sr0911kaalkop01
Boeke

5 Boekminute met Nataniël

Ewe skielik begin my sosiale kalender oortyd werk. Hierdie tyd van die jaar stroom die uitnodigings in. Dis bekendstellings van boeke, CD’s en wat nog alles. Verder is daar die vertonings, kunsuitstallings en ander geleenthede. Baie daarvan is gemik op die naderende Kerstyd. Ja mense, dit lê om die draai. Dan is dit weer tyd vir kuier saam met vriende en familie.

En dit is presies waaroor Nataniël se nuwe boek, Gatherings, a year of invitations (Human & Rousseau, R310) gaan. Kuiers saam met dié naaste aan hom – hy noem die boek ‘n “documenting of gatherings, events, celebrations and magical get-togethers at my house over the course of a year. Everything was cooked, photographed and enjoyed at my house, nothing was borrowed or styled, this is how I eat.”

Dis ‘n verfrissende boek, want die geregte is maklik om te maak (met min bestanddele) en is gemik op die genot van lekker en gemoedelik eet. Ek gaan beslis ‘n paar opdis aan my vriende en familie en doen wat Nataniël sê – die lewe, vriende en familie vier! Ekhet Nataniël per e-pos uitgevra oor sy boek.

Nataniël

By jou boekbekendstelling het jy vertel dat jy byna net 60 dae ‘n jaar by jou huis deurbring. Is jy waarlik so dikwels op die pad?
Ek het sowat 200 optredes per jaar en dis dikwels twee dae se heen en weer reis. Dan is daar nog al die trippies vir besigheid en liefdadigheid. My tyd by die huis is min en waardevol.

En waar en wat eet jy as jy so baie weg is van die huis?
In die Kaap eet ek by my ouerhuis of by vriende soos Topsi Venter in Franschhoek. Ander plekke bly maar ‘n probleem, hotelkos is selde gesond of verslankend en ek is glad nie lief vir restaurante nie.

Jy is mal oor entertain met kos. Waar kom dit vandaan?
Dis minder moeite of spanning om mense te onthaal as om uit te gaan. Ek is nie gemaklik in die publiek of in openbare restaurante nie. Ek hou ook nie van plekke met baie mense of geraas nie. Dus kook ek by die huis, so gereeld as moontlik. En ek kuier met my vriende of peetkinders.

Hoe sal jy jou kookstyl beskryf?
Absoluut eenvoudig. Drie, vier of vyf bestanddele is oorgenoeg. En ek doen amper alles in die oond, dis die minste moeite. Ek gooi die hele ete in ‘n pot, gooi wyn en kruie by, sit die deksel op en gaan aan met die lewe. Ek is ook altyd klaar gekook voor die gaste opdaag, anders geniet ek nie die geleentheid nie.

Wat is jou gunsteling-ete van die dag?
Ontbyt. Dis ‘n moet en ‘n luukse. Ek kan aan niks lekkerder dink as koffie met roosterbrood nie. Ook is ek mal oor sagte kaas en ‘n goeie konfyt, soos ingelegde koemkwats of gemmer. (En geen koerant of selfoon naby nie!!)

Wat is die een bestanddeel waarsonder jy nie kan klaarkom nie?
Suurlemoen. Ek dink dis my gunsteling-geur of -smaak. By vleis, groente of in die nagereg. Ander noodsaaklikhede is jogurt, druiwepitolie, knoffel, tamaties en swartpeper.

Hoekom is dit vir jou so belangrik om saam met vriende om ‘n tafel aan te sit en te kuier?
Dis ‘n ritueel, ‘n okkasie, ‘n seremonie. Dis ‘n viering van die lewe en liefde. Dit laat my veilig en gekoester voel. En dis my manier om te wys dat ek iemand belangrik ag en respekteer. Daar is geen groter oomblik as ‘n lang tafel vol vriende nie. Nie ‘n dronk rondstanery met harde musiek en ‘n gegil naby ‘n braaivleisvuur nie, altyd ‘n mooi tafel met wit linne, vars blomme, kristalglase en baie, baie kerse.

My ouma se sagopoeding laat my altyd terugdink aan my kinderdae en laat my geborge voel. Is daar ‘n gereg waaroor jy sentimenteel of nostalgies is?
Ja!! Einste sagopoeding! Ook hoenderpastei, waterblommetjiebredie, skuinskoek, spierwit plaasbrood, mosbeskuit en pampoenkoekies. En die reuk van kaneel.

Ons almal is óf gesondheidsbewus óf bewus van ons gewig. Hoe beïnvloed die twee goed jou keuses oor wat om voor te sit vir kuiermense?
Ek sorg dat daar keuses is. Iets weelderigs en ryk vir die wat mag of wil en iets varser en ligter vir die wat moet. Ek glo ook dat ‘n saamkuiery ‘n spesiale geleentheid is en dat jy stouter mag eet as in jou alledaagse roetine. Wanneer ek lekker kuier of onthaal, vergeet ek gewoonlik van alle gevolge en sit dan die marteling die volgende dag weer voort.

Het mens ‘n spesiale geleentheid nodig om te entertain?
Glad nie. In my huis is elke dag Kersfees en ‘n verjaarsdag en ‘n afskeid en ‘n tuiskoms en ‘n geboorte en ‘n prysuitdeling. Hoekom anders lewe ons? Beslis nie net om te presteer en te vergader nie. As ek terugdink aan my lewe is suksesvolle etes altyd groter hoogtepunte as die professionele mylpale.

  • http://mosaicsbymarika.blogspot.com marika

    Oe! Nou weet ek wat ek vir Kersfees wil hê! Jou boek se voorblad lyk pragtig, Nataniël!

  • http://kcfsmbkmasej.com/ quojfuuk

    3TaoaX iclbhlwwotyy, [url=http://yhwpdyikduve.com/]yhwpdyikduve[/url], [link=http://hqfhysrrfook.com/]hqfhysrrfook[/link], http://qbbmqmwakhdd.com/