FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Nadia Davids oor haar debuut as romanskrywer

Vir Nadia Davids begin goeie stories by families. En in haar debuut skryf sy oor ’n baie interessante familie, een met wie Suid-Afrikaners beslis kan identifiseer.

an imperfect blessingAn Imperfect Blessing (Umuzi, R240) is die Dawoods, ’n uitgebreide Moslemfamilie in die Kaap, se storie en word deur twee tydslyne vertel. Die eerste tydlyn begin in 1993 en word deur die tienersusters Alia en Nasreen vertel. Deur hulle oë sien jy alles wat gebeur, hoe die verskillende familielede met mekaar oor die weg kom. Die ander tydlyn speel af in 1986 tydens die Noodtoestand en word hoofsaaklik vertel deur die susters se oom, Waleed. Hy is betrokke by die politiek, maar ondergronds. Sy vertelling verduidelik ook wat die politieke verwagtinge was van al die betrokkenes en hoe almal verskillend gereageer het op dit wat gebeur in die politiek. Nie net is politiek een van die tema’s nie, maar ook geslagkwessies en kultuur speel ’n groot rol in die verhaal. Wat die boek spesiaal maak, is die manier waarop die verhoudings geskets word, subtiele gebruik van ’n paar woorde skep ’n volledige prentjie van die eierdans tussen die karakters. Dis die gewone dinge waarmee die karakters besig is, skool gaan, werk, kos kook, na ’n familietroue gaan, ’n klub besoek – dis wat vorm aan die verhaal gee. Deur die gewone ervaar jy eintlik die ongewone. Dit kon net sowel my familie wees waaroor Davids geskryf het. ’n Verfrissende debuut wat jou lank tot nadenke stem.

Hoe het jou reis met skryf begin?
Ek wou nog altyd ’n skrywer wees. Ek word dikwels gekategoriseer as ’n toneelskrywer, maar ek dink nooit aan myself as een nie. Ek het net twee professionele drama’s geskryf. Ek wil in verskillende genres skryf en die storie bepaal dikwels hoe dit vertel wil word. Party goed wil opgevoer word en het die uitsonderlike lewendigheid van ’n verhoogproduksie nodig. Ander goed wil kortverhale wees en ander weer akademiese artikels. Ek wou nog altyd ’n roman skryf en wou die alleenheid en intimiteit wat daarmee gepaardgaan ervaar. Ek het ook nou my eerste volwaardige voltydse werk by die universiteit waar ek klas gee en kan nie meer aan groot produksies van vier tot vyf weke werk nie. Ek wou iets aanpak wat ek teen my eie pas en in my eie tyd kon doen.

Is jy ’n gedissiplineerde skrywer met ’n streng skryfroetine?
Nee, ek wens ek was. Ek skryf nog alles met die hand en daarna tik ek dit en redigeer sommer terselfdertyd. As ek tyd gehad het, sou ek elke oggend vroeg wou opstaan om te skryf. Dis die tyd wanneer ek op my produktiefste is. Ongelukkig is dit nie moontlik gedurende die universiteitstermyn nie.

Was dit ’n maklike oorgang van korter skryfwerk na die langer formaat van ’n roman?
’n Roman is ’n mal ding in my ervaring, veral as jy ’n lang ene skryf. Dis onmoontlik om die hele verhaal in jou kop te hou. By my is dit ’n baie organiese skryfproses. Ek het die einde van die storie reeds ’n paar jaar gelede geskryf, toe ek al so paar hoofstukke in die verhaal was. Ek het geweet waar ek gaan eindig, maar ek het nie geweet hoe ek daar gaan kom nie. Daarna het ek op ’n liniêre wyse geskryf. Daar was ’n oomblik toe ek nie seker was waar die 1986-seksies moet gaan nie en dit het moeilik geword om die twee paralelle verhale te onderhou, terwyl ek die vraag moes oplos. Die hele punt van die twee parallele storielyne is hoe die geskiedenis uitspeel teen die hede en hoe daar wrywing ontstaan tussen die twee en hoe die tweede verhaal koppel met die primêre een.

Wat het jou geïnspireer om die verhaal te skryf?
Ek het nog nie iets gelees wat op so manier na daardie tydperk kyk nie en ek wou ook iets van my eie ervaring deel. Ek het ook baie tyd weg van my huis in Suid-Afrika spandeer, ongeveer vier jaar, en het gevind hoe meer ek beskryf het hoe dit was om groot te word in die land in daardie tyd, hoe meer bisar het die land geklink. Ek dink ook die verhaal is ’n manier om dit aan myself te verduidelik en om op ’n manier sin van daardie tyd te maak. Ek wou ’n familieverhaal skryf, want ek dink families is die setel van alle literatuur op soveel maniere. Familie-dinamika is die een ding wat ons almal in gemeen het.

