FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Marinda van Zyl oor haar historiese roman, Amraal

Marinda van Zyl se manuskrip, Amraal, het in 2015 die kortlys van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse romanwedstryd gehaal.

Hierdie epiese historiese roman gee mens ’n kykie in die vroeë geskiedenis van die gebeure aan die Suidpunt van Afrika in die 1700’s en strek tot ongeveer 1864. Ons volg die lewe van Lammert, wat later sy naam verander na Amraal en hoe hy sy hele lewe lank probeer om sy volk vry te hou, buite die bereik van die inboekstelsel. As lid van die Corps Vrije Hottentotten is hy ’n vry man, wel, so vry soos wat ’n oorlams kon wees in daardie tyd. Ná die Britse inval by Blaauwberg waar die Corps teen ’n oormag moes probeer staande bly, dros hy so in die vlug voor die aanstormende soldate. “Uit die hoek van sy oog sien hy ’n ruiterlose perd wat verward rondhardloop, ’n geweer in die skoen. Die dier reageer dadelik op sy fluit.”  So kry Lammert ’n perd waarmee hy kan vlug. Hy trek met sy vrou en babaseuntjie na die Gariep waar hy probeer om vrede te bewerkstellig tussen al die verskillende volke wat hulle reeds daar bevind. Daar is hy “Amraal Lambert, die Olifantjagter. Kaptein Amraal Lambert. Die Namas noem my ook Gam Naka of Aorexami, die Maanhaarleeu.” Wat ’n dapper en manmoedige karakter is Amraal nie, ’n leier wat regtig probeer omsien na die welstand van sy mense, maar nie ten koste van ander volke nie. Dis ’n boeiende vertelling wat gedeeltelik op ware feite gegrond is. Jy lees van jagtogte, van sendelinge, van onderlinge twiste tussen familielede. Die kleurvolle karakters hou jou aan die lees en mens besef net weer dat die lewe nie regverdig is nie. Die prentjie wat geteken word, gee ’n interessante en insiggewende perspektief op hierdie geskiedenis vanuit die oogpunt van Amraal. Ek het per e-pos met Marinda gesels oor haar boek, Amraal (Tafelberg, R260)

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 

Beskryf jouself in ’n neutedop: Wie is jy, wat doen jy, waar woon jy?
Ek is ’n historikus en biblioteekkundige met leserkunde as spesialiteitsveld. Voor ons aftrede op Langebaan het ek, terugwerkend, geskiedenis doseer by Vista Universiteit se Sebokengkampus, skoolbiblioteekkarisse opgelei by die Bloemfonteinse Onderwyserskollege, boekkeuring gedoen vir die Vrystaatse Provinsiale Biblioteekdiens en onderwys gegee in Windhoek en Walvisbaai. Nou verwyl ek my tyd met naaldwerk, lees en skryf. Ek sal nooit ’n kookboek kan uitgee nie, tensy iemand wenke soek om gebrande kos te kamoefleer. Ek is 67, maar in my kop is ek steeds die kaalvoet plaaskind wat verkies het om saam met Boesman-maatjies in die veld rond te dwaal eerder as om met my susters pop te speel.

Waar het die saadjie vir die boek ontstaan en waarom wou jy juis hierdie verhaal skryf?
Ek het naby Gobabis grootgeword, daarom was die geskiedenis van hierdie area my eerste keuse vir ’n doktorale proefskrif. ’n Soektog in die Namibiese argief het nie genoeg stof opgelewer vir ’n akademiese studie nie, maar in die dokumente het ek kennis gemaak met ’n uitsonderlike mens: Amraal Lambert, kaptein van die Gobabis-Oorlams, wat in 1864 daar gesterf het. Hy het geglo alle mense is gelyk en het hierdie lewensbeskouing vreesloos uitgeleef. Boonop was die verslae wat die sendelinge uit Gobabis na die Rynse Sendinggenootskap gestuur het uitstekende storie materiaal vol besonderhede oor die daaglikse lewe. My meestersgraad in biblioteekkunde het juis oor die historiese verhaal gehandel en ek het daar en dan besluit om al die relevante dokumente te fotostateer en eendag Amraal se storie te vertel.

Daar is ’n uitgebreide bronnelys agterin die boek. Hoe het jy die navorsing vir die verhaal aangepak en was dit maklik om toegang daartoe te verkry?
Ek het oor die afgelope dertig jaar reisverhale en dagboeke versamel wat hierdie tydperk dek. Vandag kan mens sommige van hierdie boeke gratis van die internet aflaai by https://archive.org/ en http://book.google.com/

Wanneer ek ’n dokument of boek begin lees, is my swart ‘counter book’ altyd byderhand, want ek maak aantekeninge met bladsy verwysings soos ek vorder. Omdat ek hierdie verhaal nie uit die perspektief van die skeppers van dokumente geskryf het nie, het ek terselfdertyd aantekeninge gemaak oor hoe ek dink my karakters elke gebeurtenis beleef het. Die sendelinge, met die uitsondering van Schmelen, het nie veel respek gehad vir die mense vir wie se sieleheil hulle verantwoordelik was nie. Historici neem dit dikwels nie in aanmerking wanneer hulle stellings in dokumente as feite in geskiedenisboeke rapporteer nie.

