FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Moordverhale

Moordverhale is my kos. Ek kan myself maklik vir ’n hele naweek afsonder en moordverhaal na moordverhaal lees, sonder om verveeld of moeg te raak.

Ek hou spesifiek daarvan om skrywers van verskillende nasionaliteite te beproef en vind dit altyd baie interessant hoe skryfstyle en selfs die tipe moorde waaroor geskryf word, verskil. Die plotontwikkeling, beskrywing van scenario’s en selfs karakters word elke keer anders aangepak as waaraan ek gewoond is. Meeste van ons lees baie Amerikaanse en Britse moordverhale en soms kan mens ’n resep bespeur in die verhale – nie dat dit my weerhou om die verhale te lees nie! ’n Paar jaar gelede het ek vir die eerste keer werklik kennis gemaak met Sweedse en Noorweegse misdaadskrywers en was aangenaam verras deur hoe anders, en verfrissend, hulle skryf. Daarna het ek boeke deur skrywers uit Afrika en Indië gelees in een van my gunsteling genres. Onlangs beland ’n skrywer wat in Singapoer woon se boek op my lessenaar. Ek moes dit eenvoudig net lees. Nou ja, hieronder is my indrukke daarvan.

Onthou om ons elektroniese winkel op Kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Auntie Lee’s delights, Ovidia Yu (William Morrow, R162,93)
Hierdie is ’n ongewone speurverhaal, omdat dit nie volgens ’n Amerikaanse of selfs ’n Britse resep geskryf is nie. Die storie speel af in Singapoer en is nie konvensioneel in die sin dat dit oor ’n speurder of ’n polisieman gaan nie. Dis ’n gewone vrou, Aunty Lee, wat die speurwerk doen om ’n raaiselagtige moord op te los. Sy besit ’n restaurant, waarby haar seun en haar baie ambisieuse skoondogter betrokke is. Wanneer die lyk van ’n vrou op ’n strand naby aan haar eetplek uitspoel, begin sy dié raaisel rondom die moord ondersoek. Sy ken die vrou wat dood is, want sy was al by haar eetplek. Boonop laat haar ondersoek haar toe om anders te kyk na mense wat moontlik betrokke kon wees by die moord en ook wat die motief daaragter was. Aunty Lee is ’n goedige tantetjie, weliswaar onkonvensioneel, maar sy hou geen ooglopende bedreiging vir die moordenaar in nie. Ook nie vir die polisieman wat aan die saak werk nie. Die spanningslyn van die verhaal ontvou nogal stadig en die raaisel word stuk-stuk opgelos. Tog doen dit glad nie afbreuk aan die leeservaring nie, omdat die karakters wat die skrywer skets boeiend en interessant is. ’n Genotvolle debuut in een van my gunsteling genres. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Moord  en Roof – in die kop van ’n baasspeurder, Albert Blake (Tafelberg, R190)
Hierdie is die ware verhaal van Charles Miller, een van Suid-Afrika se topspeurders en beskryf die tydperk vanaf 1962 tot en met 1992. Deur ’n reeks onderhoude en verskeie gesprekke word Miller se loopbaan van dertig jaar en die omgewing waarin die polisiemanne van die destydse Brixton Moord en Roof-afdeling gewerk het, vertel.
Die verskillende moorde en misdadigers waarmee die speurders te doene gehad het, word duidelik beskryf, maar dis nie ’n boek wat klem lê op die fyn besonderhede van hoe die sake opgelos is nie. Dis ook nie ’n boek wat op politiek fokus nie, maar bloot ’n dokumentasie van 3 dekades van die polisiemag uit die oogpunt van ’n wit speurder.  “Ons het moordenaars gejag totdat hulle vasgetrek is. In daardie tyd het bitter min moordernaars weggekom.”
Miller was ’n ondersoeker in van die land se wreedste moorde en sy eie lewe was telkemale in gevaar. In ’n tyd waar die polisiemag nie bewus of toegerus was om na hul eie sielkundige welstand om te sien nie, sou jare se stres, trauma en druk van die media hul tol eis op dié dienaars van die gereg.
Die boek is in ’n gemaklike styl geskryf, so asof Blake met sy lesers gesels. Al lees die boek lekker, raak die gruwelmoordtonele wat Miller dag na dag moes aanskou soms te veel. Dis ontstellend om te lees van die wrede moorde en skokkend om te besef wat speurders alles moet verwerk. Die boek is egter ’n eerlike beskrywing van hoe dit was en dis ’n moet lees vir diegene wat hou van geskiedenis of vir mense wat belangstel in kriminologie. – Danica Steyn

