FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Misha Glenny oor sy “Nemesis”

Misha Glenny se Nemesis is ’n komplekse verhaal oor die dwelmbaas Antonio Francisco Bonfim Lopes, Brasilië se grootste krimineel.
Antonio, of Nem soos hy bekend gestaan het, was ’n gewone inwoner van Rocinha, die favela (krotbuurt) in Rio de Janeiro. Hy het ’n eerlike bestaan probeer maak, totdat sy dogtertjie se siekte hom gedwing het om by die dwelmbaas aan te klop om geldelike hulp. Dit het Nem se lewe verander, want hy moes vir die dwelmbaas gaan werk om sy skuld te probeer delg. Nem was ’n slim man en het ’n groot vertroueling van die dwelmbaas geword. Toe dié baas in die tronk beland het, was Nem die man wat in die top-posisie beland het. Mense in die favelas was arm en uitgelewer aan geweld. Hy het sy sake so bedryf dat hy die polisiemanne omgekoop het, eerder as om in skietgevegte betrokke te raak. Onder sy leiding het moord en geweld afgeneem in dié krotbuurt. Die lewe in hierdie buurte is nie maklik nie.
Nemesis (Vintage Publishing, R292) is ’n boeiende en komplekse verhaal oor hoe omstandighede ’n gewone man se lewe omkeer, hoe hy die magtigste dwelmbaas in Brasilië word, maar hoe hy in die proses baie mense se lewensomstandighede probeer verbeter het. Sy dramatiese arrestasie word in fyn besonderhede beskryf, dis soos ’n toneel uit ’n rolprent. Glenny hou jou aan die lees tot op die laaste bladsy en laat jou met ’n gevoel van empatie vir hierdie omstrede hoofkarakter.

Hoe het jy die boek aangepak, want dis ’n komplekse onderwerp?
Ek moes Portugees leer om die boek te kon skryf. Voordat ek met die navorsing begin het, het ek vir drie jaar eers die taal aangeleer. Dis ’n maklike taal om te lees, maar om dit te verstaan wanneer dit gepraat word, is ’n ander saak. My tweede struikelblok was al die karakters wat betrokke was; daar was baie mense betrokke in Antonio se besigheid en sy lewe. Ek moes waar dit moontlik was, die karakters minder maak om verwarring te voorkom. Almal in die boek is daar vir ’n rede, want ek kon nie anders as om hulle te noem nie. Die derde struikelblok is die verskillende soorte polisie in Brasilië; 23 Distrik Polisie, Militêre Polisie en 15 Burgerlike Polisie – dis verwarrend. Boonop is daar kompetisie tussen die verskillende polisiemagte en lei dit tot geweldige korrupsie. Ek was baie gelukkig dat ek met drie onkorrupte polisielede in Rio kon praat – die drie wat Antonio se saak ondersoek het. Dis ook hoekom hulle in die eerste plek dié taak gekry het, want so baie polisielede was juis deur Antonio omgekoop. Ek sou nie hierdie boek kon skryf as ek nie toegang tot Nem in die tronk gehad het nie. Daar was heelwat burokratiese rompslomp om dit gereël te kry. Hy was egter heel toeganklik om sy verhaal met my te deel. Ek het darem ook nie begin met sy status as dwelmbaas nie, ek het begin by sy kinderdae en so die storie stuk vir stuk ontrafel. Van begin tot einde het dié boek drie jaar geneem om te voltooi.

Toe jy die boek nagevors het, moes jy gevaar trotseer. Hoe doen jy dit?
Lank gelede toe ek by die BBC gewerk het, het ek die oorlog in Joego-Slawie gedek. Enigiets daarna is relatief mak. Maar ek is versigtig en ek het veiligheidsmaatreëls. Om in Rocinha te woon, was nie so erg nie, want dit was reeds in bedwang (pacified) gebring. Ek het ook seker gemaak invloedryke Brasiliane weet wat my bewegings was. Meeste mense met wie ek in die favela in aanraking gekom het, se reaksie was dat ek ’n mal uitlander was. Solank ek nie foto’s geneem het of inligting aan die polisie oorgedra het nie, was ek heel okei. Dis ironies dat ek tydens my navorsing beroof is in een van die gegoede buurte!

Hoe is die ekonomie in Brasilië in vergelyking met ander lande?
Brasilië gaan deur ’n baie erger krisis as Suid-Afrika, maar die parallelle tussen die twee lande is dramaties. Ek het in 2006 vir die eerste keer daarheen gegaan toe ek ’n boek oor globale georganiseerde misdaad geskryf het. Vir McMafia, daardie boek het ek ook na Suid-Afrika gekom. Daar is baie geskrewe materiaal beskikbaar in Engels oor Suid-Afrika. Die kompleksiteite, spanning en positiewe aspekte van Suid-Afrika se storie is dus beter bekend as die van Brasilië. Meeste mense weet net van die sokker, die samba en Ipanema, en so bietjie oor die krotbuurte van Brasilië. Toe ek daar was, het ek besef dié land is net so kompleks soos Suid-Afrika, al is dit in ’n ander formaat rakende kwessies soos ras en ongelykheid, want daar was nooit iets soos segregasie of apartheid in Brasilië nie. Waar die VSA ’n totaal van 5000 000 slawe van Wes-Afrika ingevoer het oor ’n periode van 300 jaar, het Brasilië meer as 5 miljoen ingevoer. Tog ken ons nie die verhaal van slawerny in Brasilië nie. Die impak daarvan in die gemeenskap was groot, alhoewel daar nie die onderliggende suspisie is wat in sekere dele van Suid-Afrika bestaan nie en beslis ook in die Suide van die VSA as ’n direkte gevolg van segregasie en apartheid. SA het ’n duidelike ekonomiese struktuur wat daargestel is deur die Europese immigrante wat hulle daar gaan vestig het. Vir Brasilië was die reënboognasie van vroeg reeds ’n werklikheid, want toe die Portugese die land gekolonialiseer het, het hulle geen vroue met hulle saam geneem nie. Die Portugese het van meet af kinders gehad by die inheemse vroue en later ook die slawevroue. Jy kry ’n ongelooflike spektrum van rasse diversifikasie, maar eknomies is dit ongelooflik gelaag. Meeste mense wat in die krotbuurte woon, is basies enigiets tussen swart en wit. Selfs in die favelas is daar ’n hiërargie. Hoe verder noord in Rio, hoe armer en swarter is die inwoners. Daar is al hierdie dinge en dan is daar boonop hierdie ongelooflike verhaal van geweld.

