat deur plaasbesettings geraak is en wat teen alle verwagtinge in steeds sal terugkeer na dié land wat vir hulle huis is. Jy kan nie anders as om hul deursettingsvermoë te bewonder nie en hoe hulle elke keer aanpas en die beste van ‘n slegte situasie probeer maak. Dis ‘n eg menslike verhaal wat net weer wys hoe daar nie altyd ‘n verstaanbare rede is vir waarom mense se lewens verloop soos dit doen nie. Politiek en die impak daarvan op mense het soms ‘n nare nadraai. Ek het per e-pos met Mandy Retzlaff gesels oor haar ervarings.

Jy het Suid-Afrika vir Rhodesië verruil toe jy getroud is. Het jy daardie jare enige voorbehoude gehad om soontoe te gaan, want die land was nog gewikkel in ‘n Bosoorlog?
Ek het bittermin van die konflik in Rhodesië geweet voordat ek Pat ontmoet het. Aanvanklik was ek nogal ontsenu, want ons moes oral op die hoofroetes in konvooi ry, omdat die land in ‘n Bosoorlog vasgevang was. Almal het daardie tyd wapens gedra en terroriste aanvalle was normaal. Saans aan die eettafel is die radio aangeskakel en dan was daar ‘n somber oomblik wanneer die omroeper die name aflees van mense wat in aksie omgekom het. Pat en ek is getroud in die klein dorpie, Enkeldoorn, waar Pat se familie geboer het. Niemand van my familie het na die troue gekom nie. Hulle het gedink ons is mal. Ek het vinnig lief geraak vir Rhodesië, wat gou Zimbabwe geword het, en selfs nou, met al die chaos, bly dit steeds een van die mooiste lande in die wêreld.

Toe dinge begin skeefloop het in Zimbabwe en al julle bure en kennisse die land verlaat het, waarom het julle ondanks alles gebly?
Kate, ons dogter, het pas haar O level-skooljaar voltooi en dit was belangrik dat sy met haar A level moes aangaan. In 2001 was Pat en ek in ons laat veertigs en dis baie moeilik om op daardie ouderdom nuut te begin in ‘n ander land. Ons het ook al ons bure se perde ingeneem vir versorging, en ons werkers was ook saam met ons. As ons jonger was met klein kinders en as die perde nie in ons sorg was nie, sou ons beslis die land verlaat het.

Julle moes ‘n hele paar keer trek, omdat die verskillende plase waarop julle was, beset is deur die oorlogsveterane. Hoe moeilik was dit om ‘n normale gesinslewe te probeer lei?
Dit was ‘n baie moeilike en stresvolle tyd. Ons het in soveel angs geleef. Gelukkig was Kate vir die eerste gedeelte van die plaasbesettings in die koshuis en was haar lewe nie te erg ontwrig nie. Almal wat sy geken het, het deur dieselfde goed gegaan en daarom was dit vir haar relatief normaal. Dinge het later eers vir Kate erg begin word, toe sy ontwortel is weens die chaotiese plaasbesettings en die omgewing wat sy geken het,  moes verlaat. Ons het telkens haastig die pad gevat en uiteindelik in die mooi dorp, Mutare wat aan Mosambiek grens, beland. Sy moes daar in ‘n nuwe skool begin, nuwe vriende maak en ons het daar twee gelukkige jare sonder enige insidente beleef, totdat Mutare en die omliggende plase beset is.

Baie mense het hulle perde aan julle toevertrou, wanneer hulle landuit is. Hoe het julle reggekry om na al die perde om te sien, en steeds die mense wat vir julle gewerk het, te betaal met al die plaasbesettings?
Toe ons River Ranch in 2001 verlaat het, het ons reeds ‘n plaas gehuur in die Chinhoyi area waar ons seun, Paul,  met paprika en tamaties geboer het. Ons het darem nog ‘n inkomste gehad anders as ander boere. Pat het ook ‘n agronomie besigheid begin en ons het saam met ‘n groot paprika maatskappy gewerk wat nog kontrak verbouers gebruik het. Maar soos wat die grondbesettings toegeneem het, het dit alles verdwyn. Finansieël was dit ‘n groot stryd, maar ons was so gewoond daaraan om van die hand tot die mond te leef. Ek weet wat dit is om honger te wees en ek moes my gevoelens van skaamte in my sak druk en noodgedwonge vir vriende en familie vra om vir ons geld te leen sodat ek die werkers en ons huur kon betaal. Tydens die eerste deel van die grondbesettings het ek saam met ander vroue na die VK gereis om deeltydse werk te doen. Ek moes waitress en dit was ‘n ervaring wat my nederig gelaat het. Die ergste was om te probeer om Kate se universiteitsgelde te betaal, maar ons familie het ons gedra deur ons donker dae. Ek het so baie slapelose nagte gehad oor hoe ons die perde gaan voer, die werkers betaal en onsself versorg, maar mens baklei maar jou pad daardeur. Alles werk tog uit op die einde.

Jy moes so dikwels oor begin; wat het die ervaring jou geleer?
Om op ‘n nuwe plek oor te begin is altyd moeilik, maar ons nuwe begin in Mosambiek was ekstra moeilik. Die land het ook deur ‘n bitter en bloedige burgeroorlog gegaan. Daar was min infrastruktuur en om goed vir die perde in die hande te kry, was tydrowend. Ons het nie tyd gehad om aan ons teëspoed te dink nie, ons was te besig om te probeer oorleef. Die veerkragtigheid van die menslike gees is ongelooflik en ek is so gelukkig om ‘n man te hê wat nooit opgee nie. Ek dink as jy saam met iemand woon wat so positiewe houding het, glo jy alles sal beter word. Ek dink ook as jy jou sin vir humor kan behou, sal jy baie dinge deurstaan. Pat en ek is lief vir Zimbabwe en ons dink altyd ons sal eendag teruggaan huis toe. Mosambiek is fantasties en ons voel tuis hier, maar wie weet wat die toekoms vir ons inhou.

Lewe daar nog enige van die oorspronklike perde wat julle gered het?
Uit die 104 lewe 27 nog. Baie van die karakters waaroor jy in die boek lees, is steeds saam met ons in Vilanculos.

Toe julle net in Mosambiek gekom het, het julle baie gesukkel om veeartse en ander benodigdhede vir die perde te kry, want perde was nie algemeen daar nie. Het die situasie verbeter?
Dinge is baie makliker en ons het twee wonderlike veeartse wat van Suid-Afrika kom om die perde jaarliks te besoek. Pat het baie geleer oor perde gesondheid die afgelope tien jaar en ons almal is heel bedrewe met inspuitings gee, temperature neem en so aan. Pat doen al sy eie hoefsmidwerk; hy maak saals en weef selfs buikgordels. Ek vilt saalkleedjies. Dis verstommend wat jy leer om te doen as jy geen ander alternatief het nie.

Wat wil jy hê moet lesers as ‘n lewensles uit jou boek neem?
In die lewe word jy gekonfronteer met alle tipes probleme. Ek het seker al meer as my deel in die gesig moes staar. Maak nie saak wat gebeur nie, jy moet aanhou en jouself motiveer om positief te wees. Ons het almal donker dae en ‘n oorweldigende gevoel van hulpeloosheid kan jou maklik versmoor – maar jou moet vorentoe beur. Moet nooit te bitter of te kwaad wees nie, want hierdie gevoelens is verlammend en sal nie jou situasie verbeter nie. Behou jou sin vir humor, want om te kan lag,  kan baie dinge verander.