marida.web
Boeke

Marida Fitzpatrick

Jy is eintlik mos ‘n joernalis. Hoe het dit gekom dat jy ‘n chick lit-boek geskryf het?
Dis mos maar die meeste joernaliste se droom om ‘n boek te skryf. Ek het die Jasmyn Liefde is vir Ewig-kompetisie van NB-uitgewers raakgesien. Toe spook dit by my. So ‘n maand voor die sluitingsdatum het ek eers besluit ek wil inskryf. Maar toe was daar nog nie ‘n woord op papier nie! Ek gaan vra toe verlof vir die maand en skryf toe van scratch af ‘n storie vir die wedstryd. Dit het my die volle maand geneem om Eksklusief uit Eden te skryf. Ek was baie verras om die derde plek te wen. Dit het gelei tot my eerste volwaardige chick lit-verhaal.

Hoe skryf mens so ‘n verhaal in een maand?
Ek moes van die begin af góéd skryf en het haarfyn beplan. Ek het geweet daar gaan nie tyd vir herskryf wees nie. Ek het reeds in daardie verhaal al ‘n chick lit -aanslag gehad en is toe deur my uitgewer, Madri Victor, gevra om ‘n chick lit-boek te skryf. Sy het gevoel daar is ‘n tekort in Afrikaans aan dié genre.

Wat is jou definisie van chick lit?
Ek sien dit as skryfwerk deur ‘n vrou oor ‘n vrou, maar humor is absoluut onontbeerlik in chick lit teenoor die tradisionele liefdesverhaal. Chick lit neem homself /haarself ook minder ernstig op. Romanse is nie so belangrik in chick lit nie – die loopbaanstorie of die ontwikkeling van die heldin is belangriker. Liefde is maar ‘n sub-storielyn.

Wat is vir jou die verskil tussen joernalistiek skryf en as ‘n kreatiewe skrywer?
As joernalis werk ek met die harde werklikheid en gaan dit altyd oor feite. Feite wat mens oor en oor moet check. Met my kreatiewe skrywery het ek die vryheid om goed te kan uitdink met toestemming! Ek hoef niks te double check nie en kan goed draai om my te pas.

Het jy dieselfde skryfproses gevolg met jou chick lit-boek as die vorige een?
Min of meer, want ek het weer verlof gevat en die grootste gros geskryf. Ek skryf dan letterlik van die oggend tot die aand. Ek sit in my sweetpak voor my rekenaar en eet verskriklik. Ek sal rol as ek voltyds fiksie moes skryf! Ek beloon myself vir elke 1 000 woorde wat ek geskryf het, met iets lekkers om te eet. Ek skryf die hele eerste weergawe teen die spoed van wit lig – ek lees niks oor nie – en wanneer ek skryf “Die Einde” neem ek ‘n blaaskans van ‘n week. Daarna begin ek ernstig herskryf, eers op aanbeveling van my redakteur van hoe ek die storielyne en karakters effe moet aanpas en daarna herskryf ek vir myself om beter kreatief te skryf. Ek vind ook met my eerste weergawe is my humor gewoonlik heeltemal over the top, want dis rou humor. Met die herskryf temper ek dit. Dis beter om met te veel te begin, eerder as om geforseerd meer humor te probeer skep.

Jou hoofkarakter is Andi Niemand. Hoe het jy by haar uitgekom?
My heldin kan met haarself spot. Ek kan my nie altyd van my heldin skei nie, maar ek moes. Ek moes haar uit my trek tot sy los staan van my. Dis moeilik om te skryf as ek voel ek skryf oor myself, daarom gee ek haar altyd wesenlike verskille van myself.

Wat inspireer jou skryfwerk?
Daar is niks wat my so inspireer om te skryf soos lees nie. Ek probeer nie om ander skrywers se styl aan te neem nie. Dit verg konsentrasie, want soms neem mens onbewustelik iemand wie se werk jy lees se styl aan. Maar ek werk hard om dit nie in my skryfproses te laat insluip nie.

Gunsteling-skrywers?
Dalene Matthee, Marita van der Vyver, Helen Fielding, Etienne Leroux, maar ek kan nie sê wie my absolute favourite is nie. Dan het ek ook groot bewondering vir Etienne van Heerden, veral vir sy Die stilswye van Mario Salviati.

Behoort jy aan ‘n boekklub?
Nee, maar ons is so ses joernaliste wat lief is vir skryf en lees, wat gereeld bymekaar kom. Dan praat ons oor boeke. Die idee is dat ons mekaar moet inspireer, maar dit gaan eintlik meer oor die eet en wyn. Ons noem onsself Die Inksusters en jou kollega, Charis Labuschagne, is ons hoofmeisie! Joernaliste kan maklik sinies en blasé raak en ons laat mekaar voel ons is eintlik in baie bevoorregte posisies.

En nog skryfwerk vorentoe?
Ek skryf deeltyds draaiboeke. Maar my voorneme is om vanjaar meer te lees as te skryf, want as jy meer skryf as lees, is dit ‘n resep vir dom word!