Call It Dog
Boeke

Marli Roode gesels oor haar boek, Call it Dog

Hierdie eg Suid-Afrikaanse verhaal is nie altyd maklik om te lees nie, want dit sny dikwels na aan die been.

Jo kom terug na haar geboorteland na tien jaar in die buiteland om as joernalis stories te kom skryf oor die xenofobiese geweld wat Suid-Afrika teister in 2008. Haar vervreemde pa, Nico kontak haar en manipuleer haar om hom te help bewys  dat hy  nie betrokke was by ‘n moord op ‘n swart man dekades gelede nie. Nico dwing Jo om saam met hom op ‘n reis te gaan op soek na getuienis wat sy onskuld kan bewys. Maar is hy onskuldig en weet hy meer van die moord as wat hy haar vertel? Die verhaal bevat baie elemente van ‘n spanningsverhaal, maar ondersoek terselfdertyd verhoudings wat baie eie aan Suid-Afrika is. Verhoudings wat verband hou met apartheid en die gebeure wat aanleiding gegee het tot die Waarheids- en Versoeningskommissie en hoe politiek nie daarvan geskei kan word nie. Jo se reis is een van ontdekking om te probeer uitvind waar sy tuishoort en wat familie regtig beteken.Dis nie altyd ‘n gemaklike verhaal om te lees nie, want baie van die gebeure word grafies beskryf en lê nog maar vlak in die geskiedenis.

Hierdie is Marli Roode se debuut as skrywer. Sy het die “Is There a Novelist in the House?” –wedstryd by die Manchester Literature Festival in 2009 gewen met ‘n uittreksel uit haar boek, Call It Dog (Penguin, R216,47). Ek het per e-pos met haar gesels oor haar boek en die inspirasie daarvoor.

Wat was die inspirasie vir jou boek en waarom het jy juis oor hierdie era in die geskiedenis van Suid-Afrika geskryf?

Die inspirasie vir Call It Dog was die verhouding tussen die karakters Nico en Jo, en die vraag van tuishoort: wat beteken dit om nêrens tuis te voel nie; hoe affekteer dit ‘n mens? Dis die posisie waarin Jo haarself bevind, meer nog omdat die enigste oorblywende lid van haar familie, die een mens na wie sy kan opkyk om vir haar ‘n gevoel van ‘behoort’ en stabiliteit te gee, Nico is. Maar die vraag van tuishoort is ook relevant vir al daardie immigrante wat ontwortel of geterroriseer is tydens die xenofobiese aanvalle.

Ek wou skryf oor ‘n post-1994 Suid-Afrika, want so baie mense dink dis waar Suid-Afrika se storie ophou. Apartheid het ‘n lang skaduwee. Ek was met afgryse vervul deur hoe min daar buite Suid-Afrika in die media geskryf is oor die geweld in 2008 en ek wou aandag daarop vestig, veral omdat xenofobie  wêreldwyd ‘n toenemende probleem is.

Het jy die karakters gebaseer op mense wat jy ken of is hulle suiwer fiktief?
Die karakters bevat skerwe van mense wat ek ken, van myself – byvoorbeeld, party van my ervarings in my hoërskooldae in Pretoria. En ek het mans soortgelyk aan Nico ontmoet in Suid-Afrika en oorsee, maar soos wat ek aan die verhaal gewerk het, het hy en Jo regte mense geword, karakters met hul eie logika en stemme, heeltemal onafhanklik van die mense wat oorspronklik die inspirasie vir hulle was.

Marli-Roode-300dpi
 

 

 

 

 

 

 

 

Wat was die hooftemas wat jy wou ondersoek in die verhaal en waarom?
Die vraag van tuishoort en huis was belangrik vir my vir die skryf van hierdie boek. Nie net as ‘n Suid-Afrikaner wat al vir ‘n dekade in die VK woon nie, dis ‘n vraag wat ek myself elke dag vra. Aanspreeklikheid, persoonlik sowel as sosiaal, was ook belangrik: Nico se rol as fotograaf, of getuie, berus grootliks op wat hy kies om nie in sy fotos te sit nie, eerder as dit wat in die  finale raam verskyn. Jo – en volgens my opinie, die skrywer – moet waak  daarteen om weg te kyk, om te kies om nie te sien wat moeilik en waar is nie.

