Boeke

Naelbytverhale

Wanneer die onverwagse gebeur en goed opduik wat jy glad nie kon voorspel nie, maak dit vir boeiende leesstof.

Hierdie week het ek ‘n klompie boeke gekies waarin die verhale sulke onverwagse draaie loop. Wat my altyd tref wanneer ek sulke naelbytverhale lees, is hoe waarskynlik en geloofwaardig is die gebeure wat beskryf word. Die scenarios wat uitgestippel word, kon met enigeen gebeur, want in die meeste gevalle is dit redelike alledaagse gebeure met uitsonderlike gevolge. Dis eintlik skrikwekkend om te dink ek lees hierdie boeke vir ontspanning. ‘n Moontlike rede waarom ek verslaaf is aan hierdie soort verhale, is die verligting wat ek elke keer voel dat wat met die karakters gebeur nie met my gebeur het nie!

Onthou om ons elektronieseboekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

The Shining Girls, Lauren Beukes  (Umuzi, R180)
Laat ek nou maar eerlik wees, ek is gek oor hierdie boek. Lauren Beukes weet hoe om te skryf en jy kan nie help om meegesleur te word deur die verhaal nie. Dis ‘n vreemde verhaal waarin “time-travelling” die kernrol speel. Die hoofkarakter, Harper Curtis, ontdek toevallig ‘n huis met ‘n skokkende geheim. Die huis laat dié reeksmoordenaar toe om na willekeur tussen die hede en die toekoms te beweeg om sy slagoffers spesiaal uit te kies en te vermoor en sy bisarre leefstyl na te volg.  Waarmee hy nie rekening gehou het nie, is dat een van sy slagoffers oorleef het en hom nou probeer opspoor met die hulp van ‘n afgematte joernalis. Die joernalis het oorspronklik verslag gelewer oor haar saak en hy is haar laaste uitweg, want die polisie dink nie daar is meer ‘n saak om op te los nie. Al wat ek kan sê is lees die boek en jy sal verstaan waarom ek so baie daarvan hou. Dis ‘n boek wat jy nie maklik in ‘n boksie kan druk nie, want dis ‘n spanningsverhaal, speurverhaal en bietjie sci-fi in een. Beukes verdien al die sukses wat haar toekom vir haar skryf werk en ek hoop dat die rolprent sommer vinnig die lig sal sien.

 

rose_petal_beach_300wThe Rose Petal Beach, Dorothy Koomson (Quercus, R247)
Nes jy dink jy weet wie en wat die karakters in hierdie verhaal is, verras hulle jou met ‘n nuwe sinistere geheim wat onthul word. Die mense is nie wie jy dink hulle is nie. Tamia Challey het hard gewerk om iets te bereik in haar lewe. Ten spyte van teenkanting van haar familie, trou sy met Scott. Alles gaan klopdisselboom, totdat die polisie Scott by die huis in hegtenis neem voor hul twee klein kindertjies. Om alles te kroon lyk hy glad nie verras hierdeur nie.

Tamia vind uit hy word daarvan beskuldig dat hy ‘n vrou probeer verkrag het. Erger nog, die vrou is haar beste vriendin Mirabelle. ‘n Verhaal waarin vele kinkels en kabels ontvou en Tamia moet kophou om by die waarheid uit te kom, sonder dat sy haar eie identiteit in die proses verloor. ‘n Boeiende en meesleurende verhaal met ‘n verrassende einde.

 

blue_blood_300wBlue Blood, Sara Blaedel (Sphere, R145)
In Kopenhagen, hoofstad van Denemarke, word Susanne Hansson vasgebind en wreed aangerand. Aanvanklik huiwer sy om oor haar aanranding te praat. Inspekteur Louise Rick wen stelselmatig Susanne se vertroue en bou ‘n verhouding op met haar. In haar ondersoek vind sy dat Susanne haar aanvaller via die internet op ‘n ‘dating’ webblad ontmoet het.

