FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Mense wat help en inspireer

Daar is baie mense wat ander help en inspireer. Dis nie noodwendig bekende mense nie.

Dis dikwels gewone mense, mense wat dit soms self nie breed het nie, wat hulself geroepe voel om iets aan die lot van die mensdom te doen. Ander voel gedrewe om te sorg dat die aarde nie vernietig word nie en werk onverpoos om die natuurlike bronne van die aarde te help bewaar. Miskien het daar iets in dié mens se eie lewe gebeur wat daartoe bygedra het dat hulle mense en diere wil help. So dikwels neem ek my inspirasie uit die woorde van ander. Soms is dit ’n wyse aanhaling deur ’n bekende. Ander kere is dit iets wat ek raaklees in iemand se biografie. Of dit is woorde wat iemand gebruik het in ’n toespraak om ander te inspireer. Maar een ding is seker, dié mense wat so onbaatsugtig is, onbekendes en bekendes, inspireer my!

Very Good Lives, J.K. Rowling (Little Brown, R240)
Hierdie is Rowling se toespraak wat sy aan die studente van Harvard Universiteit gegee het. Die titel van die toespraak was: The Fringe Benefit of Failure and the Importance of Imagination en dis baie duidelik uit wat sy gesê het, dat sy sterk voel oor dié twee onderwerpe. Sy praat vanuit haar persoonlike oogpunt met die studente en deel ervarings waaruit sy self lesse oor mislukking en verbeelding geleer het. Daar is baie lesse te leer, en waardes om te onthou uit haar inspirerende woorde. Vir my is hierdie ’n uitsonderlike stukkie wysheid: “Imagination is the power that enables us to empathise with humans whose experience we have never shared.” Die boekie is pragtig geïllustreer en ’n waardevolle toevoeging tot elke mens se persoonlike biblioteek. Dit kan nie skade doen om die boekie elke jaar weer te lees nie! – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

