Boeke

5 Boekminute met Melinda Ferguson

As jy vooroordele het oor alkohol- en dwelmmisbruik, prostitusie en die swart kant van die lewe, moet jy eerder nie dié boeke lees nie. Dit sál jou ontstel. Melinda se twee boeke lees soos fiksie en mens kan soms nie glo dat al hierdie goed sowaar met iemand gebeur het nie. Ferguson se lewe was rof. En sy praat prontuit oor al die slegte goed wat met haar gebeur het. In haar eerste boek, Smacked (nou heruitgegee deur Penguin, R140) vertel sy van haar rondomtalie-lewe met dwelms. Op, af, op, af. . . Skoon, nie skoon nie. . . En oor al die donker goed wat met haar alkohol- en dwelmverslawing verband hou – prostitusie, fisieke en emosionele mishandeling. Sy vertel hoe sy haar gesin verloor het en moes afstand doen van haar seuns. En dan verduidelik sy die lang pad na gesond word, die rehabilitasieproses. Hoe moeilik dit was en hoe hard sy moet veg om skoon te bly.

Nou in die opvolg, Hooked (Penguin, R220), vertel sy van haar lewe as iemand wat konstant moet bewus wees van die versoekings wat oor haar pad kom en hoe hard sy moet werk om nie toe te gee nie. Sy beskryf ook hoe sy haar verslaafdheid op ‘n ander manier begin uitleef het – iets waarmee almal van ons wat in die nuwe tegnologiese eeu leef, kan identifiseer: ‘n verslaafdheid aan Facebook en ander elektroniese media. Hierdie nuwe verslawing het haar in ‘n wurggreep begin beetkry. Ek het oor ‘n koppie koffie (kafeïne is darem minder skadelik!) met Melinda gesels oor die pad wat haar lewe loop, die lang pad na herstel en hoe sy dit in die openbaar bespreek in haar boeke.

Wanneer het jy vir die eerste keer begin skryf?
Toe ek tien jaar oud was, het ek al dagboek gehou en sulke donker selfmoord-gediggies geskryf. Ek dink ek was nogal depressief as kind. My pa is dood toe ek vier was en my ma het gedrink. Dis omstandighede wat mens se hele lewe verander. Ons was ‘n disfunksionele gesin. Die pen, skryf, was my bevryding. Later in my lewe, selfs toe ek so bedwelmd was dat my lewe uitmekaarval, het ek altyd geskryf. My eerste boek, Smacked, kom juis daarvandaan, uit die bokse en bokse joernale wat ek gehad het. Ek is nogal ‘n sistematiese skrywer en met daardie boek was dit amper asof ek myself as die materiaal gesien het. Ek kon myself distansieer, anders sou ek nie die boek kon skryf nie, omdat ek my siel en lewe so blootlê in my boeke.

Hoekom het jy jou nuwe boek, Hooked, geskryf?
Ek is gevra om ‘n tweede boek te skryf, so ‘n soort selfhelpgids uit ‘n gerehabiliteerde se oogpunt. Maar ek het nie en ek is bly. In gesprekke met Louise Grantham van Penguin het sy beklemtoon hoe belangrik dit is dat ek die eerste boek met iets eerliks opvolg. Toe ek dié boek begin skryf het, het die obsessie in my verhouding erg begin uitspeel. Ek het basies die boek oor my lewe nou geskryf en het letterlik nie geweet hoe dit gaan eindig nie. Op ‘n vreemde manier was Smacked eintlik makliker, omdat alles vyf jaar vantevore gebeur het en ek reeds afstand daarvan gehad het. Maar hierdie was in die nóú.

Dink jy mense word gebore met ‘n geneigdheid tot verslawing of dra omstandighede ook by?
Ek glo in verslawende predisposisies, maar terselfdertyd speel omgewing en sosiologiese omstandighede ook ‘n rol. My familie het ook ‘n neiging tot verslawing, maar ek was die ekstreme een. Ek het grootgeword met ‘n ma wat soggens nugter was en die res van die dag dronk. Ek het begin drink toe ek tien was. Dit was maklik, want ek het toegang gehad tot alkohol en dit was ook my eerste drug of choice.