In die daaropvolgende weke ontwikkel ‘n patroon van vroue wat deur die aanvaller geteiken word en kort voor lank  lei ‘n aanval tot die dood van die slagoffer. Louise skep vir haarself ‘n profiel op verskeie van die ‘dating’ webblaaie. Sy stel haarself in moontlike gevaar wanneer sy sonder enige ondersteuning op ‘n afspraak gaan.  Die boek boei tot die einde en stuur koue rillings teen jou ruggraat af, want dis ‘n kontemporêre kwessie wat relevant is. – Karien Labuschagne

 

calculated_in_death_300wCalculated in Death, JD Robb (Piatkus, R256)
Luitenant Eve Dallas lei die ondersoek na die moord op Marta Dickenson. Die moordtoneel is opgestel om na ‘n roof, wat verkeerd geloop het, te lyk. Maar Eve word nie hierdeur geflous nie. Daar is verskeie verdagtes, maar geen motief nie. Sy en haar kollega, speurder Delia Peabody, ondersoek elke verdagte se lewe en agtergrond.  Eve se man, Roarke, help haar om die geldspoor  na te speur en so ‘n motief te probeer vind.

Eve besef  hulle is op die regte spoor wannneer daar verskeie pogings op haar en Peabody se lewens is. Hierdie spannende speurverhaal is vol aksie.  Alhoewel die leser weet dat Eve en Peabody elke keer hul man gaan kry, is die verhaal nie voorspelbaar nie. – Karien Labuschagne

 

gone_missing_9781447202158_300wGone Missing, Linda Castillo (Macmillan, R178 )
Wanneer drie Amiese tieners vermis raak, word polisiehoof Kate Burkholder genader om hulp, omdat sy self eens op ‘n tyd deel van die Amiese gemeenskap was.  Die Ohio Bureau of Criminal Identification and Investigation (BCI) hoop die ouers sal bereid wees om met haar te praat juis oor haar Amiese agtergrond. Kate moet weer saam met agent John Tomasetti van die BCI werk. Aanvanklik word vermoed die kinders het weggeloop omdat hulle gerebelleer het teen die streng tradisies van die Amies. Maar nou blyk dit egter  hulle is ontvoer.

Wanneer Sadie Miller, ‘n familielid van Kate verdwyn, word die saak persoonlik.  Dis ‘n heerlike spannende speurverhaal wat boei tot aan die naelbyteinde. – Karien Labuschagne

 

last_to_die_300wLast to Die, Tess Gerritsen (Random House Struik, R215)
Speurder Jane Rizolli en forensiese patoloog Maura Isles span oudergewoonte saam om aan ‘n saak te werk. Drie kinders wat mekaar nie ken nie, word bymekaar gebring deur uitsonderlike omstandighede. Twee jaar nadat elkeen van hulle se ouers vermoor is, word hul pleegfamilies ook vermoor. Die kinders word geplaas in Evensong, ‘n skool vir getraumatiseerde jongmense. Maura is juis op pad daarheen om vir die 16-jarige Julian ‘Rat’ Perkins te gaan kuier.

Sy en Julian het tydens ‘n vorige saak ontmoet en het ‘n band gevorm. Die skool is afgeleë en het al die nuutste in alarmsisteme en beskerming, maar word die kinders regtig hierdeur beskerm? Kom die gevaar van buite of is dit reeds binne die skoolterrein? Gerritsen se boeke in die Rizolli en Isles-reeks is altyd opwindend en hierdie een stel nie teleur nie. – Karien Labuschagne

 

darts_of_deceit_cover_6_3rd_edit_300wDarts of Deceit, Wilf Nussey (Rebel ePublishers, R289)
Victor Kennedy, ‘n ervare maar platsak oudsoldaat van Zimbabwe, word deur Hugh Alcock, politieke konkelaar en biljoenêr, gehuur om sy vermiste seun in suidelike Afrika op te spoor. Daar’s egter heelwat meer as net ‘n vermiste seun betrokke. Dìt kom Victor eers agter as hy reeds te diep by ‘n politieke konkelary betrokke is om te kan omdraai. Hy word betrek by ‘n plan van die Russe om chaos in suidelike Afrika te veroorsaak. Die twee vermiste kernmissiele van die Russe word opgespoor en buite aksie gestel enkele sekondes voordat dit tot die dood van honderde mense en chaos in die substreek sou lei.