Watter verhaal van geweld?
Dis steeds skokkend om kinders van so jonk as 8 te sien AK47’s dra in die meer afgesonderde dele van die favelas. Toe ek in Rocinha gewoon het, selfs al was dit tot bedaring gebring en veronderstel was om uit die dwelmhandel te wees, was daar ’n sterk polisie teenwoordigheid.
’n Groot verskil tussen die townships en die favelas is dat die favelas ’n lewendige ekonomie het met restaurante, haarsalonne en klein fabrieke, waar daar in die townships byna geen ekonomiese aktiwiteite is nie. In die minder sentrale dele van die favelas raak dit vinnig arm en ellendig. As jy daar ingaan, doen jy dit op jou eie risiko, want jy sal gewapende kinders sien, wat steeds patrolleer en in dwelms handel. Hulle het gereeld skietgevegte met die polisie. Al is dit in bedwang gebring en al het die moorde afgeneem sedert Antonio se heerskappy, is daar steeds gevaarlike plekke waar geweld die botoon voer.

Hoe is die stad uitgelê en kom die inwoners met mekaar in kontak?
Dis die vreemdste ding, die favelas is reg in die middel van die stad met die meer gegoede buurte rondom. Mens sal dink dat niemand van hierdie fundamentele aspek van die Brasiliaanse gemeenskap kan ontsnap nie, maar ek sweer die gemeenskappe is op verskillende planete. Hulle is totaal onafhanklik van mekaar. Die enigste ding wat die gemeenskappe met mekaar konnekteer, is kokaïen. En natuurlik die feit dat die inwoners van die favelas as huisbediendes en tuiniers werk in die meer gegoede buurte. Ek wou presies hierdie onderwerp ondersoek, maar met ’n verstommende storie wat gedryf word deur ’n boeiende karakter en vandaar hierdie boek.

Hoe was Antonio se verhouding met die vroue in sy lewe?
Dit was een van die sentrale kwessies in die boek. Dit was ’n skynbare teenstrydigheid in dié man. Hy het hom ten doel gestel om die vlakke van openbare geweld, en verseker moord, in sy favela te bekamp. Toe ek met die vroue in sy lewe gepraat het, het hulle onthul dat hy dikwels gewelddadig opgetree het teenoor hulle, nie so gewelddadig soos ander mans wat hulle geken het nie, maar tog. . . In sy persoonlike lewe was hy vasgevang in die argaïese patriargale verhouding tussen mans en vroue in die favelas wat veroorsaak is deur verskeie redes. Hy was ’n getuie van huislike geweld en dit sit die probleem voort. Sy ma en pa was alkoholiste. Antonio het geglo sy pa was die goedheid self, maar sy halfbroer Carlos het sy pa gehaat. Antonio hou niks van Carlos nie en kon kwalik sy woede teenoor sy broer inhou. Tog, hoe dieper ek gedelf het, hoe meer het ek besef dat hy tog ’n besigheidsalliansie met hom gehad het. Hy het sy ma ook in die besigheid ingebring, alhoewel hy aanvanklik vyandig gevoel het teenoor haar. Hy het haar in sy vertroue geneem en aan die einde is sy die een wat regtig geweet het wat aangaan in sy lewe.

In die boek lyk dit asof jy baie empatie met hom het.
Ek het empatie vir sy situasie, want die geweld in die favelas is die staat se verantwoordelikheid. Die staat het hierdie mense in die steek gelaat, geen infrastruktuur, geen hulpbronne. Al wat daar is, is armoede, dwelms en geweld. So omgewing sal slegte mense skep. Ek was in ander favelas waar geweld die manier is om dit te beheer en dis skrikwekkend. In Antonio se geval besef hy dat hy steeds keuses het, al is hy in hierdie slegte omstandighede. Eintlik dink ek hy het meestal beter keuses gemaak as baie ander mense wat in dieselfde situasie was. Hy het verstaan hy het ’n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap. Hy het verkies om polisiemanne te korrupteer, eerder as om in skietgevegte met hulle betrokke te raak. Hier is ’n man, as hy ’n opvoeding gehad het, sou hy ’n baie suksesvolle entrepeneur wees. Hy het geen kwalifikasie gehad nie. Die enigste manier wat hy sy dogter se siekte kon hanteer, was om in dwelmhandel betrokke te raak. Ja, ek het empatie met hom. Almal wat in die areas werk, sal empatie hê met die situasie.