Hoeveel navorsing moes jy doen om die ruggraat vir jou verhaal te skep?
Tydens my grootword jare in Suid-Afrika het ek geen ware begrip gehad van die militarisasie van die kultuur tydens die apartheidjare nie. Ek het so baie geleer terwyl ek die Grensoorlog nagevors het, en nog iets waarvan ek nooit werklik gehoor het nie, die aktiwiteite van die BSB (Burgerlike Samewerkingsburo). Ek wou ook seker maak my weergawe van marteling is verantwoordbaar  en daarom het ek baie wyd gelees oor martelmetodes oor die wêreld heen en oorlewendes se verhale van hul ervarings.

Jo is ‘n joernalis, maar sy word steeds mislei deur Nico om goed vir hom te doen, al is dit onwillig. Wat is die verhouding tussen hulle?
Nico is ‘n uiters manipulerende man wat sy rol as Jo se afwesige vader gebruik om voordeel te trek uit haar hoop en vrees. Jo is baie bewus daarvan dat hy haar speel, veral met haar gevoel van verpligting en haar verlange om deel te wees van ‘n familie. Regdeur die verhaal word sy gekonfronteer met die keuse tussen haar gewete en haar pa, haar geskiedenis soos sy dit stel. Die uitdaging vir Jo is om haarself, en haar pa, verantwoordbaar te hou en om haarself te definieer met wie sy wil wees wanneer sy onder Nico se skaduwee uit is. Sy moet eerlik wees oor hoe moontlik dit vir haar is om die langs skaduwee wat hy gooi, te vermy.

Waar kom die titel vandaan?
Van ‘n kernspreuk deur Nietzsche, wat te vinde is in The Gay Science:
“I have given a name to my pain and call it ‘dog': it is just as faithful, just as obtrusive and shameless, just as entertaining, just as clever as any other dog—and I can scold it and vent my bad moods on it, as others do with their dogs, servants, and wives.”

Die kernspreuk sinspeel op die mag wat taal, of  naamgewing oor pyn het, iets wat ek voel relevant was vir die boek , asook tot post-apartheid Suid-Afrika, byvoorbeeld, met verwysing na die Waarheids- en Versoeningskommissie. Wanneer mens oor pyn praat, maak dit die pyn beter of  laat dit die pyn verdwyn? In hierdie verhaal toets karakters hierdie teorie en vir party van hulle skiet dit te kort.

Hoe was dit om terug te kom na Suid-Afrika tydens die skryf van die boek?
Ek het die grootste deel van die verhaal geskryf in my kelderwoonstel in Londen. Dit was ‘n uitdaging om te probeer verseker die atmosfeer, stemme en beskrywings is eie aan Suid-Afrika. Ek was gelukkig genoeg om my familie in Kaapstad vir ‘n maand te kon besoek tydens die skryfproses. So baie klein goedjies is anders, die geluid van die duiwe soggens. . . Ek het ‘n notaboek by my gedra die hele tyd.

Jou boek  is baie goed ontvang en het selfs ‘n prys gewen. Het jy dit verwag?
Al waarvoor ek gehoop het was ‘n paar lesers in Suid-Afrika en oorsee en dat die verhaal ‘n indruk op hulle sou laat, hoe klein ook al. Daar is soveel wonderlike boeke wat gepubliseer word, wat beteken resensies en pryse is regtig belangrik om vir ‘n boek lesers te trek. So ek is werklik dankbaar dat die kritici die boek so goed ontvang het tot dusver.

Is jy besig met ‘n nuwe boek en het jy voorbehoude oor hoe dit ontvang gaan word?
Ek is nou besig om my tweede boek af te rond. Dit speel af in Londen. Ek is baie opgewonde, want die onderwerp is heeltemal anders. As ek nou daaroor dink, ‘n verhouding tussen ‘n effe ouer man en ‘n vrou in haar twintigs vorm ook die kern! Ek dink nie ek sal nog ‘n boek wat in Suid-Afrika afspeel kan skryf  sonder om daar te woon nie. Ek sal heel moontlik net Call It Dog weer en weer herskryf en elke keer ‘n slegter poging daarvan maak. Londen het sin gemaak vir die tweede boek. Ek hoop lesers in Suid-Afrika en elders sal die elemente van die verhaal ook geniet.