Alhoewel die verhaal fiktief is, word die gebeure baie realisties teen die agtergrond van die politieke onstabiliteit van die laat 1980’s uitgebeeld en kon dit net sowel werklik gebeur het. Nussey is ‘n ervare joernalis met meer as veertig jaar ondervinding in die koerantwese. Hy was onder meer die buitelandse korrespondent vir die Argus-groep tydens die oorgangstydperk ná onafhanklikheid in Afrika. Dis sy sesde boek. –Gert J. Venter

 

inferno_300wInferno, Dan Brown (Random House, R299)

Professor Robert Langdon word in ’n hospitaal in Florence, Italië wakker met geen idee van hoe hy daar beland het nie. En voor hy kan onthou wat gebeur het, is hy besig om saam met ’n beeldskone, blonde dokter, Sienna Brooks, te vlug vir sy lewe. Hy ontdek iets in sy baadjiesak wat hom op ’n reis deur Florence neem terwyl hy leidrade volg wat in Boticelli se skildery Map of Hell, geïnspireer deur Dante se epiese gedig Inferno oor die hel, versteek is. En dit als terwyl hy gejaag word deur ’n sluipmoordenaar op ’n bromponie, die Italiaanse weermag én sy eie regering!

Soos in sy vorige boeke, veral The Da Vinci Code en Angels & Demons, neem Dan Brown jou op ’n aksie-belaaide reis deur die Italiaanse geskiedenis en jy voel of  jy ook saam met Robert en Sienna die raaisel stuk vir stuk oplos. Omdat Brown ook so goed navorsing doen vir al sy boeke, leer jy sommer ook baie interessante feite oor Dante, Boticelli, die kunstenaar Michelangelo en die geskiedenis van Florence terwyl jy ’n lekker storie lees.  – Liesl du Toit

 

labirint_300wLabirint,  Chanette Paul (Quellerie, R235)
Vasti de Leeuw besluit om oor te begin. Sy hoop om die verlede en al die onaangenaamhede rondom haar eksman Dolf agter te laat. Sy trek gevolglik na Leeuwendrift, haar grootworddorp. Hier hoop sy om as kunstenaar `n sprong te maak na haar ou styl van meer ernstige kuns, te midde van gallery-eienaar, Runa se eiesinnige planne. Ongelukkig het Leeuwendrift geheime van sy eie.  Hier kruis haar pad met die enigmatiese Vis Falckman, asook Jemima en Eben Kirsten. Die verlede het  `n manier om by die hede aan te sluit.

Te midde van  `n seksskandaal  en `n reeks moorde moet Vasti ook die verlede konfronteer.  Almal is nie altyd wat hulle voorgee nie. Sy vind uit die lewe is `n labirint, met die hart as middelpunt.  `n Spannende verhaal met vele intrige en `n moet vir aanhangers van Chanette Paul.  – Anne Marais

 

lady_limbo_cov_300wLady  Limbo,  Consuelo Roland  (Jacana, R202)
’n Kosmopolitiese spannings-  en liefdesverhaal oor ’n vrou vasgevang in onsekerheid. Paola, ’n beroepsvrou, is dolverlief op ’n enigmatiese misdaadskrywer, Daniel de Luc. Hulle trou, maar een Vrydagaand verdwyn Daniel uit hul Kampsbaai-huis. Daelank hoor Paola niks van hom nie. ’n Vreemdeling laat haar weet dat Daniel nie gekontak wil word nie. Sy soek hom egter vanaf Kaapstad tot in Europa. Sy probeer selfs by ’n ander man swanger raak om hom terug te lok. Daniel is nie wat sy gedink het hy is nie. Sy naam is vals en dit blyk dat hy by ’n internasionale seksbedryf betrokke is. Sy delf in haar en hulle verlede in haar soektog na dié man wat blykbaar nie gevind wil word nie. Die boek is baie goed geskryf, maar verg konsentrasie, want die verhaal is lank en ingewikkeld.  – Malene Breytenbach