FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Nog boeke vir die Kerskous

Boeke hoef nie altyd net vir lees te wees nie. Partykeer wil mens net deur ’n boek met mooi prentjies blaai. Of na ’n komiese spotprent kyk.

Ek hoop my hopie boeke help julle met keuses vir geskenkboeke. Ek het spesiaal iets gesoek vir mense wat lief is vir diere, woorde, sport, skaak en musiek.

deur Mari Rheeder

Simon’s Cat, Play time, Simon Tofield (Canongate Books, R78)
Simon se kat is wêreldberoemd. In hierdie klein, sakgrootte, prenteboek wys Simon se kat alweer sy manewales. Katte is interessante diere wat somtyds snaakse toertjies uitvoer. Simon se kat is geen uitsondering nie. Kyk na sy lekker, lawwe speletjies waar hy homself die heeltyd bevind in die een of ander chaotiese situasie, omdat hy enige iets sal doen om aandag te trek. Dit sorg vir lekker lag en ontspanning.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The little book of Corgi charm, Trevor Davies (Octopus Publisher Group, R139)
Ons almal ken daardie boeke met motiverende aanhalings. Hierdie boekie is een van daai, maar tog ietwat anders. Die Corgi hondjies in hierdie boekie is opgewek, vrolik en vol energie. Dis genoeg om jou te motiveer en enige vaal dag op te helder. Mense neem die lewe heeltemal te ernstig op. Wees soos ’n Corgi en lag eerder en wees lief vir die lewe. Die kort sinnetjie vertel ’n klein bietjie oor elkeen van die hondjies en het ’n motiveringsboodskappie vir mense ook. Die boekie is vir hondeliefhebbers, of sommer vir almal wat daarvan hou om die lewe nie te ernstig op te neem nie.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

An astronaut’s guide to life, Chris Hadfield (Pan Macmillan, R377)
“Square astronaut, round hole”. Hierdie sin som die ruimtevaarder Chris Hadfield se lewe perfek op. Sy hele lewe lank het hy hard gewerk om dinge te bereik wat mense gedink het onmoontlik is. Dis ook die tema van die boek: “making the impossible possible”. Vandat hy negejaar oud was, wou hy ’n ruimtevaarder word. Maar soos met baie ander dinge in sy lewe het mense gesê dis onmoontlik. Hy het hom nie laat afskrik nie en van toe af reeds begin om hom gereed te maak vir sy eerste tree op die maan. Hy het aangesluit by die weermag, want dit sou sy eerste stap wees om in te kom by NASA. Hy het ook ’n graad in meganiese ingenieurswese behaal ter voorbereiding van sy einddoel. Hierdie boek oor sy lewe in die ruimte deel hy in kronologiese hoofstukke, van voor lansering, lansering en nadat hy weer terug is op aarde. Deur sy verhaal wil hy mense leer dat alhoewel hulle dalk nie ’n ruimtevaarder is nie, kan hulle dink soos een om hul lewens op aarde heeltemal te verander. Ek kon hierdie boeiende boek nie neersit nie.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

