valerias_last_stand_marc_fitten
Boeke

Top-5 boeke van hartseer mense-verhale

Is dit omdat ons dankbaar is dat dit waaroor ons lees nie met ons gebeur nie, of is dit omdat ons bloot nuuskierig is oor hoe mense reageer wanneer die lewe hulle ‘n klap gee? Ek weet net ek is altyd nuuskierig oor sulke verhale en lees dit graag. Veral om te sien of iemand hulself uit daardie slegte situasie kan lig. Dié week se boeke het almal karakters wat so bietjie die wind van voor gehad het en wat met die harde kant van die lewe kennis gemaak het.

Onthou om ons boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Valeria’s Last Stand, Marc Fitten (Bloomsbury, R214)
Valeria was eens op ‘n tyd ‘n mooi jong meisie met ‘n lyf waarna mans met wellus gekyk het. Sy het ‘n mislukte liefdesverhouding in haar jong dae en dit verander haar hele persoonlikheid. Sy het nie meer lewensvreugde nie en sien selde of ooit die mooi in mense raak. Maar nou is sy 68 jaar oud en het sy ‘n onvergenoegde trek op haar gesig. Nou word sy nie meer bewonder vir hoe sy lyk nie, maar vir hoe giftig sy met haar tong is. Sy woon in ‘n afgesonderde dorpie en hou die inwoners met haar skerp tong op hul tone. Tot sy verlief raak. Dan is dit net die man wat sy in die oog het wat saak maak. Eers stel hy nie belang nie en dan raak hy gaandeweg al hoe meer aangetrokke tot Valeria, tot so ‘n mate dat sy selfs sy pottebakkerswerk laat ontwikkel tot iets meer. Natuurlik is daar ‘n hele spul ander karakters, die plaaslike kroegeienares met losse sedes, die burgemeester en sy jong vrou, haar haarkapster en dan die rondreisende skoorsteenveër wat sy intrek wil neem en die vroue uitbuit. Soos op enige klein dorpie kan daar maar net intriges en moleste wees. Hierdie is ‘n fassinerende storie waarin Valeria die hoofrol speel. Die verhaal boei tot op die einde en sorg vir ‘n baie interessante blik op ‘n paar ongewone gebeure in die alledaagse (of eintlik minder alledaagse) gebeure van ‘n klein dorpie. Die boek is ook op die kortlys van Exclusives se Boekeprys.

Die Begunstigde Die begunstigde, D.J. Winterbach (Human & Rousseau, R170)
Gestroop – die skryfstyl, die hoofkarakter, sy leefstyl. ‘n Merkwaardige debuutroman, waarvan die deurleefdheid verklaar word deur die ryp ouderdom van 76 jaar wat die outeur, Dirk Winterbach, bereik het.

Die roman is in vier verdeel en elke deel dui onderskeidelik op ‘n fase in die reis van die hoofkarakter: Die eerste deel beskryf sy pad na die onderwêreld; dan bevind hy homself op die psigologiese drempel of limen; na die sparagmos wat byna as ‘n soort kastrering of ten minste ‘n verskeuring van sy fisieke self beskou kan word; tot by die uiteindelike anabasis wat opwaartse beweging aandui, veral wanneer hy Christine of ‘Touffu’, die musikaal begaafde dogtertjie van Ariadne, die prostituut wat net onder sy dakkamertjie woon, deur die venster sien wink. Teen die einde eers kry lesers ‘n idee oor sy lewe voor hy permanente amnesie ontwikkel het, met sy ou vriend, die ‘katalisator’, wat op kru wyse vertel terwyl Ariadne haar eie verhaal laat ontvou.

Lees dié een omdat die boek oor die gevolg van seksuele onderdrukking so elegant geskryf is, en mens nie sonder hoop laat nie. - Mariette Postma

Bad things in the night Bad Things in the Night, Beth Ellis (Random House Struik, R115)
Die skryfster Beth Ellis bring die onderwerp van seksuele molestering meesterlik op die voorgrond. Die emosionele selfkastyding is byna erger as die fisieke teistering deur die verkragter.

Wanneer Beth as 18-jarige op universiteit beland, vertel ‘n mede-student van haar eie verkragting as kind. Beth besef wat sy nog altyd as deel van haar lewe beskou het, geen normale deel moes wees nie. Sy kry ‘n naam vir die gevoel in haar binneste . . . Molestering!