What If There Were No Whites In South Africa?, Ferial Haffajee (Picador, R282)
Die titel van hierdie boek het onmiddellik my aandag getrek, veral in die lig van die vele gesprekke oor ras in Suid-Afrika. Of eintlik die gebrek aan gesprekke oor ras. Haffajee skryf hier oor haar eie agtergrond, hoe haar lewenspad geloop het om haar te bring waar sy nou is, ’n suksesvolle redakteur van ’n koerant. Dit verweef sy met ’n ondersoek na presies hoe die sosio-politieke landskap nou 21 jaar ná demokrasie lyk. Sy kyk na bevolkingsyfers en wie wat bydra tot die land se fiskus. As jy die syfers swart op wit sien, besef jy wittes se bydrae is toenemend minder, want daar is ’n groeiende swart middelklas wat ruim bydra tot die staat se koffers. Maar die persepsie bestaan dat wittes steeds bevoorreg is en steeds ’n beter gehalte lewe lei. In hierdie boek probeer sy objektief kyk na hierdie persepsie en ander, en hoe dit bydra tot die gevoel in die land. Sy verduidelik dat wittes baie kan doen om hierdie persepsies te help hervorm; hulle moet om verskoning vra vir apartheid, want dis wat swart mense nou wil hoor. Al was jy nie direk deel van apartheid nie, het jy voordeel getrek daaruit weens historiese voorregte. Wat baie duidelik is, is dat daar baie werk voorlê en dat almal in hierdie land deel van die oplossing moet wees; ’n wedersydse erkenning dat ons mekaar nodig het en dat ons met respek saam met mekaar kan leef en bou aan ’n beter toekoms vir al die inwoners van die land. Dis miskien nie ’n maklike en verteerbare boek om te lees nie, maar dis een wat jy behoort te lees. Al help dit jou net om insig te kry in hoe ander mense dink. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Lean in 15, Joe Wicks (Bluebird Books for Life, R357)
Joe Wicks is ’n sensasie en hierdie boek van hom het 28 Desember verlede jaar die lig gesien. In die eerste week wat die boek op die rak was, is 111 830 eksemplare verkoop! En daardie syfer het reeds geklim tot meer as 188 927 soos wat mense die boek opraap. Nou waarom is die boek se verkope so goed, sal jy wonder? Hy gee nie vir jou raad wat nie sin maak nie en bowendien verduidelik hy eenvoudig vir jou waarom diëte nie werk nie. Hy het alles wat hy vir jou vertel reeds self beproef en sy raad aan jou is ’n leefplan. Dit het alles op Instagram begin met sy #Leanin15 video’s, al sy etes was gereed in 15 minute en die video’s was net 15 sekondes lank! Sy filosofie is dat alles maklik moet wees en dat jy klein aanpassings moet maak wat haalbaar is. Jy mag maar nou en dan verneuk, dit maak dat jy nie heeltemal gek word nie. Hy het nou ’n aanlyn besigheid waar hy as “body coach” vir individue raad gee en hulle help om hul teikens op ’n gesonde manier te bereik. Hierdie boek vertel vir jou hoe hy doen wat hy doen, verduidelik die waarde van ’n goeie en gesonde dieet en is dan verder gepak met 100 eenvoudige en maklike resepte en oefeninge wat jy kan doen. Toeganklik en maklik om te verstaan. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Into the River of Life, Graham Linscott (Jonathan Ball Publishers, R220)
In dié biografie vertel Linscott die verhaal van Ian Player, een van die merkwaardigste natuurbewaarders wat Suid-Afrika nog opgelewer het. Ian is in 1927 in ʼn stowwerige myngemeenskap in Johannesburg gebore. As jong man was hy in 1950 ʼn stigter van die Duzi-kanomarathon. Hy het in 1952 by die Natalse Parke Raad begin werk. Hier doen hy baanbrekerswerk op die verskuiwing van wild wat onder meer die wit renoster van uitwissing gered het. Dit is ook deur sy toedoen dat die Umfolozi- en St. Lucia Wilderness areas vandag internasionale bewaring status geniet. Hy was ook die stigter van die Wilderness Leadership School. ʼn Organisasie wat, gedurende die dae van apartheid, hom daarvoor beywer het om ’n veelrassige ervaringsleer-program daar te stel wat ’n wêreldwye netwerk van bewaarders verbind het tot natuurbewaring. Linscott slaag nie net daarin om Ian as ’n internasionale vereerde natuurkenner aan ons bekend te stel nie, maar ook as ’n kultuurmens en denker met ’n sterk Jungiaanse invloed. Die boek bevat talle foto’s en het ’n jaar voor Ian se dood op 30 November 2014 verskyn. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Journey to Joy: World Champ at Last, Sibis Mouton (Modjaji Books, R184)
