Boeke

Mooi, mooier . . . Miss Beautiful!

Miss Beautiful, Tamsen de Beer en Stan Engelbrecht (Day One, R390) is ‘n pragboek vol van die betiteldes. In haar voorwoord sê die voormalige Mej. SA, Basetsana Kumalo, die boek gaan oor meer as net skoonheid. Dis eerder ‘n eerbetoon aan menslike prestasie van deursettingsvermoë, vasberadenheid, selfvertroue, minsaamheid, goedheid, vrygewigheid, dissipline, vryheid van spraak en soms, net soms, asemrowende skoonheid.

Phyllis Green het met Tamsen de Beer en Stan Engelbrecht gesels oor die boek waaraan hulle twee jaar lank gewerk het.

Jy en Stan het een keer voorheen saamgewerk aan ‘n boek, jy as skrywer en hy as fotograaf. Nou weer, hoe so?
Ons het soveel pret gehad met ons eerste boek, African Salad, en was baie tevrede met die eindproduk van ons eerste saamwerksessies. Die sukses van dié boek het daartoe gelei dat ons besluit het om ‘n tweede aan te pak.

Ons is drie mense wat betrokke is by Day One-uitgewers: ek, Stan en Stephan le Roux. Die boek was Stephan se idee en ek en Stan het gekies om weer saam te werk. Die sinergie tussen ons is goed en my skryfwerk en Stan se foto’s vul mekaar perfek aan.

Ek en Stephan het ‘n seuntjie en soms kon ek nie van die skoonheidswedstryde bywoon nie en dan het Stephan maar ingestaan! Ek het op die ou einde sowat 80% van die geleenthede bygewoon en ook die opvolg-onderhoude gevoer. Dit was belangrik, want dis die essensie wat die langer stories in Miss Beautiful laat werk.

Hoe het die konsep van die boek onstaan?
Die idee het voortgespruit uit ‘n kreatiewe gesprek tussen ons drie. Stephan het James Blunt se ”You’re Beautiful” gehoor en besef almal is eintlik op hul eiesoortige manier mooi. Ons het toe begin kyk hoe ons die idee in ‘n boek kon verwerk. Ná hewige debatvoering en ‘n paar warm argumente het ons besluit dat ons buite-arbiters nodig het om skoonheid te beoordeel – en wie dan anders as die beoordelaars van bestaande skoonheidswedstryde!

Toe ons eers van wedstryd na wedstryd begin reis het, het skoonheid net as skoonheid amper sekondêr begin word en het die uitdaging gelê in die vasvang van die mens agter die deelnemer op die verhoog. Ons het eeder begin fokus op hul lewens en die saak wat hulle bevorder deur die wedstryde. Die foto’s reflekteer die magic, vreemdheid en die vele fasette van die hele skoonheidswedstryd-industrie.

Jy sê die boek gaan eintlik oor aspirasie?
Dit gaan eintlik oor die wense van ‘n klomp verskillende mense wat beter wil word as wat hulle is, om herken te word en beroemd te wees. Baie het ‘n prentjie van hulself in hul kop waarna hulle elke dag aktief streef – ‘n weergawe met die perfekte uiterlike en houding en die ideale manier van optree. Deur hierdie konstante strewe om die beste weergawe van hulself te word bereik baie van hulle op die ou einde tog hul doel.

Hoekom die naam Miss Beautiful?
Die werkstitel was oorspronklik Beautiful na aanleiding van James Blunt se liedjie. Toe word dit Mr and Miss Beautiful omdat daar so baie manlike deelnemers in die boek is. Ons het uiteindelik besluit op Miss Beautiful, want ons wou hê mense moet weet ons kyk na skoonheidswedstryd-skoonheid, eerder as enige ander soort.

Wat het jy uit die boek gekry?
Tamsen: Omdat ons twee jaar aan die boek gewerk het (tussen ander projekte deur), was dit vir my as skrywer ‘n uitdaging om die hele tyd stamina te behou en dieselfde toon deur die boek te behou. Ek wou ook hê dit moet ‘n good read wees, maar steeds met respek teenoor die verskillende karakters. Dis maklik om vinger te wys en te lag en op so ‘n manier vermaak te verskaf aan lesers, maar ek wou iets skryf waaroor ek nie skaam sou voel om dit aan die mense oor wie ek geskryf het te wys nie. Dis ‘n moeilike balans. Ons gee altyd ‘n boek aan almal wat daarin verskyn en ek moet hulle in die gesig kan kyk en kan staan by wat ek geskryf het. Vir ‘n skrywer is ‘n boek ‘n ontdekkingstog en waarop ons altyd hoop, is om lesers en die karakters saam te neem op die tog.