Tindall, die Wesleyaanse sendeling, se joernaal was ’n wonderlike bron. Wanneer sy gemeente se bydraes of hulle gedrag nie na sy wense was nie, het hy sy preek en hulle reaksie daarop soms woordeliks neergeskryf.

Hoe het die praktiese sy van die skryf verloop? Het jy vir jou ’n stamboom uitgestippel en dit opgesit waar jy dit kon sien, terwyl jy geskryf het.
Ja, vir ’n verhaal wat oor negentig jaar strek, is dit noodsaaklik om met ’n stamboom te begin, want jy moet voortdurend weet hoe oud elke karakter is, die sterfdatum en wat die verwantskap tussen karakters is. Die keuse van karakters is ook in hierdie fase gemaak, want saam met die historiese karakters moes ek fiktiewe karakters skep om die verhaal te laat vloei.

Het jy die verhaal eers uitgeplot voordat jy begin skryf het, of het jy begin en dit het sy natuurlike loop geneem?
Eerstens het ek ’n chronologiese lys van die gebeure dwarsdeur Amraal se lewe opgestel. Die omvang van die stof het genoodsaak dat dit ’n tradisionele historiese verhaal moes wees wat by sy geboorte begin en met sy dood eindig. Die lys het die gapings blootgelê waar ek op my verbeelding sou moes staatmaak.

Gelukkig het ek hierna eers navorsing gedoen oor Oranjerivier- en Namibiese Afrikaans om te besluit hoe my karakters moes praat. In ’n proefskrif  kom ek toe af op die feit dat Amraal se eerste vrou Jonker Afrikaner se suster was en moes ek terug na die bronne om weer navorsing te doen, want die Afrikaner-clan sou aanvanklik nie deel van die verhaal wees nie.

Hoe lank  het jy aan die boek gewerk?

Soos ek boeke aangekoop het, het ek dit gelees om ’n idee van die historiese tydperk waarin Amraal geleef het, te kry. Die ernstige navorsing het in 2012 begin en teen einde 2013 die skryfproses. Die finale manuskrip is in November 2015 afgeteken. ’n Kort antwoord: ongeveer vier jaar.

Hoeveel van die verhaal is op die waarheid gegrond?
Dis ’n mengsel van feite en fiksie. Amraal se biografiese besonderhede is grotendeels waar en ook baie van die insidente wat deur sendelinge en reisigers beskryf is. Maar sodra jy werklike gebeure dramatiseer, raak dit fiksie, want niemand weet regtig wat mense gedink of gevoel het tydens ’n insident nie. Vanne en name soos Vlermuis, Areep, Dragonder en Kalebas kom uit die dokumente. Ook Willem, Amraal se jongste seun, se eskapades is deur Tindall en Eggert neergepen, maar deur my gemanipuleer om op die regte tydstip vir spanning te sorg. Moses Vlermuis se aweregse interpretasie van Bybelverse kom ook byna woordeliks uit Schmelen se geskrifte.

Min is bekend oor Amraal se lewe voor hy Schmelen se wadrywer geword het. Amraal het vir die reisiger, James Chapman, vertel dat sy voormense in die omgewing van Tafelbaai gebly het, maar uitgewyk het na die Olifantsriviervallei, waar sy pa ’n boer se wadrywer was en hy in 1774 by Jandisselsvlei gebore is. (Sy broer, Adam, het dieselfde storie vir die Cooks vertel.) Daarna was Amraal ’n  “slaaf” in die Kaap en die huidige Worcester. Sy oudste seun, Lambert, was twee jaar oud, toe hy as lid van die Hottentot Korps aan die slag van Blaauwberg deelgeneem het. Die res van Amraal se kinder- en jeugjare is my storie.

Was daar iets wat jou verras het in die verhaal, terwyl jy daaraan gewerk het?
Ja, die wyse waarop die vrouekarakters op die voorgrond getree, Amraal se kollig gesteel en die hartklop van die verhaal geword het. Sodanig dat die man wat die manuskrip moes lees vir historiese korrektheid dit ’n “regte meisieboek” genoem het. Ek het dit as ’n kompliment beskou, want dis tyd dat vroue nie net as naamlose aanhangsels in die geskiedenis gesien word nie. Amraal se eerste vrou se naam kom byvoorbeeld nie voor in dokumente wat ek geraadpleeg het nie. Daar word net na haar verwys as “the chief’s wife”. Ek het haar Hanna gedoop, want daar is dokumentêre bewys dat haar ma Anna was.

Wat was die moeilikste van die boek?
Om uit die magdom beskikbare materiaal dit te kies wat die sterkste spanningslyn sou vorm. Ook die aanspreekvorme wat ek terwille van historisiteit moes gebruik.

Het jy ’n gunsteling-karakter in die boek?
Ja, Trien. ’n Formidabele vrou wat haar man kon staan. Tipies mens het sy gedink haar afkoms maak haar beter as ander, maar kon dit nie verdra as daar op haar neergesien is nie. Eggert het haar ’n “bose slang wat in die gras skuil” genoem en Chapman het sarkasties na haar as “lady Amraal” verwys