die_ander_vrou
Boeke

WEN een van 3 boeke – Die ander vrou (deur Marlena Bruwer)

Daar is soveel slaggate wat huweliksgeluk kan laat vertroebel. Persoonlike verskille, die ekonomie, werksdruk en nog baie ander faktore kan maak dat huweliksmaats weggroei van mekaar en dat daar ‘n derde party betrokke raak.

In hierdie boek, Die ander vrou, vertel die samesteller, Marlena Bruwer, die verhale van ses vroue wat betrokke geraak het in ‘n verhouding as die derde party.

Uit hul persoonlike vertelling kry ‘n mens insig in die groter dilemma en dat dit ‘n verloor-situasie vir al die betrokkenes is. Kyk ook uit vir die resensie van die boek in die Mei-uitgawe van SARIE.

Phyllis Green het met Marlena gepraat oor vroue en ander vroue.

Waarom ‘n bundel oor die “ander vrou”?
Die “ander vrou” in ‘n verhouding word altyd deur die samelewing met agterdog bejeën en ek het baie empatie met die “ander vrou” ontwikkel. In die letterkunde en selfs in die gemeenskap word so ‘n vrou meer dikwels gestereotipeer as losbandig, sleg en van lae morele oortuigings. Baie kulture se houding is so sterk teenoor dié vroue dat hulle gestenig word of uit die gemeenskap gedryf word. So jy kan eintlik sê ek het ‘n sagte plekkie ontwikkel vir dié underdog vroue en voel hulle is ook ‘n stem werd.

Waar het jy die vroue opgespoor en waarom is die verhale anoniem?
Ek het landwyd geadverteer vir case studies en vroue uit letterlik elke uithoek van die land het my gekontak om hul storie uit hul persoonlike perspektief te vertel mits hulle beskerm kon voel. Ek het prokureurskontrakte met hulle om hulle anonimiteit te waarborg. Meeste van hulle is in netelige situasies en wil nie hul gesinne blootstel aan emosionele pyn en lyding nie. Daar was ook baie getroude vrouens wat my gekontak het en gekritiseer het oor ek hierdie aanslag in my boek wil gebruik. Hulle voel ek verdedig die “ander vrou”. Hul optrede spruit daaruit dat hul huwelike bedreig word deur so ‘n driehoek-verhouding.

Hoe het jy die ses vroue gekies wie se storie jy vertel?
Ek het die ses gekies omdat hulle verhale nie seks en sensasie is nie, maar ware dilemmas. Ek het die

WEN een van 3 boeke

Drie lesers kan ‘n kopie wen van
Die ander vrou saamgestel deur Marlena Bruwer.(Die boek kan ook bestel word van Marlena Bruwer, R99, posgeld ingesluit by marlenab@vodamail.co.za of 082 630 5528). Die boek is ook beskikbaar by Wordsworth en Exclusive Books.

 

verhale ook so probeer orden dat die verskillende fases van uitkoms in die verhouding uitgebeeld kan word. In die eerste verhaal kan die vrou nooit aanbeweeg na ‘n nuwe lewe nie, maar soos die verhale ontvou, verander hul perspektiewe en in die laaste verhaal bv. kon die vrou uiteindelik besef die besluit om aan te beweeg lê by haar. Ek het gesoek na verhale waarmee die leser emosioneel sal kan identifiseer en dat hulle hopelik meer begrip vir die “ander vrou” se dilemma sal hê. Maar ek wil ook gewone vroue wat in so ‘n verhouding vasgevang is, help besef dis ‘n hopelose verhouding, en tog is hul situasie nie hopeloos nie. Daar is uitkoms en ‘n manier om daardeur te kom. Die boek moet dien as ‘n selfhelpgids vir al die partye in so ‘n verhouding, nie net die “ander vrou” nie.

Wat het jy persoonlik geleer uit die oorvertel van die vroue se verhale?
Die lewe is ‘n proses van groei en dit beteken daar is seer en uitklim uit die seer en aanbeweeg. Mens moet jouself ook toelaat om te groei. Wat my opgeval het van hierdie dilemma van al die vroue is dis soos wanneer iemand ‘n alkoholis is. Mense kan sê wat hulle wil en doen wat hulle wil, maar op die ou einde moet die alkoholis self die besluit maak om op te hou drink. Net so met hierdie hopelose verhoudings.

