Boeke

5 Boekminute met Milan Murray

Boonop is sy die ma van twee woelwatertjies. Maar hierdie nuwe ontdekkingsreis van ma-wees was een waaroor sy baie moes bepeins en bestekopname doen. Sy het vrae gevra oor haar wese, haar werk en haar aanpassings. Hierdie ontdekkingsreis het sy nou saamgevat in haar boek, Koemelaat, ‘n sanity-joernaal van ‘n nuwe ma (Griffel Media, R117) wat onlangs verskyn het. Ek het Milan ontmoet vir koffie en heerlik gesels oor wat sy haar “sanity-joernaal van ‘n nuwe ma” noem.

Hoekom het jy die boek geskryf?
Dit het begin as my eie dagboek-inskrywings vir my eie sanity om perspektief te gee op dit wat besig was om met my te gebeur. Dit het my laat dink baie mense sal daarmee kan identifiseer en toe verwerk ek my dagboek in ‘n boek. Die reaksie is oorweldigend. Baie mense sê ek skryf presies wat hulle dink en ervaar. Op skool het ek nooit huiswerk gedoen nie, buiten opstelle skryf. Dit was altyd eerste klaar. My onderwyseres, Rene Engelbrecht, het op my 40 days-hemp geskryf dat ek nooit moet ophou skryf nie. Ek het die boek vir haar gestuur en sy is baie trots op my. Ek hoop dat sy by die bekendstelling sal wees. My skryfmentor is Henriëtta Gryffenberg. Sy het my gevra om drie episodes van Erfsondes 3 te skryf en sy het my hand vasgehou deur die proses. Dit was die moeilikste ding om iemand anders se storielyn en karakters te skryf. My boek was steeds bloedsweet, maar dit is my eie stem!

En die naam “Koemelaat”?
Dit kom van my seuntjie, Steph (hy is nou drie), se woord vir skoenlapper. Dit gaan vir my daaroor dat ek soos ‘n ruspe in ‘n papie getronk was en dat ek onbeholpe in ma-wees was. Juis met die skryf van die boek het ek my vlerke gekry en het ek ontpop in die ma wat ek nou is. En vry, ma-wees is nou nie meer vir my ‘n issue nie.

Daar is aanhalings aan die begin van elke hoofstuk. Hoe het jy dit gekies?
Ek lees wyd en hou baie van lees en geniet dit nogal om verskillende filosowe se lewenswaarhede te lees. Dit was ook vir my belangrik om ander stemme in die boek te hê in die vorm van aanhalings, omdat dit ‘n ander perspektief bied op die onderwerp.

Uit die boek blyk dit dat moederskap nie vir jou natuurlik gekom het nie. Hoe so?
Ek voel anders oor moederskap van voor tot na die boek. Vir my was dit opvallend uit al die baie berigte en artikels wat daar geskryf word, dat die meeste celebrity-ma’s se reaksie op moederskap is: Dis die beste ding wat ooit met hulle gebeur het. In my boek sê ek dit was nie aldag die beste ding wat met my gebeur het nie. Dit was nogal bold van my as openbare figuur om dit so eerlik te sê. Die issue met ma-wees was nie vir my oor die praktiese sy van ma-wees nie, maar oor die etiket. Ek het gevoel as ek eers daardie titel – MA – het, is ek nie meer aktrise of kunstenaar nie, maar word ek gereduseer tot iemand wat oninteressant is.
Ek het myself altyd in die kategorie van aktrise geboks en dit was my totale identiteit. En hier gebeur iets met my wat my hierdie identiteit laat bevraagteken. Ek moes die balans soek en dit kry. Dit het ek wel gekry na die skryf van my boek.

Ek lees ook dat jy nogal gebombardeer is deur ander mense se opinies oor hoe jy jou swangerskap, die geboorte en moederskap moes hanteer?
Ek het nooit besef hoe veroordelend vroue kan wees hieroor nie. Die ding is, so baie vroue is deur hierdie proses en elkeen glo hul opinie is reg. Dit maak mens so deurmekaar, veral as jy juis onbeholpe voel. Dit vat nogal tyd om ruggraat te groei en te sê: “Ek vertrou my eie opinie.” Uiteindelik gaan dit oor my eie lyf, my eie kop en ander faktore in my lewe wat net ek ken en daarom moes ek kies wat vir my die beste is. Nou, as ‘n vriendin swanger is, ek gee net my opinie as hulle my vra daarvoor. Andersins sê ek nie boe of ba nie.

