Marthie Maré

Marthie Maré

Boeke

Marthie Maré oor die stories wat jou gesig vertel

Elke gesig het sy eie unieke storie om te vertel en ʼn persoonlikheidsprofiel kan van iemand saamgestel word deur bloot die gelaatstrekke te bestudeer.

In haar boek, Legkaart van jou gesig (LAPA Uitgewers, R184,95) verduidelik Marthie Maré wat fisionomie, oftewel gesigontleding, behels. Sy is ʼn voltydse gesigontleder en het die boek geskryf om ʼn oorsig van fisionomie te gee en hoe dit prakties in die alledaagse lewe gebruik kan word. Sy verduidelik wat fisionomie is, vertel die geskiedenis daarvan en gaan dan aan om die basiese beginsels van fisionomie uiteen te sit. Die grootste deel van die boek word afgestaan aan hoe fisionomie werk en wat die verskillende gelaatstrekke aandui. Die laaste hoofstuk van die boek is boeiend, want hier kan jy lees presies wat het ʼn klompie bekendes se gesigte aan Maré verklap. Oor Rian van Heerden sê sy onder meer die volgende: “Rian doen dinge nooit halfhartig nie en kan dit nie verdra wanneer ander nie trots is op wat hulle doen nie. Hy verwag respek van ander en toon op sy beurt respek aan dié wat dit toekom.” Amore Bekker se gesig wys weer dat sy baie krities oor haarself is. “Sy verwag dus baie meer van haarself as wat sy noodwendig van ander sal verwag.” Elkeen van die mense wie se gesigte sy in die boek ontleed, gee kommentaar oor hoe hulle die ontleding vind. Om te sien wat Steve Hofmeyr se gesig alles van hom verklap, sal jy maar die boek moet lees.
Legkaart van jou gesig omslag

Waar kom jou belangstelling in fisionomie vandaan?
Ek is baie nuuskierig van aard. As ek iets nuuts hoor en ek vind dit interessant, dan wil ek dadelik alles daarvan weet. Ek het na ʼn praatjie deur ‘n kinesioloog geluister en hy het toe so bietjie gesels oor gesigte en die ontleding daarvan. Ek het daar gesels met ʼn man wat my vertel het jy kan jou hele persoonlikheid op jou gesig lees. Ek was baie skepties en toe het hy vir my goed oor myself gesê. Ek was verstom en hy het verduidelik enige een kan leer om die ontledings te doen. Ek het toe begin om dit as ʼn stokperdjie te leer.

Hoe lank gelede is dit en hoe het jy geleer om dit te doen?
Dis so agt jaar gelede. Ek het as ʼn grafiese kunstenaar gewerk en ek het geen ambisie gehad om vir myself te werk nie. Fisionomie was vir my iets interessant wat ek op die internet nagevors het. Ek het ook ʼn klomp boeke gekoop en dit verslind. Toe het ek begin oefen op almal rondom my en ek het gesien dis heel akkuraat. My stokperdjie het heeltemal hande uitgeruk. Vandag  doen ek ontledings al vir 7 jaar professioneel. Ek het fisionomie regtig intens bestudeer deur selfstudie.

Jy is die eerste voltydse fisionoom in SA. Vir wie doen jy gesigontledings en kan jy ʼn bestaan maak daaruit?
Dit het aanvanklik moeilik gegaan, want ek moes die korporatiewe mark oorreed. As sommige besighede eers hoor watter ander besighede ek gehelp het, dan is hulle gou aan boord. Sodra mense daarmee te doene gekry het en dit het vir hulle gewerk het, dan vertel hulle vir ander mense. Dis hoe mense by my uitkom. My passie lê egter daarin om mense te leer. Hoe meer mense ek oplei, hoe meer gaan die omvang van fisionomie verstaan word, asook die praktiese toepassing daarvan.

Benader jy fisionomie soos ʼn wetenskap?
Ja, ek benader dit soos ʼn wetenskap. Volgens my opinie is fisionomie iets wat jy kan bewys. Die probleem is, jy kan dit nie in 2014 bewys en in 2015 is dit presies nog net soos wat dit was nie, want jy het intussen dalk jou wenkbroue se vorm verander en dit sal jou persoonlikheid raak. Dis veranderlik. Ek gee nie om of mense dink dis ʼn wetenskap of nie. Ek gee ook nie om of mense skepties is of nie. Inteendeel ek verkies dit as jy skepties is. Hoe meer skepties jy is, hoe groter is die aha-oomblik vir jou. Die ouens met die deurmekaar wenkbroue is mos die duiwelsadvokate en veral hulle sal my probeer vasvra. Ek probeer hulle nie oortuig nie, ek vertel hulle net iets van hulself. En dit wat ek waarneem, oortuig hulle gewoonlik.