Haar hele lewe val uitmekaar, duistere gedagtes van selfmoord, magtelose veragting en vurige haat word nuwe gevoelswoorde in haar. Waar was haar ma terwyl alles gebeur, sou jy wou vra? Of miskien, hoekom het sy nie na die polisie gegaan nie? Dis vrae wat ons, wat veilig is, soms met arrogansie vra. Beth Ellis lê haar siel bloot vir almal om te lees en dit is voorwaar ‘n boek wat elke vrou behoort te lees. - Trudy Booyens

Everything ravaged, everything burned Everything ravaged, everything burned, Wells Tower (Granta Publications, R145)
Met hierdie kortverhaaldebuut stel Wells Tower, ‘n bekroonde Amerikaanse joernalis, ‘n nuwe standaard. Hy skryf empaties en tog met (galge)humor oor randfigure, diegene uit die laer-middelklas vir wie die lewe geen illusie meer inhou nie: ‘n Vrou gooi haar man uit die huis nadat die afbeelding van ‘n voet teen hul motorruit nie met hare ooreenstem nie. ‘n Geskeide man moet sy eks-vrou (wat obsessief is oor meditasie) se man oppas en in sy geestesoog sien hy al die intieme dinge wat hy so goed ken. ‘n Jong seun verafsku sy stiefpa maar maak op ‘n interessante manier seker dat hy dié se aandag afdwing.

Gereeld word karakters teenoor mekaar gestel. Daar is die meisie met ‘n lyf soos “‘n piekelpot” wat later met haar mooi, selfvoldane niggie in die bos afreken.

Al is Tower nog jonk, slaag hy daarin om oor verskeie soort verhoudings en mense van alle ouderdom te skryf. Soos die man met dimensie wat sy ware kleure toon en die 83-jarige wat ‘n misdaad rapporteer en só ‘n stout vrou ontmoet. Daar is selfs ‘n grusame verhaal oor Vikings wat ‘n klein eiland-dorpie beset.
Wat die karakters dink en doen, is goed gemotiveerd en hul dialoog weerspieël presies wie hulle is.

Die skrywer se taal is musikaal en dig verweef, maar daar lê ook baie in dit wat nié geskryf word nie. Towers se beelde laat mens dikwels glimlag, so raak is hulle. Soos die motor met die stukkende uitlaatpyp wat klink soos “someone in a suit of armor getting dragged up the street”. En soms só mooi. “I would sit out front… and watch the sun stitch its orange skirt across the horizon.”

Hier en daar sou mens minder vertelling en meer belewing wou sien, maar afgesien hiervan is dié bundel hoogs aan te beveel.
- Riette Rust

Crime and Punishment Crime and Punishment, GF Newman (Quercus, R134,95)
Die negejarige Brian Oldman se wêreld word aan flarde geruk deur die moord op sy oupa. Wat hom emosioneel en sielkundig skaad, is die feit dat sy ma die moord gepleeg het. Maar as negejarige verstaan hy nie waarom sy dit gedoen het nie en is hy ook te bang om te vra. Díé bittere geheim beïnvloed sy latere lewe.

Die een persoon wat Brian verafgod en ‘n heldeverering voor het, is sy oom, Jack Braden. Hy volg in sy oom se voetspore en probeer alles nadoen wat Jack doen. Jack se grootste ambisie in die lewe is om die volgende ligswaargewig bokskampioen te word. Terwyl Jack wag op sy kans om vir die titel te veg, verdien hy geld deur op te tree as ‘n lyfwag. Wanneer sy planne om die volgende bokskampioen te word deur die Kray familie in die wiele gery word, is Jack ‘n verbitterde man. Hy sweer om wraak te neem. Kort voor lank bevind hy hom aan die verkeerde kant van die gereg, want hy kom onder die geregsdienaars se oë omdat hy as ‘n lyfwag werk vir die Mafia. Brian volg in sy oom se voetspore – maar op ‘n veel erger skaal. Hy raak heeltemal betrokke by die Mafia en organiseer allerhande skelm geldmaak-skemas.

‘n Familiesage en drama wat oor drie dekades strek vanaf die 1940’s tot die sewentigs. ‘n Verhaal vol korrupte polisiemanne, bankrowers en natuurlik die Mafia. Daar is ‘n moord wat met ‘n spannende hofsaak eindig. Moenie moed opgee na die eerste twee hoofstukke nie. As jy eers in die verhaal is, is dit boeiend. Die skrywer het die verhaal aangebied soos ‘n minireeks op TV en daarom moet jy geduld hê om net eers in die verhaal in te kom. – Karien Labuschagne