Doktor Sibis Mouton se outobiografie is inspirerende leesstof. Sy vertel van haar vele suksesse en teenslae. Op die ouderdom van 44 het sy die Wêreld-ysterman/vrou-kompetisie vir veterane gewen en haar ambisie om ’n wêreldkam­pioen te wees, verwesenlik. Sy het internasionaal aan die tweekamp, driekamp en moderne vyfkamp (swem, hardloop, pistoolskiet, skerm en perdry) deelgeneem en was kaptein van die Springbokspan in 1993. Sy het met dolfyne in die Miami Keys geswem, die Masai Mara-migrasie in Kenia ervaar en vele eilande gesien en vulkane uitgeklim. Tog het iets in haar lewe ontbreek. ’n Lesing deur Sue Myers, ’n Amerikaanse kinesioloog, het haar geïnspireer om ’n kursus te volg sodat sy deeltyds as kinesioloog kan praktiseer. Dié veelsydige vrou doseer ook wiskunde aan die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie.   – Malene Breytenbach
Naskrif:
Sibis het ook ’n reeks video’s oor wiskunde vir kinders gemaak en kan gratis op haar webwerf, www.zest4life.co.za gekyk word.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Pavement Bookworm, Philani Dladla (Blackbird Books, R200)
Wat ’n inspirerende boek! Philani Dladla vertel hoe sy lewe ontspoor het en hoe sy liefde vir boeke hom help red het. Hy het in KwaZuluNatal grootgeword en het op skool bevriend geraak met kinders wat ’n baie slegte invloed op hom gehad het. In ’n desperate poging om hom te help, stuur sy ma hom na familie in Johannesburg. Maar hier onstpoor die jongman se lewe in alle erns; drank en dwelms maak dat hy alles in sy lewe verloor. Hy beland op straat en woon saam ander haweloses onder ’n brug. Sy enigste besittings was ’n sak boeke wat hy geërf het by sy ma se voormalige werkgewer. Boeke het hom as kind help ontsnap van die wêreld en het sy liefde vir lees ’n onwrikbare deel van sy lewe gemaak. Dié sak boeke is uiteindelik sy redding, wat Philani gehelp het om sy lewe om te draai. Hy het sy boeke gesmous op straat en het ook aan iedereen wat wou luister resensies voorgedra oor boeke wat hy gelees het. Hy het ’n boekklub begin vir minder bevoorregte kinders en sy geld spandeer op boeke, eerder as op dwelms en drank. Met wilskrag keer hy sy lewe om en sy boek getuig van iemand wat ’n positiewe verandering in ander se lewe wil bring. Sy verhaal laat jou dink aan hoe gelukkig jy is as jy ’n lewe van redelike gerief het. Een met ’n dak oor jou kop, kos op die tafel en ’n inkomste. Vir mense soos Philani is die lewe ’n voortdurende stryd. Mens kan net dankbaar wees . . . – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Crashed, How Trashing a Ferrari Saved My Life, Melinda Ferguson (MF Books, R231)
Ferguson se eerste twee boeke, Smacked en Hooked, het oor die verslawings in haar lewe gegaan en hoe hard sy moes werk om die verslawings te oorkom om haar lewe om te keer. In die boeke het sy alle besonderhede oor haar lewe openbaar gemaak. Hierdie nuwe boek volg dieselfde patroon. Dis intens persoonlik, blatant eerlik, en jy voel amper soos ’n voyeur wanneer jy dit lees. In hierdie boek gaan dit oor hoe sy die stukke van haar lewe moes optel, nadat dit in skerwe gespat het weens ’n motorongeluk. Dis nie sommer enige ongeluk nie, dis een waarin sy as motorjoernalis ’n Ferrari afgeskryf het. Eers het sy probeer om normaal aan te gaan met haar werk en takies, maar helaas, toe volg haar ineenstorting. Sy het haarself ingeboek in ’n kliniek om daaroor te kom. So het sy haar lewe in oënskou geneem – weer ’n keer . . . Jy lees in detail van haar mees intieme oomblikke in die slaapkamer. En al die ander vertrekke waarin sy haar bevind. Ferguson het ’n manier om jou in te trek in haar lewensverhaal, amper so bietjie soos Fifty Shades of Grey.Jy kan nie anders as om beïndruk te wees met haar oorlewingsmeganismes nie, en om deur al die negatiewe gebeure ’n positiewe te vind. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Maverick – Extraordinary Women from South Africa’s past, Lauren Beukes en Nechama Brody (Umuzi, R220)
Die boek gaan oor formidabele vroue wat hul merk gemaak het in die geskiedenis van Suid-Afrika, vroue met passie, innerlike krag en waagmoed. Ruth First en Helen Joseph was met hul ysere wil anti-apartheid aktiviste, die kunstenaars Helen Martins en Irma Stern het met kuns hul stempels afgedruk.  Bessie Head het met haar gevleuelde woorde ’n impak gehad in joernalistiek. Dan is daar die hartseer verhaal van Saartjie Baartman wat nooit die mooi van die lewe gesmaak het nie.

Ons lees ook van die wulpse en omstrede Glenda Kemp met Oupa om haar nek en die wilde danse van die sestigs. Daar is ’n onverskrokke vrou van die Boere-oorlog wat nie geskroom het om ’n geweer te gebruik nie. Brenda Fassie het die soet en suur van die lewe gesmaak, ’n goue stem wat vir ewig stil is. Daar is die “simpatieke” Daisy de Melker wat haar mans uitgemoor het. ’n Vreemde en onverklaarbare verhaal oor Elizabeth Klarer wat haar ewige liefde verklaar het aan ’n ruimtewese en ’n kind gebaar het.

Die boek is ’n huldeblyk aan uiteenlopende vroue wat ’n merk gelaat het op die Suid-Afrikaanse samelewing. – Liesel Pienaar