As jy bewus raak as vrou dat jy aangetrokke is tot sogenaamde verbode vrugte, wat is die beste manier om die ontwikkeling van so ‘n verhouding te probeer teenwerk?
Uit al die gevallestudies het ek besef daar is ‘n emosionele leemte in baie vroue, wat nie deur haar wederhelfte gevul word nie. Mense gaan soms te maklik en moontlik vir die verkeerde redes in ‘n huwelik in en dan raak die vrou soekend. Die man natuurlik ook. Maar in baie gevalle is dit ‘n alleenvrou wat betrokke raak in ‘n verbode verhouding. Dis amper soos ‘n bose kringloop – baie vroue kom uit die situasie van die getroude vrou wat gefaal is deur haar huweliksmaat. In al die gevallestudies wat ook opgeval het, was die ewige hoop. Daar is dalk so bietjie van ‘n selfbeeld-probleem by die vroue wat dink hulle kan nie beter kry nie en raak dan so vasgevang in ‘n hopelose verhouding. Mens kan nooit sê dit gaan nie met jou gebeur nie en mens moet altyd bewus wees van gevaartekens in jou eie verhouding. Die alleenvrou moet asb. een, twee, drie, vier. . . tot tien keer dink voor sy haar in DIE hartseer, verwarring, en emosionele pyn begewe – gaan sien allereers ‘n berader al is jy siende-blind- en horende-doof-verlief.

Wat lê nou vir jou voor skryfgewys?
Ek is ernstig op soek na mans wat in driehoeksverhoudings is of was. Baie mans veroorloof hulself die plesier om hulle brood aan twee kante gebotter te hê. In my volgende boek wil ek fokus op mans en die redes vir ontrouheid en die verbrokkeling van hul huweliksverhoudings. En heelwat later wil ek fokus op die getroude vrou. Dit moet uiteindelik ‘n trilogie van selfhelpgidse wees oor hierdie dilemma.


  • Annette J v Rensburg

    Ek sal baie graag die boek wil besit , ek tree einde van die jaar af en het dan heelwat tyd om te lees , dit is vir my die wonderlikste tydverdryf.

  • Zelda Boshoff

    My man was na 22 jaar ontrou en bly nou by die ander vrou.
    Ek en kinders wil dit lees om te probeer verstaan, want ek is van die plaas en als vir my is wit en swart, grys bestaan nie, so ek moet verstaan hoekom daar n ander vrou is en hoekom hoekom ek daaronder moes ly wat net my beste gelewer het!!!!

  • Elna van Rensburg

    My man was in ‘n verhouding met my beste vriendin.Sou graag wou verstaan hoekom doen sy sulke goed, dit was haar 3e verhouding en in tussen het sy nog seker weer 4 gehad oor die afgelope 5 jaar.Ek wou nie meer lewe nie het anoreksies geraak en sukkel regtig nog om mense te vertrou

  • Hanri

    Dit is ‘n skitterende idee vir ‘n boek…ek dink soveel mense soek antwoorde op vrae, en dit is dalk ‘n manier om dit te kry. Veral om dit uit die oogpunt van die "ander vrou" te sien. Dit is waar wat Marlene se, die "ander vrou" begewe haarself in ‘n doolhof van emosionele pyn, en dit vat ‘n baie lang tyd om te herstel. Ek sal graag die opvolg ook wil lees, ek sal uitkyk daarvoor.

  • Annetjie

    Ek sal graag die boek wil lees, my man het ook ‘n buite egtelike verhouding gehad en sal graag wil weet watter tipe vrou doen so iets veral as sy weet die man is getroud en volgens hom gelukkig en lief vir sy vrou? Laat mens wonder hoe diep die liefde vir jou vrou van 24 jaar was. Sal ook graag haar volgende boek ook wil lees om te weet wat laat ‘n man so iets doen

  • Susan

    Ek was die ander vrou, en die seer en pyn is nie beskryfbaar nie. Dit is nie net die vrou in die huwelik wat seer kry nie maar al drie die persone wat in so ‘n verhouding vasgevang word. En die gesondword proses neem soveel langer, omdat dit nie die dood is wat die verhouding breek nie, maar die konflik en die gebreekte beloftes.

  • Debbie Eybers

    My man het ‘n verhouding met sy assitent gehad en is ontslaan a.g.v. ‘n seksuele teisterings klagte teen hom. Ek sukkel om die aangeleentheid te verwerk en kan nie vrede maak met waar ek as vrou gefaal het nie.

    Sal graag die boek wil besit om ander vroue se ondervindings te ondersoek.

  • charmaine

    ja na 27 jaar getroud het ek ook die ander vrou geword, maar ek is ook ontnugter na slegs 3 weke, maar ek het geglo ek het hom lief, het hom steeds lief, maar hy het my nooit met troetelwoordjies bederf nie, nooit gese hy is lief vir my nie, maar altyd gekom om seks op allerhande maniere met my te he, wou aanvanklik ook nie seks he nie, net speelgoed en oraal, op die oomblik probeer ek die seer verwerk dat my liefde nie beantwoord word deur hom ni, hy is my man se beste vriend. ek voel dom, verwerp en seer