pomp
Boeke

Mooi en kreatief

Van julle sal seker nog jul eerste skooljare onthou, toe kunsvlyt nog deel van ons skoolleerplan was. Sjoe, hoe lekker gee ek nou my ouderdom hier weg … Maar ek is eintlik dankbaar vir daardie klassies, want dit het my geleer om iets met my hande te maak en ander mense wat dit regtig goed kan doen te bewonder. (Ek vermoed ek is soms te haastig en ongeduldig.) Dié week is daar op my leeslysie so ietsie van die beeldende kunste en die handwerk-arena. Geniet! Onthou om ons winkel op Kalahari.net te besoek vir aankope!

Pomp 09, uitgegee deur Hendrik Venter (Griffel, R230)
Ek was mal oor die eerste Pomp wat verlede jaar gepubliseer is en moes langer wag as wat ek gehoop het vir hierdie jaar se uitgawe. Wel, die wag was die moeite werd. Weer is daar ‘n klomp verskillende bydraes oor foto-joernalistiek, beeldhouwerk, argitektuur, digkuns, leefstyl, reis, kos en wyn. Lekker bydraes deur skrywers soos Henning Pieterse, Joan Hambidge, Erns Grundling, Deon Maas en ‘n swetterjoel ander skrywers. Wat meer wil mens in een boek hê. Hendrik Venter, die uitgewer sê: “Pomp is ‘n biblioteek van gedagtes. Kom ons behou ons speelsheid en kom pomp heerlik saam met ons, oud en jonk, tussen die linne – agge – sinne. Die intimiteit van lees is nié digitaal nie. Papier lééf! Kom ons wees ernstig oor die lewe, maar nie so ernstig oor onsself nie.” Al wat ek wil sê, is, hoera vir papier!

Titaan Titaan: ‘n Roman oor die lewe van Michelangelo Buonarotti, Karel Schoeman (Human & Rousseau, R310)
‘n Boeiende historiese roman wat die geskiedenis van dié kunstenaar se lewe in perspektief stel en ‘n oorsig gee oor hoe die mag van die pous en die kerk ingeweef was in die politieke – en kunstoneel. Michelangelo se lewe en werk word ‘n werklikheid in plaas van ‘n blote foto van sy Dawid -beeld of die plafonskilderinge in die Sixtynse Kapel. Die boek is in tipiese Karel Schoeman- styl geskryf, met baie beskrywings en nogal dokumentêr. Ek het beslis ‘n baie beter begrip van hoe moeilik kunstenaars se lewens daardie jare was. En hoe hulle van jongs af as vakleerling in ‘n gevestigde kunstenaar se studio moes begin werk. Michelangelo was maar twaalf toe hy as vakleerling begin werk het. En as mens dink hy het 98 jaar oud geword, dan was dit ‘n baie lang loopbaan as kunstenaar. Interessant is dat Michelangelo homself altyd meer as ‘n beeldhouer beskou het, maar dat dit sy skilderwerk van die Sixtynse Kapel was wat hom die meeste roem gegee het.
Zulu Basketry Zulu Basketry, Jannie van Heerden (Print Matters, R195)
Die boek bekyk die kuns van mandjie vleg oor die afgelope 15 jaar en fokus op die Zoeloe- kunstenaars van die Hlabisa- streek in Kwa-Zulu Natal. Ryklik geïllustreer met foto’s van die beste mandjies van meesterwewers met fassinerende profiele oor die kunstenaars. Die boek is ‘n waardevolle stukkie gereedskap, want dit het ook riglyne hoe jy mandjiewerk moet beoordeel vir kwaliteit en kreatiwiteit. Verder is daar ook ‘n lys van plekke waar jy kwaliteit-mandjies kan koop. Dit is vir my altyd jammer dat baie van die tradisionele handwerke besig is om verlore te raak, omdat jonger geslagte nie meer die vaardighede aanleer nie. Die uitsterf van die handvaardighede laat ‘n leemte in ons kultuur. ‘n Waardevolle boek met goeie navorsing en grondige inligting.
Sempé Highs and Lows, Jean-Jacques Sempé (Phaidon, R319,95)
Spotprente, veral goeies, oorskry die grense van tyd en taal. Fransman Sempè se spotprente is vir die bundel uitstekend vertaal in Engels deur Anthea Bell. Die spitsvondige blik wat Sempé op die moderne wêreld en sy dinge werp, sal jou ure amuseer. Die afgelope 40 jaar lewer hy gepaste sosiale kommentaar op die samelewing deur sy spotprente. Dis interessant dat die verkeer op paaie, oorbevolkte woonbuurte en besoedeling reeds vir baie dekades ‘n onderwerp is waarmee die spot gedryf word. En ons het gedink dis net ons samelewing wat nou probleme ondervind!
Boarding House
Roger Ballen: Boarding House,
Roger Ballen (Phaidon, R659,95)

‘n Moet-hê-boek vir versamelaars van kunsfotografie. Ballen is een van Suid-Afrika se toonaangewendste kunsfotograwe wie se werk in die permanente versamelings van verskeie oorsese museums opgeneem is. Hy werk in swart en wit en in dié versameling ondersoek hy die verganklikheid van ‘n losieshuis en die mense wat in so ‘n plek oorleef. Die alledaagse kry soms ‘n onnatuurlike gevoel, bloot uit hoe Ballen dit verbeeld. Die foto’s stem jou tot nadenke. Lank na jy die boek toegemaak het, maal die beelde nog in jou kop rond.