100 South African Sporting Legends, Bronwen Leak (Random House Struik, R175)
In Suid-Afrika word daar so baie verskillende sportsoorte beoefen, boonop uiteenlopend. Daar is rugby, krieket, sokker, gholf, branderplankry, atletiek en swem. Ek kan nie dink waarom iemand nie vroeër so boek geskryf het nie. Lees oor van Suid-Afrika se 100 grootste legendes in verskeie sportsoorte. Interessante biografiese feite oor hierdie mense gee aan ons ’n opwindende blik op Suid-Afrikaanse sportpersoonlikhede soos Danie Craven, Gary Player, Lucas Radebe en Natalie du Toit. Sportsoorte wat minder bekend is se legendes word ook hier weerspieël. So, as jy nie weet wie motorsport se Sarel van der Merwe is nie, is hierdie ’n perfekte geleentheid om te leer.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The missing piece, Kevin Lings (Pan Macmillan, R185)
Lings verken verskeie aspekte van Suid-Afrika se ekonomie in hierdie boek. Suid-Afrika se ekonomiese uitdagings, werkloosheid en demokrasie maak deel uit van die eerste hoofstuk. Die tweede hoofstuk word soos ’n legkaart uiteengesit. Selfs vir iemand soos ek wat niks weet van ekonomie nie, is hierdie legkaart maklik verstaanbaar. Die ekonoom Kevin Lings poog daarin om Suid-Afrika se ekonomie van die afgelope 20 jaar uit te pak, te analiseer, te kritiseer en soek maniere om dit te verbeter. Hy kyk ook na die volgende 20 jaar en wat gedoen kan word om die land se ekonomie op ’n pad van groei te plaas. Hy vertel dat ons moet fokus op die ontwikkeling van entrepreneurskap, beter internet-gebruik en dat daar veral gefokus moet word op vaardigheidsontwikkeling. ’n Goeie boek vir lesers wat belangstel in ekonomie en die land se infrastruktuur.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Idees vol vrees, Kobus Galloway (Random House Struik, R170)
Hierdie boek maak my sommer weer trots Suid-Afrikaans, maar soveel te meer trots Afrikaans. Volume vier volg op die sukses van sy drie vorige boeke. Met 150 oorspronklike- en skreeusnaakse spotprente sal hierdie boek ’n paar glimlagte ontlok wanneer jy dit as kersgeskenk oorhandig. Kobus Galloway is bekend vir sy unieke tekenprente wat gekombineer word met dubbelsinnige eenreëlwoordspelings. Net in Afrikaans vind ons lekker ‘tongrollende’ woorde soos, kaalgat perske, vingerete, supertjoep, kettingroker en baie meer. Maak gereed vir lekker lag.

AZETTE BOEK 2Woord-Engel, Azette Wiesner (Muse)
Geskryf vir ’n geliefde, ’n seun, ’n pa, ’n vriend, ’n mentor en hoof. Hierdie boek is ’n hartroerende bundel met gedigte vir haar oorlede man. Azette se hartseer en rou kan gedeel word, omdat soveel ander ook hierdie seer beleef. Pragtige, diep gedigte word vergesel deur foto’s van Ettiene, hul gesin en vriende. ’n Opregte liefde tussen twee mense word ervaar en gedeel. Bestel by: azettienne@mweb.co.za

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boet se goet, Adri van der Hoven (Xlibris, R250)
Lank voor David Kramer met sy rooi vellies die Karoo in al sy glorie bekend gemaak het, was daar Boet van der Hoven, die man wat daai kenmerkende rooi vellies vir David geskenk gegee het. Boet was ’n Karoomens, pottebakker, skilder en versieskrywer. Sy dogter het sy droom uiteindelik verwesenlik deur sy versies en skildery hand-aan-hand te laat vertoon in hierdie pragtige boek. Die drie primêre kleure, geel, rooi en blou verteenwoordig ’n hoofstuk in hierdie boek en ook ’n hoofstuk in Boet se lewe. Dis sy reis deur kuns. Bestel by xavier@xaviernagelagencies.co.za