Hoe akkuraat is fisionomie en hoe toets jy dit?
Dis 99,99 % akkuraat. Om dit te toets is dit maar die reaksie wat mense dadelik vir my gee. Iemand sal dadelik vir my sê, dis glad nie hoe ek is nie, of  jy slaan die spyker op die kop. Maar nou het ook al oor die jare besef dat as mense vir my sê dis glad nie hoe hulle is nie, dan is daar ‘n aspek wat hulle nog nie aanvaar het nie of dis iets wat besig is om te verander in hul persoonlikheid en dit het nog nie gemanifesteer nie.

As jy mense ontmoet wat jy nie ken nie, ontleed jy instinktief hulle gesig?
Nee, ek was al in ʼn winkel dat ek vasgesit het met ʼn winkeleienaar en as ek by die huis kom en ek vertel my man, dan vra hy waarom ek nie na die mens se gesig gekyk het nie. Ek was op daardie oomblik nie ingestel nie. Ek oordeel nie mense as ek hulle ontmoet nie. Ek kyk, want vir my is plooie pragtig. Dit vertel werklikwaar wat in jou siel aangaan en hoe jy emosioneel reageer op die lewe, en ook hoe jy die lewe aanpak. Mense van ‘n gevorderde ouderdom sonder plooie het nie die lewe passievol aangepak nie.

In die boek verduidelik jy dat kosmetiese sjirurgie mense se karakter kan verander? Is dit ʼn vinnige transformasie, soos die operasie of gebeur dit oor ʼn langer tydperk?
Dit hang af hoe radikaal die operasie was. As die verandering radikaal van buite af gedoen is, dan sal dit na binne toe ook radikaal verander. Kom ek gebruik ʼn eenvoudige voorbeeld: Sê nou iemand het dik, reguit wenkbroue en jy wil dit verander na mooi, ronde wenkbroue. Die dik, reguit wenkbroue het beteken die mens is eerstens meer geneig om dinge te kompliseer en hy wil meer inligting van mense af hê. Die vorm beteken jy is tegnies ingestel gewees. Nou met jou ronder wenkbroue het die mens meer sensitiwiteit vir ander mense se gevoelens. Die rondheid beteken jy is meer ingestel op mense en nie net feite. Die feit dat dit dunner is, maak dat jy minder inligting wil aanhoor. So, afhangende van wat jy op jou gesig verander, sal dit ook jou persoonlikheid beïnvloed. Grimering speel ook ʼn rol. As jy lang en dik wimpers het, maak dit jou meer verdraagsaam. As jy maskara aansit, sal dit jou help om meer verdraagsaam te wees. Ek kyk verby al die grimering wanneer ek ʼn ontleding doen. Dit gaan nie die akkuraatheid van my ontleding beïnvloed nie. Wat dit my wel vertel is, wat is dit wat jy wil beklemtoon en wat wil jy onbewustelik vir die res van die wêreld sê.

Gebeur dit dat daar ʼn radikale verskil tussen iemand se linker en regtekant van hul gesigte is?
Ek het in die afgelope agt jaar nog nie een mens gesien wat ʼn presiese, simmetriese gesig het nie. Wanneer ek ʼn ontleding doen, neem ek ʼn foto reg van voor en sny dit in die helfte. Dan sit ek twee linkerkante en twee regterkante bymekaar en dan sien ek baie opmerklik die verskille. Iemand wat baie simmetries is, gaan in sy private hoedanigheid en sy publieke hoedanigheid baie ewewigtig wees en baie dieselfde optree.

As iemand negatiewe eienskappe vertoon in sy gesig, sê jy hom daarvan, of verkies jy om die positiewe te beklemtoon?
Ek dink nie daar is positiewe of negatiewe eienskappe op ʼn gesig nie. Kom ons neem die voorbeeld van ʼn plofbare humeur. Iemand wat lyk asof hy ʼn marshmallow op sy ken vasgeplak het, het ʼn plofbare humeur. Ja, dis nie ʼn goeie ding nie, maar hoe hy dit toepas in sy lewe gaan bepaal of dit positief of negatief vir hom is. Ek kan nie vir iemand sê dis ʼn slegte eienskap nie, want ek weet nie hoe iemand bepaalde eienskappe uitleef nie. Ek skep ʼn bewustheid met fisionomie en as jy bewus is van spesifieke uitdagings, dan kan jy dinge in plek stel om oor die uitdagings te kom.

Wat verklap jou eie gesig van jou karakter?
My hare is altyd aan die regtekant korter wat my publieke persona verteenwoordig, maar aan die linkerkant is dit altyd bietjie meer bedek en ek is ʼn baie privaat persoon. Ek het ook geheimlyntjies, wat beteken ek hou nie daarvan om oor my eie lewe te praat nie. Maar ek het aan my regterkant twee geheimlyntjies wat beteken almal se geheime is veilig by my. Een van die grootste uitdagings vir my is om in die publieke oog te wees. Ek wil net gemaklik wees. Ek is ʼn plain Jane, what you see, is what you get.