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

First Daughter, Eric van Lustbader (Head of Zeus, R219)
Alli Carson wonder hoe sy haar twintigste verjaardag gaan vier. Sy wonder ook wat haar ouers vir haar geskenk gaan gee. Sy word omring deur veiligheidswagte, want haar pa sal binne twee weke as Amerika se president ingesweer word.
Alli word onverwags ontvoer en Edward Carson roep die hulp van ’n jarelange vriend, Jack McClure in. Die ontvoering moet ten alle koste van die media weggehou word. Hierdie gebeure neem Jack terug na die ongeluk waarin sy eie dogter Emma, Alli se kamermaat op skool, oorlede is. Hy worstel met vrae oor haar lewe en die feit dat hy altyd sy werk eerste gestel het.
Edward weet dat net Jack vir Alli kan vind en terugbring huis toe. Vir Jack is dit die geleentheid om vrede te maak met die verlede, maar hy sal ’n prys moet betaal. Die soektog na Alli neem hom terug na sy verlede en hy beleef weer sy eie ongelukkige kinderdae van hoe hy weggeloop het van ’n onstabiele huis. Sy grootste vrees is dat iemand sal uitvind hy is disleksies.
In sy soektog kom hy met ’n baie gevaarlike en koelbloedige man in aanraking, iemand wie se aksies so koud is as wat dit briljant is. Hy sal enigiets doen om sy doel te bereik. ’n Ongelooflike politieke spel word gespeel en mense word gemanipuleer om sekere doelwitte te bereik.
Aksie en politiek saam is ’n gevaarlike spel. Ek het die boek baie geniet. – Nicolene Carstens

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Settled Blood, Mari Hannah (Pan Books, R110)
Wanneer ’n jong meisie dood aangetref word naby Hadrian`s Wall, is dit nie lank voordat hoofspeurder Kate Daniels besef dis nie gewone manslag nie. Dit lyk asof die meisie baie ver geval het of baie ver gegooi is én sy het waarskynlik nog geleef toe sy die grond getref het.
’n Plaaslike sakeman meld sy dogter Jessica Finch as vermis aan. Het Kate die identiteit van die slagoffer gevind of is daar ’n moordenaar besig met ’n baie slinkse speletjie?
Die sakeman word genader om die lyk te kom uitken. Sy lyk op ’n druppelwater net soos sy dogter , maar is tot sy verligting nie sy dogter nie. Die slagoffer se ouers word opgespoor en hulle bevestig dis hul dogter Amy Grainger. Hulle is verpletter. Wat hulle verstom is dat sy nie haar eie klere aan het nie.
Kate se baas is goed bevriend met die sakeman wie sy dogter as vermis aangegee het. Dit veroorsaak geweldige komplikasies vir Kate.
Soos die ondersoekspan dieper delf, kom hulle op baie onwaarhede en geheime uit die verlede af. Terwyl Kate haar weg baan deur berge struikelblokke word Jessica Finch al langer as ’n week vermis. Gaan hulle haar betyds vind of gaan die moordenaar wegkom met die moord van twee belowende jong studente van dieselfde universiteit?
Maak jou gemaklik, want hierdie lekker spanningsverhaal gaan jy nie wil neersit nie. – Nicolene Carstens