Stan: Soos met die meeste projekte wat ek doen, skep die mense wat ek ontmoet en afneem die mees lonende ervaring. Op ‘n praktiese en fotografiese vlak was Miss Beautiful baie anders as African Salad. Ek moes leer om vinnig te skiet tydens die skoonheidswedstryde, want omstandighede het die heeltyd verander en die wedstryde was baie verskillend van mekaar. Beligting was wispelturig en ek moes baie keer met ‘n flits skiet – iets waarvan ek nie hou nie – sodat ek in die dikwels donker en beknopte backstage-areas kon werk. Ek het die uitdaging geniet en ek het baie geleer oor my vermoëns om onder druk en moeilike omstandighede te kan werk.

Julle het regoor die land gereis. Wat was vir jou die interessantste plek?

 Tamsen: Ek het in ‘n blanke woonbuurt grootgeword en was in ‘n hoofsaaklik wit skool en het ook meestal blanke vriende. So elke gemeenskap en familie wat my uit my bekende SA waarin ek grootgeword het geneem het, was interessant. Die projek het my die voorreg gegee om mense en plekke te leer ken waarvan ek as kind afgesny was.


Stan:
Ek was Upington toe om Mr en Ms Dare af te neem by die Gemsbok Bikers Rally. Dit was groot pret, nie net die wedstryd nie, maar die hele naweek. Vreemd, fassinerend, weird, anders . . . my kind of thing.

Hoe het julle van al die wedstryde gehoor?
Ons het dit nagevors – uit plaaslike koerante, en ons het toerismekantore van klein dorpies gebel en gevra oor plaaslike feeste en wedstryde en natuurlik, die meeste hulp het gekom van die goeie ou internet.

Hoe het julle gekies wat om te dek?
Dit wat die interessantste geklink het en dit wat die uiteenlopendheid van Suid-Afrikaners wys.

Watter wedstryd onthou jy die beste?
 

Tamsen: Miss Swallows, die jaarlikse bikers rally-wedstryd.
 

Stan: Beslis die Mr en Miss Gay Sobantu-wedstryd in Pietermaritzburg. Die wedstryd se doel is om aan jong gay mans en vroue ‘n stem te gee en ook ‘n gevoel van selfrespek omdat hul leefstyl nie deur hul tradisionele gemeenskappe en families aanvaar word nie.

Is die Mej. SA wedstryd vandag nog relevant?
Beslis. Duisende meisies droom daarvan om in te skryf en te wen. Die kompetisie is ‘n barometer van die soort vrou wat deur die jare op ‘n voetstuk geplaas en vereer is. As jy terugkyk na die wedstryd se geskiedenis sien jy hoe dit die politiek van die dag gereflekteer het.

Wat ek oor die wedstryd geleer het, is hoe ‘n sterk persoonlikheid jy moet hê om Mej. SA te word. Die fisiese is die eerste vlak. Om daarna die wenner te kies gaan alles oor watter meisie tough genoeg innerlik is om dit te maak. As jy deur die finale kom, dan besef jy eers hoe baie jy kan bereik.

Vir die Suid-Afrikaanse publiek is dit ‘n instelling en ‘n jaarlikse ritueel. Dis een van die enigste glansgeleenthede in jou gemiddelde jaar en dis regtig ‘n demokratiese manier vir ‘n jong meisie uit enige agtergrond om die leer na persoonlike sukses te klim.

In die boek sê jy Miss Earth International word tans gereken as die grootste wedstryd ter wêreld. Hoe so?
Bloot oor die aantal nasionale deelnemers wat inskryf. Meer nasionale wenners skryf in as vir Miss Universe of Mej. Wêreld. Dit voel asof dié skoonheidswedstryde ‘n stappie verder gaan en van die deelnemers verwag om regtig iets met hul titels te bereik – dis nie so ydel, selfverheerlikend soos van die ander wedstryde nie. Dis ‘n aanduiding van die groen etiek van ons tyd.

Is deelnemers aan skoonheidswedstryde anders as mooi meisies wat ons in die strate sien?

Tamsen: Ja, hulle weet hoe om hulself te bemark. Hulle het ‘n duidelike visie van wat hulle wil hê en hulle het iets om te sê.

Stan: Almal se idee van ‘n mooi meisie in die straat sal verskil, maar ek dink dit neem ‘n sekere tipe persoonlikheid om vir ‘n skoonheidswedstryd in te skryf – ek dink nie dit het soveel te make met voorkoms nie.

Op ‘n ligter trant: As jy vir ‘n wedstryd kon inskryf, wat sou dit wees en waarom?

Tamsen: Supermom, want dis nóú my uitdaging – om die beste werk in die kortste moontlike tyd te doen, sodat ek genoeg energie oorhet aan die einde van die dag om nog ‘n kreatiewe ma te wees.

Stan: Jy gaan my nooit op daai verhoog kry nie – ek bly verkieslik agter die kamera!

Bestel die boek by www.missbeautiful.co.za of doen navraag by orders@dayone.co.za.