Koffieplekke speel nogal ‘n belangrike rol in jou lewe. Hoe so?
Ek dink as ‘n jong ma, veral wanneer jy nie werk nie, kry jy cabin fever. Dis ‘n kringloop van doeke, voed, bad, doeke, voed en bad. As jy dan alleen of saam met ander ma’s vir ‘n rukkie by ‘n koffiewinkel sit, dan voel jy net weer deel van die normale wêreld. My boek is ook geskryf in koffiewinkels. Dit is die tye wanneer ek kan reflekteer. Koffiewinkels is vir vriendinne met jong kinders ‘n oase.

Hoe belangrik is jou ondersteuningsnetwerk?
Ek is een van daardie ongelukkiges wat nie baie plekke het waar ek my kinders kan aflaai vir ‘n bietjie blaaskans nie. Ek is jaloers op ma’s wat dit het. Ek het ‘n voltydse nanny wat inwoon. Ek en Schalk het elke Woensdagaand date night en dan bly die kinders by haar. Mens moet die ander verhoudings in jou lewe koester. Schalk is ‘n baie natuurlike pa. Ek sê in die boek hy is ‘n beter pa as ek ‘n ma. Hy het gesê Maandagaande is my aand. Dan pas hy die kinders op. Ek kan dan gaan fliek saam met vriendinne of net rustig kuier. Sy kapasiteit vir chaos is net meer as myne. Ek bereik ‘n punt waar my “geduldometer” te vinnig hardloop van 0 – 10. As daai meter by 7 kom, dan sê ek baie vinnig vir Schalk, sodat hy net weer orde kan skep.

Jy praat ook in die boek openlik oor jou endogene depressie.
Dit was ‘n oorweging om nie daardie hoofstuk in te sluit nie, maar die boek sou onvolledig wees daarsonder. As ek wil eerlik wees oor my ma-wees, dan moet ek daaroor praat. As mens kom by die punt waar jy sê dis ‘n chemiese wanbalans en dat dit jou nie ‘n bad mens maak nie, dan kan jy iets daaraan doen. Dis nogal ‘n leemte in ons moderne samelewing, ons het verleer om swak te wees. Ons sien in glanstydskrifte net altyd die mooi van mense – dit waarna ons moet streef – en nie die hele werklikheid nie. Selfs met ons vriende huiwer ons om te erken wanneer ons swak is. Hoe kan ek jou ondersteun as jy die heeltyd niemand nodig het nie? Ek wil voel jy het my nodig. As ‘n bekende persoon sê ek is nie altyd OK nie, dan sal Jan Alleman dalk ook meer eerlik wees.

Vertel van die verwerking van jou boek vir die verhoog.
Ek verwerk dit in ‘n eenvrou-stuk, “Gefop”. Ek het nog nie besluit op ‘n regisseur nie. Daar is ‘n groot behoefte, veral op die platteland dat ek moet kom met die boek. Maar ek het gevoel wat dan, lees ek net uit die boek en dit is dan dit! So die stuk is ‘n lekker manier om iets meer te bied aan mense en dan bereik ek ook ‘n gehoor wat dalk nie lees nie. Ek dink aan myself eerstens as aktrise en dan as skrywer en daarom was dit vir my belangrik om die boek op die verhoog te kry.

  • Lida

    Klink na ñ boek wat en net sal mòèt lees, gaan verseker!

  • Walda Botha Randburg

    dis reg, Meisiekind, jy was nog altyd vol idees, ek gaan jou boek nou koop om vir my dogters en skoondogters te gee, ek sal liewer tjoepstil bly tot ek vir raad gevra word,

  • Ff2yVP dkgexxtcvgke, [url=http://youpvomshvof.com/]youpvomshvof[/url], [link=http://jwfnkiaiwyaz.com/]jwfnkiaiwyaz[/link], http://pnisbqmqszer.com/

  • elladorah

    sy is regtig goeie inspirasie!