Boeke

Top-5 rugbyboeke

Alhoewel al die boeke oor rugby gaan, is dit nie net vir manne bedoel nie. Dis vir alle liefhebbers van die sport. En as jy nog wonder oor ‘n Kersgeskenk vir die rugbyliefhebber in jou familie, kies gerus uit een van dié boeke. My rugbymal broers (daar is vier van hulle) gaan beslis boeke in hul Kerskouse kry!

Onthou om ons boekwinkel te besoek, as jy sommer aanlyn wil bestel.

Captain in the Cauldron, John Smit saam met Mike Greenaway (Highbury Safika Media, R229)
Een van die indrukwekkendste dinge wat John Smit in sy boek sê, is: “I believe the one thing that has helped me sustain longevity has been the ability to do regular reality checks to remind myself what an artificial place the world can be. I realised early on stardom isn’t the real world.” Hierdie aanhaling is ook van toepassing op sy boek. Dis plat-op-die-aarde geskryf, sonder mooipraatjies en tierlantjies. Dis reguit en op die man af en vertel sy rugbystorie van sy kinderdae af. Hy draai nie doekies om oor gebeure soos die berugte Kamp Staaldraad nie. So beskryf hy die plusse en die minusse van alles wat gebeur het. Hy praat openlik en eerlik oor afrigters en spelers, sonder om enigeen te na te kom. Dan is daar sy rol as kaptein en sy rol in die span en hoe hy gesien word in die media. Deur dit alles bly hy daai reality check doen en daarom is dit een van die lekkerste rugbyboeke wat ek al gelees het.

Joost: Spieëlbeeld Joost: Spieëlbeeld, David Gemmell (Zebra Press, R189,95)
Teen hierdie tyd het die meeste mense reeds uittreksels uit die sensasionele laaste hoofstuk van Joost se boek gelees. Maar dit is beslis nie al waaroor die boek gaan nie. Daar is reeds ‘n volledige rugbybiografie gepubliseer oor Joost se loopbaan nadat hy uitgetree het. Spieëlbeeld vertel wat verder in Joost se lewe gebeur het en gee meer besonderhede oor sy verbrokkelde eerste huwelik en egskeiding, sy troue met Amor en gesinslewe en sy tweestryd met die media oor sy openbare beeld. Sy rugbyloopbaan en afrigters onder wie hy gespeel het, vorm ook ‘n basis vir die vertelling. Een van die interessantste aspekte vir my is die hoofstukke waarin die skrywer Gemmell sy persoonlike kommentaar oor Joost, die skryfproses en ander mediagebeure gee. Dit skilder ‘n ander beeld van die Joost as dié wat geskep is deur sy beeld in die media oor die onlangse gebeure. Die Afrikaanse vertaling deur Chris Chameleon is puik. Die boek is ook in Engels beskikbaar as Joost: The Man in the Mirror.
Invictus Invictus, John Carlin (Atlantic Books, R154)
Carlin was van 1989 tot 1995 in Suid-Afrika die hoof van die kantoor van die Londense koerant, Independent. Die boek kyk terug na die gebeure rondom die 1995-Wêreldbeker. Die rol wat rugby gespeel het in die politieke veranderinge in die land word uit verskillende oogpunte beskryf. Daar is onderhoude met Nelson Mandela, Francois Pienaar, Hennie le Roux, die Springbokke se bestuurspan, lyfwagte van die president, ministers uit die ou bedeling, genl. Constand Viljoen, ANC grootkoppe en ander politieke aktiviste. Al is die dryfveer van die boek die politiek, voel dit nie so wanneer jy dit lees nie. Die gesprekke met die mense maak dat daar ‘n baie persoonlike element van die verskillende rolspelers na vore tree en die verhaal “mens” maak. Enigeen wat dieper belangstel in die impak wat rugby in die Suid-Afrikaanse samelewing het, moet beslis die boek lees. Die verhaal is ook eersdaags op die silwerdoek te sien met Morgan Freeman as Nelson Mandela en Matt Damon as Francois Pienaar. Clint Eastwood is die regisseur.
Between the lines Between the lines, Matthew Knight (Penguin Books, R224)
‘n Ongewone kykie na die oorsprong van baie van die mense wat betrokke was, of steeds is by rugby in Suid-Afrika. Knight het ‘n reis onderneem na al die skole in die land wat deur die jare betrokke was in die ontwikkeling van die spel. Sommige vertellings is anekdoties oor figure soos die legendariese dr. Danie Craven, Oubaas Markötter en Paul Roos. Ander is persoonlike onderhoude met onder andere Nick Mallett, Mark Andrews, Edward Griffiths en Hugh Bladen. Die teelaarde van rugbytalent is skole en die boek onderstreep net weer die belangrikheid wat ontwikkeling van sport op skoolvlak het tot latere sukses van baie sportmanne.
Pride restored Pride Restored, the inside story of the Lions in South Africa 2009, Mick Cleary (Corinthian Books, R284)
Alles wat jy wil weet oor wat dit is om ‘n Britse Leeu te wees, wat die tradisie is en wat dit beteken om in Suid-Afrika te kom toer, word in die boek uitgespel. Dit gee ook ‘n diepte-analise van die 2009-toer volgens elke wedstryd met besprekings van strategie, oefeninge, wedstrydplanne en sleutelspelers. Oor elke wedstryd wordook kommentaar gelewer deur spelers en afrigters van die Leeus en die Springbokke. Die boek word afgesluit met al die toer-statistieke.