Boeke

5 boekminute met Marita van der Vyver

En natuurlik weet julle almal Marita van der Vyver is ‘n skrywer met ‘n hele klomp titels agter die blad. Haar boeke bly immergewild en word in ander tale vertaal, sodat haar verhale internasionaal tref. Haar nuutste boek, Dis koue kos, skat (Tafelberg, R147), sal so reg in die kraal val van alle vroue wat wonder oor getrouheid in die huwelik, wraak, egskeiding en die lewe ná egskeiding.

Ek het my verkneukel in Clara Brand se verhaal, want sy doen dinge op háár manier. Miskien nie heeltemal konvensioneel soos wat fyn, etiketbewuste vroue moet doen nie, maar op ‘n manier wat ek regtig kan verstaan en waarmee ek my kan vereenselwig. Wie van ons was nie al lus om wraak te neem op iemand wat jou lewe kom omverwerp het nie? O ja, en natuurlik maak sy lysies en dit behoort enige vrou te verstaan. Clara se lysies is nie kruidenierslysies of so nie. O nee, dis veel interessanter. . .

Kyk uit vir die Augustus-uitgawe van SARIE. Mariette Postma resenseer Marita se nuwe boek op Boekdinge. Ek het met Marita gesels oor Dis koue kos, skat toe sy in Suid-Afrika was vir die bekendstelling van die boek as deel van Exclusives se Homebru-titels.

Jou boek is ook in Engels beskikbaar as Just Dessert, Dear. Skryf jy die Afrikaans en Engels terselfdertyd?
Nee, ek kan nie in Engels skryf soos André P. Brink wat die Afrikaanse boek skryf en dan self die Engelse weergawe nie. Ek is nie so nie. Dit vat my nogal lank om ‘n roman te skryf en dan is dit vir my lekker om ná die Afrikaanse weergawe saam met die vertaler te werk. Ek en die vertaler werk nou saam en sit fisiek sin vir sin en werk deur die boek totdat ek gelukkig is dat die Engelse weergawe my skryfstyl weerspieël.

Hierdie verhaal is hoofsaaklik in briefvorm geskryf?
Die boek is geskryf in die vorm van briewe wat een mens aan ander mense skryf en die briewe is in die vorm van e-posse, teksboodskappe en gewone briewe. Ek wou ‘n revenge novel skryf oor ‘n man wat ‘n jonger vrou vat in die plek van sy ouer een. Daar is geen antwoorde op die briewe wat Clara Brand skryf nie. Dit was belangrik om die tydfaktor reg te kry. Dit was ook ‘n uitdaging om te raai wat in die ander mense se lewens aangaan. Jy kry die antwoorde op gebeure uit wat Clara aan ander mense skryf en hoe sy kommentaar lewer op dit wat gebeur in haar eie lewe.

Daar pop karakters in die boek op soos Griet en selfs Marita van der Vyver. Hoe so?
Dit is vir my ‘n groot kompliment as lesers my vereenselwig met die hoofkarakter in my boek en natuurlik is dit so dat ek baie uit eie verwysingsraamwerk skryf. Onthou, ek het twee seuns en kan baie goed onthou hoe dit is om tieners in die huis te hê!
Daar kom karakters voor uit vorige boeke, waarvan lesers al die karakters ken, soos Griet en selfs Marita van der Vyver. Hoekom nie? Dis mos ‘n lekker verskoning om ou karakters terug te bring en in ‘n nuwe konteks te gebruik. Dis ‘n wonderlike spel wat mens kan speel met fiksie. Ek het lekker gespeel met wat is waar en wat nie.

Hoe kom jy op die storielyn van ‘n boek?

Ek weet nooit presies nie. ‘n Boek kies homself. Hierdie boek – ek het op my fiets gery en die storie het net by my opgekom. Dis iets wat ek kry en dan maak ek lysies van die karakters, want ek moet die karakters goed ken wanneer ek uiteindelik begin skryf. Groot dele van die skryf is ongelooflik vervelig. So ek skep ‘n parallelle werklikheid van karakters wat in boeke opduik. Ek weet net die virtuele werklikheid is soms vir my meer werklik.

Hoeveel put jy uit eie ervaring in die boek?
Nie alles in die verhaal het met my gebeur nie, maar ek kyk altyd na mense rondom my en put ook daaruit. Alles het wel met ander vroue gebeur en ek self het ook al jaloesie geken. Deels is dit eie ervaring en deels om te luister na ander. Om uiting te gee daaraan in die skrywe was nogal terapeuties, maar ek oordryf soms die emosies. Lesers kan dan lekker sterk daarmee vereenselwig. Ek is altyd verstom wanneer mense na my toe kom na hulle die boek gelees het en sê, maar ek het hulle storie geskryf. In ‘n mate is dit ‘n kompliment as mense hulself in die verhaal kan herken.

Wraak is die hooftema van die boek?

