Boeke

Naelbyt verhale

Dit het my opgeval hoeveel mense ek ken wat verslaaf is aan die genre. En dis amper ‘n kwessie van, as jy wil saam praat, moet jy immers iets weet van hoe moorde opgelos word in die werklike lewe. Gelukkig is daar deesdae ‘n swetterjoel televisiereekse wat op die forensiese sy van misdaad fokus! Dit help dat lesers wat nie spanningsverhale lees nie, lekker kan bluff met die kennis wat hulle so opdoen. Ek moet bieg, ek is wel ‘n verslaafde en lees graag ‘n gruwelike moordstorie of een van daardie verhale wat maak dat jy jou naels tot in die lewe afkou. Hierdie week het ‘n paar ander lesers gesorg vir my top-5, maar dis almal boeke wat ek self sal wil lees. Hoop julle voel ook so.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

 

Tou, Piet Steyn (Tafelberg, R195)

Dis ‘n lekkerlees spanningsverhaal. ‘n Groep militante, Hof onder die Kruis, begin neem die gereg in eie hande. Plaasmoordenaars en ander misdadigers word aangekeer, verhoor, skuldig bevind en tereggestel deur hulle op te hang. Dit is ervare polisieman Pine Pienaar se werk om die militante groep aan te keer. Die verhaal speel af in die goudvelde van die Vrystaat en in die strate van Johannesburg. In hierdie saak is die publiek se simpatie nie altyd by die gereg nie en ‘n moontlike mol en korrupsie in die polisie se geledere help ook nie om sake te vergemaklik nie. Die spanning word op vele vlakke gebou en Steyn slaag meesterlik daarin om die spanning enduit vol te hou. Situasies, verhoudings, karakters en gebeure word baie getrou uitgebeeld en weerspieël die huidige toestand in Suid-Afrika akkuraat. Lees die boek, jy sal aanklank vind by die gebeure en tot op die einde wonder wie eintlik die skuldige is. – Gert Venter

 

 

Daemon

Daemon Daniel Suarez (Quercus,  R209,95)

Daemon, ‘n rekenaarprogram, is geskep om op die agtergrond te funksioneer en opdragte uit te voer. Die program is geskep deur Matthew Sobol, skepper van rekenaarspeletjies soos ‘Over the Rhine’, wat sterf aan breinkanker. Na sy dood word werknemers van sy maatskappy ‘Cyberstorm’ op bisarre wyse vermoor. Die polisie-ondersoek word gelei deur Peter Sebeck. Kort voor lank besef Sebeck dat ‘Daemon’ verantwoordelik is vir die moorde en dat die program die vermoë het om lewens te verander en selfs te neem.

Wanneer hy sy bevindinge bekend maak, word dit met ongeloof begroet, maar dan besef die wêreld hy is reg. Die mensdom staan nou voor ‘n keuse: Beveg ‘n onsigbare monster of leef in ‘n wêreld waarin ons geen sê of mag het nie. ‘n Spannende moordverhaal  vol intrige wat jou ‘n kykie in ‘n baie interessante alternatiewe wêreld gee.   – Karien Labuschagne

 

 

End Games

End Games, Michael Dibdin (Faber and Faber, R99,95)

Aurelio Zen neem tydelik waar as polisiehoof in die Cozenza-provinsie van Calabria, Italië. Hy is aangestel nadat die regte polisiehoof homself in die voet geskiet het terwyl hy sy dienspistool skoongemaak het. Wat aanvanklik ’n roetine-verplasing moet wees, is alles behalwe roetine wanneer die verteenwoordiger van ‘n Amerikaanse filmmaatskappy verdwyn. Aanvanklik lyk dit of hy ontvoer is, maar as hy is, waarom is daar nog geen losprys geëis nie? Dan word sy lyk gevind. Tydens die ondersoek kry Zen te doen met die stilswye van ’n tradisionele gemeenskap en hul wantroue teenoor buitestaanders.

Boonop word sy ondersoek verder bemoeilik deur die filmmaatskappy wat bymotiewe het. Alhoewel hulle sê hulle is op soek na ’n gepaste terrein om ’n film te skiet, is hulle in werklikheid op ’n skattejag. In die geheim probeer hulle ’n legendariese skat vind. Die speurverhaal is vol intrige en geheime. – Karien Labuschagne

 

 

Hollywoon Moon

Hollywood Moon, Joseph Wambaugh (Quercus, R194,95)

As jy van grinterige polisieverhale hou, soos ek, dan is hierdie ‘n genotvolle leeservaring. Die verhaal volg die polisiemanne en -vroue van die Hollywood-polisiestasie in Los Angeles. Die polisie se verhaal word verweef met die verhaal van twee onbeduidende swendelaars wie se lewens ewe skielik bedreig word as hulle onwetend hulp kry van ‘n reeks-seksaanvaller. Die glansryke boulevards en smerige agterstrate van Hollywood vorm die landskap waarin die aksie plaasvind, maar dis die ryk beskrywing van die karakters wat jou sal boei. Dis ‘n onderhoudende lees van die eerste tot die laaste bladsy.  – Julia Boltt

 

 

Red Wolf

Red Wolf, Liza Marklund (Random House Struik, R 215)

Annika Bengtzon is ’n joernalis wat ’n reeks artikels oor terrorisme in Swede skryf. Een van die artikels waaraan sy werk, gaan oor die 30-jarige herdenking van die aanval op die lugmagbasis in Luleå waarin ’n aantal gevegsvliegtuie opgeblaas is. ’n Kollega in Luleå wat inligting aan haar verskaf, sterf in ’n tref-en-trap-ongeluk. Kort voor lank besef sy dit was allesbehalwe ‘n ongeluk, maar moord. Nog moorde volg. Die polisie kan die moorde nie met mekaar verbind nie, omdat die modus operandi van elke moord verskil. Annika ontdek egter dat elkeen van die vermoordes se naasbestaandes ’n handgeskrewe brief kort na die vermoordes se dood ontvang het. Wanneer sy ontdek dat al die moorde verband hou met die aanval op die lugmagbasis is haar lewe op die spel. Die tempo van die speurverhaal is aanvanklik stadig. Maar as jy eers in die storie is, vloei  die verhaal goed. Marklund is Sweeds en sy kyk anders na misdaad en die ontknoping daarvan. Haar styl is een waaraan jy eers moet vat kry, want dis nie volgens ’n Amerikaanse resep geskryf nie. Miskien het dit ook iets met die vertaling uit Sweeds te doen. – Karien Labuschagne