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Split Image, Robert B. Parker(Quercus, R178,74)
Jesse Stone is die polisiehoof in Paradise. Hy is een van daardie Horatio Caine-karakters (dink CSI: Miami) wat nie veel sê nie en alles beantwoord met drie of minder woorde. Hy is onlangs geskei en besoek ’n sielkundige om helderheid te kry oor sy tekortkominge, waarvan een is om bietjie te diep in die bottel te kyk.  Twee moorde kort na mekaar in sy klein dorp hou hom besig. Die twee vermoordes is ’n misdaadbaas, Knocko, en sy handlanger, Ognowski.  Wat die moorde egter so interessant maak, is die feit dat Knocko getroud was met een van ’n identiese tweeling. En die tweelingsussies het konstant buite-egtelike verhoudings aangeknoop en dan bedmaats geruil sonder dat die betrokke mans dit besef het. Jesse Stone is ook in die beginstadium van ’n verhouding met Sunny, ’n private speurder. Ironies genoeg is sy ook besig om te herstel na ’n egskeiding.  Hulle vul mekaar egter baie goed aan, omdat hulle hul werk in gemeen het en van die begin af baie eerlik met mekaar is. Jesse trek die moordenaar wat die sneller getrek het vas, maar maak ook seker dat die eintlike skuldiges agter die moorde, ook aan die pen sal ry.
Hierdie lekker ligte speurverhaal lees baie maklik. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Police, Jo Nesbo (Random House Struik, R250)
Polisiebeamptes word lukraak in Oslo, Swede vermoor. Wat die moorde vreemd maak, is dat elke beampte grusaam vermoor word op die plek waar hulle jare tevore onsuksesvol was om ’n misdaad op te los. Die polisie stel ’n taakspan saam om die saak te ondersoek, maar tevergeefs. Hulle sit met hulle hande in hul hare. Harry Hole se hulp word in die saak benodig, maar hy het uit die polisie bedank. Hy gee nou klas by die polisie kollege. Teen sy beterwete word hy tog betrek by die ondersoek. Met sy insette vorder die saak, moontlike slagoffers word gewaarku en beskerm en ’n aantal verdagtes word ondersoek. Maar die ondersoek stel ook Harry en sy familie se lewens in gevaar. Sal hy die saak betyds oplos om meer verlies van lewens te keer? Nog ’n uitstekende speurverhaal uit die pen van Jo Nesbo. - Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Tell No Lies, Gregg Hurwitz (Penguin, R160)
Daniel Brasher werk vir maatskaplike dienste as ’n proefbeampte vir gevangenes wat op parool is. Een aand kry hy ’n brief in sy vakkie by die werk. Daniel se vakkie is reg onder die een vir uitgaande pos en hy is gewoond daaraan om die verkeerde pos te ontvang. Hy maak dit oop voordat hy besef dis nie aan hom geadresseer nie, maar wel aan ene Jack Holley. Binne is ’n nota met die volgende woorde daarop geskryf: ‘admit what youv done. or you will bleed for it. you hav til november 15 at midnite’.
Die sperdatum is reeds verby, maar hy en sy vrou, Christina ‘Google’ vir Jack Holley en vind uit dat hy vermoor is. Hulle kontak die polisie. Inspekteur Theresa Dooley ondersoek die saak. Daniel glo en hoop dat dit slegs die een brief is wat per ongeluk in sy vakkie beland het. Maar hy besef egter gou dit was net die begin, wanneer hy weer en weer briewe ontvang, geadresseer aan ander mense, maar met dieselfde boodskap. Daar is oënskynlik geen verbintenis tussen die slagoffers nie. Tot die dag wanneer hy besef sy vrou Christina is die skakel wat elkeen van die slagoffers in gemeen het. Dis ’n boeiende spanningsverhaal wat die leser aan die einde sal verras. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Cuckoo’s Calling, Robert Galbraith (Little Brown, R230)
Cormoran Strike, ’n private speurder, word deur John Bristow gehuur om sy aangenome suster, Lula Landry, ’n bekende model, se dood te ondersoek. Volgens die polisie het Lula selfmoord gepleeg. John glo dit nie. Alhoewel Strike glo dat die polisie korrek is, aanvaar hy die saak omdat hy die geld broodnodig het. Strike ondersoek die omstandighede en gebeure in die dae voor Lula se dood. Hy voer onderhoude met haar veiligheidswag, motorbestuuder, vriende en familie. Na ’n onderhoud met ’n buurvrou, Tansy, wat sê sy het gehoor hoe Lula met ’n man stry kort voor sy na haar dood geval het, begin hy wonder of Lula wel selfmoord gepleeg het. Die polisie glo Tansy nie omdat elke wooneenheid in die gebou klankdig is. Strike se gevoel is dat Tansy die waarheid vertel oor wat sy gehoor het, maar nie oor waar sy was toe sy dit gehoor het nie. Daar is ’n hele paar verrassings in die storielyn. Hierdie boek is deur JK Rowling geskryf, onder die naam Robert Galbraith. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Flaming June, Amanda Coetzee (Pan Macmillan, R195,89)
Die liggaam van ʼn jong vrou wat verdrink het, is gevind met ʼn  kneusplek in die vorm van ʼn voetspoor op haar rug. Die saak word aan Harry O’Connor, beter bekend as Badger toegeken. Soos Badger die saak ondersoek ondek hy die jong vrou was ʼn inwoner van die Connect Healing and Wellness retreat-rehabilitasiesentrum waarheen jongmense met probleme, veral vrouens, gestuur word vir rehabilitasie. Die sentrum word bestuur deur die Woodmore-tweeling.  Met die Woodmore-tweeling se verlede wat aan die lig kom, stapel daar al hoe meer liggame op. Dié tweeling stuur dienaars uit na hospitale om mense te werf vir hul kultus.  Badger word gedwing om een van sy jong polisievroue na die rehabilitasiesentrum te stuur waar sy haar voordoen as ʼn pasiënt, sodat hulle meer inligting oor die tweeling kan bekom. Wanneer nog ’n jong meisie ontvoer word,  besef Badger hy sal alle moontlike roetes moet volg om haar te red, voordat die moordenaar haar ook dood maak.
Die verhaal laat mens besef hoe maklik dit vir eensame en verwarde mense is om by ʼn kultus betrokke te raak.      – Tersia Steenkamp