Hoe het jou verslawing jou gesins- en familiebande beïnvloed?
Ek is nie ‘n “elke-dag-ma” nie. My verslawing het my huwelik verwoes en ons moes ‘n sinvolle manier vind om ouerlike pligte en verantwoordelikhede te verdeel. Ek het my seuns drie dae in die week en die res van die tyd is hulle by hul pa. My familie is baie ontsteld oor die boek, maar die kernprobleem gaan veel dieper. My suster het my gedelete op Facebook. Na my ma se dood het alle pretensie van ‘n normale familie doodgeloop. Daar was nie werklike bande oor nie.

Jy werk in media en dit is ‘n baie sosiale omgewing. Hoe moeilik is dit om met jou verslawing te cope onder hierdie omstandighede?
Dit was vroeër baie moeiliker, maar nou is ék beter en is dit ‘n gewoonte om nie te drink nie. Die eerste uur by sosiale geleenthede is altyd die moeilikste. Deesdae is ek altyd die aangewese motorbestuurder. Ek het so gewoond geraak daaraan. Ek het my swakheid besef en dit gee my krag. Moet nooit ooit dink jy kan net een drankie drink nie, want die oomblik wat jy die eerste een drink, verslap jy al jou ander inhibisies ook en dit maak jou weer ontvanklik vir dwelmgebruik. Dis so maklik om terug te val.

Jy skryf oor jou verslawing aan social networking aka Facebook, e-pos en SMS. Dink jy jy het een verslawing met ‘n ander vervang?
Social networking is die gat in my siel wat ek probeer vol maak. Ons probeer om op alle vlakke te connect. Ek dink ons gemeenskap is in ‘n toestand van verslawing! Ons het ‘n vernislagie van gekonnekteerdheid, waar jy dink jy het ‘n vriend, maar eintlik ken jy nie eers daardie vriend nie. Verhoudings het vervlak as gevolg van tegnologie. Wanneer jy moet intiem raak en regtig praat, word alles onwerklik. Mense is leeg en eensaam. Met die Aussie was daar vir my ‘n rukkie ‘n konneksie. Alles het begin met my wat uitreik na iemand in nood, wat iemand probeer raad gee, maar dit wat as ‘n wonderlike gebaar begin het, het omgeswaai en iets geheims en obsessiefs geraak. Tegnologie kan wonderlik wees, maar daar is die ander sy van “Grootbroer wat loer”. Dit kan alles doodmaak wat mooi is aan menswees.

Hoe belangrik is dit om betrokke te bly by AA-vergaderings en om uit te reik na ander verslaafdes in nood?
Dit is die enigste manier waardeur jy kan skoon bly – om te lewe in ‘n nuwe bewussyn – nie net om nié te drink nie. Die hergeboorte van my hele wese, ek het dit verloor toe die hele Facebook-ding kop uitgesteek het. AA-samekomste anker my. Dit was skrikwekkend hoe min ek wou uitreik, maar ek het ook besef dit is waar my heil lê. As ek na ‘n byeenkoms gaan en ek hoor myself sê ek is ‘n veslaafde, dan besef ek waar ek vandaan gekom het. Jou probleme begin wanneer jy té fantasties voel, want dan is jy weerloos en kan maklik terugval. Jy dink jy kan alles hanteer. Die skrywery hou my ook skoon. Ek sal soos ‘n idioot voel as ek terugval, want ek het my hele lewe in die openbaar gestel en gesê ek is nou skoon. En die boeke gee my ook ‘n sterker identiteit. Ek het ‘n roman begin skryf. Dit is my uitdaging. Dit maak my bang, maar ook opgewonde. Ek moes eers aan my eie malligheid uitdrukking gee voordat ek kon aanbeweeg om oor ander te skryf.