Ja, eintlik wraak en jaloesie. Ek wou met kos werk, maar nie kos as die wraaktema gebruik nie en daarom het ek Clara ‘n kosskrywer gemaak. Ek glo nie in wraak op die “vergewe en vergeet” manier nie. Mense het ‘n behoefte om wraak te neem op persoonlike vlak. Dis sleg wanneer wraak op ‘n politieke vlak gepleeg word. Maar op ‘n persoonlike vlak is dit ‘n perd van ‘n ander kleur – mense is soms net skaam om te erken hulle het ‘n behoefte aan wraak. En in hierdie verhaal wou ek skryf oor iets wat ordentlike meisies nooit sal erken nie! Ek wou Clara Brand eintlik ‘n groter bitch gemaak het, maar sy het toe nie so erg uitgedraai nie. Sy het my verras – ek het van haar begin hou. In die skryf neem ‘n karakter soms self ‘n lewe van hulle eie aan.

Ek is nie ‘n kompulsiewe lysie-maker nie, maar ek het ‘n almanak waarop ek goed aanteken. Daarenteen is Clara ‘n ekspert met lysies maak oor allerhande goed, soos: 5 Fantastiese film noirs vir ‘n fliekvlooi in wording; 5 Operas met heldinne wat bloedloos sterf; 5 Soorte sop om ‘n honger minnaar te voer; 5 Wit geregte vir ‘n volledige wit ete. . . En hierdie lysies hang natuurlik daarvan af aan wie sy besig is om te skryf en waaroor! Kos en films feature natuurlik sterk in die verhaal, want Clara is ‘n oud-kosskrywer en haar eksman ‘n voormalige fliekresensent.

Glo jy nog in die huwelik?

Ja. Die omslag van die boek moes duidelik maak daar is humor in galgehumor! In Clara se woede het sy steeds die vermoë om met haarself te spot en te glo in die huwelik. Al is sy aan ‘t skei.

Jy het so bietjie kritiek gekry oor die gebruik van kru taal in die boek. Hoe voel jy daaroor?
Die hele boek is nie deurspek van kru taal nie. Dit is maar net wanneer Clara regtig woedend is en sterk uiting aan haar emosies gee. Ek wil nog die mens ontmoet wat sê: “Mapstieks, my man verneuk my met ‘n ander vrou. Maggies, maar ek is nou baie kwaad”, wanneer jy regtig briesend is. Ek dink die kere wat daar kru taal voorkom, is dit geoorloof en dra dit by tot die geloofwaardigheid van die verhaal. En as jy die boek lees, sal jy sien Clara kan maar met reg sê: “Bernard jou Bliksem!” Soos Clara vrede maak oor tien jaar, raak haar taal ook baie kalmer.

Wanneer jy begin skryf, het jy ‘n idee wat die einde van die verhaal gaan wees?

Nee, ek skryf gedeeltelik om die einde te leer ken! Ek probeer ook altyd om ‘n boek te skryf wat ek graag sou wou lees.

Kook is op ‘n indirekte manier baie sentraal tot wat in die verhaal gebeur. Is jy lief vir kook?
Nogal, maar in ons huis is my man, Alain, eintlik die kok. Hy is ‘n fantastiese kok en ons kook saam. Dis nogal eienaardig hoe die lewe soms kuns naboots! My volgende boek is ook ‘n kookboek. Toe Kerneels Breytenbach so ‘n tyd gelede by ons gekuier het, het hy voorbrand gemaak vir so ‘n kookboek waarin ons praat oor kos en ook so bietjie meer wys van die Franse landskap. My man het onmiddellik ja gesê, met die voorwaarde dat hy sal kook as ek skryf! “Somerkos in Provence” sal in Afrikaans en Engels verskyn en behoort Oktober uit te kom. Dis regtig onpretensieuse kos. Dis die kos wat ons familie elke dag eet. En dis die kos wat ons vriende eet, alles gemaak met vars produkte van die markte af en so. Daar is geen resepte in die boek nie, maar wel beskrywings van kos wat ek hoop die mense sal honger maak. Lien Botha het die foto’s kom neem en dit was ‘n heerlike ervaring. Ek dink dit gaan ‘n baie mooi koffietafel-kookboek wees.

Jou en Alain se saamkokery, gebeur dit in vrede en harmonie?

So soort van. Alain kook met harde rock musiek. As ons saam kook en die kos is nie so geurig nie, is dit maklik om die blaam op die ander kok te plaas. Ek is self meer van ‘n blues musiekluisteraar en dis nogal ironies dat Clara Brand ‘n opera-luisteraar is. Maar die opera gee ook passie aan die karakters in die verhaal. Clara soek daai rooi van die opera, die melodrama.

Waaraan werk jy nog?
In Desember verskyn my keur uit Grimm se sprokies. Dis 50 sprokies wat ek uit die Duits gekies en vertaal het met Piet Grobler wat die mooiste prentjies vir die sprokies geskep het. Dis spesiaal vir Kersfees.