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die volledige Skaakboek, Elizabeth Dalby (Protea Boekhuis, R195)
Met goeie leesvaardighede en hope geduld kan enige iemand leer skaak speel met die hulp van hierdie boek. Vir meer uitgebreide inligting kan die leser ook internetskakels volg na die aanlynboek, “Complete Chess”, om nog meer te leer oor hierdie bekende speletjie. Begin by die begin waar die doel van elke skaakstuk verduidelik word, waar jy geleer word om die bord op te stel en hoe om taktiese skywe te maak. Die boek se sketse is maklik verstaanbaar en met meer as 80 uitdagende skaakprobleme kan jy jou skaakvaardighede maklik toets. Vir sommer net lekker lees word die geskiedenis en verhaal van skaak ook vertel. As jy soos ek is wat absoluut niks weet van skaak nie, sal jy kan leer deur hierdie boek aandagtig deur te werk of is jy dalk ’n ekspert, dan leer jy dalk iets nuuts.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Mitch: The Real Story, John Mitchell saam met Gavin Rich (Zebra Press, R304)
Hierdie boek behoort hierdie vakansie ’n voorgeskrewe werk vir enige een wat hom- of haarself ’n rugbyliefhebber noem te wees. Dis dus ’n baie goeie Kersfeesgeskenk!
Die verhaal van die voormalige All Black speler en afrigter John Mitchell is een wat die stryd om oorlewing van ’n rugby-afrigter op die hoogste vlak deeglik beskryf. Mitchell was die hond van Nieu-Seeland toe die span wat hy afgerig het nie die Wêreldbeker in 2003 kon wen nie.
Hy is daarná ook by ’n paar diep driwwe by die Western Force en die Leeus. Hy het ook ’n mesaanval in sy woonstel in Johannesburg oorleef.
Mitchell soek nie simpatie nie. Hy wil net hê mense moet sy kant van die saak ook verstaan, soos die Leeus in ’n uitgerekte kontrakstryd met hom uitgevind het.
Mitchell is ’n moeilike outjie, moenie ’n fout maak nie. Hy hou daarvan om iemand reguit in die oë te kyk. Hy glo in dissipline, maar hy glo ook in ontspanning. Hy erken ook sy foute.
Hy is ’n rugbyman deur en deur en hy weet waarvan hy praat. Hy is dalk nie alle spelers se tipe breier nie, maar vir ander het hy baie beteken.
Sy storie (sover) verdien om gelees te word. – Michael Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

When the Lions came to Town, Luke Alfred (Zebra Press, R220)
Hierdie rugbyboek, wat die storie van die Britse en Ierse Leeus se toer in 1974 deur die land weer vertel, het my met gemengde gevoelens gelaat.
Aan die een kant was dit lekker om weer oor ’n lang rugbytoer te lees. Deesdae toer die spanne mos nie meer so lank nie. Dit was ook lekker om van die dinge wat agter die skerms gebeur het, te lees.
So kla die een speler byvoorbeeld oor sy spanmaat wat elke oggend eers ’n sigaret rook voor hy opstaan. Jy lees ook van wilde partytjies en nog wilder rugbywedstryde. Alfred het duidelik heelwat moeite gedoen deur baie navorsing te doen en met baie rolspelers te gesels.
Aan die ander kant irriteer Alfred se skryfstyl soms. Dit klink partykeer of hy ’n tesourus ingesluk het. Hy kon ook maar ’n bietjie beter geproeflees het, want daar is ’n hele paar foute in die boek.
Dis nie nodig om hier al die foute uit te wys nie, maar dis uiters irriterend vir ’n rugbykenner. Wees dus maar versigtig as jy die boek as ’n verwysingsbron wil gebruik.
Die Springbokke het in 1974 lelik pakslae by die Leeus gekry en Alfred skryf sommer “SA were abysmally weak that year”. Dis gewaagde woorde daardie. SA-rugby was nou wel nie so sterk soos Superman en sy maats nie, maar die keurders het ’n groot bydrae tot die vernedering bygedra.
Die keurders het altesame 33 spelers in vier toetse gebruik teenoor die Leeus se 17. Onthou nou dat die Bokke net ’n paar dae voor die toets bymekaargekom het. Daar was nie veel tyd om te oefen of om as span te jel nie. Die Leeus het op hul beurt deur die land getoer en was naderhand soos ’n klomp stoute boeties wat almal net wou boelie.
Om saam te vat – die boek is beslis die moeite werd om te lees, maar hou die oë oop vir ’n paar feitefoute en wysneusagtige uitlatings. – Michael Green