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Deadly Harvest, Michael Stanley (HarperCollins, R160)
Nog ’n verhaal in die reeks boeke oor speurder Kubu Bengu van Botswana. ’n Klompie jong dogters verdwyn en ’n opkomende politieke figuur word vermoor. Toordokters word verdink. Dis Kubu en Samantha Khama, ’n nuweling in die kantoor, se werk om agter die kap van die byl te kom. Moderne metodes word verweef met ou tradisies. In hoe ’n mate sal politieke figure wat na roem smag, vertrou op die kragte en voorskrifte van tradisionele toordokters? Wie is die toordokter waaroor almal praat en wie almal vrees? Niemand het dié toordokter al ooit ontmoet nie. Die tergende vraag is: Hoe groot is sy invloed in die polisiemag? Sal Kubu en Samantha daarin slaag om hom te ontmasker?
Die spanning word tot op die laaste bladsy volgehou. Die verhaal vloei vinnig en slaag uitstekend daarin om die kulturele agtergrond van die rolspelers in ’n hedendaagse samelewing te plaas. Michael Stanley is die skrywersnaam van Stanley Trollip en Michael Sears wat al verkeie boeke saam geskryf het. As jy die vorige Kubu-verhaal, Death of the Mantis, geniet het, is hierdie verhaal ’n moet lees.–Gert Venter