Hoeveel het jy op jou persoonlike ervaring staatgemaak vir die storie?
Al my werk maak staat op outobiografie, of dit nou emosionele outobiografie is, ’n spesifieke gevoel wat ek op ’n spesifieke oomblik gehad het en wat ek verwerk in ’n heel ander konteks om vir ’n karakter gevoel te gee. Soms gee die buitelyn van ’n regte mens geboorte aan ’n karakter. Dis baie soos om eers die raam te kies voordat jy weet watter skildery daarin gaan pas. Jy skep ’n buitelyn en dan begin jy dit volmaak met jou eie goed. As daardie belangrike oomblikke nie gebeur nie, dan sal ek die karakter sommer los, want ’n karakter mòèt ’n lewe van sy eie aanneem. Hy moet aanbeweeg en ontwikkel weg van die mens waaruit hy begin het. Daar is drie karakters in die boek wat op regte mense gebaseer is en die res is heeltemal fiktief.

Hoe het jy aan die titel, “An Imperfect Blessing” gekom?
Van Rustum Kozain se gedig, The Blessing. Ek wou hierdie roman skryf in reaksie op hierdie gedig. Die gedig gaan oor ’n roerende polemiek tussen ’n ma en dogter waarin die ma probeer om Kaapstad en sy geskiedenis te verhaal aan die dogter. Die titel leen daarvan, maar in 1993 was daar ook baie praatjies oor die wonderwerk van Afrika en ek dink nie dit was ’n wonderwerk nie. Dit was iets waarvoor in bloed, sweet, trane en opofferings betaal is. So hierdie idee van ’n wonderwerk blyk “an imperfect blessing” te wees.

Politiek en kultuur speel ’n groot rol in die verhaal. Nick maak die volgende stelling op bl.110: “What is it about South Africans that makes them think it’s okay to laugh about fucked-up shit?” Dink jy dis regtig so?
Ons lag oor fucked-up shit. Ek het ’n Afrikaanse vriendin wat die boek gelees het en sy sê wat haar verstom het is hoe eners meeste Afrikaner-families is. Daar is soortgelyke familiegevegte, rebellies, weerstand, asook passie soortgelyk aan die in die verhaal. Die manier hoe mense kultuur en politiek mobiliseer, deur die bank, om dinge te verskoon.

Die politieke verwagtinge van mense is een van die onderliggende temas. Het jy dit so bedoel?
Ek dink ek wou nie. Toe ek die verhaal begin skryf het, was daar nie ’n groot politieke herdenking wat voorgelê het nie. Ek het nie gedink dit sou my so lank neem om die boek te skryf nie. Ek wou nie skryf met die voordeel van hindsight nie. Ek wou myself soveel moontlik verdiep het in daardie oomblik. Ek kon maklik daarin verval het om met ironie te skryf. Ek wou net daardie ongelooflike optimisme van die oomblik vasvang, eerder as die idealistiese. Daar is realisme in optimisme, wat sê hierdie ding is moeilik, maar ek bly optimisties. Vir mense om neerhalend oor daardie tyd te wees, is idealisties. Dis ’n siniese manier om daardie tyd uit te beeld. Dis soos om te sê mense lag dit wat moeilik was net af. Maar niemand kan die erns en moeilike tye net aflag nie. Dit was uitsonderlik moeilik.

Daar is nogal heelwat kwessies oor geslag ingeweef in die verhaal.
Ek is so bly jy haal dit op. Baie mense sal net daarop fokus dat die verhaal oor ‘n Moslem-familie gaan en daarom sal hulle spesifiek aandag moet gee aan geslag en patriargie. Maar ek dink in Suid-Afrika is dit iets wat oor alle rasse, kulture en godsdienste strek. Ons het ’n baie militaristiese- en patriargale gemeenskap en dit kom na vore in verhoudings met mans. Dis nie maklik om te hanteer nie. Suid-Afrikaanse vroue het dit nie maklik nie.

Was dit moeilik om ’n subtiele prentjie van die wantroue tussen mense te skets?
Die hart van die boek gaan oor verhoudings. Dis moeilik om lief te hê, om geliefd te voel, oor hoe ons met mekaar verkeer, hoe ons met mekaar praat. Die kruks is dat ons van ’n land kom waar verhoudings vir lank deur wette gereguleer is. Dis amper onmoontlik om iemand ten volle te ken as hulle van ’n ander plek as jy kom, hulle is die onkenbare. Dis die wegspringpunt, en hulle wêreld is onbekend. Jy moet hard werk om verby al hierdie dinge te kom tot waar julle net twee mense saam in ’n vertrek kan wees. En is julle ooit net twee mense in ’n vertrek? Dis die tipe vrae waaroor ek wou skryf.

Die verhoudings en gewone lewe, dink jy dis waar die ware verhaal eintlik lê?
Ja. Ek dink dit gaan daaroor om die gewone terug te win. Hier in Suid-Afrika, maar ook elders, is ’n baie sterk klem op ikone en groter as die lewe-figure. En dit is reg en gepas. Maar daar is ook derduisende ander stories waar gewone mense dinge deel en eie met mekaar kan voel – waar ordentlikheid die grondslag tussen mense is.

Wat wil jy by lesers laat oor jou boek?
Ek wil hê hulle moet ’n genotvolle ervaring hê. Hulle moet lag, huil en empatie voel en aangeraak voel deur die karakters en die storie.